Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moet nooit ophou groei in jou waardering nie

Moet nooit ophou groei in jou waardering nie

Moet nooit ophou groei in jou waardering nie

“Hoe kosbaar is u gedagtes . . . ! O God, hoeveel beloop die grootse som daarvan tog nie!”—PSALM 139:17.

1, 2. Waarom moet ons God se Woord waardeer, en hoe het die psalmis sy waardering uitgespreek?

 DIT was ’n sensasionele ontdekking. Terwyl herstelwerk aan Jehovah se tempel in Jerusalem gedoen is, het die hoëpriester Hilkia “die boek van Jehovah se wet deur die hand van Moses” gevind, ongetwyfeld die oorspronklike kopie wat sowat 800 jaar vroeër voltooi is! Kan jy jou voorstel hoe godvresende koning Josia moes gevoel het toe daardie boek voor hom geplaas is? Hy het inderdaad groot waarde daaraan geheg en het Safan, die sekretaris, dit onmiddellik laat voorlees.—2 Kronieke 34:14-18.

2 Vandag kan God se Woord in sy geheel of gedeeltelik deur duisendmiljoene gelees word. Maar maak dit die Skrif minder kosbaar, minder belangrik? Natuurlik nie! Dit bevat immers die gedagtes van die Almagtige, wat om ons onthalwe opgeteken is (2 Timoteus 3:16). Die psalmis Dawid het aangaande sy gevoelens oor God se Woord geskryf: “Hoe kosbaar is u gedagtes . . . vir my! O God, hoeveel beloop die grootse som daarvan tog nie!”—Psalm 139:17.

3. Wat toon dat Dawid ’n man met geestelike diepte was?

3 Dawid se waardering vir Jehovah, sy Woord en sy reëling vir ware aanbidding het nooit afgeneem nie. Die talle pragtige psalms wat Dawid geskryf het, het getoon hoe hy gevoel het. In Psalm 27:4 het hy byvoorbeeld geskryf: “Een ding het ek van Jehovah gevra—dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe in die huis van Jehovah mag woon, om die lieflikheid van Jehovah te sien en sy tempel met waardering te aanskou.” In die oorspronklike Hebreeus beteken die uitdrukking “met waardering te aanskou” om in oordenking stil te staan, om noukeurig te ondersoek, om met genot, behae, bewondering te aanskou. Dawid was klaarblyklik ’n man met geestelike diepte wat werklik Jehovah se geestelike voorsienings waardeer het en behae geskep het in elke krieseltjie geestelike waarheid wat deur God geopenbaar is. Sy voorbeeld van waardering is navolgenswaardig.—Psalm 19:7-11.

Waardeer die voorreg om Bybelwaarheid te ken

4. Wat het Jesus laat “oorloop van vreugde in die heilige gees”?

4 Om insig in God se Woord te verkry, hang nie af van intelligensie of wêreldse geleerdheid, wat geneig is om trots aan te wakker nie. Dit hang eerder af van Jehovah se onverdiende goedhartigheid, wat hy bewys aan nederige mense wat opreg van hart en bewus van hulle geestelike behoefte is (Matteus 5:3; 1 Johannes 5:20). Toe Jesus nagedink het oor die feit dat die name van party onvolmaakte mense in die hemel opgeskryf word, “het hy begin oorloop van vreugde in die heilige gees en gesê: ‘Ek loof u in die openbaar, Vader, Here van hemel en aarde, omdat u hierdie dinge sorgvuldig vir die wyse en intellektuele mense verberg het en dit aan klein kindertjies geopenbaar het.’”—Lukas 10:17-21.

5. Waarom moes Jesus se dissipels nie die Koninkrykswaarhede wat aan hulle geopenbaar is, as vanselfsprekend aanneem nie?

5 Nadat Jesus hierdie opregte gebed gedoen het, het hy na sy dissipels gedraai en gesê: “Gelukkig is die oë wat die dinge sien wat julle sien. Want ek sê vir julle: Baie profete en konings het begeer om die dinge te sien wat julle sien, maar het dit nie gesien nie, en om die dinge te hoor wat julle hoor, maar het dit nie gehoor nie.” Ja, Jesus het sy getroue volgelinge aangespoor om nie die kosbare Koninkrykswaarhede wat aan hulle geopenbaar word, as vanselfsprekend aan te neem nie. Hierdie waarhede is nie aan vroeëre geslagte van God se knegte geopenbaar nie, en dit is sekerlik nie aan die “wyse en intellektuele mense” van Jesus se dag geopenbaar nie!—Lukas 10:23, 24.

6, 7. (a) Watter redes het ons om goddelike waarheid te waardeer? (b) Watter kontras kan vandag tussen ware en valse godsdiens gesien word?

