Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat dit beteken om ons naaste lief te hê

Wat dit beteken om ons naaste lief te hê

Wat dit beteken om ons naaste lief te hê

“Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”—MATTEUS 22:39.

1. Hoe toon ons dat ons God liefhet?

 WAT verwag Jehovah van diegene wat hom aanbid? Jesus het die antwoord in ’n paar eenvoudige en betekenisvolle woorde opgesom. Die grootste gebod, het hy gesê, is om Jehovah lief te hê met ons hele hart, siel en verstand en met al ons krag (Matteus 22:37; Markus 12:30). Soos ons in die vorige artikel gesien het, behels liefde vir God dat ons aan hom gehoorsaam is en sy gebooie bewaar in antwoord op die liefde wat hy aan ons betoon het. Vir diegene wat God liefhet, is dit nie ’n las om sy wil te doen nie; hulle skep behae daarin.—Psalm 40:8; 1 Johannes 5:2, 3.

2, 3. Waarom moet ons aandag skenk aan die gebod om ons naaste lief te hê, en watter vrae ontstaan?

2 Die tweede grootste gebod, het Jesus gesê, hou verband met die eerste: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matteus 22:39). Dit is hierdie gebod waaraan ons nou aandag skenk, en met goeie rede. Die tye waarin ons lewe, word deur ’n selfsugtige, verwronge vorm van liefde gekenmerk. In sy geïnspireerde beskrywing van “die laaste dae” het die apostel Paulus geskryf dat mense nie mekaar nie, maar hulleself, geld en genot sou liefhê. Baie sou “sonder natuurlike geneentheid” wees, of soos een Bybelvertaling dit stel, hulle sou “geen normale geneentheid vir hulle gesinne hê nie” (2 Timoteus 3:1-4). Jesus Christus het voorspel: “Baie [sal] . . . mekaar verraai en mekaar haat. . . . Die liefde van die meeste [sal] verkoel.”—Matteus 24:10, 12.

3 Let egter daarop dat Jesus nie gesê het dat almal se liefde sou verkoel nie. Daar was nog altyd en sal altyd diegene wees wat die soort liefde betoon wat Jehovah vereis sowel as verdien. Diegene wat Jehovah werklik liefhet, sal probeer om ander te beskou soos hy hulle beskou. Maar wie is ons naaste wat ons moet liefhê? Hoe moet ons liefde aan ons naaste betoon? Die Skrif kan ons help om hierdie belangrike vrae te beantwoord.

Wie is my naaste?

4. Aan wie moes die Jode liefde betoon, volgens Levitikus hoofstuk 19?

4 Toe Jesus vir die Fariseër gesê het dat die tweede grootste gebod is om jou naaste lief te hê soos jouself, het hy verwys na ’n spesifieke wet wat aan Israel gegee is. Dit is opgeteken in Levitikus 19:18. In daardie selfde hoofstuk is daar vir die Jode gesê dat hulle ander benewens mede-Israeliete as hulle naaste moet beskou. Vers 344 sê: “Die inwonende vreemdeling wat as ’n vreemdeling by julle woon, moet vir julle soos ’n boorling onder julle word; en jy moet hom liefhê soos jouself, want julle het inwonende vreemdelinge in Egipteland geword.” Selfs nie-Jode, veral die proseliete, moes dus met liefde behandel word.

5. Hoe het die Jode naasteliefde verstaan?

5 Die Joodse leiers van Jesus se dag het egter ’n ander beskouing van die saak gehad. Party het die mense geleer dat die woorde “vriend” en “naaste” net op Jode van toepassing is. Nie-Jode moes gehaat word. Hierdie leermeesters het geredeneer dat die godvrugtiges die goddeloses moet verag. “In so ’n atmosfeer”, sê een naslaanwerk, “kon haat onmoontlik versmoor. Dit het baie gehad om op te floreer.”

6. Watter twee punte het Jesus na vore gebring toe hy oor naasteliefde gepraat het?

6 In sy Bergpredikasie het Jesus hierdie kwessie bespreek en lig gewerp op wie met liefde behandel moet word. Hy het gesê: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand haat.’ Ek sê egter vir julle: Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg; sodat julle kan toon dat julle kinders is van julle Vader wat in die hemele is, aangesien hy sy son laat opgaan oor goddeloses en goeies en dit laat reën op regverdiges en onregverdiges” (Matteus 5:43-45). Jesus het hier twee punte na vore gebring. Eerstens, Jehovah is vrygewig en goedhartig teenoor die goeies sowel as die slegtes. Tweedens, ons moet sy voorbeeld volg.

