Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sukses—Dit is binne jou bereik

Sukses—Dit is binne jou bereik

Sukses—Dit is binne jou bereik

NET soos ouers besorg is oor hulle kinders en wil hê dat hulle suksesvol moet wees, is ons hemelse Vader besorg oor ons en wil hy hê dat ons suksesvol moet wees. As ’n blyk van sy tere besorgdheid voorsien hy baie inligting in verband met sukses en mislukking. Trouens, waar die Bybel praat van iemand wat ag slaan op wat God sê, maak dit hierdie treffende verklaring: “Alles wat hy doen, sal suksesvol wees.”—Psalm 1:3.

As dit die geval is, waarom ontwyk ’n suksesvolle, gelukkige en bevredigende lewe so baie dan? Kom ons beskou hierdie psalm van naderby om die antwoord te kry en te sien hoe ons ook suksesvol kan wees.

“Raad van die goddeloses”

Die psalmis waarsku teen die gevaar om in “die raad van die goddeloses” te wandel (Psalm 1:1). Die grootste ‘goddelose’, of “bose”, persoon is Satan die Duiwel (Matteus 6:13). Die Skrif sê vir ons dat hy “die heerser van hierdie wêreld” is en dat “die hele wêreld . . . in die mag van die bose [lê]” (Johannes 16:11; 1 Johannes 5:19). Dit is dus nie verbasend nie dat baie van die raad wat in die wêreld gevind word, die denke van hierdie goddelose persoon weerspieël.

Watter soort raad bied die goddeloses? Oor die algemeen minag die goddeloses God (Psalm 10:13). Hulle raad, wat God buite rekening laat of minag, is oral om ons. Vandag bevorder die samelewing “die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele” (1 Johannes 2:16). Die media bombardeer ons met ’n materialistiese “kry alles wat jy kan uit die lewe”-filosofie. Regoor die wêreld bestee maatskappye meer as 3,3 biljoen rand per jaar aan advertensies om mense te oortuig om hulle produkte te koop—of verbruikers dit nodig het of nie. En hierdie propaganda het nie net mense se koopgewoontes verander nie. Dit het die wêreld ’n verdraaide beskouing van sukses gegee.

Hoewel baie mense dus dinge besit waarvan hulle jare gelede maar net kon droom, het hulle nog steeds ’n onversadigbare begeerte na meer materiële dinge. Die gevoel is dat jy nie gelukkig of suksesvol kan wees tensy jy hierdie dinge het nie. Hierdie soort denke is vals en “het nie hulle oorsprong by die Vader nie, maar het hulle oorsprong by die wêreld”.—1 Johannes 2:16.

Ons Skepper weet wat ons waarlik suksesvol sal maak. Sy raad verskil van “die raad van die goddeloses”. Daarom is pogings om God se seën te verkry terwyl ’n mens die wêreld se weg na sukses volg, dieselfde as om tegelykertyd op twee verskillende paaie te probeer wandel. Dit is eenvoudig onmoontlik. Geen wonder nie dat die Bybel waarsku: “Moet julle nie na die standaarde van hierdie wêreld laat vorm nie”!—Romeine 12:2, Today’s English Version.

Moenie toelaat dat die wêreld jou vorm nie

Die wêreld onder Satan se invloed probeer die indruk skep dat dit in ons welsyn belangstel. Ons moet egter versigtig wees. Onthou dat Satan uit selfsug die eerste vrou, Eva, bedrieg het om sy eie belange te bevorder. Toe het hy haar gebruik om Adam op ’n sondige weg te lei. Vandag gebruik Satan ook mense om sy goddelose raad oor te dra.

