Waarom dit my vreugde verskaf om dissipels te maak
Lewensverhaal
Waarom dit my vreugde verskaf om dissipels te maak
Soos vertel deur Pamela Moseley
Oorlog het in Engeland gewoed toe my ma my in 1941 na ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Leicester geneem het. Ons het na Joseph Rutherford se spesiale toespraak oor kinders geluister. Toe ek en my ma by daardie byeenkoms gedoop is, het ek opgelet dat diegene wat ons gehelp het om geestelike vooruitgang te maak, baie bly was. Ek het nie toe besef hoeveel vreugde dit verskaf om dissipels van Jesus Christus te maak nie.
ONS het die vorige jaar begin om vooruitgang as dissipels te maak. Ek onthou nog daardie aaklige dag in September 1939 toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het. Ek het trane oor my ma se wange sien stroom terwyl sy oor en oor gevra het: “Waarom kan die wêreld nie vrede vind nie?” My ouers het gedurende die Eerste Wêreldoorlog in die weermag gedien en het die aaklighede van daardie oorlog beleef. My ma het hierdie vraag vir die Anglikaanse predikant in Bristol gevra. Hy het net gesê: “Daar was nog altyd oorloë en daar sal altyd oorloë wees.”
Maar kort daarna het ’n bejaarde dame ons besoek. Sy was een van Jehovah se Getuies. My ma het haar dieselfde vraag gevra: “Waarom kan die wêreld nie vrede vind nie?” Die Getuie het verduidelik dat oorloë deel is van die teken dat ons gedurende die voleinding van hierdie gewelddadige stelsel van dinge lewe (Matteus 24:3-14). Kort daarna het haar dogter die Bybel met ons begin studeer. Die twee van hulle was onder die vreugdevolle toeskouers toe ons gedoop is. Waarom maak dit mense so gelukkig om dissipels te maak? Ek het later uitgevind waarom. Kom ek vertel julle van wat ek geleer het in die meer as 65 jaar waartydens ek dissipels gemaak het.
Die vreugde om ander te leer
Toe ek 11 jaar oud was, het ek in Bristol aan die Koninkrykspredikingswerk begin deelneem. ’n Broer het vir my ’n grammofoon en ’n getuieniskaart gegee en gesê: “Gaan nou na al die huise aan daardie kant van die straat.” Ek het toe gegaan, heeltemal op my eie. Ek was natuurlik baie senuweeagtig. Ek het ’n opname van ’n Bybeltoespraak gespeel en dan vir die huisbewoner die getuieniskaart gegee, wat mense genooi het om Bybellektuur te neem.
Vanaf die 1950’s is groter klem daarop geplaas dat ons gedurende ons huis-tot-huis-besoeke uit die Bybel moet lees. Omdat ek teruggetrokke was, was dit aanvanklik vir my moeilik om met vreemdelinge te praat en Bybeltekste aan hulle te verduidelik. Maar ek het uiteindelik groter selfvertroue gekry. Toe het ek die bediening werklik begin geniet. Sommige mense het ons bloot as boekverkopers beskou, maar wanneer ons vir hulle tekste uit die Bybel gelees en verduidelik het, het hulle besef dat ons onderrigters van God se Woord is. Ek het dit so geniet dat ek ’n groter aandeel daaraan wou hê. In September 1955 het ek dus die voltydse bediening as pionier betree.
Volharding bring seëninge mee
Een van die eerste lesse wat ek geleer het, was dat liefdevolle volharding seëninge kan meebring. By een geleentheid het ek ’n eksemplaar van Die Wagtoring by ’n vrou, Violet Morice, gelaat. Toe ek haar weer besoek, het sy die deur wyd oopgemaak, haar arms gevou en aandagtig geluister terwyl ek die Skrif aan haar verduidelik het. Elke keer as ek haar besoek het, het dit gelyk of sy werklik belangstel. Maar toe ek haar ’n gereelde Bybelstudie aanbied, het sy gesê: “Nee. Dalk eendag wanneer die kinders ouer is.” Hoe teleurgesteld was ek tog! Die Bybel praat van “’n tyd om te soek en ’n tyd om as verlore op te gee” (Prediker 3:6). Ek het besluit om nie moed op te gee nie.
