Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah sal “reg laat geskied”

Jehovah sal “reg laat geskied”

Jehovah sal “reg laat geskied”

“Sal God [nie] reg laat geskied aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot hom roep nie?”—LUKAS 18:7.

1. Wie is vir jou ’n bron van aanmoediging, en waarom?

 REGOOR die wêreld geniet Jehovah se Getuies die geselskap van Christenbroers en -susters wat Jehovah al jare lank getrou dien. Ken jy ’n paar van hierdie dierbares persoonlik? Jy dink dalk aan ’n liewe ou suster wat baie jare gelede gedoop is en selde wegbly van ’n vergadering by die Koninkryksaal. Of miskien dink jy aan ’n bejaarde broer wat die gemeente se velddiensbedrywighede week ná week getrou ondersteun en dit al dekades lank doen. Baie van hierdie getroues het weliswaar gedink dat Armageddon teen dié tyd lankal sou gekom het. Maar die feit dat hierdie onregverdige wêreld nog steeds bestaan, het nie hulle vertroue in Jehovah se beloftes ondermyn of hulle minder vasbeslote gemaak om ‘tot die einde toe te volhard’ nie (Matteus 24:13). Die diep geloof wat sulke lojale knegte van Jehovah openbaar, is werklik ’n bron van aanmoediging vir die hele gemeente.—Psalm 147:11.

2. Watter situasie maak ons ongelukkig?

2 Soms sien ons egter die teenoorgestelde. Party Getuies het jare lank aan die bediening deelgeneem, maar mettertyd het hulle geloof in Jehovah afgeneem en het hulle opgehou om met die Christengemeente om te gaan. Dit maak ons ongelukkig as voormalige metgeselle Jehovah verlaat, en dit is ons opregte begeerte om aan te hou om elke “verlore skaap” te help om na die kudde terug te keer (Psalm 119:176; Romeine 15:1). Hierdie teenstellende situasies—party wat hulle geloof behou, terwyl ander hulle geloof verloor—laat egter vrae ontstaan. Wat stel talle Getuies in staat om hulle geloof in Jehovah se beloftes te behou terwyl ander dit verloor? Wat kan ons persoonlik doen om te sorg dat ons vas oortuig bly dat “die groot dag van Jehovah” nader kom? (Sefanja 1:14). Kom ons kyk na ’n illustrasie wat in die Evangelie van Lukas gevind word.

’n Waarskuwing vir dié wat lewe ‘wanneer die Seun van die mens kom’

3. Veral wie kan baat vind by die illustrasie van die weduwee en die regter, en waarom?

3 In Lukas hoofstuk 18 vind ons Jesus se illustrasie oor ’n weduwee en ’n regter. Dit is soortgelyk aan die illustrasie oor die volhardende gasheer, wat ons in die vorige artikel bespreek het (Lukas 11:5-13). Die konteks van die Skrifgedeelte waarin die illustrasie van die weduwee en die regter voorkom, toon egter dat dit veral van toepassing is op dié wat lewe ‘wanneer die Seun van die mens [in Koninkryksmag] kom’, die tydperk wat in 1914 begin het.—Lukas 18:8. a

4. Wat het Jesus bespreek voordat hy die illustrasie in Lukas hoofstuk 18 vertel het?

4 Voor die illustrasie het Jesus gesê dat die bewys van sy teenwoordigheid in Koninkryksmag so duidelik gesien sal kan word “soos die weerlig” wat “van een deel onder die hemel tot ’n ander deel onder die hemel skyn” (Lukas 17:24; 21:10, 29-33). Nietemin sou die meeste mense wat in “die tyd van die einde” lewe, nie op daardie duidelike bewys ag gee nie (Daniël 12:4). Waarom nie? Om dieselfde rede as wat mense in die tyd van Noag en van Lot Jehovah se waarskuwings geïgnoreer het. Destyds het mense ‘geëet, gedrink, gekoop, verkoop, geplant en gebou tot op die dag dat hulle vernietig is’ (Lukas 17:26-29). Hulle het hulle lewe verloor omdat hulle so betrokke was by daardie alledaagse bedrywighede dat hulle nie op God se wil ag geslaan het nie (Matteus 24:39). Vandag is mense oor die algemeen ook so betrokke by daaglikse sake dat hulle nie die bewyse sien dat die einde van hierdie goddelose wêreld naby is nie.—Lukas 17:30.

5. (a) Tot wie het Jesus ’n waarskuwing gerig, en waarom? (b) Wat het gemaak dat party hulle geloof verloor het?

