Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jesus se geboorte—Hoe dit vrede bring

Jesus se geboorte—Hoe dit vrede bring

Jesus se geboorte—Hoe dit vrede bring

DIE aankondiging van “vrede onder mense van welwillendheid” was nie die enigste profesie in verband met Jesus se geboorte nie. Buiten wat die engele aan die verbaasde herders bekend gemaak het, het hemelse boodskappers ook goddelik geïnspireerde verklarings omtrent die pasgebore Jesus aan Maria en haar man, Josef, gedoen. ’n Bespreking van hierdie boodskappe sal ons in staat stel om dieper insig te kry in Jesus se geboorte en om die ware betekenis van die engele se belofte van vrede onder mense te verstaan.

Voor Jesus se geboorte, selfs voordat Maria swanger geraak het, is sy deur ’n engel besoek wat in die Bybel Gabriël genoem word. Die engel het haar met hierdie woorde gegroet: “Goeiedag, hoogbegunstigde, Jehovah is met jou.” Soos jy jou kan indink, was Maria diep verontrus hieroor en moontlik ’n bietjie bang. Wat kon hierdie woorde beteken?

Gabriël het verduidelik: “Kyk! jy sal in jou moederskoot ontvang en aan ’n seun geboorte gee, en jy moet hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en Jehovah God sal hom die troon van sy vader Dawid gee, en hy sal vir ewig as koning oor die huis van Jakob heers, en daar sal geen einde aan sy koninkryk wees nie.” Maria het gevra hoe dit sou gebeur, aangesien sy, ’n maagd, nie met ’n man gemeenskap gehad het nie. Gabriël het geantwoord dat die seun deur middel van God se heilige gees verwek sou word. Dit sou beslis nie ’n gewone kind wees nie.—Lukas 1:28-35.

Die voorspelde Koning

Gabriël se woorde het Maria sekerlik gehelp om te verstaan dat die seun wat sy sou baar, die onderwerp van eertydse profesieë was. Die openbaring dat Jehovah Maria se seun “die troon van sy vader Dawid” sou gee, sou haar—en in werklikheid enige Joodse persoon wat die Skrif geken het—laat dink aan wat God aan koning Dawid van Israel belowe het.

Deur die profeet Natan, het Jehovah vir Dawid gesê: “Jou huis en jou koninkryk sal beslis tot onbepaalde tyd voor jou bestendig wees; jou troon sal tot onbepaalde tyd stewig gevestig word” (2 Samuel 7:4, 16). Jehovah het aangaande Dawid gesê: “Ek sal beslis sy saad tot in ewigheid bevestig en sy troon soos die dae van die hemel. Sy saad sal tot onbepaalde tyd wees, en sy troon soos die son voor my” (Psalm 89:20, 29, 35, 36). Dit was dus geen toeval dat Maria, asook Josef, afstammelinge van die huis van Dawid was nie.

Dit was nie die enigste profesieë in die Hebreeuse Geskrifte aangaande ’n koninklike seun van Dawid nie. Maria het ongetwyfeld Jesaja se profesie geken: “’n Kind is vir ons gebore, ’n seun is vir ons gegee; en die vorstelike heerskappy sal op sy skouer wees. En hy sal genoem word: Wonderlike Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Aan die oorvloed van die vorstelike heerskappy en aan vrede sal daar geen einde wees nie, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk om dit stewig te vestig en om dit deur middel van geregtigheid en deur middel van regverdigheid in stand te hou, van nou af en tot onbepaalde tyd. Die ywer van Jehovah van die leërs sal dit doen.”—Jesaja 9:6, 7.

Wat Gabriël aan Maria bekend gemaak het, was dus baie meer as die wonderdadige geboorte van ’n babaseuntjie. Haar seun sou die koninklike erfgenaam van koning Dawid wees—die permanente, ewige erfgenaam van ’n goddelik opgerigte Koninkryk. Gabriël se profesieë aangaande Jesus se toekomstige rol is vir almal van ons van groot belang.

Toe Josef uitvind dat sy aanstaande vrou ’n kind verwag, het hy besluit om hulle verlowing te verbreek. Hy het geweet dat die kind nie syne is nie, want hy en sy verloofde het nooit geslagsomgang gehad nie. Jy kan jou indink hoe moeilik dit vir Josef moes gewees het om Maria se verduideliking van haar swangerskap te glo. Die Evangelieverslag sê: “Jehovah se engel [het] in ’n droom aan hom verskyn en gesê: ‘Josef, seun van Dawid, moenie bang wees om jou vrou Maria huis toe te neem nie, want wat in haar verwek is, is deur heilige gees. Sy sal geboorte gee aan ’n seun, en jy moet hom Jesus noem, want hy sal sy volk van hulle sondes red.’”—Matteus 1:20, 21.

Die Bybel sê nie in watter mate Josef verstaan het hoe die kind “sy volk van hulle sondes [sou] red” nie. Hierdie boodskap was nietemin voldoende om Josef te verseker dat die verwagtende moeder nie aan enige oortreding skuldig was nie. Hy het gedoen soos die engel vir hom gesê het en Maria huis toe geneem, wat as ’n huweliksplegtigheid beskou is.

