Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jy moet die God liefhê wat jou liefhet

Jy moet die God liefhê wat jou liefhet

Jy moet die God liefhê wat jou liefhet

“Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.”—MATTEUS 22:37.

1, 2. Wat het moontlik aanleiding gegee tot die vraag oor die grootste gebod?

 DIE vraag was blykbaar ’n vurige geskilpunt onder die Fariseërs van Jesus se dag. Watter een van die meer as 600 wette waaruit die Mosaïese Wet bestaan het, was die belangrikste? Was dit ’n wet wat oor offerandes gehandel het? Offerandes is immers gebring om vergifnis van sondes te ontvang sowel as om God te dank. Of was die vernaamste wet dalk die wet oor die besnydenis? Dit was ook belangrik, aangesien die besnydenis ’n teken was van die verbond wat Jehovah met Abraham gesluit het.—Genesis 17:9-13.

2 Daarenteen het konserwatiewes blykbaar geredeneer dat dit verkeerd sou wees om enige gebod bo die ander te verhef, aangesien elke wet wat God gegee het, belangrik is—al het party dalk minder belangrik gelyk. Die Fariseërs het besluit om die twisvraag aan Jesus te stel. Miskien sou hy iets sê wat sy geloofwaardigheid sou ondermyn. Een van hulle het na Jesus toe gekom en gevra: “Wat is die grootste gebod in die Wet?”—Matteus 22:34-36.

3. Wat het Jesus gesê is die grootste gebod?

3 Die antwoord wat Jesus gegee het, is vandag vir ons van ontsaglike belang. In sy antwoord het hy opgesom wat altyd die kern van ware aanbidding was en altyd sal wees. Jesus het uit Deuteronomium 6:5 aangehaal en gesê: “‘Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die grootste en eerste gebod.” Hoewel die Fariseër net een gebod gevra het, het Jesus vir hom nog een gegee. Hy het uit Levitikus 19:18 aangehaal en gesê: “Die tweede, soortgelyk hieraan, is dit: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’” Jesus het toe aangedui dat rein aanbidding ten volle in hierdie twee wette vervat is. Om enige poging te verydel om hom die ander wette in volgorde van belangrikheid te laat noem, het hy afgesluit: “Aan hierdie twee gebooie hang die hele Wet en die Profete” (Matteus 22:37-40). In hierdie artikel sal ons die grootste van hierdie twee gebooie bespreek. Waarom moet ons God liefhê? Hoe toon ons dit? En hoe kan ons hierdie liefde aankweek? Dit is noodsaaklik om die antwoorde op hierdie vrae te ken, want as ons Jehovah wil behaag, moet ons hom met ons hele hart, siel en verstand liefhê.

Die belangrikheid van liefde

4, 5. (a) Waarom was die Fariseër nie verbaas oor wat Jesus gesê het nie? (b) Wat is vir God waardevoller as offerandes en offers?

4 Die Fariseër wat die vraag aan Jesus gestel het, was blykbaar nie geskok of verbaas oor die antwoord wat hy gekry het nie. Hy het geweet dat liefde vir God ’n noodsaaklike aspek van ware aanbidding is, hoewel baie versuim het om dit te betoon. In die sinagoges was dit die gebruik om die Sjema, of geloofsbelydenis, op te sê, en dit het die gedeelte in Deuteronomium 6:4-9 ingesluit, waaruit Jesus aangehaal het. Volgens die parallelle verslag in Markus het die Fariseër toe vir Jesus gesê: “Leermeester, u het tereg in ooreenstemming met die waarheid gesê: ‘Hy is Een, en daar is geen ander as Hy nie’; en om hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele begrip en met jou hele krag en om jou naaste lief te hê soos jouself, is baie meer werd as al die heelbrandoffers en offerandes.”—Markus 12:32, 33.

5 Ja, die Wet het wel brandoffers en offerandes vereis, maar wat vir God werklik belangrik is, is dat sy knegte deur ’n hart vol liefde beweeg word. ’n Mossie wat uit liefde en toegewydheid aan God geoffer is, was vir hom waardevoller as duisende ramme wat met ’n verkeerde beweegrede gegee is (Miga 6:6-8). Dink aan die verslag van die behoeftige weduwee wat Jesus by die tempel in Jerusalem gesien het. Die twee muntstukkies wat sy in die skatkis gegooi het, kon nie eens ’n enkele mossie koop nie. Tog het daardie bydrae, wat met hartgrondige liefde vir Jehovah gegee is, vir hom meer beteken as die groot bydraes wat die rykes uit hulle oorvloed gegee het (Markus 12:41-44). Hoe aanmoedigend is dit tog om te weet dat Jehovah die grootste waarde heg aan iets wat ons almal, ongeag ons omstandighede, kan betoon—ons liefde vir hom!

