Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Regte keuses het tot lewenslange seëninge gelei

Regte keuses het tot lewenslange seëninge gelei

Lewensverhaal

Regte keuses het tot lewenslange seëninge gelei

Soos vertel deur Paul Kushnir

IN 1897 het my grootouers van die Oekraïne na Kanada geëmigreer en hulle naby Yorkton, Saskatchewan, gevestig. Saam met hulle was hulle vier kinders—drie seuns en ’n dogter. In 1923 het die dogter, Marinka, my ma geword; ek was haar sewende kind. Destyds was die lewe eenvoudig maar veilig. Ons het gesonde kos en warm klere gehad, en die regering het basiese dienste voorsien. Vriendelike bure het nie gehuiwer om mekaar met groot take te help nie. Gedurende die winter van 1925 het een van die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het, ons besoek. Daardie besoek het ons beweeg om keuses te maak waarvoor ek nog steeds dankbaar is.

Ons gesin leer Bybelwaarheid

My ma het ’n paar boekies by die Bybelstudent geneem en gou besef dat wat sy lees, die waarheid is. Sy het vinnig geestelike vordering gemaak en is in 1926 gedoop. Toe my ma ’n Bybelstudent geword het, het ons gesin ’n heel ander uitkyk op die lewe gekry. Ons huis het van toe af vir almal oopgestaan. Reisende opsieners, wat pelgrims genoem is, en ander Bybelstudente het dikwels by ons gebly. In 1928 het ’n reisende opsiener vir ons die “Eurekadrama”, ’n vereenvoudigde weergawe van die “Fotodrama van die Skepping”, gewys. Hy het by ons kinders ’n speelgoedpadda geleen wat ’n klikgeluid gemaak het. Wanneer die padda geklik het, moes die volgende skyfie vertoon word. Ons was baie trots op ons bydrae tot die vertoning!

’n Reisende opsiener, Emil Zarysky, het ons dikwels met sy motorwoonwa besoek. Soms is hy vergesel deur sy volwasse seun, wat ons as kinders aangemoedig het om dit te oorweeg om voltydse bedienaars, of pioniers, te word. Daar het ook baie pioniers in ons huis gebly. My ma het eenkeer vir ’n pionier ’n hemp geleen terwyl sy syne reggemaak het. Hy het dit per ongeluk saamgevat toe hy vertrek het. Lank daarna het hy dit teruggestuur en verskoning gevra dat hy dit so lank gehou het. “Ek het nie die tien sent vir die posgeld gehad nie”, het hy geskryf. Ons het gewens dat hy eerder die hemp gehou het! Ek het gehoop dat ek eendag soos hierdie selfopofferende pioniers sou kon wees. Ek is dankbaar dat my ma so gasvry was, want dit het ons lewe verryk en ons liefde vir die broederskap vergroot.—1 Petrus 4:8, 9.

My pa het nie ’n Bybelstudent geword nie; hy het ons egter nie teëgestaan nie. In 1930 het hy selfs toegelaat dat die broers sy groot skuur vir ’n eendagbyeenkoms gebruik. Hoewel ek net sewe jaar oud was, het die vreugde en waardigheid van daardie geleentheid ’n indruk op my gemaak. My pa is in 1933 oorlede. My ma, toe ’n weduwee met agt kinders, het nie vir ’n oomblik gewankel in haar vasbeslotenheid om ons op die weg van ware aanbidding te hou nie. Sy het gesorg dat ek die vergaderinge saam met haar bywoon. Op daardie stadium het hulle oneindig lank gevoel, en ek het gewens dat ek by die ander kinders kon aansluit, wat toegelaat is om buite te speel. Maar uit respek vir my ma het ek bly sit. Wanneer my ma gekook het, het sy dikwels ’n teks aangehaal en my dan gevra waar dit in die Bybel staan. In 1933 het ons ’n rekordoes gehad, en my ma het die ekstra inkomste gebruik om ’n motor te koop. Van die bure het haar gekritiseer en gesê dat sy haar geld mors, maar sy het gehoop dat die motor ons in ons teokratiese bedrywighede sou help. En sy was reg.

Ander het my gehelp om die regte keuses te maak

Daar kom ’n tyd wanneer ’n jong persoon keuses moet maak wat sy toekoms sal raak. Toe daardie tyd vir my ouer susters, Helen en Kay, aangebreek het, het hulle begin pionier. Een van die pioniers wat ons gasvryheid geniet het, was John Jazewsky, ’n voortreflike jong man. My ma het John gevra om ’n rukkie aan te bly om met die boerdery te help. Later het John met Kay getrou, en hulle het nie ver van ons huis af nie as pioniers gedien. Toe ek 12 jaar oud was, het hulle my genooi om gedurende my skoolvakansie saam met hulle velddiens te doen. Dit het my die geleentheid gegee om ’n voorsmakie van die lewe van ’n pionier te kry.