’n Maand later het ek teruggegaan en nog ’n paar tekste met Violet bespreek. Kort voor lank het sy ’n weeklikse Bybelstudie op haar drumpel gehad. Uiteindelik het sy gesê: “Wil jy nie maar inkom nie?” Wat ’n wonderlike medegelowige en persoonlike vriendin het Violet tog geword! Ja, Violet is gedoop as een van Jehovah se Getuies.
Op ’n dag was Violet geskok om uit te vind dat haar man hulle huis sonder haar medewete verkoop het en haar verlaat het. Gelukkig het sy, met die hulp van ’n Getuievriend, daardie selfde middag ’n ander huis gekry. Uit dankbaarheid teenoor Jehovah het sy besluit om die res van haar lewe in die pionierdiens deur te bring. Toe ek sien hoe Jehovah se gees haar vervul met ywer vir ware aanbidding, het ek besef waarom die dissipelmaakwerk ’n mens so gelukkig maak. Ja, dit sou my lewenstaak word!
In 1957 het ek en Mary Robinson ’n pioniertoewysing gekry in die industriële gebied van Rutherglen in Glasgow, Skotland. Ons het die predikingswerk in mis, wind, reën en sneeu gedoen, maar dit was die moeite werd. Op ’n dag het ek Jessie ontmoet. Ek het dit geniet om die Bybel met haar te studeer. Haar man, Wally, was ’n Kommunis, en hy het my aanvanklik vermy. Toe hy die Bybel bestudeer het en besef het dat slegs God se Koninkryk ideale toestande onder mense tot stand sal bring, was hy verheug. Mettertyd het albei dissipelmakers geword.
Eerste reaksies kan misleidend wees
Ons het later ’n nuwe toewysing gekry, in Paisley, Skotland. Terwyl ek eendag
daar aan die bediening deelgeneem het, het ’n vrou die deur in my gesig toegemaak. Maar kort daarna het sy my kom soek om my om verskoning te vra. Toe ek die volgende week teruggaan, het sy gesê: “Dit was asof ek die deur in God se gesig toegemaak het. Ek moes eenvoudig na jou gaan soek.” Haar naam was Pearl. Sy het vir my gesê dat sy so ontnugter is deur vriende en familie dat sy tot God gebid het vir ’n ware vriendin. “En toe klop jy aan die deur”, het sy gesê. “Nou besef ek dat jy daardie ware vriendin moet wees.”Dit was nie maklik om Pearl se vriendin te wees nie. Sy het bo-op ’n steil heuwel gewoon, en ek moes dit te voet klim. Toe ek haar vir haar eerste vergadering by haar huis gaan haal het, kon ek weens die wind en reën skaars op my voete bly. Toe my sambreel skeur, het ek dit weggegooi. Net ses maande nadat Pearl die deur in my gesig toegemaak het, het sy haar toewyding aan God deur waterdoop gesimboliseer.
Kort daarna het haar man besluit om die Bybel te bestudeer, en binne ’n kort rukkie het hy my in die huis-tot-huis-bediening vergesel. Soos gewoonlik het dit gereën. “Dis niks”, het hy gesê. “Ek staan ure lank in sulke weer om sokker te kyk; ek kan dus sekerlik vir Jehovah in die reën staan.” Ek het nog altyd die Skotte se uithouvermoë bewonder.
Hoe lonend was dit tog om dekades later terug te keer en te sien dat die meeste van die mense met wie ek gestudeer het, nog steeds volhard in die geloof! Dit is waarom dit soveel vreugde verskaf om dissipels te maak (1 Tessalonisense 2:17-20). In 1966, nadat ek meer as agt jaar in Skotland gepionier het, is ek na die Wagtoring-Bybelskool Gilead genooi om as ’n sendeling opgelei te word.
In ’n vreemde land
Ek is na Bolivia gestuur, na die tropiese dorp Santa Cruz, waar daar ’n gemeente van ongeveer 50 was. Die dorp het my aan die Wilde Weste laat dink soos dit in Hollywood-rolprente uitgebeeld word. As ek terugdink, was ek maar ’n baie gewone sendeling. Ek is nooit deur krokodille aangeval of deur gewelddadige skares omsingel nie, en ek het nooit in die woestyn verdwaal of op die oop see skipbreuk gely nie. Vir my was die dissipelmaakwerk egter opwindender.