6. Wat het Paulus oor die belangrikheid van liefde geskryf?

6 Die apostel Paulus het die belangrikheid van liefde in ware aanbidding beklemtoon toe hy geskryf het: “As ek in die tale van mense en van engele praat, maar geen liefde het nie, het ek ’n klinkende stuk geelkoper of ’n galmende simbaal geword. En as ek die gawe van profesie het en met al die heilige geheime en alle kennis vertroud is, en as ek al die geloof het sodat ek berge kan versit, maar geen liefde het nie, is ek niks. En as ek al my besittings gee om ander te voed, en as ek my liggaam oorgee sodat ek kan roem, maar geen liefde het nie, baat dit my glad nie” (1 Korintiërs 13:1-3). Dit is duidelik dat liefde noodsaaklik is as ons wil hê dat ons aanbidding God moet behaag. Maar hoe toon ons ons liefde vir Jehovah?

Hoe ons ons liefde vir Jehovah toon

7, 8. Hoe kan ons ons liefde vir Jehovah toon?

7 Baie glo dat liefde ’n emosie is waaroor ons min beheer het; mense praat byvoorbeeld van verlief raak. Maar ware liefde is nie net iets wat ons voel nie. Dit word gekenmerk deur dade, nie sentiment nie. Die Bybel verwys na liefde as “’n allesoortreffende weg” en as iets wat ons ‘nastreef’ (1 Korintiërs 12:31; 14:1). Christene word aangespoor om lief te hê, nie net “met woorde of met die tong nie, maar met dade en in waarheid”.—1 Johannes 3:18.

8 Liefde vir God spoor ons aan om te doen wat hom behaag en om sy soewereiniteit te verdedig en te ondersteun, met woorde sowel as dade. Dit beweeg ons om liefde vir die wêreld en sy goddelose weë te vermy (1 Johannes 2:15, 16). Diegene wat God liefhet, haat die kwaad (Psalm 97:10). Liefde vir God sluit ook liefde vir ons naaste in, wat ons in die volgende artikel sal bespreek. Verder vereis liefde vir God gehoorsaamheid van ons. Die Bybel sê: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar.”—1 Johannes 5:3.

9. Hoe het Jesus sy liefde vir God getoon?

9 Jesus het ’n volmaakte voorbeeld gestel van wat dit beteken om God lief te hê. Liefde het hom beweeg om sy hemelse tuiste te verlaat en as ’n mens op die aarde te woon. Dit het hom aangespoor om sy Vader te verheerlik deur die dinge wat hy gedoen het en aan ander geleer het. Liefde het hom beweeg om ‘gehoorsaam te wees tot in die dood’ (Filippense 2:8). Hierdie gehoorsaamheid—’n blyk van sy liefde—het die weg gebaan vir getroues om ’n regverdige posisie voor God te hê. Paulus het geskryf: “Baie [is] deur die ongehoorsaamheid van die een mens [Adam] sondaars gemaak . . . , so sal ook baie deur die gehoorsaamheid van die een persoon [Christus Jesus] regverdig gemaak word.”—Romeine 5:19.

10. Waarom sluit liefde vir God gehoorsaamheid in?

10 Soos Jesus toon ons ons liefde deur gehoorsaam te wees aan God. “Dít is wat die liefde beteken”, skryf Jesus se geliefde apostel Johannes, “dat ons voortgaan om volgens sy gebooie te wandel” (2 Johannes 6). Diegene wat Jehovah werklik liefhet, smag na sy leiding. Omdat hulle besef dat hulle nie hulle eie voetstappe met welslae kan rig nie, vertrou hulle op God se wysheid en onderwerp hulle hulle aan sy liefdevolle leiding (Jeremia 10:23). Hulle is soos die edelmoedige mense in eertydse Berea wat God se boodskap met “gretigheid van verstand” aangeneem het weens ’n sterk begeerte om die wil van God te doen (Handelinge 17:11). Hulle het die Skrif sorgvuldig ondersoek om die wil van God beter te verstaan, wat hulle gehelp het om liefde deur verdere dade van gehoorsaamheid te toon.