5 Dit is duidelik dat Jesus besorg was dat sy volgelinge ook deur Satan se wêreld afgelei kon word, selfs tot die punt dat hulle “na die dinge wat agter is”, sou terugkeer (Lukas 17:22, 31). En dit het in werklikheid met party Christene gebeur. Sulke persone het jare lank gesmag na die dag wanneer Jehovah hierdie goddelose wêreld tot ’n einde gaan bring. Maar toe Armageddon nie gekom het op die tyd dat hulle dit verwag het nie, het hulle moedeloos geword. Hulle vertroue dat Jehovah se oordeelsdag naby is, het vervaag. Hulle het traag geword in die bediening en geleidelik so betrokke geraak by die alledaagse dinge in die lewe dat daar min tyd oor was vir geestelike dinge (Lukas 8:11, 13, 14). Uiteindelik het hulle ‘teruggekeer na die dinge wat agter is’—hoe jammer tog!

Die noodsaaklikheid om “altyd te bid”

6-8. (a) Vertel die illustrasie van die weduwee en die regter. (b) Hoe het Jesus hierdie illustrasie toegepas?

6 Wat kan ons doen om te sorg dat ons vaste vertroue in die vervulling van Jehovah se beloftes nie verswak nie? (Hebreërs 3:14). Jesus het aandag gegee aan hierdie vraag net nadat hy die dissipels gewaarsku het om nie na Satan se goddelose wêreld terug te keer nie.

7 Lukas vertel dat Jesus “vir hulle ’n illustrasie vertel [het] oor die noodsaaklikheid vir hulle om altyd te bid en nie moed op te gee nie”. Jesus het gesê: “In ’n sekere stad was daar ’n sekere regter wat geen vrees vir God en geen respek vir mense gehad het nie. Maar daar was ’n weduwee in daardie stad, en sy het aanhoudend na hom toe gegaan en gesê: ‘Sorg dat reg aan my geskied ten opsigte van my teenstander in die regsgeding.’ Wel, ’n ruk lank wou hy nie, maar agterna het hy vir homself gesê: ‘Hoewel ek nie God vrees of ’n mens respekteer nie, sal ek in elk geval, omdat hierdie weduwee my voortdurend lastig val, sorg dat reg aan haar geskied, sodat sy nie aanhoudend sal kom en my slaan tot ek gedaan is nie.’”

8 Nadat hy dit vertel het, het Jesus dit soos volg toegepas: “Hoor wat die regter, hoewel onregverdig, gesê het! Sal God dan nie beslis reg laat geskied aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot hom roep nie, al is hy lankmoedig teenoor hulle? Ek sê vir julle: Hy sal gou reg aan hulle laat geskied. Maar sal die Seun van die mens werklik die geloof op die aarde vind wanneer hy kom?”—Lukas 18:1-8.

“Sorg dat reg aan my geskied”

9. Watter tema staan uit in die illustrasie van die weduwee en die regter?

9 Die sentrale tema van hierdie treffende illustrasie staan duidelik uit. Dit word deur albei karakters in die illustrasie sowel as deur Jesus genoem. Die weduwee het gepleit: “Sorg dat reg aan my geskied.” Die regter het gesê: “[Ek sal] sorg dat reg aan haar geskied.” Jesus het gevra: “Sal God [nie] reg laat geskied . . . nie?” En van Jehovah het Jesus gesê: “Hy sal gou reg aan hulle laat geskied” (Lukas 18:3, 5, 7, 8). Presies wanneer sal God “reg . . . laat geskied”?

10. (a) Wanneer is die reg toegepas in die eerste eeu? (b) Wanneer en hoe sal reg geskied aan God se knegte van vandag?

10 In die eerste eeu het die “dae waarin die reg toegepas sal word” (of, “dae van wraak”, Kingdom Interlinear) in 70 G.J. aangebreek toe Jerusalem en sy tempel vernietig is (Lukas 21:22). Vir God se volk van vandag sal reg geskied op “die groot dag van Jehovah” (Sefanja 1:14; Matteus 24:21). Dan sal Jehovah “verdrukking . . . vergeld aan dié wat vir [sy volk] verdrukking veroorsaak, . . . wanneer [Jesus Christus] wraak uitoefen op dié wat God nie ken nie en dié wat die goeie nuus oor ons Here Jesus nie gehoorsaam nie”.—2 Tessalonisense 1:6-8; Romeine 12:19.

