Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom uiterstes vermy?

Waarom uiterstes vermy?

Waarom uiterstes vermy?

JEHOVAH is die beste voorbeeld van gebalanseerdheid. “Volmaak is sy werk”, en sy geregtigheid is nooit ongevoelig nie, aangesien dit altyd met barmhartigheid gepaardgaan (Deuteronomium 32:4). Sy liefde is nooit beginselloos nie, want hy handel in ooreenstemming met volmaakte wette (Psalm 89:14; 103:13, 14). Toe ons eerste ouers geskep is, was hulle in alle opsigte gebalanseerd. Hulle was nie tot enige uiterstes geneig nie. Maar toe sonde in die wêreld gekom het, het dit ’n “gebrek”—onvolmaaktheid—laat ontstaan, wat daardie balans versteur het.—Deuteronomium 32:5.

Ter toeligting: Het jy al ooit in ’n motor of op ’n fiets gery met ’n band wat op een plek erg uitbult? Weens hierdie misvormdheid was die rit seker nogal stamperig sowel as onveilig. So ’n band moet reggemaak word voordat dit erger word of pap raak. Ons onvolmaakte persoonlikheid is eweneens geneig tot onreëlmatighede. As ons toelaat dat hierdie “bulte” groter word, kan ons reis deur die lewe baie stamperig, selfs gevaarlik, wees.

Soms kan ons goeie eienskappe, ons sterk punte, tot uiterstes oorgaan. Byvoorbeeld, hoewel die Mosaïese Wet van die Israeliete vereis het om ’n fraiingrand aan die soom van hulle klere te maak, het die Fariseërs in Jesus se dag, wat in die skares raakgesien wou word, ‘die fraiings van hulle klere [uitermate] vergroot’. Hulle beweegrede was om heiliger as hulle medemens voor te kom.—Matteus 23:5; Numeri 15:38-40.

Vandag probeer sommige mense op elke moontlike manier om aandag te trek, selfs deur ander te skok. Dit kan in werklikheid ’n desperate uitroep wees: “Sien my raak! Ek is ook ’n individu!” Maar om tot uiterstes oor te gaan in kleredrag, gesindheid en dade sal nie die ware behoeftes van ’n Christen bevredig nie.

’n Gebalanseerde gesindheid teenoor werk

Wie ons ook al is en waar ons ook al bly, heilsame werk is een van die dinge wat help om ons lewe sinvol te maak. Ons is geskep om bevrediging uit sulke werk te put (Genesis 2:15). Die Bybel veroordeel derhalwe luiheid. Die apostel Paulus het reguit gesê: “As iemand nie wil werk nie, laat hom dan ook nie eet nie” (2 Tessalonisense 3:10). Ja, ’n lakse gesindheid teenoor werk sal moontlik nie net tot armoede en ontevredenheid lei nie, maar ook tot God se misnoeë.

Baie slaan tot die ander uiterste oor en word werkslawe, wat hulle vrywillig vir hulle werk afsloof. Hulle verlaat die huis vroegoggend en kom laat terug en redeneer dalk dat hulle gesin deur hulle werk bevoordeel word. Maar hulle gesin kan in werklikheid slagoffers wees van hierdie verknogtheid aan werk. ’n Huisvrou wie se man dikwels ekstra tyd by sy werk deurbring, sê: “Ek sal alles in hierdie weelderige huis met plesier verruil om my man hier by my en die kinders te hê.” Diegene wat kies om hulle te oorwerk, moet ernstig nadink oor die persoonlike ondervinding van koning Salomo: “Ek, ja ek, het my gewend tot al my werke wat my hande verrig het en tot die harde werk waaraan ek hard gewerk het om dit tot stand te bring, en kyk! alles was nietigheid en ’n gejaag na wind.”—Prediker 2:11.

Ja, wat werk betref, moet ons albei uiterstes vermy. Ons kan vlytige werkers wees en terselfdertyd in gedagte hou dat dit ons van ons geluk en dalk van veel meer sal beroof as ons ’n werkslaaf word.—Prediker 4:5, 6.

