Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Was Jesus oneerbiedig of onvriendelik in die manier waarop hy sy moeder by die huweliksfees in Kana aangespreek het?—Johannes 2:4.

Kort ná sy doop is Jesus en sy dissipels na ’n huweliksfees in Kana genooi. Sy moeder was ook daar. Toe die wyn opraak, het Maria vir Jesus gesê: “Hulle het geen wyn nie.” Jesus het geantwoord en vir sy moeder gesê: “Wat het ek met u te doen, vrou? My uur het nog nie gekom nie.”—Johannes 2:1-4.

As iemand vandag sy moeder as “vrou” aanspreek en vir haar sê: “Wat het ek met u te doen?” sal dit waarskynlik as oneerbiedig, selfs beledigend, beskou word. Maar om Jesus hiervan te beskuldig, sou beteken dat ’n mens die kulturele en taalkundige konteks van die gebeurtenis ignoreer. ’n Begrip van hoe hierdie uitdrukkings in Bybeltye gebruik is, sal nuttig wees.

Aangaande die woord “vrou” sê Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words: “Wanneer die woord gebruik word om ’n vrou aan te spreek, is dit nie om tereg te wys of streng te wees nie, maar dui dit op liefde of respek.” Ander bronne stem hiermee saam. The Anchor Bible sê byvoorbeeld: “Dit is nie ’n bestrawwing of ’n blyk van onbeleefdheid of ’n aanduiding van ’n gebrek aan geneentheid nie . . . Dit was Jesus se normale, beleefde aanspreekvorm vir vroue.” The New International Dictionary of New Testament Theology verduidelik dat die woord “gebruik word as ’n aanspreekvorm met geen oneerbiedige sekondêre betekenis nie”. En Gerhard Kittel se Theological Dictionary of the New Testament sê dat dit “geensins oneerbiedig of neerhalend is” om dit so te gebruik nie. Ons moet dus nie tot die slotsom kom dat Jesus onbeskof of onvriendelik teenoor sy moeder was toe hy haar as “vrou” aangespreek het nie.—Matteus 15:28; Lukas 13:12; Johannes 4:21; 19:26; 20:13, 15.

Wat van die uitdrukking “wat het ek met u te doen?” Dit is blykbaar ’n algemene Joodse idioom wat ’n paar keer in die Bybel voorkom. Byvoorbeeld, ons vind in 2 Samuel 16:10 dat Dawid Abisai gekeer het om Simeï dood te maak deur te sê: “Wat het ek met julle te doen, julle seuns van Seruja? Laat hom so ’n vloek uitspreek, want Jehovah het vir hom gesê: ‘Spreek ’n vloek oor Dawid uit!’” Ons lees ook in 1 Konings 17:18 dat die weduwee van Sarfat, toe sy gevind het dat haar seun gesterf het, vir Elia gesê het: “Wat het ek met u te doen, o man van die ware God? U het na my toe gekom om my oortreding in herinnering te bring en om my seun dood te maak.”

Uit hierdie Bybelse voorbeelde kan ons sien dat die uitdrukking “wat het ek met u te doen?” dikwels gebruik word, nie uit minagting of verwaandheid nie, maar om te toon dat die persoon weier om by ’n voorgenome of voorgestelde daad betrokke te raak of dat hy ’n ander beskouing of mening uitspreek. Wat kan dan van Jesus se woorde aan Maria gesê word?

Toe Maria vir Jesus gesê het: “Hulle het geen wyn nie”, het sy Jesus blykbaar nie net oor die feit ingelig nie, maar voorgestel dat hy iets daaromtrent doen. Jesus het hierdie algemene idioom gebruik om Maria se subtiele voorstel te verwerp, en sy verdere woorde: “My uur het nog nie gekom nie”, help ons om te sien waarom hy dit gedoen het.

Vanaf sy doop en salwing in 29 G.J. was Jesus baie bewus daarvan dat dit Jehovah se wil was dat hy, as die beloofde Messias, ’n weg van onkreukbaarheid moet volg wat uiteindelik tot sy dood, opstanding en verheerliking sou lei. “Die Seun van die mens [het] gekom . . . , nie om gedien te word nie, maar om te dien en om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie”, het hy gesê (Matteus 20:28). Toe die tyd vir sy dood nader gekom het, het Jesus dit duidelik gemaak deur te sê: “Die uur het gekom” (Johannes 12:1, 23; 13:1). Jesus het dus in sy gebed die aand voor sy dood gesê: “Vader, die uur het gekom; verheerlik u seun, sodat u seun u kan verheerlik” (Johannes 17:1). En laastens het Jesus, toe die menigte gekom het om hom in Getsemane te arresteer, die apostels uit hulle slaap wakker gemaak en gesê: “Die uur het gekom! Kyk! Die Seun van die mens word deur verraad in die hande van sondaars oorgelewer.”—Markus 14:41.

By die huwelik in Kana het Jesus egter pas begin met sy bediening as die Messias en het sy “uur” nog nie gekom nie. Sy vernaamste doelwit was om sy Vader se wil te doen op die manier en tyd wat sy Vader aandui, en niemand kon met sy doelgerigte weg inmeng nie. Toe Jesus dit aan sy moeder oorgedra het, was hy ferm maar geensins oneerbiedig of onvriendelik nie. En Maria het nie gevoel dat haar seun haar in die verleentheid stel of beledig nie. Trouens, Maria het besef wat Jesus bedoel en vir die dienaars by die huwelik gesê: “Doen wat hy ook al vir julle sê.” Jesus het sy moeder nie geïgnoreer nie, maar eerder sy eerste wonderwerk as die Messias verrig—deur water in gehaltewyn te verander—en het sodoende ’n goeie balans getoon deur sy Vader se wil te doen en sy moeder se besorgdheid in ag te neem.—Johannes 2:5-11.

[Prent op bladsy 31]

Jesus was vriendelik maar ferm toe hy met sy moeder gepraat het