11. Hoe sal reg “gou” geskied?

11 Maar hoe moet ons Jesus se versekering verstaan dat Jehovah “gou” reg sal laat geskied? God se Woord toon dat Jehovah gou reg sal laat geskied wanneer die tyd ryp is daarvoor, “al is hy lankmoedig” (Lukas 18:7, 8; 2 Petrus 3:9, 10). In Noag se tyd, toe die Vloed gekom het, is die goddeloses sonder versuim vernietig. Ook in Lot se dag het die goddeloses vergaan toe dit vuur uit die hemel gereën het. Jesus het gesê: “Net so sal dit wees op daardie dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar sal word” (Lukas 17:27-30). Die goddeloses sal weer “skielike vernietiging” ondervind (1 Tessalonisense 5:2, 3). Trouens, ons kan vol vertroue wees dat Jehovah nie sal toelaat dat Satan se wêreld een dag langer bestaan as wat deur geregtigheid vereis word nie.

‘Hy sal reg laat geskied’

12, 13. (a) Hoe leer Jesus se illustrasie van die weduwee en die regter sy volgelinge ’n les? (b) Waarom kan ons seker wees dat Jehovah ons gebede sal verhoor en reg sal laat geskied?

12 Jesus se illustrasie van die weduwee en die regter beklemtoon ook ander belangrike waarhede. Toe Jesus die illustrasie toegepas het, het hy gesê: “Hoor wat die regter, hoewel onregverdig, gesê het! Sal God dan nie beslis reg laat geskied aan sy uitverkorenes . . . nie?” Jesus het Jehovah natuurlik nie met die regter vergelyk asof hy te kenne wou gee dat God gelowiges ook so sou behandel nie. Inteendeel, Jesus het sy volgelinge ’n les oor Jehovah geleer deur die aandag op ’n kontras tussen daardie regter en God te vestig. In watter opsigte is daar ’n kontras tussen hulle?

13 Die regter in Jesus se illustrasie was “onregverdig”, terwyl “God . . . ’n regverdige Regter” is (Psalm 7:11; 33:5). Die regter het glad nie in die weduwee as ’n persoon belanggestel nie, maar Jehovah stel in elke individu belang (2 Kronieke 6:29, 30). Die regter was onwillig om die weduwee te help, maar Jehovah is gewillig—ja, gretig—om almal wat Hom dien, te hulp te kom (Jesaja 30:18, 19). Wat is die les? As die onregverdige regter na die versoeke van die weduwee geluister het en aan haar reg laat geskied het, hoeveel te meer sal Jehovah dan die gebede van sy volk verhoor en beslis aan hulle reg laat geskied!—Spreuke 15:29.

14. Waarom moet ons nie ons geloof in die koms van God se oordeelsdag verloor nie?

14 Diegene wat geloof in die koms van God se oordeelsdag verloor, maak dus ’n groot fout. Waarom? Deur hulle vaste oortuiging dat “die groot dag van Jehovah” naby is, prys te gee, bevraagteken hulle in werklikheid of ’n mens op Jehovah kan staatmaak om sy beloftes getrou na te kom. Maar niemand kan God se getrouheid met reg betwis nie (Job 9:12). ’n Gepaste vraag is: Sal ons persoonlik getrou bly? En dit is presies waarvan Jesus gepraat het aan die einde van die illustrasie oor die weduwee en die regter.

‘Sal hy werklik hierdie geloof op die aarde vind?’

15. (a) Watter vraag het Jesus gestel, en waarom? (b) Wat moet ons ons afvra?

15 Jesus het die interessante vraag gestel: “Sal die Seun van die mens werklik hierdie geloof op die aarde vind wanneer hy kom?” (Lukas 18:8, voetnoot in NW). Die uitdrukking “hierdie geloof” dui daarop dat Jesus nie verwys het na geloof in die algemene sin nie, maar na ’n spesifieke soort geloof—geloof soos dié van die weduwee. Jesus het nie sy vraag beantwoord nie. Hy het dit geopper sodat sy dissipels aan die gehalte van hulle eie geloof sou dink. Was dit besig om geleidelik swakker te word, sodat hulle gevaar geloop het om terug te keer na die dinge wat hulle agtergelaat het? Of het hulle die soort geloof gehad wat die weduwee aan die dag gelê het? Vandag moet ons ons ook afvra: ‘Watter soort geloof vind “die Seun van die mens” in my hart?’

16. Watter soort geloof het die weduwee gehad?

16 Ons moet die weg van daardie weduwee volg as ons onder diegene wil wees aan wie Jehovah reg sal laat geskied. Watter soort geloof het sy gehad? Sy het haar geloof bewys deur aanhoudend ‘na die regter toe te gaan en te sê: “Sorg dat reg aan my geskied.”’ Daardie weduwee het volhard totdat ’n onregverdige man reg aan haar laat geskied het. Net so kan God se knegte vandag vertrou dat Jehovah aan hulle reg sal laat geskied—al neem dit langer as wat hulle verwag het. Verder toon hulle hulle vertroue in God se beloftes deur te volhard in gebed—ja, deur ‘dag en nag tot Jehovah te roep’ (Lukas 18:7). Trouens, as ’n Christen ophou bid dat reg moet geskied, sal dit toon dat hy nie meer vertrou dat Jehovah ten behoewe van sy knegte sal optree nie.

