Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Help ander om te gehoorsaam wat die Bybel leer

Help ander om te gehoorsaam wat die Bybel leer

Help ander om te gehoorsaam wat die Bybel leer

“Wat dié op die goeie grond betref, dit is hulle wat die woord, nadat hulle dit met ’n edel en goeie hart gehoor het, vashou en met volharding vrug dra.”—LUKAS 8:15.

1, 2. (a) Met watter doel is die boek Wat leer die Bybel werklik? saamgestel? (b) Hoe het Jehovah in onlangse jare die pogings van sy volk om dissipels te maak, geseën?

 “DIE boek is eenvoudig wonderlik. My studente geniet dit baie. Ek geniet dit baie. Hierdie boek maak dit moontlik om selfs by mense se deur met hulle ’n Bybelstudie te begin.” So het ’n voltydse pionierbedienaar van Jehovah se Getuies gesê van die boek Wat leer die Bybel werklik? a Met verwysing na dieselfde publikasie het ’n bejaarde Koninkryksverkondiger gesê: “In die 50 jaar wat ek al aan die bediening deelneem, het ek die voorreg gehad om baie mense te help om Jehovah te leer ken. Maar ek moet sê, hierdie studiepublikasie is iets besonders. Die treffende illustrasies en prente is te wonderlik.” Is dit hoe jy oor die Leer Bybel-boek voel? Hierdie Bybelstudiehulp is saamgestel om jou te help om Jesus se bevel uit te voer: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.”—Matteus 28:19, 20.

2 Jehovah se hart is ongetwyfeld bly wanneer hy sien hoe sowat 6,6 miljoen van sy Getuies Jesus se opdrag om dissipels te maak, gewilliglik gehoorsaam (Spreuke 27:11). Dit is duidelik dat Jehovah hulle pogings seën. Gedurende 2005 is die goeie nuus byvoorbeeld in 235 lande verkondig en is gemiddeld 6 061 500 Bybelstudies gehou. Gevolglik het baie mense ‘God se woord gehoor en dit nie as die woord van mense aangeneem nie maar, soos dit waarlik is, as die woord van God’ (1 Tessalonisense 2:13). Gedurende die afgelope twee jaar het meer as ’n halfmiljoen nuwe dissipels hulle lewe met Jehovah se standaarde in ooreenstemming gebring en hulle aan God toegewy.

3. Watter vrae in verband met die gebruik van die Leer Bybel-boek sal in hierdie artikel ondersoek word?

3 Het jy onlangs die vreugde ondervind om ’n Bybelstudie met iemand te hou? Daar is wêreldwyd nog steeds mense met “’n edel en goeie hart” wat, wanneer hulle die woord van God hoor, daaraan sal “vashou en met volharding vrug [sal] dra” (Lukas 8:11-15). Kom ons kyk hoe jy die Leer Bybel-boek in die dissipelmaakwerk kan gebruik. Ons bespreking sal drie vrae ondersoek: (1) Hoe kan jy ’n Bybelstudie begin? (2) Watter onderrigmetodes werk die beste? (3) Hoe kan jy iemand help om nie net ’n student nie, maar ook ’n onderrigter van God se geskrewe Woord, die Bybel, te word?

Hoe jy ’n Bybelstudie kan begin

4. Waarom huiwer party om die Bybel te bestudeer, en hoe kan jy hulle help om hulle teësinnigheid te bowe te kom?

4 As jy gevra word om met een sprong oor ’n breë stroom te spring, sal jy dalk weier om dit te doen. Maar as daar trapklippe op reëlmatige afstande geplaas word, sal jy waarskynlik gewilliger wees om dit te probeer oorsteek. Net so sal ’n besige persoon moontlik huiwer om die Bybel te bestudeer. Die huisbewoner dink dalk dat dit te veel tyd en inspanning sal verg om dit te doen. Hoe kan jy hom help om sy teësinnigheid te bowe te kom? Deur ’n reeks kort, leersame besprekings te hou, kan jy die Leer Bybel-boek gebruik om die persoon geleidelik by ’n gereelde studie van God se Woord te betrek. As jy goed voorberei, sal elke herbesoek by die persoon soos ’n trapklip tot sy vriendskap met Jehovah word.