6 In ons dag het ons selfs meer redes om goddelike waarheid te waardeer, want Jehovah het sy volk deur “die getroue en verstandige slaaf” selfs dieper insig in sy Woord gegee (Matteus 24:45; Daniël 12:10). Aangaande die tyd van die einde het die profeet Daniël geskryf: “Baie sal rondswerf, en die ware kennis sal oorvloedig word” (Daniël 12:4). Stem jy nie saam dat die kennis van God vandag ‘oorvloedig geword’ het en dat Jehovah se knegte in geestelike sin goed gevoed is nie?

7 Wat ’n kontras sien ons tog tussen die geestelike voorspoed van God se volk en die godsdiensverwarring van Babilon die Grote! Gevolglik wend baie wat ontnugter is deur valse godsdiens of ontevrede is daarmee, hulle tot ware aanbidding. Hulle is skaapgeaardes wat “nie met [Babilon die Grote] in haar sondes wil deel” of “deel van haar plae wil ontvang nie”. Jehovah en sy knegte nooi al hierdie mense uit om in die ware Christengemeente in te kom.—Openbaring 18:2-4; 22:17.

Waarderende persone stroom na God toe

8, 9. Hoe word die woorde van Haggai 2:7 vandag vervul?

8 Jehovah het aangaande sy geestelike huis van aanbidding voorspel: “Ek sal al die nasies skud, en die begeerlike dinge van al die nasies moet inkom; en ek sal hierdie huis met heerlikheid vul” (Haggai 2:7). Hierdie verbasende profesie is in Haggai se tyd vervul toe ’n herstelde oorblyfsel van God se volk die tempel in Jerusalem herbou het. Vandag word Haggai se woorde verder vervul met betrekking tot Jehovah se groot geestelike tempel.

9 Miljoene het reeds na die figuurlike tempel gestroom om God “met gees en waarheid” te aanbid, en elke jaar stroom nog honderdduisende “begeerlike dinge van al die nasies” in (Johannes 4:23, 24). Die wêreldrapport vir die 2006-diensjaar toon byvoorbeeld dat 248 327 gedoop is as ’n simbool van hulle toewyding aan Jehovah. Dit is gemiddeld 680 nuwelinge elke dag! Hulle liefde vir die waarheid en hulle begeerte om Jehovah as Koninkryksverkondigers te dien, lewer bewys dat hulle waarlik deur God getrek is.—Johannes 6:44, 65.

10, 11. Vertel ’n ondervinding wat toon hoe mense geleer het om Bybelwaarheid te waardeer.

10 Baie van hierdie opregtes van hart is na die waarheid aangetrek omdat hulle “die onderskeid [gesien het] tussen ’n regverdige en ’n goddelose, tussen iemand wat God dien en iemand wat hom nie gedien het nie” (Maleagi 3:18). Beskou byvoorbeeld die ondervinding van Wayne en Virginia, ’n egpaar wat aan ’n Protestantse kerk behoort het maar baie onbeantwoorde vrae gehad het. Hulle het oorlog gehaat en was verward asook ontsteld toe hulle sien dat die geestelikes soldate en wapens seën. Namate die egpaar ouer geword het, het hulle gevoel dat ander in die kerk hulle ignoreer, al het Virginia etlike jare lank Sondagskool gehou. “Niemand het ons besoek of in ons geestelike welsyn belangstelling getoon nie”, het hulle gesê. “Al wat die kerk wou hê, was ons geld. Ons het verlore gevoel.” Hulle is selfs meer ontnugter toe hulle kerk ’n permissiewe standpunt oor homoseksualiteit ingeneem het.

11 Intussen het Wayne en Virginia se kleindogter en later hulle dogter Jehovah se Getuies geword. Hoewel dit Wayne en Virginia aanvanklik ontstel het, het hulle later van gedagte verander en ’n Bybelstudie aanvaar. “In net drie maande”, het Wayne gesê, “het ons meer omtrent die Bybel geleer as wat ons in die vorige 70 jaar geleer het! Ons het nooit geweet dat God se naam Jehovah is nie, en ons het niks van die Koninkryk en die Paradysaarde geweet nie.” Kort voor lank het hierdie opregte egpaar begin om Christelike vergaderinge by te woon en aan die bediening deel te neem. “Ons wil almal van die waarheid vertel”, het Virginia gesê. Hulle is albei in hulle tagtigerjare en is in 2005 gedoop. “Ons het ’n ware Christelike tuiste gevind”, het hulle gesê.

