Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons stryd om geestelik sterk te bly

Ons stryd om geestelik sterk te bly

Lewensverhaal

Ons stryd om geestelik sterk te bly

Soos vertel deur Rolf Brüggemeier

Die eerste brief wat ek ontvang het nadat ek in die tronk gegooi is, het van ’n vriend af gekom. Hy het my vertel dat my ma en my jonger broers—Peter, Jochen en Manfred—ook in hegtenis geneem is. Dit het beteken dat ons twee sussies sonder ouers of broers gelaat is. Waarom het die Oos-Duitse owerheid ons gesin vervolg? Wat het ons gehelp om geestelik sterk te bly?

DIE Tweede Wêreldoorlog het ons vreedsame kinderjare verwoes; ons het persoonlik ondervind hoe wreed oorlog kan wees. My pa het by die Duitse leër aangesluit en het as ’n krygsgevangene gesterf. Dit het beteken dat my ma, wie se naam Berta was, vir ses kinders, tussen een en 16 jaar oud, moes sorg.

Die kerk waaraan my ma behoort het, het haar heeltemal teleurgesteld laat voel in godsdiens, en sy wou gevolglik niks van God weet nie. Maar eendag in 1949 het Ilse Fuchs, ’n taktvolle vroutjie, na ons deur gekom om oor God se Koninkryk te praat. Haar vrae en redenasies het my ma se nuuskierigheid geprikkel. ’n Studie van die Bybel het my ma hoop gegee.

Maar ons seuns was eers skepties. Die Nazi’s en daarna die Kommuniste het wonderlike beloftes gemaak en ons toe net teleurgestel. Hoewel ons huiwerig was om enige nuwe beloftes te vertrou, was ons beïndruk toe ons ’n paar Getuies leer ken het wat in konsentrasiekampe was omdat hulle geweier het om die oorlogspoging te ondersteun. Die volgende jaar is ek, my ma en Peter gedoop.

Ons jonger broer Manfred is ook gedoop, maar blykbaar het Bybelwaarheid nie in sy hart wortelgeskiet nie. Toe die Kommuniste in 1950 ons werk verbied het en die geheime polisie—die berugte Stasi—druk op hom geplaas het, het hy die plek verklap waar ons vergaderinge gehou is. Dit is wat uiteindelik tot die inhegtenisname van my ma en my ander broers gelei het.

Diens tydens ’n verbod

Weens die verbod moes ons Bybellektuur in Oos-Duitsland insmokkel. As ’n koerier het ek voorraad opgetel in die westelike deel van Berlyn, waar ons lektuur nie verbied was nie, en dit oor die grens geneem. Ek het die polisie meer as een keer ontglip, maar in November 1950 is ek in hegtenis geneem.

Die Stasi het my in ’n ondergrondse sel sonder vensters opgesluit. Gedurende die dag is ek nie toegelaat om te slaap nie, en snags is ek ondervra en soms geslaan. Ek het geen kontak met my familie gehad nie, tot Maart 1951 toe my ma, Peter en Jochen na my verhoor gekom het. Ek is ’n vonnis van ses jaar opgelê.

Ses dae ná my verhoor is Peter, Jochen en my ma in hegtenis geneem. Daarna het ’n medegelowige vir my 11-jarige suster Hannelore gesorg, en een van ons tantes het Sabine, wat 7 was, ingeneem. Die Stasi-wagte het my ma en my broers soos gevaarlike misdadigers behandel en selfs hulle veters van hulle af weggeneem. Hulle moes die hele tyd bly staan terwyl hulle ondervra is. Hulle is ook tot ses jaar elk gevonnis.