Later was ek en my broer John in staat om so op ’n manier na die boerdery om te sien. Dit het dit vir my ma moontlik gemaak om in die somermaande hulppionierdiens, soos dit nou genoem word, te doen. Sy het ’n kar gebruik wat deur ’n ou perd getrek is. My pa het die steekse perd Saul genoem, maar vir my ma was hy ’n gedweë dier wat sy kon hanteer. Ek en John was lief vir die plaas, maar elke keer as my ma ná velddiens by die huis gekom en haar ondervindinge vertel het, het ons liefde vir die plaas afgeneem en ons liefde vir die pionierbediening toegeneem. In 1938 het ek meer in die veldbediening begin doen, en op 9 Februarie 1940 is ek gedoop.

’n Ruk later is ek as ’n kneg in die gemeente aangestel. Ek het na die gemeentelike verslae omgesien en was verheug oor elke teken van groei. Ek het my eie predikingsgebied gehad in ’n dorp ongeveer 16 kilometer van die huis af. Gedurende die winter het ek elke week daarheen geloop en een of twee nagte op die solder geslaap in die huis van ’n gesin wat belangstelling in die Bybel getoon het. Ná ’n bespreking met die Lutherse predikant—waartydens ek nie baie taktvol was nie—het hy gedreig om my by die polisie aan te kla as ek nie sy kudde uitlos nie. Dit het my net meer vasbeslote gemaak om te volhard.

In 1942 het my suster Kay en haar man, John, reëlings getref om ’n streekbyeenkoms in Cleveland, Ohio, in die Verenigde State, by te woon. Ek was in die wolke toe hulle my saamnooi. Om daardie streekbyeenkoms te kon bywoon, was een van die beste dinge wat nog met my gebeur het. Dit het my gehelp om sekerheid te kry oor my toekomsplanne. Toe broer Nathan Knorr, wat destyds toesig gehou het oor die wêreldwye werk, ’n besielende oproep om 10 000 pioniers gedoen het, het ek daar en dan besluit om een van hulle te wees!

In Januarie 1943 het Henry, ’n reisende bedienaar, ons gemeente besoek. Hy het ’n aanmoedigende toespraak gehou wat ons met geesdrif gevul het. Die dag ná sy toespraak was dit minus 40 grade Celsius, en ’n sterk noordwestewind het dit selfs kouer laat voel. Ons het gewoonlik gedurende so ’n koue vlaag binnenshuis gebly, maar Henry kon nie wag om in die bediening uit te gaan nie. Hy en ander het met ’n kaboes, ’n oordekte slee wat met ’n houtstoof toegerus was en deur ’n perd getrek is, na ’n dorpie 11 kilometer daarvandaan gery. Ek het op my eie ’n gesin gaan besoek wat vyf seuns gehad het. Hulle het ingestem om die Bybel saam met my te studeer en het mettertyd die waarheid aangeneem.

Die predikingswerk word verbied

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is die Koninkrykswerk in Kanada verbied. Ons moes ons Bybellektuur wegsteek, en ons plaas het baie wegsteekplekke gehad. Die polisie het ons gedurig besoek, maar hulle het nooit iets gekry nie. Wanneer ons aan die predikingswerk deelgeneem het, het ons slegs die Bybel gebruik. Ons het in klein groepies bymekaargekom, en ek en my broer John is gekies om in die geheim as koeriers te dien.

Gedurende die oorlog het ons gemeente deelgeneem aan ’n landwye verspreiding van die boekie End of Nazism. Ons het in die middel van die nag uitgegaan. Ek was baie senuweeagtig wanneer ons elke huis stilletjies genader en ’n boekie by die deur gelaat het. Dit was die angswekkendste ding wat ek nog gedoen het. Hoe verlig was ek tog toe ons die laaste eksemplaar van daardie boekie afgelewer het! Toe het ons ons teruggehaas na waar die motor gestaan het, getel of almal daar is en in die donker nag verdwyn.

Pionierdiens, gevangenisse en byeenkomste

Op 1 Mei 1943 het ek vir my ma totsiens gesê. Met 20 dollar in my beursie en ’n klein koffer het ek na my eerste pioniertoewysing vertrek. Broer Tom Troop en sy liefdevolle gesin in Quill Lake, Saskatchewan, het my gasvry ontvang. Die volgende jaar het ek na ’n afgesonderde gebied in Weyburn, Saskatchewan, gegaan. Terwyl ek op 24 Desember 1944 straatwerk gedoen het, is ek in hegtenis geneem. Nadat ek ’n ruk lank in ’n plaaslike tronk was, is ek na ’n kamp in Jasper, Alberta, geneem. Daar was ek saam met ander Getuies, omring deur die grootsheid van Jehovah se skepping, die Kanadese Rotsgebergte. Vroeg in 1945 het kampbeamptes ons toegelaat om ’n vergadering in Edmonton, Alberta, by te woon. Broer Knorr het ’n opwindende verslag gelewer oor die vooruitgang van die wêreldwye werk. Ons kon nie wag vir die dag wanneer ons vrygelaat sou word en weer ’n volle aandeel aan die bediening kon hê nie.

