Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Kinders, wees gehoorsaam aan julle ouers”

“Kinders, wees gehoorsaam aan julle ouers”

“Kinders, wees gehoorsaam aan julle ouers”

“Kinders, wees gehoorsaam aan julle ouers in eenheid met die Here, want dít is regverdig.”—EFESIËRS 6:1.

1. Hoe kan gehoorsaamheid jou beskerm?

 ONS lewe dalk vandag nog omdat ons gehoorsaam was, terwyl ander hulle lewe verloor het omdat hulle ongehoorsaam was. Waaraan? Aan waarskuwings, byvoorbeeld dié wat ons ontvang van ons liggaam, wat “wonderbaar gemaak is” (Psalm 139:14). Ons oë sien donker wolke en ons ore hoor donderslae. Dan laat die elektriese lading in die lug ons hare rys. Vir diegene wat geleer het watter gevare dit kan inhou, is hierdie tekens ’n waarskuwing om ’n skuilplek te vind teen die dreigende storm met sy weerlig en hael, wat lewensgevaarlik kan wees.

2. Waarom het kinders waarskuwings nodig, en waarom moet hulle aan hulle ouers gehoorsaam wees?

2 Jongmense, julle moet teen moontlike gevare gewaarsku word, en dit is julle ouers se verantwoordelikheid om dit te doen. Julle onthou dalk dat daar vir julle gesê is: “Moenie aan die stoof raak nie. Dis warm.” “Bly weg van die water af. Dis gevaarlik.” “Kyk links en regs voordat jy oor die straat loop.” Ongelukkig het kinders al seergekry of selfs hulle lewe verloor omdat hulle nie gehoorsaam was nie. Om aan jou ouers gehoorsaam te wees, “is regverdig”—reg en gepas. Dit is ook wys (Spreuke 8:33). ’n Ander Bybelvers sê dat dit vir ons Here Jesus Christus “welbehaaglik” is. Ja, God beveel jou om aan jou ouers gehoorsaam te wees.—Kolossense 3:20; 1 Korintiërs 8:6.

Blywende voordele van gehoorsaamheid

3. Wat is “die werklike lewe” vir die meeste van ons, en wat moet kinders doen om dit te beërf?

3 Gehoorsaamheid aan jou ouers beskerm jou ‘teenswoordige lewe’, maar gehoorsaamheid sal dit ook vir jou moontlik maak om die “toekomstige lewe” te geniet, wat “die werklike lewe” genoem word (1 Timoteus 4:8; 6:19). Vir die meeste van ons is die werklike lewe eindelose lewe op aarde in God se nuwe wêreld, wat hy aan diegene belowe wat sy gebooie getrou nakom. ’n Belangrike gebod sê: “‘Eer jou vader en jou moeder’; wat die eerste gebod met ’n belofte is: ‘Sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank op die aarde mag bly.’” As jy dus aan jou ouers gehoorsaam is, sal jy gelukkig wees. Jou toekoms sal veilig wees, en jy sal die vooruitsig hê om die ewige lewe op ’n paradysaarde te geniet!—Efesiërs 6:2, 3.

4. Hoe kan kinders God eer en hulleself sodoende bevoordeel?

4 Wanneer jy jou ouers eer deur aan hulle gehoorsaam te wees, eer jy ook God, want dit is hy wat jou beveel om aan hulle gehoorsaam te wees. Terselfdertyd vind jy daarby baat. “Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel”, sê die Bybel (Jesaja 48:17; 1 Johannes 5:3). Hoe bevoordeel gehoorsaamheid jou? Dit maak jou ma en pa gelukkig, wat op hulle beurt beslis hulle behae sal toon op maniere wat jou lewe gelukkiger sal maak (Spreuke 23:22-25). Maar van die allergrootste belang is dat jou gehoorsaamheid jou hemelse Vader gelukkig maak, en hy sal jou op wonderlike maniere beloon! Kom ons kyk hoe Jehovah Jesus geseën en beskerm het, wat van homself gesê het: “Ek [doen] altyd die dinge . . . wat hom behaag.”—Johannes 8:29.

Jesus—’n goeie werker

5. Watter redes is daar om te glo dat Jesus ’n goeie werker was?

5 Jesus was die eersgeborene van sy moeder, Maria. Sy pleegvader, Josef, was ’n timmerman. Jesus het ook ’n timmerman geword, ’n ambag wat hy blykbaar by Josef geleer het (Matteus 13:55; Markus 6:3; Lukas 1:26-31). Watter soort timmerman dink jy was Jesus? Toe hy in die hemel was, voordat sy maagdelike moeder wonderdadig met hom swanger geword het, het hy, as die verpersoonliking van wysheid, verduidelik: “Ek [het] ’n meesterwerker naas [God] geword, en ek het die een geword vir wie hy dag na dag besonder lief was.” Jesus, wat in die hemel ’n goeie werker was, het God se goedkeuring geniet. Dink jy nie dat hy ook hard probeer het om ’n goeie werker, ’n goeie timmerman, te wees toe hy ’n jongmens op aarde was nie?—Spreuke 8:30; Kolossense 1:15, 16.