7. Watter les leer ons uit die gelykenis van die barmhartige Samaritaan?

7 By ’n ander geleentheid het ’n Jood wat goed vertroud was met die Wet, vir Jesus gevra: “Wie is dan my naaste?” Jesus het geantwoord deur ’n gelykenis te vertel van ’n Samaritaan wat op ’n man, ’n Jood, afgekom het wat deur rowers aangeval en van sy besittings beroof is. Hoewel Jode oor die algemeen Samaritane verag het, het die Samaritaan die man se wonde verbind en hom na die veiligheid van ’n herberg gebring, waar hy kon herstel. Die les? Ons naasteliefde moet ook mense insluit wat nie van dieselfde ras, nasionaliteit of godsdiens as ons is nie.—Lukas 10:25, 29, 30, 33-37.

Wat dit beteken om ons naaste lief te hê

8. Wat sê Levitikus hoofstuk 19 oor hoe liefde betoon moes word?

8 Liefde vir ons naaste, soos liefde vir God, is nie bloot ’n gevoel nie; dit behels dade. Dit is nuttig om verder te kyk na die konteks van die gebod in Levitikus 19 wat God se volk aangespoor het om hulle naaste lief te hê soos hulleself. Ons lees daar dat die Israeliete die geteisterdes en die inwonende vreemdelinge moes toelaat om ’n aandeel aan die oes te hê. Daar was geen ruimte vir diefstal, bedrog of oneerlike handelinge nie. Die Israeliete moes geen partydigheid in regterlike aangeleenthede toon nie. Hoewel hulle teregwysing moes gee wanneer dit nodig was, is daar uitdruklik vir hulle gesê: “Jy mag jou broer nie in jou hart haat nie.” Hierdie en baie ander gebooie is saamgevat in die woorde: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”—Levitikus 19:9-11, 15, 17, 18.

9. Waarom het Jehovah die Israeliete beveel om afgeskeie te bly van ander nasies?

9 Hoewel die Israeliete liefde aan ander moes betoon, moes hulle ook afgeskeie bly van diegene wat valse gode aanbid het. Jehovah het gewaarsku teen die gevare en gevolge van slegte omgang. Aangaande die nasies wat die Israeliete uit hulle besitting moes verdryf, het Jehovah byvoorbeeld beveel: “Jy mag geen huweliksverbintenis met hulle aangaan nie. Jou dogter mag jy nie aan sy seun gee nie, en sy dogter mag jy nie vir jou seun neem nie. Want hy sal jou seun daarvan afkeer om my te volg, en hulle sal beslis ander gode dien; en Jehovah se toorn sal inderdaad teen julle ontvlam.”—Deuteronomium 7:3, 4.

10. Waarteen moet ons waak?

10 Christene waak eweneens daarteen om verhoudinge aan te knoop met diegene wat hulle geloof kan ondermyn (1 Korintiërs 15:33). Ons word gemaan: “Moenie saam met ongelowiges [diegene wat geen deel van die Christengemeente is nie] onder ’n ongelyke juk kom nie” (2 Korintiërs 6:14). Verder word Christene vermaan om “net in die Here” te trou (1 Korintiërs 7:39). Maar ons moet nooit diegene verag wat nie soos ons in Jehovah glo nie. Christus het vir sondaars gesterf, en baie wat voorheen veragtelike dinge beoefen het, het hulle weë verander en met God versoen geraak.—Romeine 5:8; 1 Korintiërs 6:9-11.

11. Wat is die beste manier om liefde te betoon aan diegene wat Jehovah nie dien nie, en waarom?

11 Wanneer dit kom by die betoning van liefde aan diegene wat God nie dien nie, is Jehovah die allerbeste voorbeeld om na te volg. Hoewel hy goddeloosheid geensins liefhet nie, bewys hy aan almal liefderyke goedhartigheid deur hulle die geleentheid te bied om hulle van hulle slegte weë af te keer en die ewige lewe te ontvang (Esegiël 18:23). Jehovah “wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Petrus 3:9). Dit is sy wil dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Timoteus 2:4). Daarom het Jesus sy volgelinge die opdrag gegee om te preek en te onderrig en “dissipels van mense van al die nasies” te maak (Matteus 28:19, 20). Deur aan hierdie werk deel te neem, toon ons liefde vir God sowel as ons naaste, ja, selfs ook vir ons vyande!