17. Watter redes het ons om vol te hou met gebed en ons geloof te behou dat Jehovah se oordeelsdag beslis sal kom?

17 Die spesifieke omstandighede van daardie weduwee wys vir ons dat ons bykomende redes het om vol te hou met gebed. Beskou ’n paar verskille tussen haar situasie en ons s’n. Die weduwee het aangehou om die regter te nader al het niemand haar aangemoedig om dit te doen nie, maar God se Woord gee ons baie aanmoediging om ‘vol te hou met gebed’ (Romeine 12:12). Die weduwee het geen versekering gehad dat haar versoeke toegestaan sou word nie, maar Jehovah het ons verseker dat reg sal geskied. Deur middel van sy profeet het Jehovah gesê: “Al sou dit talm, bly in afwagting daarvan; want dit sal vir seker uitkom. Dit sal nie laat wees nie” (Habakuk 2:3; Psalm 97:10). Die weduwee het geen helper gehad om namens haar te pleit om meer krag aan haar versoek te gee nie. Ons het egter ’n kragtige helper, Jesus, “wat aan die regterhand van God is, wat ook vir ons pleit” (Romeine 8:34; Hebreërs 7:25). As die weduwee dus ten spyte van haar moeilike situasie aangehou het om by die regter te pleit met die hoop dat reg sal geskied, hoeveel te meer moet ons dan ons geloof behou dat Jehovah se oordeelsdag beslis sal kom!

18. Hoe sal gebed ons geloof versterk en ons help sodat reg aan ons geskied?

18 Die illustrasie van die weduwee leer ons dat daar ’n noue verband bestaan tussen gebed en geloof en dat ons volgehoue gebede invloede kan teëwerk wat ons geloof kan ondermyn. Dit beteken natuurlik nie dat gebede wat bloot vir die skyn gedoen word, jou sal help om nie jou geloof te verloor nie (Matteus 6:7, 8). Wanneer ons beweeg word om te bid omdat ons besef dat ons heeltemal afhanklik is van God, laat gebed ons nader aan God kom en versterk dit ons geloof. En aangesien geloof noodsaaklik is vir redding, is dit geen wonder dat Jesus dit nodig geag het om sy dissipels aan te moedig om “altyd te bid en nie moed op te gee nie”! (Lukas 18:1; 2 Tessalonisense 3:13). Die koms van “die groot dag van Jehovah” hang weliswaar nie van ons gebede af nie—dit sal kom of ons daarvoor bid of nie. Maar of daar aan ons persoonlik reg sal geskied en of ons God se oorlog sal oorleef of nie, hang beslis af van die geloof wat ons het en die biddende weg wat ons volg.

19. Hoe bewys ons dat ons vas glo dat God “reg [sal] laat geskied”?

19 Ons onthou dalk dat Jesus gevra het: “Sal die Seun van die mens werklik hierdie geloof op die aarde vind wanneer hy kom?” Wat is die antwoord op sy interessante vraag? Hoe bly is ons tog dat daar vandag miljoene getroue knegte van Jehovah regoor die aarde is wat deur hulle gebede, geduld en volharding bewys dat hulle wel hierdie geloof het! Jesus se vraag kan dus bevestigend geantwoord word. Ja, ten spyte van die onregte wat Satan se wêreld tans oor ons laat kom, glo ons vas dat God “reg [sal] laat geskied aan sy uitverkorenes”.

[Voetnoot]

a Om die betekenis van hierdie illustrasie ten volle te verstaan, lees Lukas 17:22-33. Let op hoe die verwysings na “die Seun van die mens” in Lukas 17:22, 24, 30 betrekking het op die vraag wat in Lukas 18:8 geopper word.

Onthou jy?

• Wat het gemaak dat party Christene hulle geloof verloor het?

• Waarom kan ons vas glo dat Jehovah se oordeelsdag sal kom?

• Watter redes het ons om vol te hou met gebed?

• Hoe sal volgehoue gebed ons help om nie ons geloof te verloor nie?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 26]

Wat word beklemtoon deur die illustrasie van die weduwee en die regter?

[Prente op bladsy 29]

Daar is vandag miljoene wat vas glo dat God “reg [sal] laat geskied”