6. (a) Waarom dink jy het Jesus moontlik as kind takies by die huis verrig? (b) Op watter maniere kan kinders Jesus navolg?

6 Toe Jesus ’n kind was, het hy ongetwyfeld soms speletjies gespeel, soos die Bybel sê kinders in die ou tyd gedoen het (Sagaria 8:5; Matteus 11:16, 17). Maar jy kan daarvan seker wees dat hy, benewens die timmermansopleiding wat Josef hom gegee het, ook ander takies gehad het om te verrig, aangesien hy die oudste kind was in ’n groot gesin wat dit nie breed gehad het nie. Later het Jesus die predikingswerk begin doen en hom in so ’n mate aan sy bediening gewy dat hy sy eie gerief prysgegee het (Lukas 9:58; Johannes 5:17). Kan jy maniere sien waarop jy Jesus kan navolg? Vra jou ouers jou om jou kamer skoon te maak of om ander takies te verrig? Moedig hulle jou aan om God te aanbid deur Christelike vergaderinge by te woon en ander van jou oortuigings te vertel? Hoe dink jy sou die jong Jesus op sulke versoeke gereageer het?

’n Goeie Bybelstudent en onderrigter

7. (a) Saam met wie het Jesus moontlik na die Pasga gereis? (b) Waar was Jesus toe ander die terugreis begin het, en waarom was hy daar?

7 Alle manlike lede van ’n Israelitiese gesin is beveel om na die tempel op te gaan om Jehovah gedurende die drie Joodse feeste te aanbid (Deuteronomium 16:16). Toe Jesus 12 jaar oud was, het die hele gesin moontlik vir die Pasga na Jerusalem gereis. Dit het waarskynlik sy halfbroers en -susters ingesluit. Maar onder diegene wat saam met Jesus se gesin gereis het, was miskien Salome, wat moontlik Maria se suster was, asook haar man, Sebedeus, en hulle seuns Jakobus en Johannes, wat later apostels geword het (Matteus 4:20, 21; 13:54-56; 27:56; Markus 15:40; Johannes 19:25). a Met die terugreis het Josef en Maria dalk aangeneem dat Jesus saam met familielede is, en daarom het hulle aanvanklik nie besef dat hy nie daar is nie. Drie dae later, toe Maria en Josef Jesus uiteindelik gevind het, was hy in die tempel, “waar hy tussen die leermeesters gesit en na hulle geluister en hulle uitgevra het”.—Lukas 2:44-46.

8. Wat het Jesus in die tempel gedoen, en waarom was die mense verbaas?

8 Hoe het Jesus die leermeesters “uitgevra”? Hy het waarskynlik nie net vrae gevra om sy nuuskierigheid te bevredig of bloot om inligting te verkry nie. Die Griekse woord wat hier gebruik word, kan verwys na uitvraery soos wat tydens ’n geregtelike ondersoek gedoen word en kan dus kruisondervraging behels. Ja, selfs as ’n jong persoon het Jesus ontwikkel in ’n Bybelstudent wat geleerde godsdiensonderrigters verstom het! “Almal wat na hom geluister het, was die hele tyd verbaas oor sy begrip en sy antwoorde”, sê die Bybel.—Lukas 2:47.

9. Hoe kan jy Jesus se voorbeeld volg wat Bybelstudie betref?

9 Wat dink jy het Jesus op so ’n jong ouderdom in staat gestel om selfs ervare onderrigters met sy Bybelkennis te verbaas? Hy was natuurlik geseën met godvresende ouers wat hom van kleins af in God se weë onderrig het (Eksodus 12:24-27; Deuteronomium 6:6-9; Matteus 1:18-20). Ons kan seker wees dat Josef die jong Jesus na die sinagoge geneem het om te hoor hoe die Skrif gelees en bespreek word. Is jy ook geseën met ouers wat die Bybel met jou studeer en jou na Christelike vergaderinge neem? Waardeer jy hulle pogings, net soos Jesus sy ouers s’n waardeer het? Vertel jy vir ander wat jy leer, soos Jesus gedoen het?

Jesus was onderdanig

10. (a) Waarom moes Jesus se ouers geweet het waar om hom te vind? (b) Watter goeie voorbeeld het Jesus vir kinders gestel?

