Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Jy moet net vreugdevol wees”

“Jy moet net vreugdevol wees”

“Jy moet net vreugdevol wees”

“Jy [moet] die fees vir Jehovah [vier] . . . , en jy moet net vreugdevol wees.”—DEUTERONOMIUM 16:15.

1. (a) Watter geskille het Satan geopper? (b) Wat het Jehovah ná die opstand van Adam en Eva voorspel?

 TOE Satan Adam en Eva teen hulle Skepper in opstand laat kom het, het hy twee baie belangrike geskille geopper. Eerstens het hy Jehovah se waaragtigheid en die regverdigheid van sy manier van regeer betwis. Tweedens het Satan te kenne gegee dat mense God net uit eiebelang sou dien. Laasgenoemde geskil is in Job se tyd uitdruklik genoem (Genesis 3:1-6; Job 1:9, 10; 2:4, 5). Jehovah het nietemin gou opgetree om die situasie te hanteer. Terwyl Adam en Eva nog in die tuin van Eden was, het Jehovah al voorspel hoe Hy die geskille sou oplos. Hy het die koms van ’n “saad” voorspel wat, nadat hy in die hakskeen gewond is, Satan se kop onherstelbaar sou verbrysel.—Genesis 3:15.

2. Watter lig het Jehovah gewerp op hoe hy die profesie in Genesis 3:15 sou vervul?

2 Met verloop van tyd het Jehovah al hoe meer lig op hierdie profesie gewerp en sodoende getoon dat die uiteindelike vervulling daarvan seker is. God het byvoorbeeld vir Abraham gesê dat die “saad” in sy nageslag sou verskyn (Genesis 22:15-18). Abraham se kleinseun Jakob het die vader van die 12 stamme van Israel geword. Toe daardie stamme in 1513 v.G.J. ’n nasie geword het, het Jehovah hulle ’n stelsel van wette gegee wat verskeie jaarlikse feeste ingesluit het. Die apostel Paulus het gesê dat hierdie feeste “’n skaduwee van die toekomstige dinge” was (Kolossense 2:16, 17; Hebreërs 10:1). Dit het voorskouings bevat van die vervulling van Jehovah se voorneme vir die Saad. Die viering van hierdie feeste het groot vreugde in Israel meegebring. ’n Kort bespreking hiervan sal ons geloof in die betroubaarheid van Jehovah se beloftes versterk.

Die Saad verskyn

3. Wie was die beloofde Saad, en hoe is hy in die hakskeen gewond?

3 Die beloofde Saad het meer as 4 000 jaar ná Jehovah se oorspronklike profesie verskyn. Dit was Jesus (Galasiërs 3:16). As ’n volmaakte mens het Jesus sy onkreukbaarheid tot in die dood gehandhaaf en so bewys dat Satan se aantygings leuens was. En aangesien Jesus sondeloos was, was sy dood ’n offerande van groot waarde. Deur middel daarvan het Jesus verlossing van sonde en die dood vir getroue nakomelinge van Adam en Eva voorsien. Jesus se dood aan die folterpaal was die ‘wond in die hakskeen’ van die beloofde Saad.—Hebreërs 9:11-14.

4. Hoe is Jesus se offerande voorafgeskadu?

4 Jesus het op 14 Nisan 33 G.J. gesterf. a In Israel was 14 Nisan die vreugdevolle dag van die Pasgaviering. Gesinne het elke jaar op daardie dag ’n maaltyd saam geniet wat ’n jong, smetlose lam ingesluit het. So het hulle onthou watter rol die bloed van ’n lam gespeel het in die verlossing van die Israeliete se eersgeborenes toe die engel van die dood die eersgeborenes van die Egiptenaars op 14 Nisan 1513 v.G.J. doodgemaak het (Eksodus 12:1-14). Die Pasgalam het Jesus voorafgeskadu, van wie die apostel Paulus gesê het: “Christus, ons pasga, is . . . geoffer” (1 Korintiërs 5:7). Soos die bloed van die Pasgalam voorsien Jesus se vergote bloed redding vir baie.—Johannes 3:16, 36.