Waardeer dat jy ‘toegerus is vir elke goeie werk’

12. Wat voorsien Jehovah altyd aan sy knegte, en wat moet ons doen om daarby baat te vind?

12 Jehovah help altyd sy knegte om sy wil te doen. Noag het byvoorbeeld duidelike, spesifieke instruksies ontvang oor hoe hy die ark moes bou—’n projek wat die eerste keer reg gedoen moes word! En dit is reg gedoen. Waarom? Omdat Noag “gedoen [het] volgens alles wat God hom beveel het. Hy het net so gedoen” (Genesis 6:14-22). Jehovah rus ook vandag sy knegte ten volle toe om sy wil te doen. Ons primêre werk is natuurlik om die goeie nuus van God se opgerigte Koninkryk te verkondig en verdienstelikes te help om dissipels van Jesus Christus te word. En soos in die geval van Noag, hang ons sukses van gehoorsaamheid af. Ons moet gehoorsaam wees en die instruksies wat Jehovah deur sy Woord en sy organisasie voorsien, volg.—Matteus 24:14; 28:19, 20.

13. Deur middel waarvan voorsien Jehovah ons van opleiding?

13 Om daardie werk uit te voer, moet ons leer om ons vernaamste hulpmiddel ‘reg te hanteer’—naamlik God se Woord—wat “nuttig [is] om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer, sodat die mens van God volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk” (2 Timoteus 2:15; 3:16, 17). Soos in die eerste eeu, gee Jehovah ons waardevolle opleiding deur middel van die Christengemeente. Vandag, in die 99 770 gemeentes wêreldwyd, word die Teokratiese Bedieningskool en Diensvergadering weekliks gehou om ons in die bediening te help. Toon jy jou waardering vir hierdie belangrike vergaderinge deur dit gereeld by te woon en toe te pas wat jy leer?—Hebreërs 10:24, 25.

14. Hoe toon Jehovah se knegte hulle waardering vir die voorreg om God te dien? (Sluit kommentare in oor die tabel op bladsye 27-30.)

14 Miljoene van God se volk regoor die wêreld toon hulle waardering vir die opleiding wat hulle ontvang deur hulle in die bediening in te span. Byvoorbeeld, gedurende die 2006-diensjaar het 6 741 444 Koninkryksverkondigers altesaam 1 333 966 199 uur aan alle fasette van die werk gewy, wat 6 286 618 tuisbybelstudies ingesluit het. Dit is net ’n paar van die aanmoedigende besonderhede wat in die wêreldrapport gemeld word. Ons nooi jou om hierdie rapport van naderby te bekyk en aanmoediging daaruit te put, net soos ons eerste-eeuse broers ongetwyfeld groot aanmoediging geput het uit die verslae oor die uitbreiding van die predikingswerk in hulle tyd.—Handelinge 1:15; 2:5-11, 41, 47; 4:4; 6:7.

15. Waarom moet niemand ontmoedig voel oor sy heelhartige diens aan Jehovah nie?

15 Die geweldige hoeveelheid lof wat elke jaar aan God gebring word, weerspieël die diep waardering wat Jehovah se knegte het vir die voorreg om Jehovah te ken en van hom te getuig (Jesaja 43:10). Die lofoffer wat party van ons bejaarde, siek of verswakte broers en susters bring, kan weliswaar met die weduwee se penning vergelyk word. Maar ons moet altyd onthou dat Jehovah en sy Seun almal wat God heelhartig dien, werklik waardeer, aangesien hulle hulle bes doen.—Lukas 21:1-4; Galasiërs 6:4.

16. Watter onderrigmiddels het God in onlangse tye voorsien?

16 Buiten dat Jehovah ons oplei vir die bediening, rus hy ons ook deur middel van sy organisasie toe met uitstekende onderrigmiddels. In onlangse dekades was dit onder andere die boeke Die waarheid wat lei tot die ewige lewe, Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, Kennis wat tot die ewige lewe lei en tans Wat leer die Bybel werklik? Diegene wat hierdie voorsienings werklik waardeer, maak goed gebruik daarvan in die bediening.

Maak goeie gebruik van die Leer Bybel-boek

17, 18. (a) Watter dele van die Leer Bybel-boek gebruik jy graag in jou bediening? (b) Wat het een kringopsiener oor die Leer Bybel-boek gesê?

17 Die boek Wat leer die Bybel werklik?, met sy 19 hoofstukke, gedetailleerde aanhangsel en duidelike, eenvoudige taal, is ’n ware seën in die bediening. Hoofstuk 12 bespreek byvoorbeeld die onderwerp “Lewe op ’n manier wat God se goedkeuring wegdra”. Hierdie materiaal verduidelik aan die student hoe hy ’n vriend van God kan word, iets wat baie nog nooit eers oorweeg het of gedink het moontlik is nie (Jakobus 2:23). Hoe word hierdie Bybelstudiehulp ontvang?

