Die waarheid—Iets wat net van ander verwag word?
Die waarheid—Iets wat net van ander verwag word?
“EK HAAT leuens, en ek haat dit as iemand vir my leuens vertel!” het ’n 16-jarige meisie uitgeroep. Die meeste van ons voel so. Ons wil graag glo dat inligting wat aan ons verstrek word—hetsy mondelings of skriftelik—waar is. Praat ons egter die waarheid wanneer ons inligting aan ander oordra?
In ’n opname wat in Duitsland gedoen is, het die oorgrote meerderheid van die respondente gevoel dat “dit toelaatbaar is om wit leuens te vertel om te verhoed dat jy of ander skade berokken word, ja, dat dit selfs nodig is sodat mense met mekaar oor die weg kan kom”. En een joernalis het geskryf: “Om te alle tye die waarheid en net die waarheid te praat, is ’n edele ideaal, maar so oninteressant.”
Kan dit wees dat ons verkies dat ander mense die waarheid praat, maar dat ons voel dat ons soms goeie rede het om self nie die waarheid te praat nie? Maak dit saak of ons die waarheid praat of nie? Wat is die gevolge wanneer ’n mens nie die waarheid praat nie?
Die skade wat leuens aanrig
Dink aan die skade wat leuens kan aanrig. Leuens wek wantroue tussen huweliksmaats en tussen gesinslede. Ongegronde skinderpraatjies kan ’n persoon se reputasie skend. Bedrog deur werknemers verhoog bedryfskoste en lei tot duurder produkte. Valse gegewens op belastingopgawes beroof regerings van die nodige inkomste om openbare dienste te lewer. Versinsels deur navorsers verwoes belowende loopbane en skend die reputasie van hoogaangeskrewe instellings. Oneerlike kitsrykwordskemas beroof goedgelowige beleggers van al hulle spaargeld, of het selfs erger gevolge. Geen wonder die Bybel sê vir ons dat “’n valse tong” en “’n valse getuie wat leuens uitstrooi”, van die dinge is wat vir Jehovah God verfoeilik is nie!—Spreuke 6:16-19.
Wanneer leuens so algemeen vertel word, kan dit skade aanrig, in die geval van individue sowel as die gemeenskap as ’n geheel. Min sal dit ontken. Waarom vertel mense dan opsetlik leuens? En is elke onwaarheid ’n leuen? Ons sal in die volgende artikel na die antwoorde op hierdie en ander vrae kyk.
[Prent op bladsy 3]
Leuens wek wantroue tussen huweliksmaats