Met behulp van inligting wat elders in die Skrif gevind word, kan ons verstaan wat die engel bedoel het. Vroeg in die mensegeskiedenis het ’n opstandige engel Jehovah se soewereiniteit betwis. Die Hebreeuse Geskrifte toon dat hierdie rebel onder andere beweer het dat God se manier van regeer onregverdig is en dat geen mens onkreukbaarheid teenoor Jehovah sou handhaaf wanneer hy op die proef gestel word nie (Genesis 3:2-5; Job 1:6-12). Wat Adam betref, hy het nie onkreukbaarheid gehandhaaf nie. As gevolg van sy sonde, erf alle mense sonde, wat tot die dood lei (Romeine 5:12; 6:23). Jesus is egter sonder sonde gebore omdat hy nie deur ’n menslike vader verwek is nie. Deur sy volmaakte menselewe gewillig te gee as ’n losprys wat presies ooreengestem het met wat Adam verloor het, was Jesus in ’n posisie om mense van hulle sonde te red en hulle die vooruitsig op die ewige lewe te gee.—1 Timoteus 2:3-6; Titus 3:6, 7; 1 Johannes 2:25.

Tydens sy aardse bediening het Jesus ’n voorskou gegee van wat dit sal beteken wanneer die gevolge van sonde uit die weg geruim word. Hy het mense van elke soort fisiese gebrek genees en het selfs dooies weer lewend gemaak (Matteus 4:23; Johannes 11:1-44). Daardie wonderwerke was ’n skaduwee van wat hy in die toekoms sal doen. Jesus het self gesê: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, [my] stem sal hoor en sal uitkom.”—Johannes 5:28, 29.

Hierdie belofte van ’n toekomstige opstanding verklaar waarom Jesus se geboorte—en des te meer sy dood—vir ons van die uiterste belang is. God het sy Seun in die wêreld uitgestuur “sodat die wêreld deur middel van hom gered kan word”, sê Johannes 3:17. Hierdie wonderlike nuus laat ons weer dink aan wat aan die herders bekend gemaak is toe hulle hulle kuddes opgepas het op die aand van Jesus se geboorte.

‘Goeie nuus van groot vreugde’

Dit was inderdaad ‘goeie nuus van groot vreugde’ vir die mensdom toe die engele die geboorte van ‘’n Redder, wat Christus die Here is’, aangekondig het (Lukas 2:10, 11). Hierdie kind sou die Messias wees, die groot Profeet en Heerser wat God se volk al lank verwag het (Deuteronomium 18:18; Miga 5:2). Sy lewe en dood op aarde sou ’n noodsaaklike rol speel in die regverdiging van Jehovah se universele soewereiniteit, sodat die engele kon sê: “Heerlikheid aan God in die hoogtes daar bo.”—Lukas 2:14.

Jesus, wat in die Bybel “die laaste Adam” genoem word, het getoon dat dit moontlik is vir ’n mens om selfs onder die kwaaiste beproewing aan Jehovah getrou te bly (1 Korintiërs 15:45). Hy het dus bewys dat Satan ’n bose leuenaar is. Dit was rede tot vreugde in die hemel onder getroue engele.

Maar kom ons keer terug na die vraag: “Is dit hoegenaamd realisties om te hoop dat die engele se verklaring op die aand van Jesus se geboorte ooit bewaarheid sal word?” Die antwoord is ’n besliste ja! Vrede is noodsaaklik vir die verwesenliking van God se voorneme vir die aarde, wat die herstel van paradystoestande insluit. Wanneer dit wêreldwyd volbring is, sal alle mense deur liefde en lojaliteit aangedryf word. Die verwesenliking van Jehovah se voorneme beteken dus ook dat alle weerstand teen sy soewereiniteit uit die weg geruim sal word. Vir diegene wat hulle aan die kant van Satan skaar en beweer dat Jehovah se standaarde sleg is, is dit nie goeie nuus nie. Dit sal vir hulle vernietiging beteken.—Psalm 37:11; Spreuke 2:21, 22.

Let op dat die engele nie vir die herders vertel het van vrede en welwillendheid onder alle mense nie. Hulle het eerder “vrede onder mense van welwillendheid” aangekondig. Dit wil sê onder diegene wat God se goedkeuring geniet en teenoor wie hy welwillendheid betoon. Diegene wat ware geloof in Jehovah toon, word getroue volgelinge van Jesus en volg sy voorbeeld na. Sulke mans en vroue is gewillig om vrygewig teenoor ander te wees en hulle met begrip te behandel, nie net ’n paar dae elke jaar nie, maar elke dag.

’n Christelike gees die hele jaar deur?

Die krag van die goeie nuus wat Jesus verkondig het, het die lewens van tallose mense beïnvloed. Baie pas Christelike beginsels toe in elke aspek van hulle lewe. Mense wat voorheen egosentries was, het begin vra wat Jesus sou gedoen het as hy in hulle situasie was. Party wie se hele lewe om besittings en genietinge gedraai het, het besef hoe belangrik dit is om geestelike waardes te hê en ander mense daarvan te vertel. Mense wat dit doen, streef daarna om die hele jaar deur vrygewig en goedhartig te wees. Is dit nie wat jy van ware Christene sou verwag nie?

As alle opregte mense die tyd geneem het om te peins oor die betekenis van die engele se boodskap van vrede en in ooreenstemming met sulke bepeinsing optree, sou die wêreld sekerlik ’n beter plek gewees het.

Die profesieë in verband met Jesus se geboorte verseker diegene teenoor wie God welwillendheid betoon, dat hulle vir ewig ware vrede kan geniet. Is dit nie wat jy wil hê nie? Ons kan seker wees dat die glorieryke profetiese aankondiging van vrede wat die engele gemaak het toe Jesus gebore is, beslis vervul sal word. Vrede sal sonder twyfel ’n ewige werklikheid word en nie net iets waaroor mense gedurende die Kerstyd praat nie.

[Prente op bladsy 7]

’n Christelike gees kan en moet die hele jaar deur geopenbaar word