Vermy uiterste beskouings van genot

Die Bybel het aangaande ons tyd voorspel: “Mense sal . . . liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” wees (2 Timoteus 3:2, 4). Die najaging van genot het een van Satan se doeltreffendste middele geword om mense van God af weg te lok. Uiterstes in ontspanning en vermaak, soos waaghals- of “adrenaliensport”, het baie gewild geword. Die lys van hierdie bedrywighede word al hoe langer, en al hoe meer mense neem daaraan deel. Waarom is dit so gewild? Baie mense, wat ontevrede is met hulle daaglikse bestaan, is op soek na al hoe groter opwinding. Maar om elke keer hierdie opwinding te ervaar, moet ’n mens al hoe waaghalsiger word. Getroue Christene vermy gevaarlike sportsoorte uit eerbied vir die gawe van die lewe en ook vir die Gewer daarvan.—Psalm 36:9.

Waar het God die eerste mensepaar geplaas toe hy hulle geskep het? In die tuin van Eden, wat “Genot”, of “Plesier”, beteken (Genesis 2:8, voetnoot in NW). Dit is duidelik dat ’n genotvolle, aangename lewe deel van Jehovah se voorneme vir die mens was.

Jesus het vir ons ’n volmaakte voorbeeld gestel van ’n gebalanseerde beskouing van genot. Hy het hom ten volle daaraan gewy om Jehovah se wil uit te voer, en hy het nooit eens vir ’n rukkie daarvan afgewyk om volgens God se wette en beginsels te lewe nie. Hy het tyd afgestaan aan mense wat hom nodig gehad het, selfs toe hy moeg was (Matteus 14:13, 14). Ja, Jesus het uitnodigings na maaltye aanvaar en tyd opsygesit vir rus en verkwikking. Hy was natuurlik bewus daarvan dat van sy vyande hom met kritiese oë dopgehou het omdat hy hierdie dinge gedoen het. Hulle het van hom gesê: “Kyk! ’n Mens wat vraatsugtig en aan wyn verslaaf is” (Lukas 7:34; 10:38; 11:37). Maar Jesus het nie geglo dat ware toewyding alle genot in die lewe uitsluit nie.

Ons is beslis verstandig as ons enige uiterstes in verband met ontspanning vermy. Om genot en vermaak die hoofsaak in die lewe te maak, kan nooit ware geluk meebring nie. Dit kan daartoe lei dat ons die belangriker dinge agterweë laat, met inbegrip van ons verhouding met God. Nietemin moet ons ons nie alle genot ontsê of krities raak oor ander wat die lewe op ’n gebalanseerde manier geniet nie.—Prediker 2:24; 3:1-4.

Vind geluk deur ’n gebalanseerde lewe te lei

Die dissipel Jakobus het geskryf: “Ons almal struikel dikwels” (Jakobus 3:2). Dit sal moontlik met ons die geval wees wanneer ons uiterstes probeer vermy. Wat kan ons help om gebalanseerd te bly? Wel, ons moet besef wat ons sterk punte en swakhede is. Dit is nie maklik om so objektief te wees nie. Ons beweeg moontlik in die rigting van ’n uiterste sonder dat ons daarvan bewus is. Dit is dus wys om na aan ander ryp Christene te bly en na gebalanseerde raad te luister (Galasiërs 6:1). Ons kan ’n vertroude vriend of ’n ervare ouer man in die gemeente sulke raad vra. Tesame met die Skrif kan sulke Bybelraad soos “’n spieël” wees waarin ons kan sien hoe ons werklik voor Jehovah lyk.—Jakobus 1:22-25.

Gelukkig hoef ’n lewe van onvermybare uiterstes nie ons lot te wees nie. Met vasbeslotenheid en Jehovah se seën, kan ons gebalanseerde en derhalwe gelukkige mense wees. Dit kan ons verhouding met ons Christenbroers en -susters verbeter, en ons sal selfs beter voorbeelde kan word vir diegene vir wie ons getuig. Bowenal sal ons ons gebalanseerde en liefdevolle God, Jehovah, navolg.—Efesiërs 5:1.

[Foto-erkenning op bladsy 28]

©Greg Epperson/age fotostock