Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrouens—Toon diep respek vir julle mans

Vrouens—Toon diep respek vir julle mans

Vrouens—Toon diep respek vir julle mans

‘Vrouens, wees onderdanig aan julle mans.’—EFESIËRS 5:22.

1. Waarom is dit dikwels moeilik om ’n man te respekteer?

 IN BAIE lande, wanneer ’n paartjie trou, lê die bruid ’n gelofte af en belowe sy dat sy diep respek vir haar man sal toon. Die manier waarop baie mans hulle vrouens behandel, bepaal in sekere mate of dit moeilik is om daardie gelofte gestand te doen of nie. Tog het die huweliksinstelling ’n wonderlike begin gehad. God het ’n ribbebeen van Adam, die eerste man, geneem en die eerste vrou gemaak. Adam het uitgeroep: “Dit is eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees.”—Genesis 2:19-23.

2. Wat het in onlangse tye gebeur met betrekking tot vroue en die huwelik?

2 Ondanks hierdie goeie begin het die sogenoemde vrouevryheidsbeweging—’n poging deur vroue om los te breek van manlike oorheersing—in die vroeë 1960’s in die Verenigde State ontstaan. Op daardie stadium het ongeveer 300 mans hulle gesinne verlaat vir elke 1 vrou wat dit gedoen het. Teen die einde van die 1960’s het die verhouding na ongeveer 100 tot 1 verander. Nou lyk dit of vroue net soveel vloek, drink en rook soos mans en net so onsedelik soos hulle is. Het dit vroue gelukkiger gemaak? Nee. In party lande skei ongeveer die helfte van die mense wat trou uiteindelik. Het die pogings van party vroue om hulle huweliksituasie te verbeter, dinge beter of erger gemaak?—2 Timoteus 3:1-5.

3. Wat is die basiese probleem wat ’n uitwerking op die huwelik het?

3 Wat is in werklikheid die probleem? Dit is basies dieselfde probleem wat bestaan sedert Eva verlei is deur die opstandige engel, “die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word” (Openbaring 12:9; 1 Timoteus 2:13, 14). Satan het God se leringe ondermyn. Die Duiwel het byvoorbeeld die huwelik beperkend en onderdrukkend laat voorkom. Die propaganda wat hy bevorder deur middel van die media van hierdie wêreld—waarvan hy die heerser is—is bedoel om God se bevele onregverdig en outyds te laat lyk (2 Korintiërs 4:3, 4). Maar as ons onbevooroordeeld ondersoek wat God oor ’n vrou se rol in die huwelik sê, sal ons sien hoe wys en prakties God se Woord is.

’n Woord van waarskuwing aan dié wat trou

4, 5. (a) Waarom is dit raadsaam om versigtig te wees wanneer ’n mens dit oorweeg om te trou? (b) Wat moet ’n vrou doen voordat sy instem om te trou?

4 Die Bybel gee ’n waarskuwing. Dit sê dat selfs dié wat ’n suksesvolle huwelik het, “verdrukking” sal hê in hierdie wêreld waaroor die Duiwel heers. Hoewel die huwelik dus ’n goddelike reëling is, rig die Bybel ’n waarskuwing tot dié wat in die huwelik tree. Een geïnspireerde Bybelskrywer het gesê aangaande ’n vrou wie se man gesterf het en wat dus vry is om weer te trou: “Sy is . . . gelukkiger as sy bly soos sy is.” Jesus het ook die ongetroude lewe aanbeveel vir dié wat “daarvoor plek kan maak”. Maar as enigiemand besluit om te trou, moet dit met iemand “in die Here” wees, dit wil sê met ’n toegewyde en gedoopte aanbidder van God.—1 Korintiërs 7:28, 36-40; Matteus 19:10-12.

5 Die rede waarom veral ’n vrou versigtig moet wees met wie sy trou, blyk uit die Bybel se waarskuwing: “’n Getroude vrou is . . . deur die wet aan haar man gebind.” Slegs wanneer hy sterf of hom aan onsedelikheid skuldig maak en die egpaar as gevolg daarvan skei, is sy “vry van sy wet” (Romeine 7:2, 3). ‘Liefde met die eerste oogopslag’ is miskien genoeg vir ’n genotvolle romanse, maar dit is nie ’n geskikte grondslag vir ’n gelukkige huwelik nie. ’n Ongetroude vrou moet haar dus afvra: ‘Is ek bereid om my in ’n reëling te begewe wat my onder die wet van hierdie man sal bring?’ Die tyd om hierdie vraag te oorweeg, is voor ’n mens trou, nie daarna nie.

