Waarom moet ons die waarheid praat?
Waarom moet ons die waarheid praat?
TOE Manfred 18 was, was hy ’n leerlingklerk. a Die maatskappy waarvoor hy gewerk het, het gereël dat hy en ’n hele paar ander leerlingklerke twee dae per week ’n vakskool bywoon. Eendag is die klas vroeër as gewoonlik verdaag. Volgens maatskappyreëls moes die studente vir die res van die dag teruggaan werk toe. In plaas daarvan het hulle almal uitgegaan om pret te hê. Net Manfred het teruggegaan werk toe. Toevallig het die maatskappy se uitvoerende beampte wat toesig oor die studente gehad het, daar aangekom. Toe hy Manfred sien, het hy gevra: “Waarom is jy nie vandag in die klas nie? En waar is die ander studente?” Hoe moet Manfred antwoord?
Manfred se verknorsing is baie algemeen. Moet hy die waarheid praat, of moet hy sy klasmaats beskerm? As hy ’n eerlike antwoord gee, sal dit moeilikheid vir die ander beteken en hom ongewild maak. Is dit toelaatbaar om onder sulke omstandighede ’n leuen te vertel? Wat sou jy gedoen het? Ons sal later terugkom na Manfred, maar kom ons kyk eers na wat daarby betrokke is wanneer ons moet besluit of ons die waarheid gaan praat of nie.
Waarheid en onwaarheid—’n fundamentele stryd
Aan die begin van die mensegeskiedenis was alles op waarheid gegrond. Daar was geen verdraaiing van feite nie, geen manipulering of wanvoorstelling van die waarheid nie. Jehovah, die Skepper, is “die God van waarheid”. Sy woord is die waarheid; hy kan nie lieg nie, en hy veroordeel leuens en leuenaars.—Psalm 31:5; Johannes 17:17; Titus 1:2.
As dit die geval is, hoe het onwaarheid dan ontstaan? Jesus Christus het die gesaghebbende antwoord verstrek toe hy vir sy godsdiensteenstanders, wat hom wou doodmaak, gesê het: “Julle is van julle vader die Duiwel, en julle wil die begeertes van julle vader doen. Hy was ’n mensemoordenaar toe hy begin het, en hy het nie in die waarheid vasgestaan nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy die leuen spreek, spreek hy ooreenkomstig sy eie geaardheid, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen” (Johannes 8:44). Jesus het natuurlik verwys na die voorval in die tuin van Eden toe Satan die eerste mensepaar verlok het om aan God ongehoorsaam te wees en sodoende slagoffers van sonde en die dood te word.—Genesis 3:1-5; Romeine 5:12.
Jesus se woorde identifiseer Satan duidelik as “die vader van die leuen”, die een by wie leuens en onwaarheid ontstaan het. Satan is nog steeds die vernaamste voorstander van onwaarheid en “mislei” in werklikheid “die hele bewoonde aarde”. Hy is grootliks verantwoordelik vir die skade wat die mensdom vandag berokken word deur al die leuens wat so algemeen vertel word.—Openbaring 12:9.
Die fundamentele stryd tussen waarheid en onwaarheid, wat deur Satan die Duiwel begin is, woed vandag nog voort. Dit deurtrek alle vlakke van die mensegemeenskap en raak elke individu. ’n Persoon se lewenswyse plaas hom aan die een of die ander kant van die geskil. Diegene wat aan God se kant is, grond hulle lewenswyse op die waarheid van God se Woord, die Bybel. Enigiemand wat nie die weg van die waarheid volg nie, val, wetend of onwetend, in die hande van Satan, want “die hele wêreld lê in die mag van die bose”.—1 Johannes 5:19; Matteus 7:13, 14.
Waarom die neiging om leuens te vertel?
Die feit dat “die hele wêreld” in die mag van Satan lê, sê vir ons waarom baie mense leuens vertel. Maar ons vra dalk: ‘Waarom het Satan, “die vader van die leuen”, dit gedoen?’ Satan het geweet dat Jehovah die regmatige Soewerein is van alles wat Hy geskep het, insluitende die eerste mensepaar. Maar Satan wou self hierdie verhewe en unieke posisie hê, iets waarop hy nie geregtig was nie. Uit gierigheid en selfsugtige ambisie het hy planne beraam om Jehovah se plek vir homself toe te eien. Om dit te doen, het Satan van leuens en bedrog gebruik gemaak.—1 Timoteus 3:6.
