Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Leer ander wat die Bybel werklik leer

Leer ander wat die Bybel werklik leer

Leer ander wat die Bybel werklik leer

“Maak dissipels van mense van al die nasies, . . . en leer hulle.”—MATTEUS 28:19, 20.

1. Wat kan oor die beskikbaarheid van die Bybel gesê word?

 JEHOVAH SE WOORD, die Heilige Bybel, is een van die oudste en wyds verspreide boeke ter wêreld. Ten minste ’n deel daarvan is al in meer as 2 300 tale vertaal. Meer as 90 persent van die mense op die aarde het dit in hulle moedertaal beskikbaar.

2, 3. (a) Waarom bestaan daar verwarring oor Bybelleringe? (b) Watter vrae gaan ons bespreek?

2 Miljoene mense lees elke dag ’n stukkie van die Bybel. Party het dit al baie keer deurgelees. Duisende godsdiensgroepe sê dat hulle hulle leringe op die Bybel grond, maar hulle stem nie saam oor wat dit leer nie. Die groot meningsverskille tussen lede van dieselfde godsdiens dra by tot die verwarring. Party klou vas aan bygelowe oor die Bybel, sy oorsprong en sy waarde. Baie beskou dit as ’n heilige boek wat net goed is vir seremoniële gebruik wanneer mense ede aflê of in die hof sweer om die waarheid te praat.

3 In werklikheid bevat die Bybel God se kragtige woord, of boodskap, vir die mens (Hebreërs 4:12). As Jehovah se Getuies wil ons dus hê dat mense moet uitvind wat die Bybel leer. Dit verskaf ons vreugde om die opdrag uit te voer wat Jesus Christus sy volgelinge gegee het toe hy gesê het: “Gaan . . . en maak dissipels van mense van al die nasies, . . . en leer hulle” (Matteus 28:19, 20). In ons openbare bediening vind ons opregtes van hart wat diep besorg is oor die godsdiensverwarring wat so algemeen is in die wêreld. Hulle wil weet wat die waarheid is omtrent ons Skepper en wil uitvind wat die Bybel oor die betekenis van die lewe sê. Kom ons bespreek drie vrae waaroor baie mense wonder. In elke geval sal ons kyk na wat godsdiensleiers verkeerdelik sê, en dan sal ons hersien wat die Bybel werklik leer. Die vrae is: (1) Is God besorg oor ons? (2) Waarom is ons hier? (3) Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?

Is God besorg oor ons?

4, 5. Waarom dink mense dat God nie besorg is oor ons nie?

4 Kom ons begin met die vraag: Is God besorg oor ons? Ongelukkig dink baie mense dat die antwoord nee is. Waarom voel hulle so? Een rede is dat hulle in ’n wêreld vol haat, oorlog en lyding lewe. ‘As God werklik besorg was oor ons’, redeneer hulle, ‘sou hy tog sekerlik gekeer het dat sulke tragiese dinge gebeur.’

5 Nog ’n rede waarom mense dink dat God nie besorg is oor ons nie, is omdat godsdiensleiers hulle so laat voel het. Wat sê geestelikes dikwels wanneer daar ’n tragedie is? Toe die twee kindertjies van een vrou in ’n motorongeluk gesterf het, het haar predikant gesê: “Dit was God se wil. God het nog twee engeltjies nodig gehad.” Wanneer geestelikes sulke kommentare maak, blameer hulle God in werklikheid vir die slegte dinge wat gebeur. Maar die dissipel Jakobus het geskryf: “Laat niemand, wanneer hy beproef word, sê: ‘Ek word deur God beproef’ nie. Want met bose dinge kan God nie beproef word nie, en ook beproef hy self niemand nie” (Jakobus 1:13). Jehovah God veroorsaak nooit slegte dinge nie. Trouens, “ver is dit van die ware God om goddeloos te handel”.—Job 34:10.

6. Wie sit agter die goddeloosheid en lyding in hierdie wêreld?

6 Waarom is daar dan soveel goddeloosheid en lyding? Een rede is dat die mensdom oor die algemeen God as Heerser verwerp het en hulle nie aan sy regverdige wette en beginsels wil onderwerp nie. Mense het hulle onwetend aan God se Teenstander, Satan, onderwerp, want “die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Kennis van hierdie feit maak dit makliker om te verstaan waarom slegte situasies bestaan. Satan is boos, vol haat, bedrieglik en wreed. Ons moet dus verwag dat die wêreld die persoonlikheid van sy heerser sal weerspieël. Geen wonder dat daar soveel goddeloosheid is nie!