In 1953 is ek en ander Getuiegevangenes aangesê om ’n militêre vliegveld te bou, wat ons geweier het om te doen. As straf het die owerheid ons 21 dae lank in alleenopsluiting geplaas, wat geen werk, geen briewe en min kos beteken het. Party Christensusters het brood oorgehou van die bietjie wat hulle gekry het en dit vir ons ingesmokkel. Ek het een van daardie susters, Anni, op hierdie manier leer ken, en nadat ek en sy onderskeidelik in 1956 en 1957 vrygelaat is, het ons getrou. ’n Jaar nadat ons getrou het, is ons dogter, Ruth, gebore. Peter, Jochen en Hannelore het almal omtrent in daardie selfde tyd getrou.

Ongeveer drie jaar ná my vrylating is ek weer in hegtenis geneem. ’n Stasi-offisier het my probeer oorreed om ’n informant te word. Hy het gesê: “Ag, meneer Brüggemeier, wees tog nou redelik. Jy weet hoe dit is om in die tronk te wees, en ons wil nie hê dat jy weer daardeur moet gaan nie. Jy kan ’n Getuie bly, nog altyd studeer en soveel as wat jy wil oor die Bybel praat. Ons wil net op hoogte van sake gehou word. Dink aan jou vrou en jou dogtertjie.” Hierdie laaste woorde het my baie ontstel. Maar ek het geweet dat Jehovah, terwyl ek in die tronk is, beter vir my gesin sou sorg as wat ek kon, en hy het ook!

Die owerheid het Anni probeer dwing om voltyds te werk en ander mense toe te laat om gedurende die week na Ruth om te sien. Anni het geweier en in die aand gewerk sodat sy gedurende die dag na Ruth kon kyk. Ons geestelike broers was baie liefdevol en het my vrou soveel goed gegee dat sy daarvan met ander kon deel. Intussen het ek amper nog ses jaar agter tralies gesit.

Hoe ons ons geloof in die gevangenis sterk gehou het

Toe ek terug in die gevangenis was, was my Getuie-selmaats gretig om te weet wat onlangs gepubliseer is. Hoe bly was ek tog dat ek Die Wagtoring noukeurig bestudeer het en die vergaderinge gereeld bygewoon het, sodat ek vir hulle ’n bron van geestelike aanmoediging kon wees!

Toe ons die wagte vir ’n Bybel gevra het, het hulle geantwoord: “Om vir Jehovah se Getuies ’n Bybel te gee, is net so gevaarlik soos om vir ’n dief wat in die tronk is, gereedskap te gee om uit te breek.” Die broers wat die leiding geneem het, het elke dag ’n Bybelteks gekies om te bespreek. Tydens die halfuur wat ons daagliks in die binneplaas kon rondloop, was dit vir ons belangriker om by die dag se Bybelteks baat te vind as om oefening en vars lug te kry. Hoewel ons vyf meter van mekaar af moes bly en nie toegelaat is om te praat nie, het ons nogtans maniere gevind om mekaar te laat weet wat die teks is. Wanneer ons weer in ons selle was, het ons dit wat elkeen kon hoor, bymekaargesit, en dan ons daaglikse Bybelbespreking gehou.

Uiteindelik het ’n informant ons verraai, en ek is in alleenopsluiting geplaas. Wat ’n seën was dit tog dat ek teen daardie tyd honderde tekste uit my kop geken het! Ek kon daardie leë dae vul deur oor verskeie Bybelonderwerpe te peins. Toe is ek na ’n ander gevangenis oorgeplaas, waar ’n wag my in ’n sel saam met twee ander Getuies gesit het en—tot ons groot vreugde—vir ons ’n Bybel gegee het. Ná ses maande in alleenopsluiting het ek dit waardeer dat ek weer Bybelonderwerpe met medegelowiges kon bespreek.

My broer Peter verduidelik wat hom gehelp het om in die gevangenis waar hý was, te volhard: “Ek het my die lewe in die nuwe wêreld voorgestel en my verstand besig gehou met gedagtes uit die Bybel. Die Getuies het mekaar versterk deur Bybelvrae te vra of toetse op te stel wat op die Skrif gebaseer is. Die lewe was nie maklik nie. Soms was 11 van ons opgesluit in ’n vertrek van 12 vierkante meter. Daar moes ons alles doen—eet, slaap, was en dit selfs as ’n toilet gebruik. Ons senuwees was gedaan.”

