Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bly standvastig wanneer ’n kind in opstand kom

Bly standvastig wanneer ’n kind in opstand kom

Bly standvastig wanneer ’n kind in opstand kom

’N CHRISTENVROU wat ons Joy sal noem, het liefde vir Jehovah God by haar seun probeer inskerp. Maar toe hy sy laat tienerjare bereik, het die seun in opstand gekom en die huis verlaat. “Ek het nog nooit so seergemaak gevoel nie”, sê Joy. “Ek het verraai, hartseer en gefrustreerd gevoel. Negatiewe gedagtes het my oorweldig.”

Miskien het jy ook jou kinders probeer leer om God lief te hê en hom te dien, maar toe gesien hoe een of meer van hulle hom die rug toekeer. Hoe kan jy hierdie bittere teleurstelling verwerk? Wat sal jou help om standvastig te bly in jou diens aan Jehovah?

Toe Jehovah se seuns in opstand gekom het

Eerstens moet jy besef dat Jehovah presies weet hoe jy voel. In Jesaja 49:15 lees ons: “Kan ’n vrou haar suigeling vergeet sodat sy haar nie oor die seun van haar moederskoot ontferm nie? Selfs hierdie vroue kan vergeet, maar ek sal jou nie vergeet nie.” Ja, Jehovah ervaar gevoelens wat vaders en moeders ook ondervind. Stel jou dan voor hoeveel genot dit hom moes verskaf het toe al sy engeleseuns hom geloof en gedien het. Toe Jehovah die aartsvader Job “uit die windstorm” geantwoord het, het Hy na gelukkige tye saam met sy verenigde geestelike gesin verwys en gesê: “Waar was jy toe ek die aarde gegrondves het? . . . Toe die môresterre saam van vreugde uitgeroep het en al die seuns van God begin juig het?”—Job 38:1, 4, 7.

Ná verloop van tyd het die ware God gesien hoe ’n volmaakte engeleseun teen hom in opstand kom en Satan word, wat “Teenstander” beteken. Jehovah het ook gesien hoe sy eerste menseseun, Adam, en sy volmaakte vrou, Eva, by die opstand aansluit (Genesis 3:1-6; Openbaring 12:9). Later het ander engeleseuns “hulle eie gepaste woonplek verlaat” en teen God in opstand gekom.—Judas 6.

Die Skrif sê nie vir ons hoe Jehovah gevoel het toe party van sy volmaakte seuns ’n opstandige weg ingeslaan het nie. Maar die Bybel sê duidelik: “Jehovah [het] gesien dat die slegtheid van die mens oorvloedig op die aarde was en dat elke neiging van die gedagtes van sy hart die hele tyd net sleg was. En Jehovah het spyt gevoel dat hy mense op die aarde gemaak het, en hy het gekrenk gevoel in sy hart” (Genesis 6:5, 6). Die opstand van Jehovah se uitverkore volk, Israel, het hom ook “gekrenk” en “bedroef” laat voel.—Psalm 78:40, 41.

Jehovah het ongetwyfeld empatie vir ouers wat bedroef en gekrenk voel weens die optrede van hulle opstandige kinders. In sy Woord, die Bybel, het hy goeie raad en aanmoediging gegee om hierdie ouers te help om hulle situasie die hoof te bied. God spoor hulle aan om hulle sorge op hom te werp, om hulle te verneder en om Satan die Duiwel te weerstaan. Kom ons kyk hoe die toepassing van hierdie raad jou kan help om standvastig te bly wanneer jou kind in opstand kom.

Werp jou sorge op Jehovah

Jehovah weet dat min dinge vir ouers meer sorgwekkend is as die gedagte dat hulle kinders gevaar loop om hulleself leed aan te doen of deur ander leed aangedoen te word. Die apostel Petrus meld een manier waarop hierdie en ander sorge die hoof gebied kan word. Hy skryf: “[Werp] al julle sorge op [Jehovah], want hy sorg vir julle” (1 Petrus 5:7). Waarom is hierdie uitnodiging en gerusstellende woorde veral van toepassing op die ouers van ’n opstandige kind?

Terwyl jou kind jonk was, het jy hom noulettend teen gevare beskerm, en hy het waarskynlik jou liefdevolle leiding gevolg. Maar namate hy ouer geword het, het jou invloed oor hom dalk afgeneem, al was jou opregte begeerte om hom teen leed te beskerm nog net so sterk. Trouens, dit het waarskynlik sterker geword.

