Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Samuel bevorder ware aanbidding

Samuel bevorder ware aanbidding

Samuel bevorder ware aanbidding

’N PROFEET wys medegelowiges tereg toe hulle vir ’n mensekoning vra, en hy spoor hulle aan om God te gehoorsaam. Om sy gesag te bevestig, vra hy Jehovah vir ’n teken in die vorm van ’n storm. Reënstorms is hierdie tyd van die jaar, die tyd van die koringoes, ’n feitlik ongekende verskynsel in Israel. Nogtans stuur God donderslae en reën. Gevolglik het die volk groot vrees vir Jehovah en sy verteenwoordiger Samuel.—1 Samuel 12:11-19.

Die profeet Samuel was ook ’n skrywer. Sy aksiebelaaide geskiedkundige verslae dek ongeveer 330 jaar en sluit die heldedade van Israel se rigters in. Byvoorbeeld, die ware lewensverhaal van Simson, die sterkste man wat ooit gelewe het, het al gedigte en operas sowel as ander verhoogopvoerings en rolprente geïnspireer (Rigters, hoofstukke 13–16). Samuel het ook geskryf oor Rut en haar skoonmoeder Naomi wat albei behoeftige weduwees was. Hierdie ware verhaal met ’n gelukkige einde is net so boeiend.—Rut, hoofstukke 1–4.

Watter lesse kan ons leer uit Samuel se geskrifte en lewe? Hoe het hy ware aanbidding bevorder?

Sy vroeë jare

Samuel se vader, Elkana, was ’n aanbidder van Jehovah en ’n liefdevolle eggenoot. Elkana se vrou Hanna was geestelik sterk. By die huis van Jehovah in Silo het Hanna, wat onvrugbaar was, vurig gebid en plegtig belowe: “O Jehovah van die leërs, as u vir seker die ellende van u slavin sal aansien en aan my sal dink, en u u slavin nie sal vergeet nie en aan u slavin ’n manlike nakomeling sal gee, sal ek hom aan Jehovah gee al die dae van sy lewe, en geen skeermes sal op sy kop kom nie” (1 Samuel 1:1-11). Dit het beteken dat die kind afgesonder sou word vir Jehovah se diens.

Hanna het ’n stille gebed gedoen. “Net haar lippe het gebewe”, sê die verslag. Die hoëpriester Eli het verkeerdelik aangeneem dat sy dronk was en het haar berispe. Maar Hanna het haar situasie respekvol verduidelik, en Eli het gesê: “Gaan in vrede, en mag die God van Israel jou versoek toestaan wat jy van hom gevra het.” Jehovah het haar versoek toegestaan, want die verslag sê voorts: “Hanna het na verloop van ’n jaar swanger geword en aan ’n seun geboorte gegee en hom Samuel genoem, want, het sy gesê, ‘van Jehovah het ek hom gevra’.”—1 Samuel 1:12-20.

Samuel is opgevoed in “die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” (Efesiërs 6:4). Nadat Samuel gespeen is, het Hanna hom na die huis van God in Silo, na die hoëpriester Eli gebring. Onder sy sorg het die seun ‘Jehovah begin dien’. Hanna se groot vreugde is uitgedruk in haar hartroerende woorde van danksegging wat later deur Samuel self opgeteken is.—1 Samuel 2:1-11.

As jy ’n ouer is, moedig jy jou kinders aan om ’n loopbaan in Jehovah se diens na te streef? Die heel beste manier waarop iemand sy energie kan gebruik, is om ware aanbidding te bevorder.

Samuel het goed aangepas by die lewe by die heiligdom. Hy “het grootgeword by Jehovah” en het “meer geliefd geword vanuit Jehovah se standpunt sowel as vanuit dié van mense”. Hy het goddelike eienskappe geopenbaar wat hom by ander geliefd gemaak het.—1 Samuel 2:21, 26.

