Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Man wat lief was vir die lewe en mense

’n Man wat lief was vir die lewe en mense

’n Man wat lief was vir die lewe en mense

DANIEL SYDLIK, wat lank op die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies gedien het, het sy aardse loopbaan op Dinsdag 18 April 2006 voltooi. Hy was 87 jaar oud en het bykans 60 jaar as lid van die Bethelgesin in Brooklyn, New York, gedien.

Broer Dan, soos diegene wat na aan hom was, hom genoem het, het in 1946 na Bethel toe gekom. Vroeër het hy as ’n spesiale pionier in Kalifornië gedien, en gedurende die Tweede Wêreldoorlog was hy ook ’n tyd lank in die tronk weens sy Christelike neutraliteit. In sy lewensverhaal, wat verskyn het in Die Wagtoring van 1 Junie 1985, onder die titel “Hoe kosbaar is u vriendskap, o God!” is daar ’n roerende beskrywing van sy ondervindinge gedurende daardie tyd.

Mense het broer Sydlik geken as ’n genaakbare mens met albei voete plat op die aarde. Wanneer hy die leiding geneem het tydens die Bethelgesin se oggendaanbidding, is sy positiewe gesindheid en liefde vir die lewe dikwels weerspieël in sy inleidingswoorde: “Dit is goed om te lewe en die ware en lewende God te dien.” As ’n openbare spreker het hy ander aangemoedig om hierdie beskouing te hê deur middel van toesprake met temas soos “Gelukkig is die volk wie se God Jehovah is”, “Weerspieël die vreugde van Jehovah”, “Hou die vuur van God se gees lewend” en “Die beste lê nog voor”.

In 1970 het broer Sydlik met Marina Hodson, van Engeland, getrou, wat hy beskryf het as “’n godgegewe steunpilaar”. Hulle het Jehovah meer as 35 jaar saam gedien.

Gedurende sy jare by Bethel het broer Sydlik in verskeie afdelings gewerk, waaronder die drukkery en die Skryfafdeling. Hy het ook by die radiostasie WBBR gewerk. Toe, in November 1974, is hy as lid van die Bestuursliggaam aangestel en het hy uiteindelik saam met die Personeel- en Skryfkomitee gewerk.

Broer Sydlik se werk oor meer as 30 jaar saam met die Personeelkomitee is gekenmerk deur sy intense liefde vir mense. Hy het baie met sy kragtige stem aangemoedig en altyd die aandag gevestig op die kosbare voorreg wat ons het om Jehovah te dien. Hy het voortdurend beklemtoon dat ware geluk nie van eksterne faktore afhanklik is nie, maar van ons verhouding met Jehovah en ons gesindheid teenoor die lewe.

Hoewel die Bethelgesin broer Sydlik baie mis, sal sy voorbeeld as iemand wat waarlik lief was vir die lewe en mense, altyd onthou word. Ons is vol vertroue dat hy onder diegene is waarvan daar in Openbaring 14:13 gepraat word: “Gelukkig is die dooies wat van nou af in eenheid met die Here sterf. Ja, sê die gees, laat hulle van hulle arbeid rus, want die dinge wat hulle gedoen het, gaan met hulle saam.”