Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Ewige awe van die Skepper

’n Ewige awe van die Skepper

’n Ewige awe van die Skepper

VIND jy dit nie verbasend dat die faktore wat volgens wetenskaplikes noodsaaklik is vir lewe op enige planeet, óf gemeld óf regstreeks geïmpliseer word in die eerste hoofstuk van die Bybel nie? Wat is hierdie faktore?

Lewe kan slegs floreer as daar ’n groot hoeveelheid water is, soos in Genesis 1:2 genoem word. Die temperatuur moet reg wees sodat water op die planeet vloeibaar kan bly. Dit vereis dat die planeet die regte afstand van sy son af moet wees. Die Genesisverslag vestig herhaaldelik die aandag op die son en sy uitwerking op die aarde.

’n Planeet moet ’n atmosfeer met ’n spesifieke mengsel van gasse hê om vir mense bewoonbaar te wees. Hierdie belangrike aspek word in Genesis 1:6-8 genoem. Die groei van plante, wat in Genesis 1:11, 12 beskryf word, dra by tot die ryk voorraad suurstof wat beskikbaar is. ’n Planeet waarop ’n groot verskeidenheid dierelewe kan floreer, moet vastelande met droë, vrugbare grond hê, soos in Genesis 1:9-12 beskryf word. Laastens, om matige weerstoestande te geniet, moet ’n planeet die regte helling hê en in daardie posisie gehou word—’n funksie wat in die geval van die aarde gedeeltelik deur die aantrekkingskrag van ons maan verrig word. Die bestaan van hierdie satelliet en party van die voordele daarvan word in Genesis 1:14, 16 beklemtoon.

Wat het die eertydse skrywer Moses in staat gestel om te wys op die bogenoemde faktore sonder die hulp van die moderne wetenskap? Was Moses eenvoudig sy tyd vooruit in sy begrip van die belangrikheid daarvan? Die verklaring hiervoor is dat hy geïnspireer is deur die Skepper van die hemel en die aarde. Dit is opmerkenswaardig in die lig van die wetenskaplike akkuraatheid van die Genesisverslag.

Die Bybel bevestig dat die wonders wat ons in die heelal om ons waarneem, ’n doel het. “Wat die hemel betref, aan Jehovah behoort die hemel”, sê Psalm 115:16, “maar die aarde het hy aan die mensekinders gegee.” ’n Ander psalm sê: “Hy het die aarde op sy vaste plekke gegrondves; tot onbepaalde tyd of tot in ewigheid sal niks dit laat wankel nie” (Psalm 104:5). As die heelal en ons pragtige planeet deur ’n Skepper ontwerp en gemaak is, is dit sekerlik nie te moeilik om te glo dat hy ook die vermoë het om dit in stand te hou nie. Dit beteken dat jy met vertroue kan uitsien na die vervulling van die wonderlike belofte: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon” (Psalm 37:29). Wees verseker dat God die aarde “nie verniet geskep het nie”, maar “dit gevorm het om [vir ewig] bewoon te word” deur waarderende mense wat erkenning gee aan sy werke.—Jesaja 45:18.

Volgens die Skrif het Jesus aarde toe gekom om ons te leer omtrent God en Sy voorneme om die ewige lewe aan gehoorsame mense te gee (Johannes 3:16). Ons is daarvan oortuig dat God binnekort “die verderwers van die aarde [sal] verderf”, terwyl vredeliewende mense uit alle nasies wat sy voorsiening vir redding aanneem, behoue sal bly (Openbaring 7:9, 14; 11:18). Hoe wonderlik sal die lewe tog wees wanneer mense tot in alle ewigheid die wonders van God se skepping sal ontdek en geniet!—Prediker 3:11; Romeine 8:21.

[Foto-erkenning op bladsy 8]

NASA photo