‘Die eersteling van die dooies’

5, 6. (a) Wanneer is Jesus opgewek, en hoe is hierdie gebeurtenis in die Wet voorafgeskadu? (b) Hoe het Jesus se opstanding die vervulling van Genesis 3:15 moontlik gemaak?

5 Jesus is op die derde dag opgewek sodat hy die waarde van sy offerande vir sy Vader kon aanbied (Hebreërs 9:24). Sy opstanding is gedurende ’n ander fees voorafgeskadu. Die Fees van die Ongesuurde Koeke het die dag ná 14 Nisan begin. Op die volgende dag, 16 Nisan, het die Israeliete ’n gerf van die eerstelinge van die garsoes, die vroegste oes in Israel, gebring sodat die priester dit voor Jehovah kon beweeg (Levitikus 23:6-14). Hoe gepas was dit tog dat Jehovah in die jaar 33 G.J., op juis daardie dag, Satan se boosaardige pogings verydel het om sy “getroue en waaragtige getuie” vir ewig stil te maak! Op 16 Nisan 33 G.J. het Jehovah Jesus uit die dode tot onsterflike geeslewe opgewek.—Openbaring 3:14; 1 Petrus 3:18.

6 Jesus het “die eersteling [geword] van dié wat ontslaap het” (1 Korintiërs 15:20). In teenstelling met dié wat tevore opgewek is, het Jesus nie weer gesterf nie. Hy het eerder opgevaar na die hemel, na Jehovah se regterhand, waar hy gewag het totdat hy as Koning van Jehovah se hemelse Koninkryk gekroon sou word (Psalm 110:1; Handelinge 2:32, 33; Hebreërs 10:12, 13). Sedert Jesus as Koning gekroon is, is hy in ’n posisie om die groot vyand, Satan, se kop eens en vir altyd te vermorsel en sy saad te vernietig.—Openbaring 11:15, 18; 20:1-3, 10.

Nog lede van Abraham se saad

7. Wat was die Fees van die Weke?

7 Jesus was die Saad wat in Eden beloof is en deur wie Jehovah “die werke van die Duiwel [sal] verbreek” (1 Johannes 3:8). Maar toe Jehovah met Abraham gepraat het, het Hy aangedui dat Abraham se “saad” uit meer as net een persoon sou bestaan. Dit sou wees “soos die sterre van die hemel en soos die sandkorrels wat aan die seestrand is” (Genesis 22:17). Die verskyning van ander lede van die “saad” is deur nog ’n vreugdevolle fees voorafgeskadu. Vyftig dae ná 16 Nisan het Israel die Fees van die Weke gevier. Die Wet hieroor sê: “Tot die dag ná die sewende sabbat moet julle tel, vyftig dae, en julle moet ’n nuwe graanoffer vir Jehovah aanbied. Uit julle woonplekke moet julle twee brode as ’n beweegoffer bring. Hulle moet van twee tiendes van ’n efa fynmeel wees. Hulle moet gesuurd gebak word, as eerste ryp vrugte vir Jehovah.” bLevitikus 23:16, 17, 20.

8. Watter uitsonderlike gebeurtenis het op Pinkster 33 G.J. plaasgevind?

8 Toe Jesus op die aarde was, het die Fees van die Weke bekend gestaan as Pinkster (afgelei van ’n Griekse woord wat “vyftigste” beteken). Op Pinkster 33 G.J. het die grotere Hoëpriester, die verrese Jesus Christus, heilige gees uitgestort op die klein groepie van 120 dissipels wat in Jerusalem vergader was. So het hierdie dissipels gesalfde kinders van God en broers van Jesus Christus geword (Romeine 8:15-17). Hulle het ’n nuwe nasie geword, “die Israel van God” (Galasiërs 6:16). Hierdie nasie, wat klein begin het, sou uiteindelik 144 000 tel.—Openbaring 7:1-4.