18 ’n Kringopsiener in Australië vertel dat die Leer Bybel-boek “onmiddellik byval vind en huisbewoners gou aan die gesels kry”. Hy voeg by dat die boek so maklik is om te gebruik dat dit “baie Koninkryksverkondigers nuwe selfvertroue en vreugde in die bediening gegee het. Geen wonder dat party die boek die Goudklont noem nie!”

19-21. Vertel ’n paar ondervindinge wat die waarde van die Leer Bybel-boek beklemtoon.

19 “God moes jou gestuur het”, het een vrou in Guyana vir die pionier by haar deur gesê. Die vrou se metgesel het haar en hulle twee kindertjies kort tevore verlaat. Die pionier het die Leer Bybel-boek by hoofstuk 1 oopgemaak en paragraaf 11 onder die onderhofie “Hoe voel God oor die onregte waarmee ons te kampe het?” voorgelees. “Die gedagtes het haar diep getref”, het die pionier gesê. “Trouens, sy het opgestaan, na die agterkant van haar winkel gegaan en gehuil.” Hierdie vrou het die aanbod van ’n gereelde Bybelstudie saam met ’n plaaslike suster aanvaar en maak nog steeds vordering.

20 José, wat in Spanje woon, het sy vrou in ’n motorongeluk verloor. Hy het vertroosting gesoek in dwelms en het ook professionele hulp gekry. Maar die sielkundiges kon nie die vraag antwoord wat José die meeste gekwel het nie: “Waarom het God my vrou laat sterf?” Eendag het José Francesc raakgeloop, wat vir dieselfde maatskappy as hy werk. Francesc het voorgestel dat hulle hoofstuk 11 van die Leer Bybel-boek, met die titel “Waarom laat God lyding toe?” bespreek. Die skriftuurlike verduideliking en die illustrasie van ’n onderwyser en ’n leerling het ’n diep indruk op José gemaak. Hy het in alle erns begin studeer en ’n kringbyeenkoms bygewoon, en nou woon hy vergaderinge by die plaaslike Koninkryksaal by.

21 Roman, ’n 40-jarige sakeman in Pole, het nog altyd respek vir die Woord van God gehad. Maar omdat hy baie betrokke was by sy werk, het hy net tot op ’n punt gevorder met sy Bybelstudie. Hy het nietemin ’n streekbyeenkoms bygewoon en ’n eksemplaar van die Leer Bybel-boek ontvang. Daarna het hy merkbare vordering gemaak. “Met hierdie boek”, sê hy, “is dit asof al die basiese leerstellings van die Bybel bymekaarkom om ’n geheelbeeld te vorm, soos ’n legkaart.” Roman bestudeer die Bybel nou gereeld en maak goeie vordering.

Hou aan om te groei in waardering

22, 23. Hoe kan ons voortgaan om ons waardering te toon vir die hoop wat voor ons gestel is?

22 Soos by die opwindende “Verlossing is op hande!”-streekbyeenkomste verduidelik is, smag ware Christene na die “ewige verlossing” wat God belowe en wat deur die vergote bloed van Jesus Christus moontlik gemaak word. Daar is geen beter manier om ons opregte waardering vir hierdie kosbare hoop te toon nie as om voort te gaan om “van dooie werke [gereinig te word] sodat ons heilige diens aan die lewende God kan verrig”.—Hebreërs 9:12, 14.

23 Ja, dit is waarlik ’n wonderwerk dat meer as sesmiljoen Koninkryksverkondigers getrou in God se diens volhard terwyl daar nou meer druk as ooit is om persoonlike belange na te streef. Dit is ook ’n bewys dat Jehovah se knegte diep waardering het vir die eer om God te dien, in die wete dat hulle “arbeid in verband met die Here nie tevergeefs is nie”. Mag hierdie waardering nooit ophou groei nie!—1 Korintiërs 15:58; Psalm 110:3.

Hoe sal jy antwoord?

• Wat leer die psalmis ons oor waardering vir God en sy geestelike voorsienings?

• Hoe word die woorde in Haggai 2:7 vandag vervul?

• Hoe het Jehovah sy knegte toegerus om hom doeltreffend te dien?

• Wat kan jy doen om jou waardering vir Jehovah se goedheid te toon?

[Studievrae]

[Tabel op bladsy 27-30]

WêRELDRAPPORT VAN JEHOVAH SE GETUIES VIR DIE 2006-DIENSJAAR

(See bound volume)

[Prente op bladsy 25]

Jehovah rus ons ten volle toe om sy wil te doen