Dieselfde kan nie van Eli se seuns, Hofni en Pinehas, gesê word nie, want hulle was deugniete wat “Jehovah nie erken [het] nie”. Hulle het onsedelikheid beoefen en die beste dele van die offerandes wat mense na die heiligdom gebring het, vir hulleself geneem. God het alreeds ’n profeet gestuur om die straf bekend te maak wat Eli kon verwag, wat die dood van sy twee seuns ingesluit het (1 Samuel 2:12, 15-17, 22-25, 27, 30-34). Jehovah sou Samuel gebruik om ’n ander oordeelsboodskap oor te dra.

Samuel dien as ’n profeet

God het vir Samuel gesê: “Jy moet vir [Eli] sê dat ek sy huis oordeel tot onbepaalde tyd oor die oortreding waarvan hy geweet het, want sy seuns spreek ’n vloek oor God uit, en hy het hulle nie bestraf nie.” Dit was nie ’n maklike boodskap om oor te dra nie, en Eli het daarop aangedring dat Samuel nie ’n woord daarvan vir hom wegsteek nie. Samuel het hom dus alles vertel wat Jehovah gesê het. Dit het moed geverg!—1 Samuel 3:10-18.

Namate Samuel tot volwassenheid gegroei het, het die hele Israel besef dat hy God se profeet is (1 Samuel 3:19, 20). Die oordeel wat Samuel voorspel het, het begin toe Israel ’n verpletterende nederlaag deur die Filistyne toegedien is. Hofni en Pinehas het in die stryd omgekom, en die Filistyne het Jehovah se verbondsark buitgemaak. Toe Eli hoor dat sy seuns dood is en die Ark buitgemaak is, het hy van sy stoel af agteroor geval, sy nek gebreek en gesterf.—1 Samuel 4:1-18.

Twintig jaar later het Samuel die Israeliete aangespoor om valse aanbidding te verlaat. Hulle het gereageer deur van hulle afgode ontslae te raak, te vas en hulle sondes te bely. Samuel het gebid en ’n brandoffer ten behoewe van hulle gebring. Wat was die resultaat? Toe die Filistyne hulle aanval, het God die Filistyne in verwarring gebring, en tydens Israel se teenaanval is die vyand verslaan. Met Jehovah se seën het die toestand van die Israeliete baie verbeter, en hulle het die gebied herwin wat die Filistyne by hulle afgeneem het.—1 Samuel 7:3-14.

Samuel het beslis ware aanbidding bevorder. Hy het byvoorbeeld toegesien dat van die oorlogsbuit gebruik word om die tabernakel te onderhou. Hy het gehelp om Pasgavieringe sowel as die diens van die Levitiese poortwagters te organiseer (1 Kronieke 9:22; 26:27, 28; 2 Kronieke 35:18). Samuel het jaarliks van sy huis in Rama na verskeie stede gereis om daar as rigter te dien. Hy het ’n goeie naam opgebou as iemand wat eerlik en onpartydig is. Omdat mense Samuel gerespekteer het, kon hy hulle geestelik help (1 Samuel 7:15-17; 9:6-14; 12:2-5). Sy eerlikheid en geestelikheid het baie ongetwyfeld beweeg om sy voorbeeld na te volg. Het Samuel se lewenswandel daardie uitwerking op jou?

Israel wil ’n koning hê

Op sy oudag het Samuel sy seuns, Joël en Abia, as rigters aangestel. Hulle “het nie in sy weë gewandel nie, maar hulle was geneig om onregverdige wins na te jaag en het ’n omkoopgeskenk aanvaar en die reg verdraai”. Hulle gedrag het daartoe gelei dat Israel se ouer manne ’n koning wou hê (1 Samuel 8:1-5). Dit was iets slegs in Samuel se oë. Maar toe hy daaroor gebid het, het Jehovah gesê: “Nie jou het hulle verwerp nie, maar my het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie” (1 Samuel 8:6, 7). God het vir Samuel gesê om die volk se versoek toe te staan en hulle te waarsku dat hulle sekere vryhede sou verloor as ’n koning oor hulle heers. Toe die volk daarop aandring, het Jehovah gereël dat Samuel Saul as koning salf.—1 Samuel 8:6-22; 9:15-17; 10:1.

