’n Honderdjarige met ’n doel in die lewe
’n Honderdjarige met ’n doel in die lewe
ELIN is een van 60 mense in Swede wat onlangs op ’n lys geplaas is van persone wat 105 jaar of ouer is. Sy is 105. Hoewel sy aan ’n ouetehuis gekluister is, laat haar gesondheid haar toe om steeds as ’n bedrywige Getuie van Jehovah te dien, die lewensweg wat sy meer as 60 jaar gelede gekies het.
Deur vir ander te getuig, volg Elin die voorbeeld wat deur die apostel Paulus gestel is toe hy onder huisarres geplaas is en dus aan ’n huis gekluister was. Paulus het vir al sy besoekers getuig (Handelinge 28:16, 30, 31). Elin gryp eweneens elke geleentheid aan om te praat met skoonmakers, tandartse, dokters, haarkappers, verpleegsters en ander wat sy in die ouetehuis teëkom, en sy vertel hulle van die goeie nuus wat in die Bybel gevind kan word. Van tyd tot tyd nooi medegelowiges in Elin se gemeente hulle Bybelstudente saam wanneer hulle haar besoek sodat hulle kan baat vind by haar kennis en ondervinding.
Die lede van Elin se gemeente waardeer haar vreugdevolle gees en belangstelling in ander. ’n Mede-Getuie sê: “Sy het ’n verbasende vermoë om op hoogte te bly met die gemeente se bedrywighede. Sy onthou die name van al die kinders en van diegene wat onlangs by die gemeente aangesluit het.” Elin is ook bekend vir haar gasvryheid, humorsin en positiewe uitkyk op die lewe.
Wat help Elin om haar vreugde te behou en haar aandag gevestig te hou op haar doel in die lewe? Sy lees elke dag ’n Bybelteks in die boekie Ondersoek die Skrif elke dag, uitgegee deur Jehovah se Getuies. Sy lees ook elke dag ’n gedeelte in die Bybel, met behulp van ’n vergrootglas. Elin berei voor vir die weeklikse vergaderinge van Jehovah se Getuies, en hoewel sy nie fisies daartoe in staat is om dit by te woon nie, luister sy na opnames van hierdie vergaderinge. As ons die Bybel en Bybelpublikasies gereeld lees en nie van Christelike vergaderinge af wegbly nie, kan dit ons help om ’n bevredigende en sinvolle lewe te lei, ongeag hoe oud ons is.—Psalm 1:2; Hebreërs 10:24, 25.