Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom die antichris identifiseer?

Waarom die antichris identifiseer?

Waarom die antichris identifiseer?

“Julle [het] gehoor . . . dat die antichris kom”, het die geïnspireerde apostel lank gelede geskryf (1 Johannes 2:18). Hoe gedagteprikkelend is hierdie woorde tog! Mense wonder al eeue lank wat dit beteken. Wie is die antichris? Wanneer gaan hy kom? Wat gaan hy doen wanneer hy wel kom?

DIE lys van mense wat al as die antichris bestempel is, is lank. Jode, die Katolieke pousdom en Romeinse keisers is onder dié wat al in die verlede die “antichris” genoem is. Byvoorbeeld, toe keiser Frederik II (1194-1250) besluit het om nie ’n kruistog mee te maak wat deur die kerk onderneem is nie, het pous Gregorius IX hom die antichris genoem en hom geëkskommunikeer. Gregorius se opvolger, Innocentius IV, het hom weer geëkskommunikeer. In reaksie hierop het Frederik verklaar dat Innocentius die antichris is.

Die apostel Johannes is die enigste Bybelskrywer wat die woord “antichris” gebruik het. In twee van die briewe wat sy naam dra, verskyn die woord vyf keer, in die enkelvoud sowel as die meervoud. Die verse waarin die woord verskyn, word in die venster op die volgende bladsy aangegee. Uit hierdie verse kan ons sien dat die antichris ’n leuenaar en ’n bedrieër is, wat daarop uit is om ’n mens se verhouding met Christus en met God te vernietig. Gevolglik het die apostel sy mede-Christene aangespoor: “Geliefdes, moenie elke geïnspireerde uiting glo nie, maar stel die geïnspireerde uitinge op die proef om te sien of hulle hulle oorsprong by God het, want talle valse profete het in die wêreld uitgegaan.”—1 Johannes 4:1.

Jesus het ook teen bedrieërs, of valse profete, gewaarsku en gesê: ‘Hulle kom in skaapsklere na julle toe, maar van binne is hulle roofsugtige wolwe. Aan hulle vrugte [of, werke] sal julle hulle herken’ (Matteus 7:15, 16). Het Jesus sy volgelinge hier ook teen die figuurlike antichris gewaarsku? Kom ons kyk hoe ons hierdie kwaadwillige bedrieër kan identifiseer.