Jochen, een van my ander broers, vertel van sy ondervindinge in die gevangenis: “Ek het die liedere gesing wat ek uit ons liedereboek kon onthou. Ek het elke dag oor ’n teks gepeins wat ek gememoriseer het. Ná my vrylating het ek volgehou met ’n goeie geestelike voedingsprogram. Ek het elke dag die Bybelteks vir die dag saam met my gesin gelees. Ons het ook vir al die vergaderinge voorberei.”

My ma word vrygelaat

Ná bietjie meer as twee jaar in die gevangenis is my ma vrygelaat. Sy het haar vryheid gebruik om die Bybel met Hannelore en Sabine te studeer en hulle gehelp om ’n goeie fondament vir hulle geloof te lê. Sy het hulle ook geleer om situasies te hanteer wat by die skool ontstaan het as gevolg van hulle geloof in God. Hannelore sê: “Ons was nie bekommerd oor wat met ons sou gebeur nie, want ons het mekaar by die huis aangemoedig. Ons sterk gesinsbande het vergoed vir enige probleme wat ons ondervind het.”

Hannelore sê verder: “Ons het ook ons broers in die gevangenis van geestelike voedsel voorsien. Ons het ’n hele nommer van Die Wagtoring in klein skrif op waspapier met die hand oorgeskryf. Dan het ons die blaaie in waterdigte papier toegedraai en dit tussen pruimedante weggesteek wat ons in die maandelikse pakkie gestuur het. Hoe verheug was ons tog om te hoor dat die pruimedante ‘baie lekker’ was. Ons was so verdiep in ons werk dat dit eintlik ’n wonderlike tyd was.”

Die lewe onder die verbod

Peter beskryf hoe dit was om dekades lank onder die verbod in Oos-Duitsland te lewe: “Ons het in klein groepies in huise bymekaargekom en het op verskillende tye daar opgedaag en vertrek. By elke vergadering het ons gereël wanneer ons weer bymekaar sou kom. Ons het dit met behulp van tekens en geskrewe aantekeninge gedoen omdat die gevaar altyd bestaan het dat die Stasi ons sal afluister.”

Hannelore verduidelik: “Soms het ons bandopnames van byeenkomsprogramme ontvang. Dan het ons altyd ’n vreugdevolle vergadering gehad. Ons klein groepie het bymekaargekom om etlike ure na Bybelonderrig te luister. Hoewel ons nie die sprekers kon sien nie, het ons aandagtig na die program geluister en aantekeninge gemaak.”

Peter vertel: “Ons Christenbroers in ander lande het uit hulle pad gegaan om ons van Bybellektuur te voorsien. Gedurende die laaste dekade voor die val van die Berlynse Muur in 1989 het hulle spesiale kleinformaatpublikasies vir ons gemaak. Sommige het hulle motors, hulle geld en selfs hulle vryheid op die spel geplaas om geestelike voedsel in Oos-Duitsland in te bring. Een aand het ’n paartjie vir wie ons gewag het, nie opgedaag nie. Die polisie het die lektuur gevind en op hulle motor beslag gelê. Ondanks die gevare het ons dit nooit oorweeg om op te hou met die werk sodat ons ’n rustiger lewe kon hê nie.”

Manfred, my jonger broer wat ons in 1950 verraai het, verduidelik wat hom gehelp het om sy geloof te herwin en te handhaaf: “Ek is ná ’n paar maande vrygelaat en het na Wes-Duitsland getrek en die weg van Bybelwaarheid verlaat. Ek het in 1954 na Oos-Duitsland teruggegaan en die volgende jaar getrou. My vrou het kort daarna Bybelwaarheid aangeneem en is in 1957 gedoop. Met verloop van tyd het my gewete my begin kwel, en met my vrou se hulp het ek na die gemeente teruggekeer.