11. Wat beteken dit om God met ons hele hart, verstand en siel en met al ons krag lief te hê?

11 Soos Jesus gesê het, is ons hele hart, verstand en siel en al ons krag betrokke by liefde vir God (Markus 12:30). Hierdie liefde kom uit die hart, dit behels ons gevoelens, begeertes en diepste gedagtes, en dit is ons vurige begeerte om Jehovah te behaag. Ons het ook lief met ons verstand. Ons toegewydheid is nie blind nie; ons het Jehovah leer ken—sy eienskappe, standaarde en voornemens. Ons gebruik ons siel, ons hele wese en die lewe wat ons het, om hom te dien en te loof. En ons gebruik ook ons krag om dit te doen.

Waarom ons Jehovah moet liefhê

12. Waarom vereis God dat ons hom moet liefhê?

12 Een rede waarom ons Jehovah moet liefhê, is dat hy van ons vereis om sy eienskappe te weerspieël. God is die bron sowel as die voortreflikste voorbeeld van liefde. “God is liefde”, het die geïnspireerde apostel Johannes geskryf (1 Johannes 4:8). Die mens is na God se beeld geskep; ons is gemaak om lief te hê. Trouens, Jehovah se soewereiniteit is gegrond op liefde. Hy wil slegs onderdane hê wat hom dien omdat hulle nie net sy regverdige manier van regeer liefhet nie, maar ook daarna smag. Ja, liefde is noodsaaklik vir die vrede en harmonie van die hele skepping.

13. (a) Waarom is daar vir die Israeliete gesê: “Jy moet Jehovah jou God liefhê”? (b) Waarom is dit redelik dat Jehovah van ons verwag om hom lief te hê?

13 Nog ’n rede waarom ons Jehovah moet liefhê, is omdat ons waardeer wat hy vir ons gedoen het. Onthou dat Jesus vir die Jode gesê het: “Jy moet Jehovah jou God liefhê.” Daar is nie van hulle verwag om ’n goddelike wese lief te hê wat afsydig en onbekend was nie. Hulle moes die Persoon liefhê wat sy liefde aan hulle geopenbaar het. Jehovah was hulle God. Hy was die Een wat hulle uit Egipte tot in die Beloofde Land gelei het, die Een wat hulle beskerm, aan die lewe gehou en liefgehad het, die Een wat hulle in liefde gedissiplineer het. En vandag is Jehovah ons God, die een wat sy Seun as ’n losprys gegee het sodat ons die ewige lewe kan hê. Dit is dan beslis redelik dat Jehovah van ons verwag om hom op ons beurt lief te hê! Ons liefde is ’n wederkerige liefde; ons word gevra om die God lief te hê wat ons liefhet. Ons liefde is vir die Een wat “ons eerste liefgehad het”.—1 Johannes 4:19.

14. Hoe is Jehovah se liefde soos dié van ’n liefdevolle ouer?

14 Jehovah se liefde vir die mensdom is soos dié van ’n liefdevolle ouer vir sy kinders. Hoewel hulle onvolmaak is, swoeg liefdevolle ouers jare lank om vir hulle kinders te sorg, en hulle doen dit ondanks groot materiële en ander opofferings. Ouers onderrig, bemoedig, ondersteun en dissiplineer hulle kinders omdat hulle wil hê dat hulle gelukkig moet wees en moet floreer. Wat verlang ouers op hulle beurt? Hulle wil hê dat hulle kinders hulle moet liefhê en dat die kinders die dinge wat hulle tot hulle eie voordeel geleer is, ter harte moet neem. Is dit dan nie redelik dat ons volmaakte hemelse Vader van ons verwag om liefdevolle waardering te toon vir alles wat hy vir ons gedoen het nie?

Kweek liefde vir God aan

15. Wat is die eerste stap om liefde vir God aan te kweek?

15 Ons het God nie gesien of sy stem gehoor nie (Johannes 1:18). Tog nooi hy ons om ’n liefdevolle verhouding met hom aan te knoop (Jakobus 4:8). Hoe kan ons dit doen? Die eerste stap om iemand lief te hê, is om kennis van hom in te neem; dit is moeilik om innige geneentheid te voel vir iemand wat ons nie ken nie. Jehovah het sy Woord, die Bybel, voorsien sodat ons van hom kan leer. Dit is waarom Jehovah ons deur sy organisasie aanspoor om die Bybel gereeld te lees. Die Bybel leer ons van God, sy eienskappe, sy persoonlikheid asook van sy handelinge met mense oor duisende jare heen. Wanneer ons oor hierdie verslae peins, sal ons waardering en liefde vir hom toeneem.—Romeine 15:4.

