Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gileadgegradueerdes ontvang onderrigting wat die hart raak

Gileadgegradueerdes ontvang onderrigting wat die hart raak

Gileadgegradueerdes ontvang onderrigting wat die hart raak

DIE graduering van die 121ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead het op 9 September 2006 by die Wagtoring-onderrigsentrum in Patterson, New York, plaasgevind. Dit was ’n bemoedigende program.

Geoffrey Jackson, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, het die program geopen deur die 56 gegradueerdes en die internasionale gehoor van 6 366 te verwelkom. Hy het Psalm 86:11 bespreek, wat sê: “Onderrig my, o Jehovah, aangaande u weg. Ek sal in u waarheid wandel. Verenig my hart om u naam te vrees.” Broer Jackson het gewys op drie dinge wat in hierdie vers beklemtoon word. Hy het gesê: “Die eerste sin verwys na onderrigting; die tweede sin, na toepassing; en die derde, na motivering. Hierdie drie dinge is veral belangrik vir julle as sendelinge wanneer julle na julle toewysings gaan.” Toe het hy ’n reeks toesprake en onderhoude ingelei wat al drie dinge beklemtoon.

Bemoedigende woorde van onderrigting

William Malenfant, ’n lid van die hoofkantoorpersoneel, het die tema bespreek: “Die allerbeste lewe.” Hy het die aandag gevestig op die voorbeeld van Maria, die suster van Marta. By een geleentheid toe Jesus hulle huis besoek het, het Maria verkies om by sy voete te sit om na hom te luister en het sy dít haar prioriteit gemaak. Jesus het vir Marta gesê: “[Maria] het die goeie deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie” (Lukas 10:38-42). “Dink net daaraan”, het die spreker gesê. “Maria sal tot in alle ewigheid onthou dat sy by Jesus se voete gesit het en na wonderlike geestelike waarhede geluister het—en dit omdat sy ’n goeie keuse gemaak het.” Nadat hy die gegradueerdes geprys het vir die goeie geestelike keuses wat hulle gemaak het, het hy gesê: “Julle keuses het julle tot die allerbeste lewe gelei.”

Daarna het Anthony Morris, ’n lid van die Bestuursliggaam, die tema bespreek: “Beklee julle met die Here Jesus Christus”, wat op Romeine 13:14 gebaseer was. Hoe kan ons dit doen? Broer Morris het die aandag gevestig op die voetnoot by hierdie vers in die naslaanuitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling, wat sê: “Volg die handelswyse van die Here na.” Dit beteken dus om Jesus se voorbeeld en gesindheid na te volg. “Jesus het mense op hulle gemak laat voel”, het die spreker gesê, “want hy het opreg in hulle belanggestel, en hulle kon dit aanvoel.” Toe het die spreker gemeld dat die studente baie kennis in hulle Gilead-kursusse verkry het om “die breedte en lengte en hoogte en diepte” van die waarheid “verstandelik te begryp”, soos Efesiërs 3:18 sê. Maar hy het hulle herinner aan vers 19, wat vervolgens sê: “En om die liefde van die Christus te ken, wat kennis oortref.” Broer Morris het die studente aangespoor: “Terwyl julle aanhou om julle persoonlike studie te doen, dink na oor hoe julle die liefdevolle medelye van Christus kan navolg en julle werklik ‘met die Here Jesus Christus kan beklee’.”

Afskeidsraad van Gileadinstrukteurs

Die volgende toespraak is gehou deur die Gileadinstrukteur Wallace Liverance, wie se tema op Spreuke 4:7 gebaseer was. Hoewel goddelike wysheid uiters belangrik is, het hy gesê, moet ons ook ‘begrip verwerf’, wat beteken om alleenstaande feite bymekaar te bring en dan te sien hoe hulle met mekaar verband hou sodat ’n mens die betekenis van ’n saak kan snap. As ons begrip verwerf, het die spreker gesê, bring dit vir ons vreugde mee. In Nehemia se tyd het die Leviete byvoorbeeld “die wet . . . verduidelik” en dit “verstaanbaar gemaak”. Daarna het die volk “hulle grootliks . . . verheug, want hulle het die woorde verstaan wat aan hulle bekend gemaak is” (Nehemia 8:7, 8, 12). Broer Liverance het afgesluit: “Wanneer ons ’n begrip van die geesgeïnspireerde Woord van God het, bring dit ook vreugde mee.”

“Wie is werklik julle vyand?” was die tema wat Mark Noumair, nog ’n Gileadinstrukteur, bespreek het. In oorlogvoering word heelparty soldate deur hulle eie makkers doodgeskiet. “Wat van die geestelike oorlog waarin ons gewikkel is?” het hy gevra. “As ons nie oppas nie, kan ons verward raak oor wie die werklike vyand is en ons eie makkers wond.” Afguns verwar party dalk. Dit het veroorsaak dat koning Saul Dawid, sy medeaanbidder, probeer doodmaak het, terwyl die Filistyne in werklikheid die vyand was (1 Samuel 18:7-9; 23:27, 28). Toe het die spreker verder gesê: “Sê nou jy dien saam met ’n sendeling wat in baie opsigte uitblink? Sal jy jou medesoldaat wond met kritiese aanmerkings, of sal jy jou versoen met die feit dat ander jou in verskeie opsigte sal oortref? As ons ons blind staar op die tekortkominge van ander, verwar dit ons net oor wie die werklike vyand is. Veg teen die werklike vyand, Satan.”