Liefde vir ons Christenbroers

12. Wat het die apostel Johannes geskryf oor liefde vir ons broer?

12 Die apostel Paulus het geskryf: “Laat ons dan aan almal goed doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is” (Galasiërs 6:10). As Christene staan ons onder verpligting om liefde te toon vir dié wat in die geloof aan ons verwant is—ons geestelike broers en susters. Hoe belangrik is hierdie liefde? Die apostel Johannes het hierdie kragtige punt gestel en geskryf: “Elkeen wat sy broer haat, is ’n moordenaar . . . As iemand die bewering maak: ‘Ek het God lief’, en tog sy broer haat, is hy ’n leuenaar. Want hy wat sy broer, wat hy gesien het, nie liefhet nie, kan God nie liefhê, wat hy nie gesien het nie” (1 Johannes 3:15; 4:20). Dit is sterk woorde. Jesus Christus het die woorde “mensemoordenaar” en “leuenaar” op Satan die Duiwel toegepas (Johannes 8:44). Ons wil tog nooit hê dat hierdie woorde op ons toegepas moet word nie!

13. Op watter maniere kan ons liefde vir medegelowiges toon?

13 Ware Christene word “deur God geleer om mekaar lief te hê” (1 Tessalonisense 4:9). Ons moet liefhê, “nie met woorde of met die tong nie, maar met dade en in waarheid” (1 Johannes 3:18). Ons liefde moet “sonder huigelary” wees (Romeine 12:9). Liefde beweeg ons om goedhartig, vol medelye, vergewensgesind, lankmoedig en nie jaloers, grootpraterig, verwaand of selfsugtig te wees nie (1 Korintiërs 13:4, 5; Efesiërs 4:32). Dit spoor ons aan om ‘mekaar soos slawe te dien’ (Galasiërs 5:13). Jesus het vir sy dissipels gesê dat hulle mekaar moet liefhê net soos hy hulle liefgehad het (Johannes 13:34). ’n Christen moet dus bereid wees om selfs sy lewe ten behoewe van medegelowiges te gee indien nodig.

14. Hoe kan ons liefde in die gesin betoon?

14 Liefde moet in die besonder in ’n Christengesin en veral tussen man en vrou betoon word. Die huweliksband is so intiem dat Paulus gesê het: “Mans [behoort] hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggaam.” Hy het bygevoeg: “Hy wat sy vrou liefhet, het homself lief” (Efesiërs 5:28). Ons vind dat Paulus hierdie vermaning vyf verse later herhaal. ’n Man wat sy vrou liefhet, sal nie die Israeliete van Maleagi se dag navolg wat verraderlik gehandel het met hulle huweliksmaats nie (Maleagi 2:14). Hy sal haar koester. Hy sal haar liefhê soos Christus die gemeente liefgehad het. Liefde sal ’n vrou eweneens beweeg om haar man te respekteer.—Efesiërs 5:25, 29-33.

15. Wat is party beweeg om te sê en te doen toe hulle broederliefde in aksie gesien het?

15 Dit is duidelik dat hierdie soort liefde die kenmerk van ware Christene is. Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Ons liefde vir mekaar trek mense aan tot die God wat ons liefhet en verteenwoordig. Byvoorbeeld, hierdie verslag oor ’n Getuiegesin kom uit Mosambiek. “Ons het nog nooit so iets gesien nie. ’n Hewige wind het die middag begin waai en is gevolg deur swaar reën en haelstene. Die sterk winde het ons matjieshuis vernietig, en die daksinkplate het weggewaai. Toe ons broers van naburige gemeentes ons huis kom help herbou het, het ons verbaasde bure gesê: ‘Julle godsdiens is baie goed. Ons het nog nooit sulke hulp van ons kerk gekry nie.’ Ons het die Bybel oopgemaak en vir hulle Johannes 13:34, 35 gewys. Baie van ons bure bestudeer nou die Bybel.”