Samuel het hierdie reëling ondersteun ten spyte van sy bedenkinge. Nadat die Israeliete ’n oorwinning oor die Ammoniete behaal het, het hy die volk by Gilgal bymekaar laat kom om Saul se koningskap te bevestig (1 Samuel 10:17-24; 11:11-15). Samuel het ’n oorsig gegee van Israel se geskiedenis en die koning en die volk vermaan om Jehovah te gehoorsaam. God het Samuel se gebed verhoor en die buiteseisoense donderstorm gebring wat aan die begin genoem is. Daardie storm het die volk laat erken dat hulle ’n fout begaan het deur Jehovah te verwerp. Toe hulle Samuel vra om vir hulle te bid, het hy geantwoord: “Dit is vir my ondenkbaar om teen Jehovah te sondig deur op te hou om vir julle te bid; en ek sal julle in die goeie en regte weg onderrig.” Wat ’n goeie voorbeeld tog van lojale liefde vir Jehovah en sy volk! (1 Samuel 12:6-24). Is jy net so gewillig om teokratiese reëlings te ondersteun en ten behoewe van medegelowiges te bid?

Israel se eerste twee mensekonings

Saul was ’n beskeie man wat God se goedkeuring geniet het (1 Samuel 9:21; 11:6). Maar ná verloop van tyd het hy God se leiding verontagsaam. Samuel het hom byvoorbeeld tereggewys omdat hy ongeduldig was en ’n offerande gebring het pleks van te wag, soos hy beveel is (1 Samuel 13:10-14). Toe Saul ongehoorsaam was en die lewe van die Amalekitiese koning Agag gespaar het, het Samuel vir hom gesê: “Jehovah het vandag die koninklike heerskappy oor Israel van jou afgeskeur, en hy sal dit beslis aan jou medemens gee wat beter is as jy.” Samuel het Agag self doodgemaak en het oor Saul begin treur.—1 Samuel 15:1-35.

Jehovah het uiteindelik vir Samuel gesê: “Hoe lank sal jy oor Saul treur, terwyl ek hom daarenteen verwerp het om as koning oor Israel te heers?” Toe het Jehovah vir Samuel na Betlehem gestuur om ’n seun van Isai as koning te salf. Samuel het Isai se seuns een vir een deurgekyk totdat Jehovah Sy goedkeuring gegee het dat Dawid, die jongste, gesalf word. Daardie dag het Samuel ’n belangrike les geleer: “God sien nie soos die mens sien nie, want die mens sien wat vir die oë sigbaar is; maar Jehovah sien wat die hart is.”—1 Samuel 16:1-13.

Aangesien Saul se ongehoorsaamheid Samuel bedroef het, hoe hartseer moes dit hom tog gemaak het toe Saul moorddadige haat teenoor Dawid gekoester het! Ondanks hierdie beproewinge het Samuel op sy oudag bedrywig gebly en gedoen wat hy kon in Jehovah se diens.—1 Samuel 19:18-20.

Wat Samuel nagelaat het

Toe Samuel gesterf het, het Israel getreur oor hierdie nederige en moedige profeet wat die lewens van baie mense geraak het (1 Samuel 25:1). Samuel was onvolmaak en het soms oordeelsfoute begaan. Maar ten spyte van sy foute het Samuel uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah gegee en onvermoeid gewerk om ander te help om dit ook te doen.

Baie het verander sedert Samuel se dag, maar die verslag van sy lewe bevat waardevolle lesse vir ons. Bowenal het Samuel die ware aanbidding van Jehovah beoefen en bevorder. Is dit wat jy doen?

[Venster op bladsy 16]

DINK NA OOR SAMUEL SE LEWE

• Soos Samuel se ouers hom God se woord geleer het, moet jy jou kinders in “die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” opvoed.—Efesiërs 6:4.

• Moedig jou kinders aan om soos Samuel te wees deur diens aan Jehovah hulle loopbaan te maak.

• Die godvrugtige eienskappe wat Samuel geopenbaar het, het hom geliefd gemaak by ander, en hy het sodoende vir ons ’n goeie voorbeeld gestel.

• Samuel het alles in sy vermoë gedoen om ware aanbidding te bevorder, en ons moet ook.

[Prent op bladsy 15]

Samuel het ware aanbidding bevorder en gewillig geestelike hulp verleen