5. Waarom moet jy die Leer Bybel-boek lees?

5 Maar voor jy iemand anders kan help om by die Leer Bybel-boek baat te vind, moet jy goed vertroud raak daarmee. Het jy die boek al deurgelees? Een egpaar het die publikasie saam met hulle geneem toe hulle met vakansie gegaan het en dit begin lees terwyl hulle op die strand ontspan het. Toe ’n plaaslike vrou wat goedere aan toeriste verkoop, hulle nader, het sy die titel van die boek, Wat leer die Bybel werklik? opgemerk. Sy het die egpaar vertel dat sy net ’n paar uur vroeër oor juis daardie vraag gebid het en God om ’n antwoord gevra het. Die egpaar het die vrou met graagte ’n eksemplaar van die boek gegee. Het jy ‘tyd uitgekoop’ om hierdie publikasie te lees, moontlik ’n tweede keer, terwyl jy gewag het vir ’n afspraak of tydens ’n pouse by die werk of skool? (Efesiërs 5:15, 16). As jy dit doen, sal jy vertroud raak met hierdie Bybelstudiehulp en moontlik ook geleenthede skep om met ander oor die inhoud daarvan te praat.

6, 7. Hoe kan jy die Leer Bybel-boek gebruik om Bybelstudies te begin?

6 Wanneer jy die boek in die openbare bediening aanbied, moet jy die prente, tekste en vrae op bladsye 4, 5 en 6 goed gebruik. Jy kan byvoorbeeld ’n gesprek aanknoop deur te vra: “Met al die probleme waarmee die mensdom vandag te kampe het, wat dink jy is ’n betroubare bron van raad?” Nadat jy aandagtig geluister het na die persoon se antwoord, lees 2 Timoteus 3:16, 17, en verduidelik dat die Bybel ’n ware oplossing vir die mensdom se probleme bied. Vestig dan die huisbewoner se aandag op bladsye 4 en 5 en vra: “Watter van die toestande wat op hierdie bladsye uitgebeeld word, kwel jou die meeste?” Wanneer die huisbewoner een uitwys, laat hom die boek vashou terwyl jy die teks wat daarmee verband hou, in jou Bybel lees. Lees daarna bladsy 6 en vra die huisbewoner: “Watter een van die ses vrae onderaan hierdie bladsy sal jy graag beantwoord wil hê?” Wanneer die persoon een kies, wys vir hom die hoofstuk wat daardie vraag beantwoord, laat die boek by hom en tref definitiewe reëlings om terug te kom en daardie vraag te bespreek.

7 Die aanbieding wat hier uiteengesit is, kan in omtrent vyf minute gedoen word. Maar in daardie paar minute sal jy uitgevind het wat die huisbewoner kwel, twee tekste gelees en toegepas het en die grondslag vir ’n herbesoek gelê het. Jou kort gesprek met die huisbewoner is heel moontlik die aanmoedigendste en mees vertroostende ondervinding wat hy in ’n lang tyd gehad het. Gevolglik sal selfs ’n besige persoon waarskynlik daarna uitsien om nog ’n paar minute saam met jou deur te bring terwyl jy hom help om sy volgende stap te neem om op ‘die pad wat na die lewe lei’, te kom (Matteus 7:14). Namate die huisbewoner se belangstelling toeneem, kan die studiesessies langer gemaak word. Dit kan gedoen word deur aan te bied om te sit en vir ’n langer, afgespreekte tyd te studeer.

Onderrigmetodes wat die beste werk

8, 9. (a) Hoe kan jy jou Bybelstudent voorberei om die struikelblokke en toetse waarvoor hy waarskynlik te staan sal kom, die hoof te bied? (b) Waar kan die vuurvaste materiale om sterk geloof te bou, gevind word?

8 Wanneer iemand begin om te gehoorsaam wat die Bybel leer, sal hy waarskynlik voor struikelblokke te staan kom wat sy vooruitgang kan belemmer. Die apostel Paulus het gesê: “Almal wat met godvrugtige toegewydheid in verbintenis met Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word” (2 Timoteus 3:12). Paulus het hierdie beproewinge vergelyk met ’n vuur wat minderwaardige boumateriale sal vernietig, maar wat materiale soos goud, silwer en kosbare stene nie sou beskadig nie (1 Korintiërs 3:10-13; 1 Petrus 1:6, 7). Om jou Bybelstudent te help om die nodige eienskappe aan te kweek om die toetse die hoof te bied waarvoor hy dalk te staan sal kom, moet jy hom help deur met vuurvaste materiale te bou.

9 Die psalmis vergelyk “die woorde van Jehovah” met “silwer wat in ’n smeltoond van die aarde gelouter is, sewe keer gesuiwer” (Psalm 12:6). Ja, die Bybel bevat al die kosbare materiale wat gebruik kan word om sterk geloof te bou (Psalm 19:7-11; Spreuke 2:1-6). En die Leer Bybel-boek wys vir jou hoe om die Skrif doeltreffend te gebruik.

