Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kinders—Wat kan jy by hulle leer?

Kinders—Wat kan jy by hulle leer?

Kinders—Wat kan jy by hulle leer?

“JY GEDRA jou soos ’n kind!” As daardie woorde tot ons gerig word, sal ons waarskynlik beledig voel. Hoe oulik kindertjies ook al is, hulle het beslis nie die volwassenheid, ondervinding en wysheid wat gewoonlik met ouer mense geassosieer word nie.—Job 12:12.

Jesus het nietemin by een geleentheid vir sy dissipels gesê: “Voorwaar, ek sê vir julle: Tensy julle omdraai en soos jong kinders word, sal julle hoegenaamd nie in die koninkryk van die hemele ingaan nie” (Matteus 18:3). Wat het Jesus bedoel? Watter eienskappe het jong kinders wat volwassenes gerus kan navolg?

Kweek kinderlike nederigheid aan

Kom ons kyk na die situasie wat tot Jesus se woorde aanleiding gegee het. Toe Jesus en sy dissipels ná ’n lang reis in Kapernaum aangekom het, het hy hulle gevra: “Waaroor het julle op die pad geargumenteer?” Die verleë dissipels het stilgebly omdat hulle onder mekaar geargumenteer het oor wie van hulle die grootste is. Uiteindelik het hulle die moed bymekaargeskraap om Jesus te vra: “Wie is werklik die grootste in die koninkryk van die hemele?”—Markus 9:33, 34; Matteus 18:1.

Dit is dalk verbasend dat die dissipels, nadat hulle byna drie jaar saam met Jesus was, oor posisie of stand sou argumenteer. Hulle het egter grootgeword in die Joodse godsdiens, wat groot klem hierop geplaas het. Hierdie godsdiensagtergrond, tesame met menslike onvolmaaktheid, het klaarblyklik die dissipels se denke beïnvloed.

Jesus het gaan sit, die dissipels nader geroep en gesê: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die laaste van almal en almal se dienaar wees” (Markus 9:35). Hierdie woorde het hulle waarskynlik verstom. Jesus se redenering was reëlreg in stryd met die Joodse beskouing van grootheid! Toe het Jesus ’n kindjie na hom toe geroep. Hy het sy arms liefdevol om die kind geslaan en sy punt duidelik gestel: “Voorwaar, ek sê vir julle: Tensy julle omdraai en soos jong kinders word, sal julle hoegenaamd nie in die koninkryk van die hemele ingaan nie. Elkeen dan wat hom soos hierdie jong kind sal verneder, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele.”—Matteus 18:3, 4.

Wat ’n treffende les in nederigheid! Stel jou die toneel voor. ’n Groep groot, ernstige, volwasse mans wat om ’n enkele kindjie staan, met hulle oë stip op die kind gerig. Hoe skugter en vol kinderlike vertroue was hy tog! Hoe vry van wedywering en kwaadwilligheid! Hoe onderdanig en beskeie! Ja, die kindjie was ’n uitstekende voorbeeld van die goddelike eienskap nederigheid.

Jesus se punt is duidelik. Ons almal moet kinderlike nederigheid aankweek as ons God se Koninkryk wil beërf. In Jehovah se gesinsreëling is daar geen plek vir mededingende tweedrag of trots nie (Galasiërs 5:26). Trouens, dit is juis hierdie eienskappe wat Satan die Duiwel in die eerste plek teen God in opstand laat kom het. Geen wonder Jehovah haat dit nie!—Spreuke 8:13.

Ware Christene streef daarna om te dien, nie om mag uit te oefen nie. Ongeag hoe onaangenaam die taak of hoe gering die een vir wie dit verrig word, ware nederigheid beweeg ons om ander te dien. Sulke nederige diens bring ryk seëninge mee. Jesus sê: “Elkeen wat een van hierdie jong kinders op grond van my naam ontvang, ontvang my; en elkeen wat my ontvang, ontvang nie net vir my nie, maar ook vir hom wat my uitgestuur het” (Markus 9:37). As ons ’n vrygewige, nederige en kinderlike gesindheid aankweek, verenig dit ons met die hoogste Persoon in die heelal en met sy Seun (Johannes 17:20, 21; 1 Petrus 5:5). Ons sal die geluk smaak wat dit verskaf om te gee (Handelinge 20:35). En ons geniet die bevrediging dat ons bydra tot die vrede en eenheid wat onder God se volk gesien word.—Efesiërs 4:1-3.

Bereid om te leer en te vertrou

Jesus beklemtoon vervolgens nog ’n les wat volwassenes by kinders kan leer: “Elkeen wat die koninkryk van God nie soos ’n jong kind ontvang nie, sal hoegenaamd nie daarin ingaan nie” (Markus 10:15). Kinders is nie net nederig nie; hulle is bereid om te leer. “Hulle absorbeer inligting soos sponse”, sê een ma.

As ons dus God se Koninkryk wil beërf, moet ons die Koninkryksboodskap aanneem en gehoorsaam (1 Tessalonisense 2:13). Soos pasgebore babas moet ons “’n verlange [ontwikkel] na die onvervalste melk wat tot die woord behoort, sodat [ons] daardeur tot redding kan groei” (1 Petrus 2:2). Maar gestel jy vind dit moeilik om ’n Bybellering te verstaan. “Kinders vra voortdurend ‘Hoekom?’ totdat hulle bevredigende antwoorde op hulle vrae kry”, sê ’n kindersorgwerker. Ons kan gerus hulle voorbeeld volg. Hou dus aan om te studeer. Praat met ervare Christene. Vra Jehovah om wysheid (Jakobus 1:5). Jou volharding in gebed sal beslis mettertyd beloon word.—Matteus 7:7-11.