9, 10. Hoe is die gemeente van gesalfde Christene gedurende Pinkster voorafgeskadu?

9 Die gemeente van gesalfde Christene is voorafgeskadu deur die twee gesuurde brode wat elke Pinkster voor Jehovah beweeg is. Die feit dat die brode gesuurd was, het getoon dat gesalfde Christene nog die suurdeeg van oorgeërfde sonde sou hê. Hulle kon Jehovah nietemin op grond van Jesus se losprysoffer nader (Romeine 5:1, 2). Waarom twee brode? Dit het moontlik gedui op die feit dat die gesalfde kinders van God uiteindelik uit twee groepe geneem sou word—eers uit natuurlike Jode en later uit nie-Jode.—Galasiërs 3:26-29; Efesiërs 2:13-18.

10 Die twee brode wat op Pinkster aangebied is, is van die eerstelinge van die koringoes gemaak. In ooreenstemming hiermee word hierdie geesverwekte Christene “sekere eerstelinge van sy skepsele” genoem (Jakobus 1:18). Hulle is die eerstes wie se sondes op grond van Jesus se vergote bloed vergewe word, en daarom kan onsterflike lewe in die hemel aan hulle geskenk word, waar hulle saam met Jesus in sy Koninkryk regeer (1 Korintiërs 15:53; Filippense 3:20, 21; Openbaring 20:6). In daardie posisie sal hulle binnekort ‘met ’n ysterstaf as herders teenoor die nasies optree’ en sien hoe ‘Satan onder hulle voete verbrysel’ word (Openbaring 2:26, 27; Romeine 16:20). Die apostel Johannes het gesê: “Dit is hulle wat die Lam bly volg ongeag waar hy gaan. Hulle is uit die mensdom gekoop as eerstelinge vir God en vir die Lam.”—Openbaring 14:4.

’n Dag wat verlossing beklemtoon

11, 12. (a) Wat het op die Versoendag gebeur? (b) Watter voordele het Israel ontvang deurdat die bul en die bokke as offerandes gebring is?

11 Op die tiende dag van Etanim (later Tisjri genoem) c het Israel ’n fees gevier wat voorafgeskadu het hoe die voordele van Jesus se losprysoffer aangewend sou word. Op daardie dag het die hele nasie vir die Versoendag bymekaargekom sodat offerandes ten behoewe van hulle gebring kon word om hulle sondes te bedek.—Levitikus 16:29, 30.

12 Op die Versoendag het die hoëpriester ’n jong bul geslag, en hy het in die Allerheiligste van die bloed daarvan sewe keer voor die deksel van die Ark gespat en so die bloed in verteenwoordigende sin voor Jehovah aangebied. Daardie offer was vir die sondes van die hoëpriester en “sy huis”, die onderpriesters en die Leviete. Daarna het die hoëpriester twee bokke geneem. Een het hy as ’n sondoffer “vir die volk” geslag. Van die bloed daarvan is ook voor die deksel van die Ark in die Allerheiligste gesprinkel. Daarna het die hoëpriester sy hande op die kop van die tweede bok gelê en die oortredings van die kinders van Israel bely. Dan het hy die bok laat weglei, die wildernis in, om die nasie se sondes in simboliese sin weg te dra.—Levitikus 16:3-16, 21, 22.

13. Hoe het die gebeure op die Versoendag Jesus se rol voorafgeskadu?

13 Soos daardie handelinge voorafgeskadu het, gebruik die groot Hoëpriester, Jesus, die waarde van sy eie lewensbloed om vergifnis van sondes te voorsien. Eerstens word die waarde van sy bloed aangewend ten behoewe van die “geestelike huis” van 144 000 gesalfde Christene, wat dit vir hulle moontlik maak om regverdig verklaar te word en ’n rein posisie voor Jehovah te hê (1 Petrus 2:5; 1 Korintiërs 6:11). Dit is deur die offerande van die bul voorafgeskadu. So is die weg vir hulle geopen om hulle hemelse erfenis te ontvang. Tweedens word die waarde van Jesus se bloed aangewend ten behoewe van miljoene ander wat geloof in Christus beoefen, soos getoon is deur die offerande van die bok. Hulle sal geseën word met ewige lewe hier op die aarde, die erfenis wat Adam en Eva verloor het (Psalm 37:10, 11). Op grond van sy vergote bloed dra Jesus die sondes van die mensdom weg, net soos die lewende bok in simboliese sin die sondes van Israel weggedra het, die wildernis in.—Jesaja 53:4, 5.