Gevolglik voel jy miskien dat dit jou skuld is wanneer jou kind in opstand kom en geestelike, emosionele of fisiese skade ly. Joy, wat vroeër genoem is, het so gevoel. Sy sê: “Ek is deur ’n gevoel van mislukking gefolter en het gevolglik elke dag oor gebeure in die verlede getob.” Jehovah wil veral gedurende hierdie tye hê dat jy ‘al jou sorge op hom moet werp’. As jy dit doen, sal hy jou help. “Werp jou las op Jehovah”, het die psalmis gesê, “en hy sal jou onderskraag. Nooit sal hy die regverdige laat wankel nie” (Psalm 55:22). Joy het hierdie vertroosting gevind. Sy verduidelik: “Ek het met Jehovah gepraat oor my diepste gevoelens. Ek het eenvoudig my hart uitgestort, en dit het groot verligting gebring.”

As ’n onvolmaakte ouer het jy dalk foute gemaak terwyl jy jou kind grootgemaak het. Maar waarom sou jy jou aandag daarop toespits? Jehovah doen dit blykbaar nie, want die geïnspireerde psalmis het gesing: “As u op oortredings ag gegee het, o Jah, o Jehovah, wie sou kon bly staan?” (Psalm 130:3). Selfs al het jy as ouer nooit foute gemaak nie, sou jou kind dalk nog steeds in opstand gekom het. Praat dus met Jehovah in gebed oor jou gevoelens, en hy sal jou help om dit te verwerk. Maar as jý in jou diens aan Jehovah standvastig wil bly en nie ’n slagoffer van Satan wil word nie, moet jy meer doen.

Verneder jou

“Verneder julle . . . onder die magtige hand van God”, het Petrus geskryf, “sodat hy julle op die bestemde tyd kan verhef” (1 Petrus 5:6). Waarom is nederigheid nodig wanneer jou kind in opstand kom? ’n Opstandige kind kan jou nie net skuldig en bedroef laat voel nie, maar kan ook vir jou ’n verleentheid wees. Jy is dalk besorg dat jou kind se optrede julle gesin se goeie naam geskend het, veral as hy uit die Christengemeente gesit moes word. Selfverwyt tesame met ’n gevoel van vernedering kan jou ontmoedig om Christelike vergaderinge by te woon.

Wanneer jy in so ’n situasie is, moet jy praktiese wysheid aan die dag lê. Spreuke 18:1 waarsku: “Wie hom afsonder, sal sy eie selfsugtige verlange soek; teen alle praktiese wysheid sal hy losbreek.” As jy ondanks jou droefheid Christelike vergaderinge gereeld bywoon, sal jy ’n onontbeerlike bron van onderrigting en aanmoediging kan benut. “Aan die begin wou ek eenvoudig niemand sien nie”, erken Joy. “Maar ek het my herinner aan die belangrikheid van my geestelike roetine. Ek sou buitendien oor my probleme getob het as ek by die huis gebly het. Die vergaderinge het my gehelp om my aandag op opbouende geestelike dinge toe te spits. Ek is baie dankbaar dat ek my nie afgesonder het nie en gevolglik die liefdevolle ondersteuning van my broers en susters gehad het.”—Hebreërs 10:24, 25.

Onthou ook dat elke gesinslid ‘sy eie vrag moet dra’ wat Christelike verantwoordelikheid betref (Galasiërs 6:5). Jehovah verwag dat ouers hulle kinders moet liefhê en dissiplineer. Hy verwag ook dat kinders aan hulle ouers gehoorsaam moet wees en hulle moet eer. As ouers hulle bes doen om hulle kinders in “die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” op te voed, sal die ouers ’n goeie naam by God hê (Efesiërs 6:1-4). As ’n kind teen die liefdevolle dissipline van sy ouers in opstand kom, is dit die kind se goeie naam wat geskend word. “Deur sy handelinge laat ’n seun hom tog ken, of sy optrede suiwer en reg is”, sê Spreuke 20:11. Satan se opstand het beslis nie Jehovah se goeie naam geskend onder diegene wat die feite ken nie.