6. Watter besluit kan die meeste vroue vandag maak, en waarom is dit so belangrik?

6 Op baie plekke kan ’n vrou vandag besluit of sy ’n huweliksaanbod wil aanneem of afwys. Maar om ’n verstandige keuse te maak, is moontlik die moeilikste ding waarvoor ’n vrou ooit te staan kom, aangesien haar begeerte na die intimiteit en liefde wat in die huwelik moontlik is, baie sterk kan wees. Een skrywer het gesê: “Hoe meer ons iets wil doen—hetsy dit is om te trou of ’n sekere berg te klim—hoe waarskynliker is dit dat ons ongegronde veronderstellings sal maak en net sal let op die gegewens wat vir ons sê wat ons wil hoor.” ’n Irrasionele besluit kan ’n bergklimmer sy lewe kos; ’n onverstandige keuse van huweliksmaat kan ook rampspoedig wees.

7. Watter wyse raad is gegee oor die keuse van ’n huweliksmaat?

7 ’n Vrou moet ernstig nadink oor wat dit kan behels om onder die wet te wees van ’n man wat haar vra om met hom te trou. Jare gelede het ’n jong Indiese meisie beskeie erken: “Ons ouers is ouer en wyser, en hulle word nie so maklik om die bos gelei soos ons nie. . . . Ek kan so maklik ’n fout maak.” Die hulp wat ouers en ander kan voorsien, is belangrik. ’n Wyse raadgewer het jongmense lank aangespoor om die ouers van hulle voorgenome huweliksmaat te leer ken en ook noukeurig te let op die persoon se interaksie met ouers en ander gesinslede.

Hoe Jesus onderdanigheid getoon het

8, 9. (a) Hoe het Jesus sy onderdanigheid aan God beskou? (b) Watter voordeel kan onderdanigheid meebring?

8 Hoewel onderdanigheid ’n uitdaging kan wees, kan vroue dit as iets eerbaars beskou, net soos Jesus gedoen het. Hoewel sy onderdanigheid aan God lyding, onder andere die dood aan ’n folterpaal, ingesluit het, het dit hom vreugde verskaf om aan God onderdanig te wees (Lukas 22:41-44; Hebreërs 5:7, 8; 12:3). Vroue kan Jesus se voorbeeld volg, want die Bybel sê: “Die man is die hoof van die vrou; en God is die hoof van die Christus” (1 Korintiërs 11:3). Dit is egter betekenisvol dat vroue nie net wanneer hulle trou, onder die hoofskap van mans kom nie.

9 Die Bybel verduidelik dat vroue, hetsy getroud of ongetroud, hulle moet onderwerp aan die hoofskap van geestelik bekwame manne wat toesig oor die Christengemeente het (1 Timoteus 2:12, 13; Hebreërs 13:17). Wanneer vroue gehoorsaam is aan God se gebod om dit te doen, stel hulle ’n voorbeeld vir die engele in God se organisatoriese reëling (1 Korintiërs 11:8-10). Daarbenewens leer ouer getroude vroue, deur hulle goeie voorbeeld en nuttige wenke, jonger vroue om “hulle aan hulle eie mans [te] onderwerp”.—Titus 2:3-5.

10. Hoe het Jesus ’n voorbeeld van onderdanigheid gestel?

10 Jesus het die waarde van gepaste onderdanigheid besef. By een geleentheid het hy die apostel Petrus aangesê om namens hulle albei belasting aan menseowerhede te betaal, en hy het Petrus selfs van die belastinggeld voorsien om dit te doen. Petrus het later geskryf: “Onderwerp julle ter wille van die Here aan elke menslike skepping” (1 Petrus 2:13; Matteus 17:24-27). Ons lees aangaande Jesus se uiters voortreflike voorbeeld van onderdanigheid: “Hy het homself ontledig en ’n slaaf se gedaante aangeneem en aan die mense gelyk geword. Wat meer is, toe hy hom in gestalte as ’n mens bevind het, het hy homself verneder en gehoorsaam geword tot in die dood.”—Filippense 2:5-8.

11. Waarom het Petrus vrouens aangespoor om onderdanig te wees selfs as hulle mans ongelowig is?

11 Toe Petrus Christene aangespoor het om selfs aan onderdrukkende, onregverdige owerhede van hierdie wêreld onderdanig te wees, het hy verduidelik: “Ja, tot hierdie weg is julle geroep, want ook Christus het vir julle gely en vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg” (1 Petrus 2:21). Nadat hy beskryf het hoeveel Jesus gely het en hoe hy weens onderdanigheid volhard het, het Petrus die vrouens van ongelowige mans aangespoor: “Net so moet julle, vrouens, onderdanig wees aan julle eie mans, sodat, as sommige nie aan die woord gehoorsaam is nie, hulle sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen kan word, omdat hulle ooggetuies was van julle kuis gedrag tesame met diep respek.”—1 Petrus 3:1, 2.

