Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Wat is “die oorlog . . . van God die Almagtige” by Har–Magedon, en wat sal die uitslag wees?—Openbaring 16:14, 16.

Kortom, die oorlog van Har–Magedon is die toekomstige aardwye oorlog waarin Jehovah se aangestelde Koning, Jesus Christus, God se vyande sal vernietig. Die Bybel verduidelik dat hierdie vyande, “die konings van die hele bewoonde aarde”, byeengebring word deur “uitinge wat deur demone geïnspireer is” en versamel word “vir die oorlog van die groot dag van God die Almagtige . . . na die plek wat in Hebreeus Har–Magedon genoem word”.—Openbaring 16:14, 16.

Die plek waar die strydende partye versamel, is nie letterlik nie. Die naam Har–Magedon, wat in party Bybelvertalings met “Armageddon” weergegee word, beteken “die berg Megiddo” (Openbaring 16:16, voetnoot in NW). Daar was nog nooit ’n berg met daardie naam nie. Verder kan “die konings van die aarde en hulle leërs” nie letterlik op een plek bymekaarkom nie (Openbaring 19:19). “Die plek” verwys eerder na die toestand of situasie waarin die aarde se politieke heersers en hulle ondersteuners gelei word—een van verset teen Jehovah en teen “die leërs wat in die hemel was” onder militêre aanvoering van die “Koning van die konings en Here van die here”, Jesus Christus.—Openbaring 19:14, 16.

Dit is betekenisvol dat die term “Har–Magedon” verband hou met die eertydse Israelitiese stad Megiddo. Megiddo, met sy strategiese ligging oos van die berg Karmel, het destyds vername handels- en militêre roetes oorheers. Beslissende gevegte het ook daar plaasgevind. Byvoorbeeld, dit was “by die waters van Megiddo” dat die Israelitiese rigter Barak ’n magtige Kanaänitiese leër onder aanvoering van generaal Sisera verslaan het (Rigters 4:12-24; 5:19, 20). Dit was ook in daardie omgewing dat rigter Gideon die Midianiete op die vlug gejaag het (Rigters 7:1-22). Deur Megiddo met die komende oorlog te verbind, verseker die Bybel ons dat God, deur sy Seun, alle vyandige magte heeltemal sal oorwin.

Wat sal die uitslag wees? Die oorlog van Har–Magedon sal alle verdorwenheid en goddeloosheid van die aarde verwyder. Dit sal die weg baan vir die glorierykste tydperk in die hele mensegeskiedenis (Openbaring 21:1-4). Onder die liefdevolle toesig van God se Koninkryk sal die aarde in ’n paradys omskep word waarin regverdige mense vir ewig sal woon.—Psalm 37:29.