16. Hoe versterk dit ons liefde vir God wanneer ons oor Jesus se bediening nadink?

16 ’n Belangrike manier waarop ons ons liefde vir Jehovah kan laat toeneem, is deur na te dink oor die lewe en bediening van Jesus. Jesus was immers so ’n volmaakte weerspieëling van sy Vader dat hy kon sê: “Hy wat my gesien het, het ook die Vader gesien” (Johannes 14:9). Voel jy nie ontroer deur die medelye wat Jesus getoon het deur die enigste seun van ’n weduwee op te wek nie? (Lukas 7:11-15). Is dit nie hartverblydend om te weet dat hy—die Seun van God en die grootste mens wat nog gelewe het—nederig die voete van sy dissipels gewas het nie? (Johannes 13:3-5). Raak dit nie jou hart om te weet dat hy almal, insluitende kinders, op hulle gemak laat voel het hoewel hy groter en wyser as enige ander mens was nie? (Markus 10:13, 14). Wanneer ons met waardering oor hierdie dinge peins, word ons soos die Christene van wie Petrus geskryf het: “Hoewel julle [Jesus] nooit gesien het nie, het julle hom lief” (1 Petrus 1:8). Namate ons liefde vir Jesus toeneem, neem ons liefde vir Jehovah ook toe.

17, 18. Bepeinsing oor watter liefdevolle voorsienings van Jehovah kan ons liefde vir hom laat toeneem?

17 Nog ’n manier waarop ons ons liefde vir God kan laat toeneem, is deur te peins oor die oorvloed liefdevolle voorsienings wat hy gemaak het sodat ons die lewe kan geniet—die prag van die skepping, die eindelose verskeidenheid heerlike eetgoed, die hartlike kameraadskap van goeie vriende sowel as tallose ander vreugdes wat vir ons genot en bevrediging verskaf (Handelinge 14:17). Hoe meer ons van ons God leer, hoe meer redes het ons om sy grenslose goedheid en vrygewigheid te waardeer. Dink aan al die dinge wat Jehovah vir jou persoonlik gedoen het. Stem jy nie saam dat hy jou liefde verdien nie?

18 Een van die baie gawes van God is die feit dat ons hom enige tyd in gebed kan nader, wetende dat die “Hoorder van die gebed” na ons luister (Psalm 65:2). Jehovah het die gesag om te heers asook om te oordeel aan sy geliefde Seun oorgedra. Maar hy het nie die taak om na gebede te luister, aan ander oorgedra nie, nie eens aan sy Seun nie. Hy luister self na ons gebede. Die liefdevolle, persoonlike besorgdheid wat Jehovah hierdeur toon, laat ons nader aan hom kom.

19. Watter beloftes van Jehovah trek ons tot hom aan?

19 Ons word ook tot Jehovah aangetrek wanneer ons dink aan wat hy vir die mensdom in die vooruitsig stel. Hy het belowe om ’n einde te maak aan siekte, droefheid en die dood (Openbaring 21:3, 4). Wanneer die mensdom tot volmaaktheid gebring word, sal niemand ly weens depressie, ontmoediging of ’n tragedie nie. Honger, armoede en oorlog sal nie meer daar wees nie (Psalm 46:9; 72:16). Die aarde sal in ’n paradys omskep word (Lukas 23:43). Jehovah sal hierdie seëninge bring, nie omdat hy moet nie, maar omdat hy ons liefhet.

20. Wat het Moses gesê oor die voordele daarvan om Jehovah lief te hê?

20 Daar is dus dwingende redes om ons God lief te hê en om hierdie liefde te laat toeneem. Sal jy voortgaan om jou liefde vir God te versterk en hom toelaat om jou weë te rig? Dit is jóú keuse. Moses het besef watter voordele dit inhou om liefde vir Jehovah aan te kweek en te behou. Vir die Israeliete van die ou tyd het Moses gesê: “Jy moet die lewe kies sodat jy kan bly lewe, jy en jou nageslag, deur Jehovah jou God lief te hê, deur na sy stem te luister en deur hom aan te kleef; want hy is jou lewe en die lengte van jou dae.”—Deuteronomium 30:19, 20.

Onthou jy?

• Waarom is dit noodsaaklik dat ons Jehovah liefhet?

• Hoe kan ons ons liefde vir God toon?

• Watter redes het ons om Jehovah lief te hê?

• Hoe kan ons liefde vir God aankweek?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 20]

Jehovah waardeer werklik wat ons almal kan betoon—ons liefde vir hom

[Prente op bladsy 23]

“Hy wat my gesien het, het ook die Vader gesien.”—Johannes 14:9