7. Wat is ’n paar redes vir die lyding wat ons ondervind?

7 Menslike onvolmaaktheid is nog ’n rede vir die lyding wat ons ondervind. Sondige mense is geneig om ander te probeer oorheers, en dit lei dikwels tot oorloë, onderdrukking en lyding. Prediker 8:9 sê gepas: “Die mens [het] oor die mens geheers . . . tot sy nadeel.” ’n Verdere rede vir lyding is “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” (Prediker 9:11). Mense word dikwels deur rampspoed getref omdat hulle op die verkeerde tyd op die verkeerde plek is.

8, 9. Hoe weet ons dat Jehovah werklik besorg is oor ons?

8 Dit is vertroostend om uit te vind dat Jehovah nie lyding veroorsaak nie. Maar is God werklik besorg oor wat in ons lewe gebeur? Die hartverblydende antwoord hierop is ja! Ons weet dat Jehovah besorg is oor ons omdat sy geïnspireerde Woord vir ons sê waarom hy mense toegelaat het om ’n slegte weg te volg. God se redes het te doen met twee geskille: sy soewereiniteit en die mens se onkreukbaarheid. Aangesien Jehovah die almagtige Skepper is, is hy nie verplig om vir ons te sê waarom hy lyding toelaat nie. Nogtans vertel hy ons daarvan omdat hy besorg is oor ons.

9 Kyk na verdere bewys dat God besorg is oor ons. Hy “het gekrenk gevoel in sy hart” toe slegtheid die aarde in die dae van Noag gevul het (Genesis 6:5, 6). Voel God vandag anders? Nee, want hy verander nie (Maleagi 3:6). Hy verafsku ongeregtigheid en haat dit om mense te sien ly. Die Bybel leer dat God binnekort al die skade ongedaan sal maak wat deur menseheerskappy en die invloed van die Duiwel veroorsaak is. Is dit nie oortuigende bewys dat God besorg is oor ons nie?

10. Hoe voel Jehovah oor menselyding?

10 Godsdiensleiers skep ’n verwronge beeld van God wanneer hulle sê dat die tragedies wat ons ervaar, sy wil is. Jehovah smag eerder daarna om menselyding tot ’n einde te bring. “Hy sorg vir julle”, sê 1 Petrus 5:7. Dit is wat die Bybel werklik leer!

Waarom is ons hier?

11. Wat sê die wêreld se godsdienste dikwels oor menselewe op die aarde?

11 Kom ons kyk nou na ’n tweede vraag waaroor baie mense wonder: Waarom is ons hier? Die wêreld se godsdienste antwoord dikwels dat die mens net tydelik op die aarde is. Hulle beskou die aarde bloot as ’n tydelike verblyfplek, as ’t ware ’n trapklip, onderweg na lewe iewers anders. Party geestelikes leer verkeerdelik dat God hierdie planeet eendag gaan vernietig. As gevolg van sulke leringe het baie mense tot die slotsom gekom dat dit vir hulle beter sal wees om soveel moontlik uit die lewe te kry terwyl hulle kan, aangesien net die dood op hulle wag. Wat leer die Bybel werklik omtrent waarom ons hier is?

12-14. Wat leer die Bybel omtrent God se voorneme met die aarde en die mensdom?

12 God het ’n wonderlike voorneme met die aarde en die mensdom. Hy het die aarde “nie verniet geskep . . . nie”, maar het “dit gevorm . . . om bewoon te word” (Jesaja 45:18). Daarbenewens het Jehovah “die aarde op sy vaste plekke gegrondves; tot onbepaalde tyd of tot in ewigheid sal niks dit laat wankel nie” (Psalm 104:5). As ons hierdie dinge omtrent God se voorneme met die aarde en die mensdom leer, kan dit ons help om te verstaan waarom ons hier is.

13 Genesis hoofstukke 1 en 2 toon dat Jehovah die aarde met groot sorg voorberei het sodat dit deur mense bewoon kan word. Teen die einde van die skeppingstydperk met betrekking tot die aarde was alles “baie goed” (Genesis 1:31). God het die eerste man en vrou, Adam en Eva, in die pragtige tuin van Eden gesit en hulle van ’n oorvloed goeie kos voorsien. Die eerste mensepaar het die opdrag ontvang: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit.” Hulle moes volmaakte kinders hê, die grense van hulle tuintuiste oor die hele aarde uitbrei en liefdevolle gesag oor die diere uitoefen.—Genesis 1:26-28.

