Ek wag op ’n Koninkryk wat “geen deel van hierdie wêreld” is nie
Lewensverhaal
Ek wag op ’n Koninkryk wat “geen deel van hierdie wêreld” is nie
Soos vertel deur Nikolai Goetsoeliak
Ek het my 41 dae en nagte in die middel van ’n gevangenisoproer bevind. Skielik het kanonvuur my laat wakker skrik. Tenks en soldate het die kamp binnegestorm en die gevangenes aangeval. My lewe was in die weegskaal.
HOE het ek in hierdie situasie beland? Laat ek verduidelik. Hierdie voorval het in 1954 plaasgevind. Ek was destyds 30 jaar oud. Soos baie van Jehovah se Getuies wat onder die Sowjetbewind gelewe het, is ek opgesluit weens my neutrale standpunt oor politieke kwessies en omdat ek ander van die Koninkryk van God vertel het. Die groep Getuies saam met wie ek opgesluit is, het uit 46 mans en 34 vroue bestaan. Ons was in ’n strafkamp naby die dorpie Kengir in die sentrale deel van Kazakstan. Daar het ons saam met duisende ander gevangenes gelewe.
Josef Stalin, leier van die Sowjetunie, het die vorige jaar gesterf. Baie gevangenes het gehoop dat die nuwe regime in Moskou na hulle klagtes oor die haglike toestande in die gevangenis sou luister. Die gevangenes se misnoeë het uiteindelik ontaard in ’n openlike opstand in die kamp. Gedurende die daaropvolgende konfrontasie moes ons as Getuies ons standpunt aan die woedende rebelle asook aan die militêre wagte verduidelik. Dit het geloof in God geverg om daardie neutrale standpunt in te neem.
Opstand!
Die opstand in die gevangeniskamp het op 16 Mei uitgebreek. Twee dae later het meer as 3 200 gevangenes geweier om te gaan werk terwyl hulle beter toestande in die kamp en toegewings vir politieke gevangenes geëis het. Dinge het vinnig gebeur. Eers het die rebelle die wagte gedwing om die kamp te verlaat. Toe het hulle gate in die heining om die gevangenis gemaak. Daarna het hulle die mure tussen die mans- en vroueafdelings afgebreek en sogenaamde gesinsbarakke geskep. In die onstuimige dae daarna het van die gevangenes selfs getrou, en die huwelike is deur priesters voltrek wat ook in die gevangenis was. In die drie kampafdelings waar die opstand plaasgevind het, het die meeste van die 14 000 gevangenes aan die opstand deelgeneem.
Die rebelle het ’n kampkomitee gestig om met die militêre owerheid te onderhandel. Maar kort voor lank het die komiteelede onder mekaar begin argumenteer, en beheer oor die kamp het in die hande van die mees fanatiese individue geval. Die atmosfeer het al hoe aggressiewer geword. Die rebelleleiers het ’n veiligheids-, ’n propaganda- en ’n militêre afdeling georganiseer om “orde” te handhaaf. Die leiers het luidsprekers gebruik wat gemonteer was op pale oral in die kamp, om vurige boodskappe uit te saai wat die gees van rebellie op kookpunt gehou het. Die rebelle het gekeer dat ander ontsnap, diegene wat hulle teëgestaan het, gestraf en verklaar dat hulle enigiemand sal doodmaak wat nie hulle goedkeuring wegdra nie. Daar was gerugte dat hulle reeds sommige gevangenes tereggestel het.
Aangesien die rebelle ’n militêre aanval verwag het, het hulle sorgvuldige voorbereidings getref om hulleself te verdedig. Om te verseker dat soveel gevangenes moontlik toegerus sou wees om die kamp te verdedig, het die leiers alle gevangenes beveel om hulleself te bewapen. Om dit te doen, het gevangenes ystertralies voor die vensters uitgebreek en die metaal gebruik om messe en ander wapens te maak. Hulle het selfs vuurwapens en plofstof in die hande gekry.