Vreugdevol voor Jehovah

14, 15. Wat het gedurende die Huttefees gebeur, en waaraan het dit die Israeliete herinner?

14 Ná die Versoendag het die Israeliete die Huttefees gevier, die vreugdevolste fees van die Joodse jaar (Levitikus 23:34-43). Daardie fees het van die 15de tot die 21ste Etanim plaasgevind en het op die 22ste van die maand met ’n plegtige vergadering ten einde geloop. Dit het die einde van die insameling van die oes aangedui en was ’n tyd van danksegging vir die oorvloedige goedheid van God. Daarom het Jehovah die feesgangers beveel: “Jehovah jou God sal jou in jou hele opbrengs en in al die werk van jou hand seën, en jy moet net vreugdevol wees” (Deuteronomium 16:15). Wat ’n gelukkige tyd moes dit tog gewees het!

15 Gedurende hierdie fees het die Israeliete sewe dae lank in hutte gewoon. Dit het hulle daaraan herinner dat hulle eens op ’n tyd in die wildernis in hutte gewoon het. Die fees het hulle genoegsame geleentheid gegee om na te dink oor Jehovah se vaderlike sorg (Deuteronomium 8:15, 16). En aangesien almal, ryk sowel as arm, in soortgelyke hutte gewoon het, het dit die Israeliete daaraan herinner dat hulle, met betrekking tot die fees, almal gelyk is.—Nehemia 8:14-16.

16. Wat is deur die Huttefees voorafgeskadu?

16 Die Huttefees was ’n oesfees, ’n vreugdevolle insamelingsviering, en dit het die vreugdevolle insameling voorafgeskadu van dié wat geloof in Jesus Christus beoefen. Die insameling het op Pinkster 33 G.J. begin, toe Jesus se 120 dissipels gesalf is om deel van “’n heilige priesterdom” te word. Aangesien die Israeliete ’n paar dae in hutte gewoon het, weet gesalfdes dat hulle net “tydelike inwoners” in hierdie goddelose wêreld is. Hulle het ’n hemelse hoop (1 Petrus 2:5, 11). Hierdie insameling van gesalfde Christene eindig gedurende hierdie “laaste dae”, wanneer die laastes van die 144 000 ingesamel word.—2 Timoteus 3:1.

17, 18. (a) Wat dui aan dat ander benewens gesalfde Christene by Jesus se offerande baat vind? (b) Wie vind vandag baat by die antitipiese Huttefees, en wanneer sal hierdie vreugdevolle fees sy klimaks bereik?

17 Dit is opmerkenswaardig dat 70 bulle gedurende hierdie eertydse fees geoffer is (Numeri 29:12-34). Die getal 70 verteenwoordig 7 maal 10, getalle wat in die Bybel hemelse en aardse volmaaktheid voorstel. Getroues uit al 70 families van die mensdom wat van Noag afgestam het, sal dus by Jesus se offerande baat vind (Genesis 10:1-29). In ooreenstemming hiermee het die insameling in ons tyd uitgebrei om mense uit alle nasies in te sluit wat geloof in Jesus beoefen en die hoop het om op ’n paradysaarde te lewe.

