Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Wat is die verseëling wat in Openbaring 7:3 genoem word?

Openbaring 7:1-3 sê: “Ek [het] op die vier hoeke van die aarde vier engele sien staan, wat die vier winde van die aarde styf vashou, sodat geen wind op die aarde of op die see of teen enige boom sou waai nie. En ek het ’n ander engel van die sonsopgang af sien opkom, met ’n seël van die lewende God; en hy het met ’n harde stem geroep na die vier engele aan wie dit gegee is om die aarde en die see te beskadig en gesê: ‘Moenie die aarde of die see of die bome beskadig tot ná ons die slawe van ons God op hulle voorkoppe verseël het nie.’”

Wanneer “die vier winde” losgelaat word, sal dit “die groot verdrukking” tot gevolg hê, wat die vernietiging van valse godsdiens en die res van hierdie goddelose wêreld sal beteken (Openbaring 7:14). “Die slawe van ons God” is Christus se gesalfde broers op aarde (1 Petrus 2:9, 16). Hierdie profesie toon dus dat die verseëling van Christus se broers voltooi sal wees wanneer die groot verdrukking uitbreek. Maar ander Bybelverse toon dat daar ’n vroeëre verseëling van gesalfdes is. Daarom praat ons soms van ’n aanvanklike en ’n finale verseëling. Wat is die verskil tussen die twee?

Kom ons kyk na die betekenis van die woord “verseël”. In die ou tyd was ’n seël ’n voorwerp waarmee ’n afdruk op ’n dokument gemaak is. Die woord kan ook na die afdruk self verwys. In daardie dae was dit algemeen om ’n seël op ’n dokument of iets anders aan te bring om die egtheid daarvan of eienaarskap aan te dui.—1 Konings 21:8; Job 14:17.

Paulus het die heilige gees met ’n seël vergelyk toe hy gesê het: “Hy wat waarborg dat ons en julle aan Christus behoort en wat ons gesalf het, is God. Hy het ook sy seël op ons gedruk en ons die pand van wat gaan kom, dit wil sê die gees, in ons harte gegee” (2 Korintiërs 1:21, 22). Jehovah salf dus hierdie Christene met sy heilige gees om aan te dui dat hulle sy eiendom is.

Daar is egter twee fases in die verseëling van gesalfdes. Die aanvanklike verseëling verskil van die finale verseëling wat die (1) doel en (2) tyd betref. Met die aanvanklike verseëling word ’n nuwe lid gekies wat by die aantal gesalfde Christene gevoeg word. Die finale verseëling bevestig dat hierdie gekose en verseëlde persoon sy lojaliteit ten volle bewys het. Eers dan, met die finale verseëling, sal die seël permanent ‘op die voorkop’ van die gesalfde aangebring word as onweerlegbare bewys dat hy ’n beproefde en getroue ‘slaaf van ons God’ is. Die verseëling wat in Openbaring hoofstuk 7 genoem word, verwys na hierdie finale fase van die verseëling.—Openbaring 7:3.

Aangaande die tyd van die aanvanklike verseëling het die apostel Paulus aan gesalfde Christene geskryf: “Ook julle het op hom gehoop nadat julle die woord van waarheid, die goeie nuus oor julle redding, gehoor het. Deur middel van hom is julle ook, nadat julle geglo het, met die beloofde heilige gees verseël” (Efesiërs 1:13, 14). Die Bybelverslag toon telkens dat eerste-eeuse Christene wel verseël is kort nadat hulle die goeie nuus gehoor en in Christus begin glo het (Handelinge 8:15-17; 10:44). Hierdie verseëling het getoon dat God hulle goedkeur. Maar dit het nie God se finale goedkeuring aangedui nie. Waarom nie?

Paulus het gesê dat gesalfde Christene “verseël is vir ’n dag van bevryding” (Efesiërs 4:30). Dit toon dat tyd, gewoonlik baie jare, ná die aanvanklike verseëling verloop. Gesalfdes moet getrou bly van die dag dat hulle met heilige gees verseël word tot die ‘dag dat hulle bevry’ word van hulle vleeslike liggame—dit wil sê tot hulle dood (Romeine 8:23; Filippense 1:23; 2 Petrus 1:10). Daarom kon Paulus eers aan die einde van sy lewe sê: “Ek het die wedloop enduit gehardloop, ek het die geloof bewaar. Van nou af is die kroon van regverdigheid vir my weggelê” (2 Timoteus 4:6-8). En Jesus het vir ’n gemeente van gesalfde Christene gesê: “Wees selfs tot in die dood getrou, en ek sal jou die kroon van die lewe gee.”—Openbaring 2:10; 17:14.

Die woord “kroon” is verdere bewys dat daar tyd verloop tussen die aanvanklike en die finale verseëling. Waarom? In die ou tyd was dit die gebruik om ’n kroon aan die hardloper te gee wat ’n wedloop gewen het. Om die kroon te ontvang, moes hy meer doen as om bloot die wedloop te begin. Hy moes die hele pad tot by die eindstreep hardloop. Net so sal gesalfde Christene slegs met onsterflike lewe in die hemel bekroon word as hulle tot die einde van hulle lewe volhard—van die aanvanklike tot die finale verseëling.—Matteus 10:22; Jakobus 1:12.

Wanneer sal die oorblyfsel van gesalfde Christene wat aanvanklik verseël is, finaal verseël word? Almal wat nog op die aarde lewe, sal “op hulle voorkoppe” verseël word voordat die groot verdrukking uitbreek. Wanneer die vier winde van verdrukking losgelaat word, sal al die lede van geestelike Israel reeds finaal verseël wees, hoewel ’n paar nog in die vlees lewend sal wees en hulle aardse loopbaan moet voltooi.