Maar party wonder dalk: ‘Word mense wat bereid is om te leer, nie maklik mislei nie?’ Nie as hulle betroubare leiding het nie. Kinders wend hulle byvoorbeeld instinktief tot hulle ouers vir leiding. “Ouers bewys dat hulle vertrou kan word deur hulle kinders daagliks te beskerm en te versorg”, sê een pa. Ons het tog sekerlik soortgelyke redes om ons hemelse Vader, Jehovah, te vertrou (Jakobus 1:17; 1 Johannes 4:9, 10). Jehovah gee ons onfeilbare leiding deur sy geskrewe Woord. Sy heilige gees en organisasie vertroos en onderskraag ons (Matteus 24:45-47; Johannes 14:26). As ons van hierdie voorsienings gebruik maak, sal dit ons teen geestelike skade beskerm.—Psalm 91:1-16.

As ons kinderlike vertroue in God aankweek, gee dit ons ook gemoedsrus. Een Bybelkenner sê: “Wanneer ons kinders is, pak ons ’n reis aan sonder die middele om die reisgeld te betaal en sonder enige idee hoe ons ons bestemming gaan bereik, en tog twyfel ons nie vir ’n oomblik dat ons ouers ons veilig daar sal kry nie.” Het ons op ons lewensreis soortgelyke vertroue in Jehovah?—Jesaja 41:10.

Volkome vertroue in God help ons om gesindhede en dade te vermy wat ons geestelikheid in gevaar kan stel. Ons stel eerder volle vertroue in Jesus se woorde dat ons hemelse Vader ons dade ken en dat God vir ons sal sorg solank ons eers die Koninkryk en God se regverdigheid soek. Dit sal ons help om die versoeking te weerstaan om ons toe te spits op materiële strewes ten koste van geestelike verantwoordelikhede.—Matteus 6:19-34.

“Klein kindertjies ten opsigte van slegtheid”

Hoewel kindertjies onvolmaak gebore word, is hulle verkwikkend rein van hart en verstand. Om hierdie rede spoor die Bybel Christene aan: “Wees klein kindertjies ten opsigte van slegtheid.”—1 Korintiërs 14:20.

Beskou byvoorbeeld die vyfjarige Monique, wat opgewonde vir haar ma vertel het: “My nuwe maatjie, Sarah, het net sulke krulhare soos ek!” Dat Sarah ’n ander velkleur en etniese agtergrond het, is nie gemeld nie. Een ouer sê: “Kindertjies is kleurblind. Hulle het geen idee van ras of vooroordeel nie.” Hoe pragtig weerspieël kinders in hierdie opsig die siening van ons onpartydige God, wat mense van alle nasies liefhet.—Handelinge 10:34, 35.

Kinders besit ook ’n merkwaardige vermoë om te vergewe. Een ouer sê: “Wanneer klein Jack en Levi baklei, sê ons vir hulle dat hulle om verskoning moet vra, en dis nie lank nie of hulle speel weer gelukkig saam. Hulle tob nie daaroor nie, grawe nie ou koeie uit die sloot nie en stel nie voorwaardes voordat hulle vergewe nie. Hulle speel net verder.” Wat ’n goeie voorbeeld vir volwassenes om na te volg!—Kolossense 3:13.

Daarbenewens erken kindertjies geredelik dat God bestaan (Hebreërs 11:6). Hulle natuurlike openhartigheid beweeg hulle dikwels om onbeskroomd vir ander te getuig (2 Konings 5:2, 3). Hulle eenvoudige, hartgrondige gebede kan die hardste hart raak. En wanneer hulle in versoeking kom, kan hulle merkwaardige sedelike krag openbaar. Watter kosbare gawes is kindertjies tog!—Psalm 127:3, 4.

Oorspronklike prag herstel

Jy wonder dalk: ‘Is dit vir volwassenes moontlik om die pragtige eienskappe wat met jong kinders geassosieer word, terug te kry?’ Die eenvoudige en gerusstellende antwoord is ja! Jesus se bevel om “soos jong kinders [te] word”, toon dat dit moontlik is.—Matteus 18:3.

Ter toeligting: ’n Span kunsrestoureerders probeer ’n kosbare meesterstuk herstel. In die proses verwyder hulle lae vuilheid en herstel hulle die skade wat deur swak restourasiepogings aangerig is. Ná vele geduldige pogings deur die restoureerders word die oorspronklike kunswerk se ryk kleure en natuurlike prag onthul sodat almal dit kan sien. Net so kan ons met volgehoue inspanning, die hulp van Jehovah se heilige gees en die liefdevolle ondersteuning van die Christengemeente die pragtige eienskappe terugkry wat van nature gefloreer het toe ons kinders was.—Efesiërs 5:1.

[Prent op bladsy 9]

Kinders is van nature nederig

[Prent op bladsy 10]

Jong kinders is nie bevooroordeeld nie, en hulle vergewe en vergeet gou