Toe ek vrygelaat is, het ek my pionierdiens hervat. Kort daarna is daar aangekondig dat die “Alle Nasies se Uitbreiding”-byeenkoms in Los Angeles, Kalifornië, gehou sou word. ’n Broer in my nuwe pioniertoewysing het sy vragmotor ingerig met sitplek vir 20 passasiers. Ons het op 1 Augustus 1947 op ’n onvergeetlike reis vertrek, wat ons 7 200 kilometer ver deur prêries, woestyne en majestueuse natuurskoon geneem het, waaronder die Yellowstone- en die Yosemite- Nasionale Park. Die reis het altesaam 27 dae geduur—’n wonderlike ondervinding!

Die byeenkoms self was ’n seën wat ons nooit sou vergeet nie. Om ’n volle aandeel aan die geleentheid te hê, het ek bedags as ’n saalwagter en snags as ’n nagwag gedien. Nadat ek ’n vergadering bygewoon het vir diegene wat in sendingdiens belangstel, het ek ’n aansoekvorm ingevul, maar nie my hoop daarop gevestig nie. Intussen het ek in 1948 gehoor gegee aan die oproep om in die Kanadese provinsie Quebec as pionier te gaan dien.—Jesaja 6:8.

Gilead en daarna

In 1949 was ek verheug om ’n uitnodiging te ontvang om die 14de klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead by te woon. Daardie opleiding het my geloof versterk en my nader aan Jehovah laat kom. John en Kay was in die 11de klas en het ná hulle graduering as sendelinge in Noord-Rhodesië (nou Zambië) gaan dien. My broer John het in 1956 aan Gilead gegradueer. Saam met sy vrou, Frieda, het hy 32 jaar lank, tot sy dood, in Brasilië gedien.

Op my gradueringsdag in Februarie 1950 is ek grootliks bemoedig deur twee telegramme, een van my ma en een van die Troop-gesin in Quill Lake. Laasgenoemde telegram, met die opskrif “Raad aan ’n gegradueerde”, het gesê: “Dit is ’n baie spesiale dag vir jou. ’n Dag wat jy altyd sal koester; mag jy ook sukses en vreugde geniet.”

Ek het ’n toewysing ontvang om in die stad Quebec te gaan dien, maar ek het ’n ruk lank aangebly by Kingdom Farm, in die staat New York, waar die Gileadskool destyds was. Op ’n dag het broer Knorr my gevra of ek bereid sou wees om België toe te gaan. Maar ’n paar dae later het hy gevra of ek ’n toewysing in Nederland sou aanvaar. Toe ek die toewysingsbrief ontvang, het dit gesê dat ek “as takkneg moet gaan dien”. Ek het oorweldig gevoel.

Op 24 Augustus 1950 het ek per boot na Nederland vertrek op ’n 11 dae lange reis—genoeg tyd om deur die pas vrygestelde Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Engels te lees. Ek het op 5 September 1950 in Rotterdam aangekom, waar die Bethelgesin my hartlik verwelkom het. Ten spyte van die verwoesting van die Tweede Wêreldoorlog het die broers goed daarin geslaag om Christelike bedrywighede weer aan die gang te kry. Terwyl ek geluister het na hoe hulle hulle onkreukbaarheid ondanks hewige vervolging gehandhaaf het, het ek gedink dat die vooruitsig om onder leiding van ’n onervare jong takkneg te dien, vir hierdie broers moeilik kon wees. Maar dit was gou duidelik dat ek geen rede gehad het om besorg te wees nie.

Sommige sake het natuurlik aandag nodig gehad. Ek het net voor ’n streekbyeenkoms daar aangekom en was beïndruk om te sien dat duisende byeenkomsgangers by die byeenkomsterrein gehuisves word. Met die volgende streekbyeenkoms het ek voorgestel dat ons huisvesting in privaat huise probeer vind. Die broers het gedink dat dit ’n goeie idee is—maar nie vir hulle land nie. Nadat ons die saak bespreek het, het ons tot ’n vergelyk gekom—die helfte van die byeenkomsgangers sou by die byeenkomsterrein gehuisves word en die ander helfte in die huise van mense in die byeenkomsstad wat nie Getuies is nie. Toe broer Knorr die streekbyeenkoms bywoon, het ek met trots die resultate vir hom genoem. Maar enige gevoel dat ek iets bereik het, het vinnig verdwyn toe ek later in Die Wagtoring ’n verslag oor ons streekbyeenkoms lees wat gesê het: “Ons is seker dat daar volgende keer in geloof eers ’n poging aangewend sal word om verblyf vir die byeenkomsgangers te vind waar hulle die doeltreffendste getuienis kan gee, in die huise van mense.” Dit is presies wat ons die “volgende keer” gedoen het!