10 Hoe dink jy het Maria en Josef gevoel toe hulle Jesus uiteindelik ná drie dae in die tempel gevind het? Hulle was ongetwyfeld baie verlig. Jesus was egter verbaas dat sy ouers nie geweet het waar hy is nie. Hulle het albei geweet van Jesus se wonderdadige geboorte. En hoewel hulle nie al die besonderhede geken het nie, sou hulle iets geweet het van sy toekomstige rol as Verlosser en as Heerser van God se Koninkryk (Matteus 1:21; Lukas 1:32-35; 2:11). Gevolglik het Jesus vir hulle gevra: “Waarom moes julle na my gaan soek? Het julle nie geweet dat ek in die huis van my Vader moet wees nie?” Jesus het egter gehoorsaam saam met sy ouers gegaan en na Nasaret teruggekeer. Die Bybel sê: “Hy het aan hulle onderdanig gebly.” Verder “het sy moeder al hierdie woorde sorgvuldig in haar hart bewaar”.—Lukas 2:48-51.

11. Watter les oor gehoorsaamheid kan jy by Jesus leer?

11 Is dit vir jou maklik om Jesus na te volg en altyd aan jou ouers gehoorsaam te wees? Of voel jy dat hulle vandag se wêreld dikwels nie verstaan nie en dat jy meer as hulle weet? Dalk hét jy meer kennis van sekere dinge—miskien hoe om selfone, rekenaars of ander moderne toestelle te gebruik. Maar dink aan Jesus, wat die ervare onderrigters met “sy begrip en sy antwoorde” verbaas het. Jy sal waarskynlik saamstem dat jy min weet in vergelyking met hom. En tog was Jesus onderdanig aan sy ouers. Dit beteken nie noodwendig dat hy altyd met hulle besluite saamgestem het nie. Nietemin het hy “aan hulle onderdanig gebly”—deur sy tienerjare heen. Watter les dink jy kan jy uit sy voorbeeld leer?—Deuteronomium 5:16, 29.

Gehoorsaamheid—’n uitdaging

12. Hoe kan gehoorsaamheid jou lewe red?

12 Dit is nie altyd maklik om gehoorsaam te wees nie, soos ’n voorval ’n paar jaar gelede getoon het toe twee jong meisies eerder oor ’n snelweg met ses bane wou hardloop as om die voetbrug te gebruik. “Kom aan, John”, het hulle ’n maat probeer oorhaal wat na die voetbrug gestap het. “Jy gaan mos saam met ons, né?” Toe hy aarsel, het die een meisie hom getart: “Jy is net ’n bangbroek!” John was nie bang nie, maar het gesê: “Ek móét na my ma luister.” Op die voetbrug het hy ’n paar oomblikke later skreeuende bande gehoor en afgekyk net toe die meisies deur ’n motor getref word. Een meisie het gesterf en die ander een was so erg beseer dat haar been afgesit moes word. Die meisies se ma, wat hulle gemaan het om die voetbrug te gebruik, het later vir John se ma gesê: “Ek wens regtig hulle was so gehoorsaam soos jou seun.”—Efesiërs 6:1.

13. (a) Waarom moet jy aan jou ouers gehoorsaam wees? (b) Wanneer sal dit vir ’n kind gepas wees om nie te doen wat ’n ouer vir hom sê nie?

13 Waarom sê God: “Kinders, wees gehoorsaam aan julle ouers”? Deur aan jou ouers gehoorsaam te wees, is jy aan God gehoorsaam. Daarbenewens het jou ouers meer ondervinding as jy. Byvoorbeeld, net vyf jaar voor die ongeluk wat hierbo genoem word, het John se ma ’n vriendin gehad wie se kind doodgery is toe hy oor daardie selfde snelweg probeer hardloop het! Dit is weliswaar dalk nie altyd maklik om aan jou ouers gehoorsaam te wees nie, maar God sê dat jy dit moet doen. As jou ouers—of ander—daarenteen vir jou sê om te lieg, te steel of enigiets te doen wat God afkeur, moet jy “eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense”. Daarom word die Bybelse gebod: “Wees gehoorsaam aan julle ouers”, gevolg deur die woorde “in eenheid met die Here”. Dit beteken dat jy aan jou ouers gehoorsaam moet wees in alles wat in ooreenstemming is met God se wette.—Handelinge 5:29.

14. Waarom is gehoorsaamheid makliker vir iemand wat volmaak is, maar waarom sal hy daarvan moet leer?

14 Gestel jy was volmaak, dit wil sê “onbesmet, afgeskeie van die sondaars”, soos Jesus. Dink jy dat dit altyd maklik sou gewees het om aan jou ouers gehoorsaam te wees? (Hebreërs 7:26). As jy volmaak was, sou jy nie geneig gewees het om te doen wat sleg is, soos nou die geval is nie (Genesis 8:21; Psalm 51:5). Selfs Jesus moes egter lesse oor gehoorsaamheid leer. Die Bybel sê: “Hoewel [Jesus] ’n Seun was, het hy gehoorsaamheid geleer uit die dinge wat hy gely het” (Hebreërs 5:8). Hoe het lyding Jesus gehelp om gehoorsaamheid te leer, ’n les wat hy nie nodig gehad het om in die hemel te leer nie?