Aangename ondervindinge en leersame onderhoude

Die volgende deel, “Doen die werk van ’n evangeliedienaar”, is deur die Gileadinstrukteur Lawrence Bowen behartig en het onderhoude en ondervindinge ingesluit. Hy het verduidelik dat ’n voetnoot by 2 Timoteus 4:5 in die naslaanuitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling sê: Doen die werk “van ’n sendeling”. Die spreker het bygevoeg: “Dit is heel gepas, want die vernaamste werk van ’n Gileadopgeleide sendeling is om die goeie nuus te verkondig, en hierdie klas het dit gedoen waar hulle ook al mense kon vind.” ’n Paar interessante ondervindinge is gedemonstreer.

Volgende op die program was twee dele wat onderskeidelik deur Michael Burnett en Scott Shoffner behartig is, albei lede van die Bethelgesin. Hulle het onderhoude gevoer met Takkomiteelede van Australië, Barbados, Korea en Uganda. Die kommentare van die komiteelede het getoon hoeveel moeite daar gedoen word om na die behoeftes van die sendelinge om te sien, onder andere om hulle van behoorlike huisvesting en gesondheidsorg te voorsien. Die komiteelede het beklemtoon dat suksesvolle sendelinge bereid is om hulle by plaaslike omstandighede aan te pas.

’n Besielende en aangrypende slot

Die tema van die hooftoespraak op die program was “Vrees God en gee hom heerlikheid”, wat gehou is deur John E. Barr, wat al lank ’n lid van die Bestuursliggaam is. Hy het Openbaring 14:6, 7 bespreek, wat sê: “Ek het ’n ander engel in die middel van die hemel sien vlieg, en hy het ewige goeie nuus gehad om as blye tyding bekend te maak aan dié wat op die aarde woon, en aan elke nasie en stam en taal en volk, en hy het met ’n harde stem gesê: ‘Vrees God en gee hom heerlikheid, want die uur van die oordeel deur hom het aangebreek.’”

Broer Barr het die studente aangespoor om drie dinge in verband met hierdie engel ter harte te neem. Eerstens, hy moes die ewige goeie nuus bekend maak dat Christus nou met volle Koninkryksgesag regeer. Die spreker het gesê: “Ons is absoluut oortuig dat hy in 1914 koning geword het. Hierdie blye tyding moet dus regoor die aarde verkondig word.” Tweedens, die engel het gesê: “Vrees God.” Die spreker het verduidelik dat die gegradueerdes hulle Bybelstudente moet help om eerbied vir God aan te kweek sodat hulle niks doen wat hom mishaag nie. Derdens, die engel het beveel: ‘Gee God heerlikheid.’ “Moet nooit vergeet nie”, is die studente gemaan, “dat ons tot heerlikheid van God dien, nie tot heerlikheid van onsself nie.” Toe het broer Barr “die uur van die oordeel” bespreek en gesê: “Die tyd kom vinnig nader wanneer die finale oordeel uitgespreek sal word. Baie mense in ons gebiede moet nog die boodskap van die goeie nuus hoor voordat dit te laat is.”

Terwyl hierdie woorde nog in hulle ore weerklink het, is die 56 gegradueerdes hulle diplomas gegee en na die eindes van die aarde gestuur. Die harte van die gegradueerdes en almal wat daar teenwoordig was, is diep geraak deur die besielende raad wat hulle daardie heuglike dag ontvang het.

[Venster op bladsy 17]

KLASSTATISTIEK

Aantal lande verteenwoordig: 6

Aantal lande waarheen gestuur: 25

Aantal studente: 56

Gemiddelde ouderdom: 35,1

Gemiddelde jare in waarheid: 18,3

Gemiddelde jare in voltydse diens: 13,9

[Prent op bladsy 18]

121ste Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead

In die lys hieronder word die rye van voor na agter genommer, en name word van links na regs in elke ry aangegee.

(1) Fox, Y.; Kunicki, D.; Wilkinson, S.; Kawamoto, S.; Consolandi, G.; Mayen, C. (2) Santiago, N.; Clancy, R.; Fischer, M.; De Abreu, L.; Davis, E. (3) Hwang, J.; Hoffman, D.; Wridgway, L.; Ibrahim, J.; Dabelstein, A.; Bakabak, M. (4) Peters, M.; Jones, C.; Ford, S.; Parra, S.; Rothrock, D.; Tatlot, M.; Perez, E. (5) De Abreu, F.; Kawamoto, S.; Ives, S.; Burdo, J.; Hwang, J.; Wilkinson, D. (6) Fox, A.; Bakabak, J.; Cichowski, P.; Forier, C.; Mayen, S.; Consolandi, E.; Wridgway, W. (7) Parra, B.; Perez, B.; Tatlot, P.; Santiago, M.; Ibrahim, Y.; Kunicki, C. (8) Burdo, C.; Cichowski, B.; Ives, K.; Ford, A.; Rothrock, J.; Hoffman, D.; Davis, M. (9) Peters, C.; Dabelstein, C.; Jones, K.; Clancy, S.; Fischer, J.; Forier, S.