Wat van vandag? Stem jy nie saam dat gierigheid en selfsugtige ambisie nog steeds vername redes is waarom baie mense leuens vertel nie? Die gierige sakewêreld, die verdorwe politieke arena en valse godsdiens is vol misleiding, onwaarheid, manipulering en bedrog. Waarom? Is dit nie omdat mense dikwels deur gierigheid en ambisie aangedryf word om vooruitgang te maak of om rykdom, mag of status te probeer verkry waarop hulle nie geregtig is nie? ’n Wyse heerser, koning Salomo van eertydse Israel, het gewaarsku: “Hy wat hom haas om rykdom te verwerf, sal nie onskuldig bly nie” (Spreuke 28:20). En die apostel Paulus het geskryf: “Die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge” (1 Timoteus 6:10). Dieselfde kan sekerlik gesê word van die oordrewe begeerte na mag of status.
Nog ’n rede waarom mense leuens vertel, is vrees—vrees vir die gevolge of vir wat ander dalk sal dink as die waarheid vertel word. Dit is heeltemal natuurlik dat mense wil hê dat ander van hulle moet hou of hulle moet aanvaar. Maar hierdie begeerte kan hulle beweeg om die waarheid te verdraai, al is dit net effens, in ’n poging om tekortkominge te verberg, onvleiende besonderhede weg te steek of eenvoudig om ’n goeie indruk te skep. Salomo het gepas geskryf: “Om vir mense te bewe, span ’n strik, maar hy wat op Jehovah vertrou, sal beskerm word.”—Spreuke 29:25.
Lojaliteit aan die God van waarheid
Wat het Manfred gesê toe die maatskappy se uitvoerende beampte hom om ’n verduideliking gevra het? Manfred het die waarheid vertel. Hy het gesê: “Die onderwyser het ons vandag vroeg laat loop, en daarom het ek kom werk. Wat die ander betref, ek kan nie namens hulle praat nie. Miskien kan u hulle maar self vra.”
Manfred kon ’n slim, misleidende antwoord gegee het en hom sodoende gewild gemaak het by die ander studente. Maar hy het goeie redes
gehad om lojaal by die waarheid te bly. Manfred is een van Jehovah se Getuies. Deur sy eerlikheid het hy sy rein gewete behou. Dit het hom ook die vertroue van sy werkgewer gewen. As deel van sy opleiding is Manfred werk in die juweliersafdeling gegee, waar persone wat nog opleiding ontvang, nie gewoonlik toegelaat is om te werk nie. Toe Manfred ongeveer 15 jaar later tot ’n verantwoordelike posisie in die maatskappy bevorder is, het dieselfde uitvoerende beampte hom gebel om hom geluk te wens en om weer hierdie voorval van eerlikheid te meld.Aangesien Jehovah die God van waarheid is, moet enigiemand wat ’n hegte verhouding met hom wil hê, ‘onwaarheid aflê’ en “die waarheid praat”. ’n Kneg van God moet waarheid liefhê. “’n Getroue getuie is iemand wat nie sal lieg nie”, het die wyse man geskryf. Maar wat is ’n leuen?—Efesiërs 4:25; Spreuke 14:5.
Wat is ’n leuen?
Elke leuen is ’n onwaarheid, maar nie elke onwaarheid is ’n leuen nie. Waarom nie? ’n Woordeboek omskryf ’n leuen as “’n bewering wat die spreker weet of glo onwaar is, wat bedoel is om te bedrieg”. Ja, die doel van ’n leuen is onder andere om iemand te bedrieg. Om onopsetlik ’n onwaarheid te vertel—soos om iemand per ongeluk verkeerde feite of syfers te gee—is dus nie dieselfde as om ’n leuen te vertel nie.
Verder moet ons oorweeg of die persoon wat die inligting vra, geregtig is op ’n breedvoerige antwoord. Gestel byvoorbeeld ’n uitvoerende beampte van ’n ander maatskappy het Manfred dieselfde vrae gevra. Sou Manfred verplig gewees het om vir hom alles te vertel? Nie regtig nie. Aangesien daardie uitvoerende beampte geen reg op dié inligting gehad het nie, sou Manfred onder geen verpligting gestaan het om dit te verstrek nie. Dit sou natuurlik selfs in hierdie geval verkeerd gewees het as hy ’n leuen vertel het.
