Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sukses—Waaraan meet jy dit?

Sukses—Waaraan meet jy dit?

Sukses—Waaraan meet jy dit?

JESSE LIVERMORE, wat deur sommige as die suksesvolste Wall Street-aandelemakelaar van alle tye beskou is, was bekend vir sy wyse sakebesluite. Gevolglik het hy groot rykdom vergaar. Hy het die beste snyerspakke gedra, in ’n deftige huis met 29 vertrekke gewoon en is deur ’n chauffeur in ’n swart Rolls-Royce rondgery.

David a was op ’n soortgelyke weg. As die visepresident en hoofbestuurder van ’n groot grafiesekuns-firma sou hy in aanmerking kom vir die pos as ’n streekspresident van die maatskappy. Rykdom en aansien het gewink. David het egter ’n persoonlike besluit geneem wat tot sy bedanking gelei het. “Ek weet dat ek nooit weer ’n glansryke loopbaan in die sakewêreld sal hê nie”, het David gesê. Dink jy David het ’n fout gemaak?

Baie meen dat sukses die verkryging van rykdom, guns of aansien behels. Maar diegene wat materiële voorspoed geniet, voel moontlik nog steeds ’n innerlike leegheid en dat hulle lewe doelloos is. Dit was blykbaar die situasie waarin mnr. Livermore hom bevind het. Hy was ryk, maar sy lewe was gevul met hartseer, tragedie en droefheid. Hy het aan depressie gely, mislukte huwelike gehad asook swak verhoudings met sy seuns. Op die ou end, nadat mnr. Livermore ’n groot deel van sy fortuin verloor het, het hy eendag in die kroeg van ’n weelderige hotel gesit en sy verliese betreur. Hy het ’n drankie bestel, sy leergebonde aantekeningboek uitgehaal en ’n afskeidsbriefie aan sy vrou geskryf. Nadat hy sy drankie weggesluk het, het hy ’n dofverligte kleedkamer binnegestap en ongelukkig sy eie lewe geneem.

Die oorsake van selfmoord is weliswaar kompleks, maar hierdie ondervinding getuig van die waarheid van die Bybel se stelling: ‘Dié wat vasbeslote is om ryk te wees, het hulleself oral met baie pyne deurboor.’—1 Timoteus 6:9, 10.

Is dit moontlik dat diegene wat sukses meet aan rykdom, posisie of aansien, ’n foutiewe meetsnoer gebruik? Meen jy dat jy suksesvol is? Waarom? Waaraan meet jy jou sukses? Wat vorm jou beskouing van sukses? Die volgende artikel ondersoek raad wat die toets van die tyd deurstaan het en miljoene gehelp het om sukses te behaal. Kom ons kyk hoe jy ook suksesvol kan wees.

[Voetnoot]

a Die naam is verander.