12. Watter voordele het Jesus se onderdanige handelswyse meegebring?

12 Onderdanigheid te midde van bespotting en uitskellery word dalk beskou as ’n bewys van swakheid. Maar dit is nie hoe Jesus dit beskou het nie. “Toe hy uitgeskel is”, het Petrus geskryf, “het hy nie terug uitgeskel nie. Toe hy gely het, het hy nie gedreig nie” (1 Petrus 2:23). Party van die mense wat gesien het hoe Jesus ly, het gelowiges geword, ten minste in sekere mate, insluitende ’n rower aan ’n folterpaal langs hom en die leëroffisier wat die teregstelling aanskou het (Matteus 27:38-44, 54; Markus 15:39; Lukas 23:39-43). Petrus het getoon dat party ongelowige mans—selfs dié wat skeltaal gebruik—eweneens Christene sal word nadat hulle die onderdanige gedrag van hulle vrouens waargeneem het. Ons het dit vandag al sien gebeur.

Hoe vrouens guns kan wen

13, 14. Hoe was onderdanigheid aan ongelowige mans al voordelig?

13 Vrouens wat gelowiges geword het, het al hulle mans deur hulle Christelike gedrag gewen. By ’n onlangse streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies het ’n man van sy Christenvrou gesê: “Ek moet erken dat ek soos ’n regte skobbejak teenoor haar opgetree het. Tog was sy baie respekvol teenoor my. Sy het my nooit verkleineer nie. Sy het nie haar opvattings aan my probeer opdwing nie. Sy het liefdevol na my omgesien. Wanneer sy na ’n byeenkoms gegaan het, het sy hard gewerk om my etes voor die tyd voor te berei en die huiswerk gedoen te kry. Haar gesindheid het my belangstelling in die Bybel geprikkel. En, wel, hier is ek!” Ja, hy is as ’t ware “sonder ’n woord” deur sy vrou se gedrag gewen.

14 Soos Petrus beklemtoon het, is dit nie soseer wat ’n vrou sê nie, maar wat sy doen wat positiewe resultate lewer. Dit word toegelig deur ’n vrou wat Bybelwaarhede geleer het en vasbeslote was om Christelike vergaderinge by te woon. “Agnes, as jy by daardie deur uitgaan, moet jy nie weer inkom nie!” het haar man geskreeu. Sy het nie by “daardie deur” uitgegaan nie, maar by ’n ander een. Die volgende vergaderingaand het hy gedreig: “Ek sal nie hier wees wanneer jy terugkom nie.” Wel, hy was nie—hy was drie dae lank weg. Toe hy terugkom, het sy vriendelik gevra: “Wil jy iets hê om te eet?” Agnes het nooit gewankel in haar toegewydheid aan Jehovah nie. Haar man het uiteindelik ’n Bybelstudie aanvaar, sy lewe aan God toegewy en later as ’n opsiener met baie verantwoordelikhede gedien.

15. Watter “versiering” word vir Christenvrouens aanbeveel?

15 Die apostel Petrus het iets aanbeveel wat die voorgenoemde vrouens geopenbaar het, naamlik “versiering”, maar nie deur oordrewe aandag aan “haarvlegtery” of “die dra van boklere” te skenk nie. Petrus het eerder gesê: “Laat [julle versiering] die geheime persoon van die hart in die onverderflike versiering van die stille en sagmoedige gees wees, wat in die oë van God van groot waarde is.” Hierdie gees word weerspieël in ’n stemtoon en ’n houding wat innemend eerder as uitdagend of veeleisend is. Só toon ’n Christenvrou diep respek vir haar man.—1 Petrus 3:3, 4.

Voorbeelde waaruit ons kan leer

16. In watter opsigte is Sara ’n goeie voorbeeld vir Christenvrouens?

16 Petrus het geskryf: “Vroeër [het] die heilige vroue wat op God gehoop het, hulle versier, en hulle het hulle aan hulle eie mans onderwerp” (1 Petrus 3:5). Hierdie vroue het besef dat dit uiteindelik tot gesinsgeluk en die beloning van die ewige lewe sal lei as hulle Jehovah behaag deur op sy raad ag te slaan. Petrus meld Sara, die pragtige vrou van Abraham, en sê dat sy “Abraham gehoorsaam het en hom ‘heer’ genoem het”. Sara het haar godvresende man ondersteun, wat deur God gestuur is om in ’n ver land te dien. Sy het ’n gemaklike lewenstyl prysgegee en selfs haar lewe in gevaar gestel (Genesis 12:1, 10-13). Petrus het Sara geprys vir haar moedige voorbeeld en gesê: “Julle het haar kinders geword, mits julle aanhou om goed te doen en om geen oorsaak van verskrikking te vrees nie.”—1 Petrus 3:6.