18 Die apostel Johannes het hierdie hedendaagse insameling in ’n visioen gesien. Eers het hy die aankondiging gehoor dat die laastes van die 144 000 verseël is. Toe het hy “’n groot menigte, wat geen mens kon tel nie,” voor Jehovah en Jesus sien staan, met “palmtakke in hulle hande”. Hulle kom “uit die groot verdrukking” en gaan die nuwe wêreld in. Ook hulle is nou net tydelike inwoners in hierdie ou stelsel van dinge, en hulle sien met vertroue uit na die tyd wanneer ‘die Lam hulle herder sal wees en hulle na fonteine van waters van die lewe sal lei’. Dan ‘sal God elke traan van hulle oë afvee’ (Openbaring 7:1-10, 14-17). Die antitipiese Huttefees sal sy klimaks bereik ná die einde van die Duisendjarige Heerskappy van Christus wanneer hulle, tesame met getroue verresenes, die ewige lewe ontvang.—Openbaring 20:5.

19. Hoe vind ons baat by ’n bespreking van die feeste wat in Israel gevier is?

19 Ook ons kan “net vreugdevol wees” wanneer ons peins oor die betekenis van die eertydse Joodse feeste. Dit is aangrypend om te dink dat Jehovah voorskouings voorsien het van hoe die profesie wat hy destyds in Eden gegee het, vervul sal word, en dit is opwindend om te sien hoe dit, stap vir stap, wel in vervulling gaan. Ons weet vandag dat die Saad verskyn het en dat hy reeds in die hakskeen gewond is. Nou is hy ’n hemelse Koning. Verder het die meeste van die 144 000 reeds hulle getrouheid tot in die dood bewys. Wat moet nog gedoen word? Hoe gou sal die profesie ten volle vervul wees? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.

[Voetnote]

a Nisan kom ooreen met Maart/April op ons huidige kalender.

b In hierdie beweegoffer van die twee gesuurde brode het die priester dikwels die brode in die palms van sy hande gehou, sy arms opgelig en die brode heen en weer beweeg. Hierdie beweging het die aanbieding van die offergawes aan Jehovah gesimboliseer.—Sien Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsy 528, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

c Etanim, of Tisjri, kom ooreen met September/Oktober op ons huidige kalender.

Kan jy verduidelik?

• Wat is deur die Pasgalam voorafgeskadu?

• Watter insameling is deur die Pinksterfees voorafgeskadu?

• Watter aspekte van die Versoendag het vooruitgewys na die manier waarop Jesus se losprysoffer aangewend word?

• Hoe is die insameling van Christene deur die Huttefees voorafgeskadu?

[Studievrae]

[Tabel op bladsy 22, 23]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Pasga

14 Nisan

Gebeurtenis:

Jesus geoffer

Voorafgeskadu:

Pasgalam geslag

Fees van die Ongesuurde Koeke(15-21 Nisan)

15 Nisan

Gebeurtenis:

Sabbat

16 Nisan

Gebeurtenis:

Gars geoffer

Voorafgeskadu:

Jesus opgewek

50 dae

Fees van Weke vir (Pinkster)

6 Siwan

Gebeurtenis:

Twee brode geoffer

Voorafgeskadu:

Jesus het sy die gesalfde broers Jehovah aangebied

Versoendag

10 Tisjri

Gebeurtenis:

’n Bul en twee bokke geofferwaarde

Voorafgeskadu:

Jesus het die van sy bloed ten behoewe van die hele mensdom aangebied

Huttefees (Fees van Insameling,Loofhuttefees)

15-21 Tisjri

Gebeurtenis:

Israeliete het vreugdevol in die hutte gewoon en hulle in die oes verheug, 70 bulle is geoffer

Voorafgeskadu:

Insameling van gesalfdes en “groot menigte”

[Prente op bladsy 21]

Soos die bloed van die Pasgalam voorsien Jesus se vergote bloed redding vir baie

[Prente op bladsy 22]

Die eerstelinge van die garsoes wat op 16 Nisan geoffer is, het Jesus se opstanding voorafgeskadu

[Prente op bladsy 23]

Die twee brode wat op Pinkster geoffer is, het die gemeente van gesalfde Christene voorafgeskadu

[Prente op bladsy 24]

Die Huttefees het die vreugdevolle insameling van gesalfdes en van “’n groot menigte” uit alle nasies voorafgeskadu