In Julie 1961 is twee verteenwoordigers van ons takkantoor genooi om saam met ander takverteenwoordigers ’n vergadering in Londen by te woon. Broer Knorr het aangekondig dat die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in meer tale, onder andere Nederlands, beskikbaar gestel gaan word. Hoe opwindend was daardie nuus tog! Gelukkig het ons geen idee gehad van die omvang van die projek nie. Twee jaar later, in 1963, het ek die vreugde gehad om ’n deel te hê op die program by ’n streekbyeenkoms in New York waartydens die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Nederlands vrygestel is.

Besluite en nuwe toewysings

In Augustus 1961 is ek met Leida Wamelink getroud. Haar hele familie het die waarheid in 1942 gedurende die tyd van Nazi-vervolging aangeneem. Leida het in 1950 begin pionier en in 1953 Bethel toe gekom. Die manier waarop sy by Bethel en in die gemeente gewerk het, het vir my getoon dat sy ’n lojale metgesel in my bediening sou wees.

’n Bietjie meer as ’n jaar nadat ons getroud is, is ek na Brooklyn genooi vir ’n kursus van tien maande vir verdere opleiding. Daar was geen voorsiening vir vrouens om hulle mans te vergesel nie. Hoewel sy nie baie gesond was nie, het Leida liefdevol ingestem dat ek die uitnodiging moet aanvaar. Leida se gesondheidsprobleme het later vererger. Ons het probeer om by Bethel aan te bly, maar het uiteindelik besluit dat dit praktieser sal wees om ons voltydse diens in die veldbediening voort te sit. Daarom het ons in die reisende werk begin dien. Kort daarna moes my vrou ’n ernstige operasie ondergaan. Met die liefdevolle ondersteuning van vriende kon ons die situasie hanteer, en ’n jaar later kon ons selfs ’n toewysing aanvaar om in die streekwerk te dien.

Ons het sewe verkwikkende jare in die reisende werk deurgebring. Toe het ons weer voor ’n gewigtige besluit te staan gekom, aangesien ek genooi is om die Koninkryksbedieningskool by Bethel te behartig. Ons het ingestem, al was dit ’n moeilike verandering omdat ons die reisende bediening so geniet het. Die 47 klasse van die skool, wat elk twee weke geduur het, was ’n wonderlike geleentheid om geestelike seëninge aan gemeentelike ouer manne oor te dra.

Gedurende daardie tyd het ek voorbereidings getref om my ma in 1978 te gaan besoek. Maar op 29 April 1977 het ons onverwags ’n telegram ontvang wat ons in kennis gestel het dat my ma oorlede is. Die besef dat ek nie weer haar hartlike stem sou hoor of haar weer eens sou kon vertel hoe dankbaar ek is vir alles wat sy vir my gedoen het nie, het my baie hartseer gemaak.

Aan die einde van die Koninkryksbedieningskoolkursus is ons gevra om lede van die Bethelgesin te word. Gedurende die daaropvolgende jare het ek tien jaar lank as die koördineerder van die Takkomitee gedien. Later het die Bestuursliggaam ’n nuwe koördineerder aangestel, wat die verantwoordelikheid beter kon behartig. Ek is baie dankbaar daarvoor.

Beperkings van die ouderdom

Ek en Leida is nou albei 83 jaar oud. Ek het die vreugde gesmaak om meer as 60 jaar in die voltydse diens deur te bring, die laaste 45 saam met my lojale vrou. Sy het dit as deel van haar toegewyde diens aan Jehovah beskou om my in al ons toewysings te ondersteun. Tans doen ons wat ons kan by Bethel en in die gemeente.—Jesaja 46:4.

Nou en dan geniet ons dit om na te dink oor party van die hoogtepunte in ons lewe. Ons is nie spyt oor enigiets wat ons in Jehovah se diens gedoen het nie, en ons is oortuig dat die keuses wat ons vroeg in die lewe gemaak het, die heel beste was. Ons is vasbeslote om voort te gaan om Jehovah met al ons krag te dien en te verheerlik.

[Prent op bladsy 13]

Saam met Bill, my ouer broer, en Saul, ons perd

[Prent op bladsy 15]

Op ons troudag, Augustus 1961

[Prent op bladsy 15]

Vandag saam met Leida