Byvoorbeeld, David, wat in die vorige artikel genoem is, moes ekstra ure werk en gereeld op sakereise gaan. “Ek het vroeg op ’n Maandagoggend vertrek en op ’n Donderdagaand teruggekom”, het David gesê. Aangesien sulke opofferings nodig is om sukses in die wêreld te behaal, het opregte vriende, familielede en werksmaats David aangespoor: “Doen dit vir jou gesin.” Hulle het geredeneer dat hy net ’n paar jaar lank, totdat hy gevestig was, met so ’n rooster sou moes volhou. David het verduidelik: “Hulle redenasie was dat dit tot my gesin se beswil sou wees omdat ek meer geld huis toe sou bring—ek sou suksesvoller wees. Hoewel ek nie tyd saam met my gesin deurgebring het nie, het my vriende my oortuig dat ek eintlik meer vir my gesin gee.” Soos David werk baie mense hard om hulle gesin alles te gee wat hulle dink hulle geliefdes nodig het. Maar lei dit tot sukses as ’n mens hierdie soort raad volg? Wat het ’n gesin werklik nodig?

David het uitgevind terwyl hy op ’n sakereis was. “Toe ek met my dogter Angelica oor die telefoon gepraat het, het sy gesê: ‘Pappa, waarom wil Pa nie saam met ons by die huis wees nie?’ Dit was traumaties”, het David gesê. Sy dogter se woorde het sy begeerte versterk om te bedank. David het besluit om sy gesin te gee wat hulle werklik nodig gehad het—hulle het hóm nodig gehad.

Die toepassing van God se raad lei tot sukses

Hoe kan jy die negatiewe propaganda teëwerk wat so algemeen in hierdie wêreld is? Die psalmis vertel ons dat die suksesvolle en gelukkige persoon die een is wie se “behae is in die wet van Jehovah, en in sy wet lees hy dag en nag op gedempte toon”.—Psalm 1:2.

Toe God Josua as die leier van die nasie Israel aangestel het, is daar vir hom gesê: “Jy moet dag en nag op gedempte toon [in God se Woord] lees.” Ja, dit was noodsaaklik om God se Woord te lees en daaroor te peins, maar Josua moes ook “sorgvuldig . . . handel volgens alles wat daarin geskrywe staan”. Bybellees op sigself sal jou natuurlik nie outomaties suksesvol maak nie. Jy moet toepas wat jy leer. Daar is vir Josua gesê: “Dan sal jy jou weg suksesvol maak en dan sal jy wys handel.”—Josua 1:8.

Stel jou ’n glimlaggende kind op die skoot van ’n liefdevolle ouer voor terwyl hulle ’n gunstelingstorie saam lees. Ongeag hoeveel keer hulle dit al voorheen gelees het, hierdie kosbare oomblikke is vir hulle spesiaal. Net so is daaglikse Bybellees vir iemand wat God liefhet, iets aangenaams—’n genotvolle tyd saam met sy hemelse Vader. Deur Jehovah se raad en leiding te volg, word so iemand “soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verwelk nie, en alles wat hy doen, sal suksesvol wees”.—Psalm 1:3.

Die boom wat deur die psalmis beskryf word, skiet nie toevallig op nie. Dit word met sorg by ’n waterbron geplant, en die landbouer sien daarna om. Op soortgelyke wyse word ons denke deur ons hemelse Vader gewysig en reggestel met behulp van die raad wat in die Skrif gevind word. Gevolglik floreer ons en bring ons godvrugtige vrugte voort.

Maar “die goddeloses is nie so nie”. Dit lyk weliswaar of hulle ’n tyd lank floreer, maar uiteindelik gaan hulle te gronde. Hulle “sal . . . nie opstaan in die oordeel” nie. Inteendeel, “die weg van die goddeloses sal vergaan”.—Psalm 1:4-6.

Moet dus nie toelaat dat die wêreld jou doelwitte en waardes vorm nie. Al is jy dalk talentvol en het jy die potensiaal om sukses in hierdie wêreld te behaal, moet jy versigtig wees hoe jy jou talente gebruik of hoe jy toelaat dat die wêreld dit gebruik. Vrugtelose, materialistiese strewes kan ’n mens laat “verwelk”. Daarenteen lei ’n goeie verhouding met God tot ware sukses en geluk.

Hoe jy suksesvol kan wees

Waarom sal ’n persoon wat God se raad volg, suksesvol wees in alles wat hy doen? Die psalmis het nie van sukses in hierdie wêreld gepraat nie. Die sukses van ’n godvrugtige persoon hou verband met die feit dat hy God se wil doen—en God se wil behaal altyd sukses. Kom ons kyk hoe dit jou suksesvol kan maak as jy Bybelbeginsels toepas.

