Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Onthou jy?

Onthou jy?

Onthou jy?

Het jy dit geniet om die onlangse nommers van Die Wagtoring te lees? Wel, kyk of jy die volgende vrae kan beantwoord:

• Wat kan ’n ware Christen help as ’n geliefde Jehovah verlaat?

Bou jouself en ander getroue gesinslede op. Verdiep jou in geestelike bedrywighede. Wees beskikbaar om ander te help. Moet nooit hoop opgee dat die geliefde sal terugkeer nie. Vermy selfverwyt. Respekteer God se reëling om dissipline te gee, en praat met vriende oor jou gevoelens.—9/1, bladsye 18-21.

• Wat is twee maniere waarop die Skrif ons help om “die laaste dae” te identifiseer?

Die Bybel voorspel gebeure wat gedurende “die voleinding van die stelsel van dinge” sal plaasvind (Matteus 24:3, 7, 8; Lukas 21:11). Dit beskryf ook veranderinge in die gesindhede en optrede van mense wat gedurende “die laaste dae” lewe (2 Timoteus 3:1-5). Dit is betekenisvol dat die goeie nuus van die Koninkryk gedurende hierdie tyd verkondig sou word.—9/15, bladsye 4-6.

• Wat is die gemeente se verantwoordelikheid as ’n Christen wat ’n motor bestuur, ’n ongeluk maak wat die dood van ander tot gevolg het?

Die ouer manne wat die saak ondersoek, vind dalk dat daar geen bloedskuld is nie omdat die bestuurder min of geen beheer gehad het oor wat tot die sterfte gelei het nie. Maar as daar bloedskuld is en die skuldige persoon berouvol is, sal hy skriftuurlike teregwysing ontvang, en beperkings sal opgelê word wat voorregte in die gemeente betref.—9/15, bladsy 30.

• Waarom hang die ewige lewe nie af van wetenskaplike vooruitgang nie?

Wetenskaplikes probeer om die mens se lewensduur te verleng, soos deur die beperking te probeer oorkom wat daar blykbaar bestaan op die aantal kere wat selle hulleself hernieu, of deur terapeutiese kloning om pasiënte van nuwe organe te voorsien wat nie deur die liggaam verwerp sal word nie. Maar die Bybel toon dat Jesus se losprysoffer die enigste middel is waardeur mense die ewige lewe kan verkry.—10/1, bladsye 3-5.

• Was Joodse rituele reiniging ’n voorloper van Christelike doop?

Nee, dit was nie. Die Jode het reinigingsritusse op hulleself uitgevoer, maar dit was nie die geval met Johannes se doop nie. Die reiniging wat deur die Mosaïese Wet vereis is, moes herhaal word, maar Christelike doop word net een keer uitgevoer.—10/15, bladsye 12-13.

• Wat is die Bedieningsopleidingskool?

Dit is ’n kursus van agt weke vir gemeentelike ouer manne en bedieningsknegte wat ongetroud is en ’n toewysing kan aanvaar om te dien waar hulp nodig is. Dit is dalk saam met die gemeente waarvandaan hulle gekom het, elders in daardie land, of in ’n ander land.—11/15, bladsye 10-11.

• Wat of wie is die antichris wat in 1 Johannes 2:18; 4:3 gemeld word?

In ’n breë sin verwys “antichris” na almal wat valslik beweer dat hulle Christus of sy verteenwoordigers is, of wat hulle teëstaan. Jesus en Johannes se woorde toon dat die antichris ’n saamgestelde groep is wat uit baie individuele antichriste bestaan wat godsdiensbedrog versprei en God se Koninkryk verwerp.—12/1, bladsye 4-6.