Weerstaan die Duiwel

“Bly nugter van verstand, wees waaksaam”, waarsku Petrus. “Julle teenstander, die Duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind” (1 Petrus 5:8). Soos ’n leeu, maak die Duiwel dikwels die jonges en onervarenes sy teiken. In die ou tyd het leeus oral in Israel rondgeloop en ’n bedreiging vir kleinvee ingehou. As ’n jong lam van die trop afgedwaal het, sou hy ’n maklike prooi wees. ’n Ooi sou dalk instinktief haar lewe waag om haar lam te beskerm. Maar selfs ’n uitgegroeide skaap sou nie teen ’n leeu opgewasse wees nie. Dapper herders was dus nodig om die kudde te beskerm.—1 Samuel 17:34, 35.

Om sy figuurlike skape teen die “brullende leeu” te beskerm, het Jehovah gereël dat geestelike herders onder “die hoofherder”, Jesus Christus, na die kudde omsien (1 Petrus 5:4). Petrus gee aan hierdie aangestelde manne dié vermaning: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle sorg is, nie onder dwang nie, maar gewillig; ook nie uit liefde vir oneerlike gewin nie, maar gretig” (1 Petrus 5:1, 2). Met julle samewerking as ouers sal hierdie herders moontlik ’n jongmens kan help om sy handelswyse reg te stel wat geestelike sake betref.

Wanneer dit vir Christenherders nodig is om jou opstandige kind raad te gee, wil jy hom dalk teen die dissipline beskerm. Maar as jy dit doen, sal jy ’n ernstige fout maak. Petrus sê: “Weerstaan [die Duiwel]”—nie die geestelike herders nie.—1 Petrus 5:9.

Wanneer die dissipline streng is

As jou kind onberouvol is en ’n gedoopte Christen is, sal hy moontlik die strengste dissipline ontvang—om uit die gemeente gesit te word. Hoeveel kontak jy dan met hom sal hê, sal afhang van sy ouderdom en ander omstandighede.

As die kind minderjarig is en by die huis woon, sal jy natuurlik aanhou om in sy fisiese behoeftes te voorsien. Hy het ook sedelike opleiding en dissipline nodig, en jy het die verantwoordelikheid om dit te gee (Spreuke 1:8-18; 6:20-22; 29:17). Jy wil dalk ’n Bybelstudie met hom hou, waaraan hy daadwerklik moet deelneem. Jy kan sy aandag vestig op verskeie tekste en op die publikasies wat “die getroue en verstandige slaaf” voorsien (Matteus 24:45). Jy kan die kind ook saam met jou neem na Christelike vergaderinge en hom by jou laat sit. Dit alles kan gedoen word in die hoop dat hy skriftuurlike raad ter harte sal neem.

Die situasie is anders as die een wat uitgesit is, nie minderjarig is nie en nie by die huis woon nie. Die apostel Paulus het Christene in eertydse Korinte vermaan om “op te hou om met enigeen om te gaan wat ’n broer genoem word maar wat ’n hoereerder of ’n gierigaard of ’n afgodedienaar of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n afperser is, en om nie eens saam met so iemand te eet nie” (1 Korintiërs 5:11). Hoewel noodsaaklike gesinsake dalk ’n mate van kontak met die uitgesette persoon vereis, moet ’n Christenouer probeer om onnodige omgang te vermy.

Wanneer ’n kind wat oortree het, deur Christenherders gedissiplineer word, sal dit onverstandig van jou wees om hulle skriftuurlike optrede te verwerp of gering te ag. As jy jou opstandige kind se kant kies, sal dit nie enige ware beskerming teen die Duiwel bied nie. Trouens, jy sal jou eie geestelike gesondheid in gevaar stel. Daarenteen sal jy, as jy die herders se pogings ondersteun, “vas in die geloof” bly en die beste hulp aan jou kind gee.—1 Petrus 5:9.

Jehovah sal jou onderskraag

As jou kind ooit in opstand kom, moet jy onthou dat jy nie alleen is nie. Ander Christenouers het al soortgelyke ondervindinge gehad. Jehovah kan ons onderskraag ondanks die beproewinge wat ons deurmaak.—Psalm 68:19.

Vertrou op Jehovah in gebed. Gaan gereeld met die Christengemeente om. Ondersteun die dissipline van aangestelde herders. Sodoende sal jy standvastig kan bly. En jou goeie voorbeeld kan jou kind help om Jehovah se liefdevolle uitnodiging aan te neem om tot hom terug te keer.—Maleagi 3:6, 7.

[Prente op bladsy 18]

Put krag uit gebed en die Christengemeente