14 Dit is Jehovah se voorneme om ’n volmaakte mensegesin vir ewig op die aarde te laat woon. God se Woord sê: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon” (Psalm 37:29). Ja, die mensdom is bedoel om ewige lewe in die Paradys op aarde te geniet. Dit is God se voorneme, en dit is wat die Bybel werklik leer!

Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?

15. Wat leer die meeste van die wêreld se godsdienste omtrent wat met ons gebeur wanneer ons sterf?

15 Kom ons bespreek nou ’n derde vraag waaroor baie mense wonder: Wat gebeur met ons wanneer ons sterf? Die meeste van die wêreld se godsdienste leer dat iets binne-in ’n mens voortleef nadat die liggaam sterf. Party godsdiensgroepe klou nog vas aan die idee dat God die goddeloses straf deur hulle aan ewige lyding in ’n vurige hel te onderwerp. Maar is dit die waarheid? Wat leer die Bybel werklik omtrent die dood?

16, 17. Wat is volgens die Bybel die toestand van die dooies?

16 God se Woord sê: “Die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf; maar wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks, en ook het hulle geen loon meer nie.” Aangesien die dooies “bewus [is] van hoegenaamd niks”, kan hulle nie hoor, sien, praat, voel of dink nie. Hulle verdien geen loon meer nie. Hoe kan hulle? Hulle kan geen werk doen nie! Wat meer is, “hulle liefde en hulle haat en hulle jaloesie het reeds vergaan”, want hulle kan aan geen emosie uiting gee nie.—Prediker 9:5, 6, 10.

17 Wat die Bybel oor hierdie onderwerp sê, is eenvoudig en duidelik—die dooies lewe nêrens anders voort nie. Daar is niks wat ons liggaam by die dood verlaat en verder lewe sodat dit weer in ’n ander liggaam gebore kan word, soos dié sê wat in reïnkarnasie glo nie. Ons kan dit só toelig: Die lewe wat ons geniet, is soos die vlam van ’n kers. Wanneer die vlam geblus word, gaan dit nêrens heen nie. Dit is net weg.

18. Watter afleidings kan ’n Bybelstudent maak wanneer hy leer dat die dooies bewus is van niks?

18 Dink aan die implikasies van hierdie eenvoudige maar kragtige waarheid. Wanneer ’n Bybelstudent leer dat die dooies bewus is van niks, behoort hy maklik te kan aflei dat sy dooie voorvaders hom nie nou kan pla nie, ongeag hoe haatdraend hulle was toe hulle gelewe het. Hy behoort ook maklik te kan verstaan dat sy geliefdes wat gesterf het, nie meer kan hoor, sien, praat, voel of dink nie. Gevolglik kan hulle nie onbeskryflike eensaamheid in die vaevuur verduur of in ’n plek van vurige foltering gepynig word nie. Die Bybel leer egter dat die dooies wat in God se geheue is, opgewek sal word. Wat ’n wonderlike hoop!—Johannes 5:28, 29.

’n Nuwe boek vir ons om te gebruik

19, 20. Watter verantwoordelikheid het ons as Christene, en watter Bybelstudiehulp is spesiaal saamgestel om in ons bediening gebruik te word?

19 Ons het net drie vrae bespreek waaroor baie mense wonder. In elke geval is wat die Bybel leer, duidelik en maklik verstaanbaar. Hoe bly maak dit ons tog om diegene wat wil weet wat die Bybel leer, van sulke waarhede te vertel! Maar daar is baie ander belangrike vrae waarop opregtes van hart bevredigende antwoorde nodig het. As Christene het ons ’n verantwoordelikheid om hulle te help om die antwoorde op hierdie vrae te vind.

20 Dit is ’n uitdaging om skriftuurlike waarheid aan ander te leer op ’n manier wat duidelik is en hulle hart bereik. Om ons te help om hierdie uitdaging die hoof te bied, het “die getroue en verstandige slaaf” ’n boek voorberei wat spesiaal saamgestel is om in ons Christelike bediening gebruik te word (Matteus 24:45-47). Die titel van hierdie boek met 224 bladsye is Wat leer die Bybel werklik?