Gesin: Die Skrif vermaan mans om “hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggaam”, en ’n Christenvrou “moet diep respek vir haar man hê” (Efesiërs 5:28, 33). Ouers word aangemoedig om tyd saam met hulle kinders deur te bring, om saam met hulle te lag en om hulle die belangrike dinge in die lewe te leer (Deuteronomium 6:6, 7; Prediker 3:4). God se Woord vermaan ouers ook: “Moenie julle kinders irriteer nie.” Wanneer hierdie raad toegepas word, is dit makliker vir kinders om ‘gehoorsaam te wees aan hulle ouers’ en om ‘hulle vader en hulle moeder te eer’ (Efesiërs 6:1-4). As hierdie goddelike raad gevolg word, kan dit tot ’n suksesvolle gesinslewe lei.

Vriende: Die meeste mense wil vriende hê. Ons het die verstandelike en emosionele vermoë om liefde te gee en te ontvang. Jesus het vir sy volgelinge gesê dat hulle “mekaar moet liefhê” (Johannes 13:34, 35). Onder hulle vind ons vriende wat ons kan liefhê en vertrou—selfs met ons diepste gedagtes en gevoelens (Spreuke 18:24). Bowenal kan ons “nader aan God [kom]” en, soos Abraham, selfs “Jehovah se vriend” genoem word as ons Bybelbeginsels toepas.—Jakobus 2:23; 4:8.

Doel in die lewe: Pleks van dag ná dag ’n doellose bestaan te voer, vind dié wat waarlik suksesvol is dat hulle lewe betekenisvol en doelgerig is. Hulle bou nie hulle lewe op die onsekere toestande van hierdie stelsel van dinge nie. Hulle doelwitte lei tot ware en blywende tevredenheid, omdat dit draai om die ware doel van die lewe. Wat gee ’n mens ’n doel in die lewe? “Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens.”—Prediker 12:13.

Hoop: As ons God as ons Vriend het, gee dit ons ook hoop vir die toekoms. Die apostel Paulus het Christene gemaan “om hulle hoop nie op onsekere rykdom te vestig nie, maar op God”. Sodoende sou hulle “vir hulleself ’n goeie fondament vir die toekoms veilig as ’n skat . . . bewaar, sodat hulle ’n stewige houvas op die werklike lewe kan kry” (1 Timoteus 6:17-19). Hierdie werklike lewe sal binnekort verwesenlik word wanneer God se hemelse Koninkryk die Paradys op hierdie aarde herstel.—Lukas 23:43.

As jy Bybelbeginsels toepas, sal jy nie immuun wees teen probleme nie, maar jy sal baie van die hartseer en droefheid vryspring wat die goddeloses oor hulleself bring. David, wat vroeër genoem is, en miljoene soos hy, het geleer hoe nuttig dit is om Bybelbeginsels in hulle lewe toe te pas. Nadat David ’n betrekking met ’n gepaste werkrooster gekry het, het hy gesê: “Ek is dankbaar vir die verhouding wat ek met my vrou en kinders het sowel as vir die voorreg om Jehovah God as ’n gemeentelike ouer man te dien.” Dit is geen wonder nie dat die psalm sê van iemand wat op God se raad ag slaan: “Alles wat hy doen, sal suksesvol wees”!

[Tabel op bladsy 6]

VYF STAPPE WAT TOT SUKSES LEI

1 Moenie toelaat dat die waardes van hierdie wêreld jou vorm nie.

Psalm 1:1; Romeine 12:2

2 Lees God se Woord elke dag enpeins daaroor.

Psalm 1:2, 3

3 Pas Bybelraad in jou lewe toe.

Josua 1:7-9

4 Maak God jou vriend.

Jakobus 2:23; 4:8

5 Vrees die ware God en onderhou sy gebooie.

Prediker 12:13

[Prente op bladsy 7]

Volg jy die stappe wat tot sukses lei?