“Christenbroers wat my geken het voordat ek die waarheid verlaat het, het my liefdevol teruggeneem asof niks gebeur het nie. Dit is wonderlik om met ’n hartlike glimlag en ’n omhelsing verwelkom te word. Ek is so bly om met Jehovah en met my broers versoen te wees.”

Die geestelike stryd duur voort

Almal in ons familie moes hard stry vir die geloof. “Vandag”, sê my broer Peter, “word ons soos nooit tevore nie omring deur baie afleidings en materiële versoekings. Terwyl ons werk verbied was, was ons tevrede met wat ons gehad het. Nie een van ons wou byvoorbeeld om bloot persoonlike redes in ’n ander studiegroep wees nie, en niemand het gekla dat die vergaderinge te ver of te laat was nie. Ons was almal bly om bymekaar te kom, al moes party van ons tot elfuur die aand vir ons beurt wag om die vergaderplek te verlaat.”

In 1959 het my ma besluit om saam met Sabine, wat toe 16 jaar oud was, na Wes-Duitsland te trek. Omdat hulle wou dien waar meer Koninkryksverkondigers nodig was, het die takkantoor voorgestel dat hulle na Ellwangen, Baden-Württemberg, gaan. My ma se ywer ondanks haar swak gesondheid het Sabine beweeg om te begin pionier toe sy 18 was. Toe Sabine getrou het, het my ma—op 58-jarige ouderdom—geleer om te bestuur sodat sy meer in die predikingswerk kon doen. Tot haar dood in 1974 het hierdie werk haar baie na aan die hart gelê.

Intussen is ek, nadat ek amper ses jaar van my tweede vonnis uitgedien het, in 1965 na Wes-Duitsland gedeporteer sonder dat my familie daarvan geweet het. Maar later het my vrou, Anni, en my dogter, Ruth, by my aangesluit. Ek het die takkantoor gevra of ons kon dien waar meer verkondigers nodig was, waarop hulle ons gevra het om na Nördlingen, Beiere, te gaan. Dit is hier waar Ruth en haar broer, Johannes, grootgeword het. Anni het die pionierdiens betree. Haar goeie voorbeeld het Ruth beweeg om direk ná skool ook te begin pionier. Albei ons kinders het met pioniers getrou. Nou het hulle gesinne, en ons is geseën met ses lieflike kleinkinders.

In 1987 het ek die geleentheid aangegryp om vroeg af te tree en het ek by Anni in die pionierdiens aangesluit. Drie jaar later is ek na die takkantoor in Selters genooi om te help met die uitbreiding van die fasiliteite. Daarna het ons gehelp met die bou van die eerste Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies in die voormalige Oos-Duitsland, in Glauchau, waar ons later as opsigters gedien het. Toe het ons om gesondheidsredes teruggetrek na ons dogter in die Nördlingen-gemeente, waar ons as pioniers dien.

Tot my groot vreugde dien al my broers en susters en die meeste van ons familie nog steeds ons wonderlike God, Jehovah. Deur die jare heen het ons geleer dat, solank ons geestelik sterk bly, die woorde van Psalm 126:3 in ons geval waar kan wees: “Jehovah het iets groots gedoen deur wat hy met ons gedoen het. Ons het vreugdevol geword.”

[Prent op bladsy 13]

Op ons troudag, 1957

[Prent op bladsy 13]

Saam met my familie in 1948: (voor, links na regs) Manfred, Berta, Sabine, Hannelore, Peter; (agter, links na regs) ek en Jochen

[Prente op bladsy 15]

’n Kleinformaatboek wat gedurende die verbod gebruik is en “Stasi”-afluisterapparaat

[Erkenning]

Forschungs- und Gedenkstätte NORMANNENSTRASSE

[Prent op bladsy 16]

Saam met my broers en susters: (voor, links na regs) Hannelore en Sabine; (agter, links na regs) ek, Jochen, Peter en Manfred