21, 22. Wat is ’n paar merkwaardige kenmerke van die boek Wat leer die Bybel werklik?

21 Hierdie boek, wat by die “Godvrugtige gehoorsaamheid”-streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies in 2005/06 vrygestel is, het etlike merkwaardige kenmerke. Daar is byvoorbeeld ’n voorwoord van vyf bladsye wat baie nuttig is om tuisbybelstudies te begin. Jy sal dit waarskynlik maklik vind om die prente en die tekste in die voorwoord te bespreek. Jy kan ook materiaal in hierdie deel gebruik om vir studente te wys hoe om hoofstukke en verse in die Bybel te vind.

22 Die skryfstyl van hierdie boek is eenvoudig en duidelik. ’n Poging is aangewend om die student se hart te bereik deur hom soveel moontlik te betrek. Elke hoofstuk het ’n paar inleidende vrae en ’n venster aan die einde met die titel “Wat die Bybel leer”. Die venster bevat die skriftuurlike antwoorde op die inleidende vrae. Treffende prente en byskrifte sowel as illustrasies in hierdie publikasie sal die student help om nuwe idees te begryp. Hoewel die hoofteks van die boek redelik eenvoudig gehou is, is daar ’n aanhangsel wat jou die geleentheid sal gee om 14 belangrike onderwerpe in meer besonderhede te bespreek as die student verdere inligting nodig het.

23. Watter wenke word gegee in verband met die gebruik van die Leer Bybel-boek gedurende Bybelstudies?

23 Die Leer Bybel-boek is saamgestel om ons te help om mense met verskillende vlakke van geleerdheid en uit verskillende godsdiensagtergronde te leer. As ’n student geen Bybelkennis het nie, sal dit dalk meer as een studiesessie neem om ’n hoofstuk te dek. Moenie deur die materiaal jaag nie, maar probeer die student se hart bereik. As hy ’n sekere illustrasie in die boek nie verstaan nie, verduidelik dit of gebruik ’n ander illustrasie. Berei goed voor, doen jou bes om die boek goed te gebruik en bid vir God se hulp sodat jy ‘die woord van die waarheid reg kan hanteer’.—2 Timoteus 2:15.

Wees dankbaar vir jou kosbare voorregte

24, 25. Watter kosbare voorregte het Jehovah sy volk gegee?

24 Jehovah het sy volk kosbare voorregte gegee. Hy het ons in staat gestel om die waarheid omtrent hom te leer. Ons moet nooit hierdie voorreg as vanselfsprekend aanneem nie! God het immers sy voornemens vir die hoogmoediges verberg en dit aan nederiges geopenbaar. In hierdie verband het Jesus gesê: “Ek loof u in die openbaar, Vader, Here van hemel en aarde, omdat u hierdie dinge vir die wyse en intellektuele mense verberg het en dit aan klein kindertjies geopenbaar het” (Matteus 11:25). Dit is ’n besondere voorreg om getel te word onder die nederiges wat die Universele Soewerein, Jehovah, dien.

25 God het ons ook die voorreg gegee om ander van hom te leer. Onthou dat dié wat leuens omtrent hom leer, ’n verwronge beeld van hom skep. Baie mense het dus ’n heeltemal verkeerde indruk van Jehovah en dink dat hy onbesorg oor ons en gevoelloos is. Is jy bereid, ja, selfs gretig, om te help om hierdie wanbegrip reg te stel? Wil jy hê dat opregtes van hart, waar hulle ook al woon, moet weet wat die waarheid omtrent God is? Lewer dan bewys van jou godvrugtige gehoorsaamheid deur ywerig aan die predikingswerk deel te neem en deur ander te leer wat die Skrif oor belangrike onderwerpe sê. Waarheidsoekers moet uitvind wat die Bybel werklik leer.

Wat is jou antwoorde?

• Hoe weet ons dat God besorg is oor ons?

• Waarom is ons hier op die aarde?

• Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?

• Veral watter kenmerke van die Leer Bybel-boek waardeer jy?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 22]

Die Bybel leer dat lyding tot ’n einde sal kom

[Erkennings]

Regs bo, meisie: © Bruno Morandi/age fotostock; links, vrou: AP Photo/Gemunu Amarasinghe; regs onder, vlugtelinge: © Sven Torfinn/Panos Pictures

[Prent op bladsy 23]

Die regverdiges sal vir ewig in die Paradys lewe