Watter voorbeeld het Jesus Christus in hierdie verband gestel? By een geleentheid het Jesus met ’n groepie ongelowiges gepraat wat in sy reisplanne belanggestel het. “Vertrek hiervandaan en gaan na Judea”, het hulle hom aangeraai. Wat het Jesus geantwoord? “Gaan julle op na die fees [in Jerusalem]; ek gaan nog nie op na hierdie fees nie, omdat my bestemde tyd nog nie heeltemal gekom het nie.” Kort daarna het Jesus vir die fees na Jerusalem gereis. Waarom het hy so geantwoord? Hulle was nie geregtig op die presiese besonderhede van sy kom en gaan nie. Terwyl Jesus dus nie ’n onwaarheid vertel het nie, het hy hulle ’n onvolledige antwoord gegee om die moontlike skade wat hulle hom of sy volgelinge kon berokken, te beperk. Dit was nie ’n leuen nie, want die apostel Petrus het van Christus geskryf: “Hy het geen sonde begaan nie, en ook is bedrog nie in sy mond gevind nie.”—Johannes 7:1-13; 1 Petrus 2:22.
Wat van Petrus self? Het Petrus nie die nag toe Jesus in hegtenis geneem is, drie keer ’n leuen vertel en gesê dat hy Jesus nie ken nie? Ja, Petrus het voor mensevrees geswig en leuens vertel. Matteus 26:69-75; Handelinge 4:18-20; 5:27-32; Jakobus 3:2.
Maar hy het onmiddellik “bitterlik gehuil” en berou getoon, en sy sonde is vergewe. Hy het boonop uit sy fout geleer. ’n Ruk daarna het hy in die openbaar van Jesus gepraat en volstrek geweier om op te hou toe hy deur die Joodse owerheid in Jerusalem gedreig is. Petrus se tydelike terugslag en vinnige herstel moet beslis ’n aanmoediging wees vir ons almal, wat maklik in ’n oomblik van swakheid oorweldig kan word en in woord of daad kan struikel.—Waarheid sal vir ewig bevestig word
“Die lip van waarheid sal vir ewig stewig bevestig word, maar die leuenagtige tong sal slegs ’n oomblik duur”, verduidelik Spreuke 12:19. Ja, woorde van waarheid word gekenmerk deur duursaamheid en bestendigheid. En menseverhoudinge is bestendiger en sinvoller wanneer mense daartoe verbind is om die waarheid te praat en ooreenkomstig daarmee op te tree. Ja, wanneer iemand die waarheid praat, bring dit onmiddellike belonings mee. Dit sluit in ’n rein gewete, ’n goeie reputasie en sterk verhoudinge in die huwelik, in die gesin, tussen vriende en selfs in die sakewêreld.
Leuens daarenteen kan nie die toets van die tyd deurstaan nie. ’n Tong wat onwaarhede spreek, bedrieg dalk vir ’n rukkie, maar onwaarheid seëvier nie op die lange duur nie. Verder het Jehovah, die God van waarheid, ’n tyd bepaal wanneer hy nie meer onwaarheid en diegene wat leuens bevorder, sal duld nie. Die Bybel belowe dat Jehovah die invloed van Satan die Duiwel, die vader van die leuen, wat die hele bewoonde aarde mislei, gaan uitwis. Jehovah sal binnekort ’n einde maak aan alle leuens en leuenaars.—Openbaring 21:8.
Wat ’n verligting sal dit tog wees wanneer “die lip van waarheid” uiteindelik vir ewig stewig bevestig word!
[Voetnoot]
a Nie sy regte naam nie.
[Lokteks op bladsy 5]
Baie mense vertel leuens uit gierigheid en selfsugtige ambisie
[Lokteks op bladsy 6]
Elke leuen is ’n onwaarheid, maar nie elke onwaarheid is ’n leuen nie
[Prent op bladsy 6]
Wat leer ons uit Petrus se verloëning van Christus?
[Prent op bladsy 7]
Wanneer die waarheid gepraat word, bring dit bestendige en sinvolle verhoudinge mee