10. Hoe kan jy die student se aandag op die Bybel vestig?

10 Vestig die student se aandag gedurende die studie op die tekste wat in elke hoofstuk voorsien word. Gebruik vrae om die student te help om belangrike Bybeltekste te verstaan en persoonlik toe te pas. Wees versigtig dat jy nie vir hom sê wat hy moet doen nie. Volg eerder Jesus se voorbeeld na. Toe ’n man wat met die Wet vertroud was, hom uitgevra het, het Jesus geantwoord: “Wat staan in die Wet geskrywe? Hoe lees jy?” Die man het uit die Skrif geantwoord, en Jesus het hom gehelp om te sien hoe om die beginsel op homself toe te pas. Deur ’n illustrasie te vertel, het Jesus die man ook gehelp om te sien watter uitwerking die onderrigting op hom moet hê (Lukas 10:25-37). Die Leer Bybel-boek is vol eenvoudige illustrasies wat jy kan gebruik om ’n student te help om skriftuurlike beginsels op homself toe te pas.

11. Hoeveel materiaal moet jy in elke studiesessie dek?

11 Die Leer Bybel-boek gebruik eenvoudige, direkte taal om God se Woord te verduidelik, net soos Jesus komplekse idees in eenvoudige terme oorgedra het (Matteus 7:28, 29). Volg sy voorbeeld na. Dra die inligting eenvoudig, duidelik en akkuraat oor. Moenie deur die materiaal jaag nie. Laat die omstandighede en die vermoë van die student eerder bepaal hoeveel paragrawe jy gedurende elke studiesessie bespreek. Jesus het die beperkings van sy dissipels geken en het hulle nie met meer inligting belas as wat hulle op daardie stadium nodig gehad het nie.—Johannes 16:12.

12. Hoe moet die aanhangsel gebruik word?

12 Die Leer Bybel-boek bevat ’n aanhangsel met 14 onderwerpe. Na gelang van die behoeftes van die student behoort jy as sy onderrigter te kan bepaal hoe hierdie materiaal die beste gebruik kan word. As ’n student byvoorbeeld sukkel om ’n punt te snap of as hy vrae het oor spesifieke sake as gevolg van vorige oortuigings, sal dit dalk genoeg wees om sy aandag op die gepaste deel van die aanhangsel te vestig en hom die onderwerp self te laat ondersoek. Aan die ander kant vereis die student se behoeftes moontlik dat jy die materiaal saam met hom deurgaan. Die aanhangsel bevat belangrike skriftuurlike onderwerpe, soos “‘Siel’ en ‘gees’—Wat beteken hierdie terme werklik?” en “Die identiteit van ‘Babilon die Grote’”. Jy sal moontlik hierdie onderwerpe met jou student wil bespreek. Aangesien daar geen vrae voorsien word vir die onderwerpe wat in die aanhangsel bespreek word nie, sal jy die inligting goed moet ken om sinvolle vrae daaroor te kan vra.

13. Watter rol speel gebed daarin om geloof te versterk?

13 “As Jehovah nie die huis bou nie, het die bouers tevergeefs hard daaraan gewerk”, sê Psalm 127:1. Wanneer jy voorberei om ’n Bybelstudie te hou, moet jy dus vir Jehovah se hulp bid. Laat jou gebede aan die begin en einde van elke studie bewys lewer van jou hartlike verhouding met Jehovah. Moedig die student aan om tot Jehovah te bid vir die wysheid om Sy Woord te verstaan en die krag om die raad daarin toe te pas (Jakobus 1:5). As hy dit doen, sal die student versterk word om beproewinge te verduur en sal sy geloof voortdurend toeneem.

Help Bybelstudente om onderrigters te word

14. Watter vooruitgang moet Bybelstudente maak?

14 Om “alles” te gehoorsaam wat Jesus sy dissipels beveel het, moet ons Bybelstudente vorder tot die punt dat hulle nie meer studente van God se Woord is nie, maar onderrigters daarvan (Matteus 28:19, 20; Handelinge 1:6-8). Wat kan jy doen om ’n student te help om hierdie soort geestelike vooruitgang te maak?

15. Waarom moet jy jou Bybelstudent aanmoedig om Christelike vergaderinge by te woon?

15 Nooi die student van die eerste studie af om gemeentelike vergaderinge saam met jou by te woon. Verduidelik aan hom dat jy jou opleiding as ’n onderrigter van God se Woord by die vergaderinge kry. Gebruik ’n aantal weke lank ’n paar minute aan die einde van elke Bybelstudie om die program van geestelike onderrigting te beskryf wat jy by die verskillende vergaderinge en byeenkomste kry. Praat met geesdrif oor die voordele wat jy uit hierdie geleenthede put (Hebreërs 10:24, 25). Wanneer die student vergaderinge gereeld begin bywoon, sal hy waarskynlik ’n onderrigter van God se Woord word.