15, 16. Hoe het Jesus gehoorsaamheid geleer?

15 Toe Jesus ’n kind was, het Josef en Maria hom onder Jehovah se leiding teen leed beskerm (Matteus 2:7-23). Maar uiteindelik het God die bonatuurlike beskerming wat Jesus geniet het, weggeneem. Jesus se verstandelike en fisiese lyding het so erg geword dat hy volgens die Bybel “smekinge en ook bedes met sterk uitroepe en trane” gedoen het (Hebreërs 5:7). Wanneer het dit gebeur?

16 Veral gedurende die laaste ure van Jesus se aardse lewe toe Satan ’n volskaalse poging aangewend het om Hom sy onkreukbaarheid te laat prysgee. Gedagtes van hoe sy dood as ’n vermeende kwaaddoener sy Vader se reputasie kon skend, het Jesus klaarblyklik so gepynig dat ‘sy sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond val’ terwyl hy ‘voortgegaan het om te bid’ in die tuin van Getsemane. ’n Paar uur later het Jesus so ’n pynlike dood aan ’n folterpaal gesterf dat hy “sterk uitroepe [met] trane” geuiter het (Lukas 22:42-44; Markus 15:34). Hy het dus “gehoorsaamheid geleer uit die dinge wat hy gely het” en sodoende sy Vader se hart bly gemaak. Jesus, wat nou in die hemel is, voel ons pyn wanneer ons dikwels sukkel om gehoorsaam te wees.—Spreuke 27:11; Hebreërs 2:18; 4:15.

Leer die les van gehoorsaamheid

17. Hoe moet ons dit beskou as ons dissipline ontvang?

17 Wanneer jou pa en ma jou dissiplineer, toon dit dat hulle jou belange op die hart dra, dat hulle jou liefhet. “Watter seun is daar wat nie deur ’n vader gedissiplineer word nie?” vra die Bybel. Sou dit nie jammer gewees het as jou ouers jou nie lief genoeg gehad het om die tyd te neem en die moeite te doen om jou tereg te wys nie? Jehovah wys jou eweneens tereg omdat hy jou liefhet. “Geen dissipline lyk weliswaar op die oomblik vreugdevol nie, maar bedroewend; tog lewer dit later vir dié wat daardeur geoefen is vreedsame vrug op, naamlik regverdigheid.”—Hebreërs 12:7-11.

18. (a) Waarvan is liefdevolle dissipline ’n bewys? (b) Watter positiewe resultate het jy al in mense gesien wat deur sulke dissipline beïnvloed is?

18 ’n Koning in eertydse Israel, wat weens sy groot wysheid deur Jesus gemeld is, het gesê dat dit belangrik is dat ouers liefdevolle teregwysing gee. “Wie sy roede terughou, haat sy seun”, het Salomo geskryf, “maar hy wat hom liefhet, gee ag op hom met dissipline.” Salomo het selfs gesê dat die siel van iemand wat liefdevolle teregwysing ontvang, van die dood verlos kan word (Spreuke 13:24; 23:13, 14; Matteus 12:42). ’n Christenvrou onthou nog die tye toe sy as kind stout was by die Christelike vergaderinge en hoe haar pa belowe het dat hy haar gaan dissiplineer wanneer hulle by die huis kom. Nou dink sy met geneentheid aan haar pa omdat hy haar liefdevol gedissiplineer het, iets wat ’n goeie invloed op haar lewe gehad het.

19. Wat is die vernaamste rede waarom jy aan jou ouers gehoorsaam moet wees?

19 As jy ouers het wat lief genoeg is vir jou om die tyd te neem en die moeite te doen om jou op ’n liefdevolle manier te dissiplineer, moet jy dankbaar wees. Wees aan hulle gehoorsaam, net soos ons Here Jesus Christus aan sy ouers, Josef en Maria, gehoorsaam was. Maar wees hoofsaaklik aan hulle gehoorsaam omdat jou hemelse Vader, Jehovah God, dit van jou verwag. Sodoende sal jy jouself bevoordeel, “sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank op die aarde mag bly”.—Efesiërs 6:2, 3.

[Voetnoot]

a Sien Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsy 841, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

Hoe sal jy antwoord?

• Watter voordele kan dit vir kinders inhou as hulle aan hulle ouers gehoorsaam is?

• Hoe het Jesus as kind ’n voorbeeld gestel deur aan sy ouers gehoorsaam te wees?

• Hoe het Jesus gehoorsaamheid geleer?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 24]

Die 12-jarige Jesus was goed vertroud met die Skrif

[Prent op bladsy 26]

Hoe het Jesus gehoorsaamheid geleer uit die dinge wat hy gely het?