Een van die eerste vroue in Santa Cruz met wie ek die Bybel gestudeer het, was Antonia. Ek het gesukkel om die studie in Spaans te hou. Eenkeer het Antonia se seuntjie gesê: “Mammie, maak sy aspris foute om ons te laat lag?” Antonia het uiteindelik ’n dissipel geword, en so ook Yolanda, haar dogter. Yolanda het ’n vriend gehad, ’n regstudent, met die bynaam Dito, wat ook begin het om die Bybel te bestudeer en ons vergaderinge by te woon. Terwyl ek hom probeer help het, het ek iets anders geleer met betrekking tot die onderrigting van Bybelwaarheid: Soms het mense ’n ligte stootjie nodig.
Toe Dito sy studie begin afstel het, het ek gesê: “Dito, Jehovah verplig jou nie om sy Koninkryk te ondersteun nie. Jy het ’n keuse.” Toe hy antwoord dat hy God wil dien, het ek gesê: “Jy het prente hier van ’n revolusionêre leier. Sou ’n besoeker wat dit sien, tot die slotsom kom dat jy God se Koninkryk ondersteun?” Dit was die ligte stootjie wat hy nodig gehad het.
Twee weke later het ’n opstand uitgebreek, en die universiteitstudente en die polisie het op mekaar begin skiet. “Ons moet hier wegkom!” het Dito vir sy vriend geskreeu. “Nee! Dis ons groot dag waarop ons gewag het”, het sy maat geantwoord, ’n geweer gegryp en na die dak van die universiteit gehardloop. Hy was een van agt van Dito se vriende wat daardie dag gesterf het. Kan jy jou indink hoe gelukkig dit my maak om hierdie man, Dito, te sien, wat dood kon gewees het as hy nie besluit het om ’n ware Christen te word nie?
Jehovah se gees in werking
Eendag het ek by ’n deur verbygestap omdat ek gedink het dat ons alreeds daardie huis besoek het, toe die vrou van die huis my roep.
Haar naam was Ignacia. Sy het geweet van Jehovah se Getuies, maar hewige teenstand van haar man—’n fris polisie-offisier met die naam Adalberto—het haar verhinder om geestelike vooruitgang te maak. Sy was verward oor talle basiese Bybelleerstellings; daarom het ek die Bybel met haar begin studeer. Al was Adalberto vasbeslote om hierdie Bybelstudie stop te sit, kon ek nogal lank met hom oor ander onderwerpe gesels. Dit was die eerste stap tot ons vriendskap.Stel jou my vreugde voor toe Ignacia ’n dierbare lid van die gemeente geword het. Sy het na die geestelike en fisiese welsyn omgesien van baie wat vertroosting nodig gehad het. Mettertyd het haar man en drie van hulle kinders Getuies geword. Trouens, toe Adalberto uiteindelik besef het wat die goeie nuus behels, het hy na die polisiestasie teruggegaan en met soveel geesdrif gepraat dat hy 200 intekeninge op Die Wagtoring en Ontwaak! by die polisiemanne gekry het.
Jehovah laat dit groei
Nadat ek ses jaar lank in Santa Cruz gedien het, is ek na die hoofstad van Bolivia, La Paz, gestuur, waar ek die volgende 25 jaar deurgebring het. In die vroeë 1970’s het die takkantoor van Jehovah se Getuies in La Paz maar net 12 personeellede gehad. Aangesien die predikingswerk uitgebrei het, was groter fasiliteite nodig, en ’n nuwe takkantoor is in die vinnig groeiende stad Santa Cruz gebou. Die takkantoor is in 1998 hierheen verskuif, en ek is genooi om ’n lid van die takkantoorpersoneel te word, wat nou uit meer as 50 lede bestaan.
Die enkele gemeente wat in 1966 in Santa Cruz was, het meer as 50 gemeentes geword. Die 640 Getuies wat destyds in die hele Bolivia was, is vandag byna 18 000!
Ek is bly dat my toewysing in Bolivia produktief was. Maar die getrouheid van mede-Christene oral in die wêreld is altyd vir my aanmoedigend. Ons is almal verheug om te sien hoe Jehovah die Koninkrykspredikingswerk seën. Dit is waarlik ’n vreugde om ’n aandeel aan die dissipelmaakwerk te hê.—Matteus 28:19, 20.
[Prent op bladsy 13]
As ’n pionier in Skotland
[Prente op bladsy 15]
Lid van die takkantoorpersoneel in Bolivia; (inlasfoto) by die graduering van die 42ste klas van Gilead