Liefde vir individue

16. Wat is die verskil tussen om ’n groep lief te hê en om individue lief te hê?

16 Dit is nie moeilik om ons naaste as ’n groep lief te hê nie. Maar liefde vir individue kan ’n heeltemal ander saak wees. Party mense se naasteliefde strek byvoorbeeld niks verder as ’n skenking aan ’n liefdadigheidsorganisasie nie. Om te sê dat ons ons naaste liefhet, is inderdaad baie makliker as wat dit is om ’n medewerker wat blykbaar nie vir ons omgee nie, ’n aanstootlike buurman of ’n vriend wat ons teleurstel, lief te hê.

17, 18. Hoe het Jesus liefde aan individue betoon, en waarom het hy dit gedoen?

17 Ons leer by Jesus, wat God se eienskappe volmaak weerspieël het, omtrent liefde vir individue. Hoewel hy aarde toe gekom het om die sonde van die wêreld weg te neem, het hy liefde vir individue getoon—’n siek vrou, ’n melaatse, ’n kind (Matteus 9:20-22; Markus 1:40-42; 7:26, 29, 30; Johannes 1:29). Ons toon eweneens liefde vir ons naaste deur die manier waarop ons die individue behandel met wie ons dag vir dag in aanraking kom.

18 Ons moet egter nooit vergeet dat liefde vir ons naaste verband hou met liefde vir God nie. Hoewel Jesus die armes gehelp, die siekes genees en die honger mense gevoed het, het hy al hierdie dinge gedoen, asook die skares onderrig, met die doel om mense te help om met Jehovah versoen te raak (2 Korintiërs 5:19). Jesus het alles tot heerlikheid van God gedoen en het nooit vergeet dat hy die God wat hy liefhet, verteenwoordig en weerspieël nie (1 Korintiërs 10:31). Deur Jesus se voorbeeld na te volg, kan ons ook opregte naasteliefde betoon en terselfdertyd steeds geen deel van die wêreld van goddelose mense wees nie.

Hoe het ons ons naaste lief soos onsself?

19, 20. Wat beteken dit om ons naaste lief te hê soos onsself?

19 Jesus het gesê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Dit is normaal om vir onsself om te gee en om ’n gesonde mate van selfrespek te hê. As dit nie die geval was nie, sou die gebod nie veel beteken het nie. Hierdie gepaste liefde vir onsself moet nie verwar word met die egosentriese eieliefde wat die apostel Paulus in 2 Timoteus 3:2 meld nie. Dit is eerder ’n redelike gevoel van eiewaarde. Een Bybelgeleerde het dit beskryf as “’n gebalanseerde eieliefde wat nie ’n narsistiese ‘Ek is wonderlik’ of ’n masochistiese ‘Ek is niks werd’ is nie”.

20 Om ander lief te hê soos ons onsself liefhet, beteken dat ons ander beskou soos ons beskou wil word en ander behandel soos ons behandel wil word. Jesus het gesê: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matteus 7:12). Let daarop dat Jesus nie gesê het dat ons moet tob oor wat ander in die verlede aan ons gedoen het en hulle dan in gelyke munt moet terugbetaal nie. Ons moet eerder dink aan hoe ons behandel wil word en dan in ooreenstemming daarmee optree. Let ook daarop dat Jesus nie sy woorde tot vriende en broers beperk het nie. Hy het die woord “mense” gebruik, miskien om te toon dat ons so teenoor alle mense, almal wat ons teëkom, moet optree.

21. Wat toon ons as ons liefde aan ander betoon?

21 Liefde vir ons naaste sal verhoed dat ons doen wat sleg is. Die apostel Paulus het geskryf: “Die wetsbepalings: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie, Jy mag nie moord pleeg nie, Jy mag nie steel nie, Jy mag nie hebsugtig begeer nie’, en watter ander gebod daar ook al is, word in hierdie woord saamgevat, naamlik: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie” (Romeine 13:9, 10). Liefde sal ons beweeg om maniere te soek om aan ander goed te doen. As ons ons medemens liefhet, toon ons dat ons ook die een liefhet wat die mens na Sy beeld geskep het, Jehovah God.—Genesis 1:26.

Hoe sal jy antwoord?

• Aan wie moet ons liefde betoon, en waarom?

• Hoe kan ons liefde betoon aan diegene wat Jehovah nie dien nie?

• Hoe beskryf die Bybel die liefde wat ons vir ons broers moet hê?

• Wat beteken dit om ons naaste lief te hê soos onsself?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 26]

“Wie is dan my naaste?”

[Prent op bladsy 29]

Jesus se liefde sluit ook individue in