16, 17. Wat is party doelwitte wat ’n Bybelstudent kan stel en bereik?

16 Help die Bybelstudent om doelwitte te stel wat hy kan bereik. Moedig hom byvoorbeeld aan om ’n vriend of familielid te vertel van die dinge wat hy leer. Stel ook voor dat hy hom dit ten doel stel om die hele Bybel deur te lees. As jy hom help om ’n roetine van gereelde Bybellees uit te werk en daarby te bly, sal hierdie gewoonte hom bevoordeel lank nadat hy gedoop is. Jy kan gerus ook voorstel dat die student hom dit ten doel stel om ten minste een Bybelteks te onthou wat ’n belangrike vraag uit elke hoofstuk van die Leer Bybel-boek beantwoord. Deur dit te doen, sal hy “’n werker [word] wat hom oor niks hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg hanteer”.—2 Timoteus 2:15.

17 Moenie die student leer om tekste net woordeliks te herhaal of op te som nie, maar spoor hom eerder aan om tersaaklike Bybelverse te verduidelik wanneer hy diegene antwoord wat ’n rede vir sy geloof eis. Kort oefensessies kan help, waartydens jy die rol speel van ’n familielid of werksmaat wat hom vra om sy oortuigings te verduidelik. Wanneer die student antwoord, wys vir hom hoe om dit met “sagmoedigheid en diep respek” te doen.—1 Petrus 3:15.

18. Watter verdere hulp kan jy ’n Bybelstudent gee wanneer hy aan die vereistes voldoen om ’n ongedoopte verkondiger te word?

18 Mettertyd sal die student moontlik aan die vereistes voldoen om aan die veldbediening deel te neem. Beklemtoon dat dit ’n voorreg is om toegelaat te word om hierdie werk te doen (2 Korintiërs 4:1, 7). Wanneer die ouer manne vasgestel het dat die student aan die vereistes voldoen om ’n ongedoopte verkondiger te word, moet jy hom help om ’n eenvoudige aanbieding voor te berei en dan saam met hom in velddiens uitgaan. Hou aan om gereeld saam met hom aan verskeie aspekte van die openbare bediening deel te neem, en leer hom hoe om vir herbesoeke voor te berei en hulle op bekwame wyse te doen. Jou goeie voorbeeld sal ’n positiewe invloed wees.—Lukas 6:40.

‘Red jouself sowel as dié wat na jou luister’

19, 20. Wat moet ons doelwit wees, en waarom?

19 Dit verg sonder twyfel baie harde werk om iemand te help om tot “juiste kennis van die waarheid” te kom (1 Timoteus 2:4). Maar daar is min vreugdes in die lewe wat vergelyk kan word met die genot om iemand te help om te gehoorsaam wat die Bybel leer (1 Tessalonisense 2:19, 20). Ja, wat ’n voorreg het ons tog om “God se medewerkers” in hierdie wêreldwye onderrigtingswerk te wees!—1 Korintiërs 3:9.

20 Deur middel van Jesus Christus en magtige engele sal Jehovah binnekort dié “wat God nie ken nie en dié wat die goeie nuus oor ons Here Jesus nie gehoorsaam nie”, tot verantwoording roep (2 Tessalonisense 1:6-8). Lewens is op die spel. Kan jy jou dit ten doel stel om ten minste een tuisbybelstudie in die boek Wat leer die Bybel werklik? te hou? Wanneer jy aan hierdie werk deelneem, het jy die geleentheid om “jouself [te] red sowel as dié wat na jou luister” (1 Timoteus 4:16). Dit is nou dringender as ooit dat ons ander help om te gehoorsaam wat die Bybel leer.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

Wat het jy geleer?

• Met watter doel is die Leer Bybel-boek saamgestel?

• Hoe kan jy die Leer Bybel-boek gebruik om Bybelstudies te begin?

• Watter onderrigmetodes werk die beste?

• Hoe kan jy ’n student help om ’n onderrigter van God se Woord te word?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 26]

Maak jy goeie gebruik van hierdie boek?

[Prent op bladsy 27]

’n Kort gesprek kan by ’n persoon die begeerte wek om Bybelkennis op te doen

[Prent op bladsy 29]

Wat kan jy doen om die student se aandag op die Bybel te vestig?

[Prent op bladsy 30]

Help die Bybelstudent om vordering te maak