17. Waarom het Petrus Abigail moontlik in gedagte gehad as ’n voorbeeld vir Christenvrouens?

17 Abigail was nog ’n vreeslose vrou wat op God gehoop het, en Petrus het haar moontlik ook in gedagte gehad. Sy “het goeie oordeel aan die dag gelê”, maar haar man Nabal “was hardvogtig en sleg in sy handelinge”. Toe Nabal geweier het om hulp aan Dawid en sy manne te verleen, het hulle hulle gereedgemaak om Nabal en sy hele huishouding uit te wis. Maar Abigail het daadwerklik opgetree om haar huishouding te red. Sy het voedsel op esels gelaai en Dawid tegemoetgegaan terwyl hy en sy gewapende manne op pad was. Toe sy Dawid sien, het sy van die esel afgeklim, voor sy voete neergeval en hom gesmeek om nie oorhaastig op te tree nie. Dit het Dawid diep getref. “Mag Jehovah, die God van Israel, geloof word, wat jou vandag gestuur het om my te ontmoet!” het hy gesê, “en mag jou verstandigheid geseënd wees.”—1 Samuel 25:2-33.

18. Aan watter voorbeeld kan vrouens dink wanneer hulle in die versoeking kom omdat ’n ander man romantiese aandag aan hulle skenk, en waarom?

18 Nog ’n goeie voorbeeld vir vrouens is dié van ’n jong Sulammitiese vrou wat lojaal gebly het aan die nederige herder aan wie sy in die huwelik beloof is. Haar liefde vir hom het sterk gebly ten spyte van die romantiese aandag wat ’n ryk maghebber aan haar geskenk het. Sy is beweeg om haar gevoelens vir die jong herder uit te druk en het gesê: “Plaas my as ’n seël op jou hart, as ’n seël op jou arm; want die liefde is so sterk soos die dood . . . Baie waters kan die liefde nie blus nie, en ook kan riviere dit nie wegspoel nie” (Hooglied 8:6, 7). Mag almal wat ’n huweliksaanbod aanneem, hulle ook voorneem om aan hulle mans lojaal te bly en diep respek vir hulle te hê.

Bykomende goddelike raad

19, 20. (a) Waarom moet vrouens onderdanig wees aan hulle mans? (b) Watter goeie voorbeeld word vir vrouens voorsien?

19 Dink laastens aan die konteks van ons temateks: ‘Vrouens, wees onderdanig aan julle mans’ (Efesiërs 5:22). Waarom is sulke onderdanigheid nodig? “Want”, gaan die volgende vers voort, “’n man is die hoof van sy vrou, soos die Christus ook die hoof van die gemeente is.” Daarom word vrouens aangespoor: “Soos die gemeente aan die Christus onderdanig is, so moet vrouens dit ook in alles aan hulle mans wees.”—Efesiërs 5:23, 24, 33.

20 As vrouens hierdie bevel wil gehoorsaam, moet hulle die voorbeeld van Christus se gemeente van gesalfde volgelinge bestudeer en dit dan volg. Lees asseblief 2 Korintiërs 11:23-28 en vind sodoende uit wat ’n lid van die gemeente, die apostel Paulus, verduur het omdat hy getrou was aan sy Hoof, Jesus Christus. Soos Paulus, moet vrouens, sowel as die res van die gemeente, lojaal onderdanig bly aan Jesus. Vrouens doen dit deur middel van hulle onderdanigheid aan hulle mans.

21. Wat kan vrouens aanspoor om onderdanig te bly aan hulle mans?

21 Hoewel dit baie vrouens vandag grief om onderdanig te wees, sal ’n wyse vrou die voordele daarvan in gedagte hou. Byvoorbeeld, in die geval van ’n man wat ’n ongelowige is, sal onderdanigheid aan sy hoofskap in alles wat nie God se wette of beginsels sal skend nie, heel waarskynlik die wonderlike beloning meebring dat sy ‘haar man kan red’ (1 Korintiërs 7:13, 16). Verder kan sy tevredenheid put uit die wete dat Jehovah God haar gedrag goedkeur en haar ryklik sal beloon omdat sy die voorbeeld van sy geliefde Seun volg.

Onthou jy?

• Waarom kan dit vir ’n vrou ’n uitdaging wees om haar man te respekteer?

• Waarom is dit so ’n ernstige saak om ’n huweliksaanbod aan te neem?

• Hoe was Jesus ’n voorbeeld vir vrouens, en watter voordele kan dit meebring wanneer sy voorbeeld gevolg word?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 19]

Waarom is die besluit om ’n huweliksaanbod aan te neem of nie, so ernstig?

[Prent op bladsy 21]

Wat kan vrouens uit die voorbeeld van Bybelkarakters soos Abigail leer?