Druk om deel te neem
Op daardie stadium het twee rebelle my genader. Een van hulle het ’n skerpgemaakte mes na my toe uitgehou. “Hier!” het hy beveel. “Jy gaan dit nodig kry vir beskerming.” Ek het Jehovah in ’n skietgebed gevra om my te help om kalm te bly. Ek het geantwoord: “Ek is ’n Christen, een van Jehovah se Getuies. Ek en die ander Getuies is hier opgesluit omdat ons juis nie teen mense veg nie, maar teen onsigbare geesmagte. Ons wapens teen hulle is ons geloof en ons hoop in God se Koninkryk.”—Efesiërs 6:12.
Tot my verbasing het die man geknik dat hy
verstaan. Die ander man het my egter hard geslaan. Toe is hulle daar weg. Die rebelle het van barak tot barak gegaan en die Getuies probeer dwing om aan die opstand deel te neem. Maar al ons Christenbroers en -susters het geweier.Die neutrale posisie van Jehovah se Getuies is by ’n vergadering van die rebellekomitee bespreek. “Lede van alle gelowe—dié van die Pinksterkerke, Adventiste, Baptiste en al die ander—neem aan die opstand deel. Slegs Jehovah se Getuies weier”, het hulle gesê. “Wat gaan ons met hulle doen?” Iemand het voorgestel dat hulle een van die Getuies in die gevangenisoond gooi om die res van ons die skrik op die lyf te jaag. Maar ’n voormalige militêre offisier, ’n gevangene wat deur die ander gerespekteer is, het opgestaan en gesê: “Dis nie verstandig nie. Ons moet hulle almal in een barak sit, teen die heining, langs die hek. Dan, as die leër ons met tenks aanval, sal die Getuies eerste in die slag bly. En ons sal nie verantwoordelik wees vir hulle dood nie.” Die ander het sy voorstel aanvaar.
In ’n gevaarlike posisie
Kort daarna het gevangenes in die kamp rondgeloop en geskreeu: “Jehovah se Getuies, kom uit!” Toe het hulle al 80 van ons na ’n barak naby die heining van die kamp gejaag. Hulle het die beddens uit die barak gesleep om meer plek te maak en ons beveel om in te gaan. Daardie barak het ons gevangenis binne die gevangenis geword.
Ter wille van ’n bietjie privaatheid het die Christensusters in ons groep lakens aanmekaargewerk, en ons het dit gebruik om die barak in twee te verdeel—een kant vir die mans en die ander kant vir die vroue. (’n Getuie in Rusland het later ’n tekening van hierdie barak gemaak, wat hieronder verskyn.) Terwyl ons in daardie beknopte barak gebly het, het ons dikwels saam gebid en Jehovah vurig gesmeek om ons wysheid en “krag wat bo die normale is”, te gee.—2 Korintiërs 4:7.
Gedurende daardie hele tyd het ons ons in ’n gevaarlike posisie bevind—tussen die rebelle en die Sowjetleër. Niemand het geweet wat
enigeen van die twee kante volgende sou doen nie. “Moenie voortdurend probeer raai nie”, het ’n ouer, getroue Christenbroer gemaan. “Jehovah sal ons nie in die steek laat nie.”Ons dierbare Christensusters—jonk sowel as oud—het uitsonderlike volharding geopenbaar. Een was ongeveer 80 jaar oud en het ekstra hulp nodig gehad. Ander was siek en moes mediese behandeling kry. Gedurende daardie hele tyd moes die deure van die barak oop bly sodat die rebelle ons kon dophou. Snags het gewapende gevangenes by die barak ingekom. Soms het ons hulle hoor sê: “Die Koninkryk van God slaap.” Gedurende die dag, wanneer hulle ons toegelaat het om na die eetsaal toe te gaan, het ons altyd bymekaar gebly en gebid dat Jehovah ons teen gewelddadige manne sou beskerm.
In die barak het ons mekaar geestelik probeer ondersteun. Dikwels het ’n broer byvoorbeeld ’n verhaal uit die Bybel vertel, net hard genoeg vir ons om te hoor. Dan het hy die verhaal op ons omstandighede toegepas. Een bejaarde broer het veral daarvan gehou om oor Gideon se leër te praat. “In Jehovah se naam het 300 manne met musiekinstrumente in hulle hande teen 135 000 gewapende soldate geveg”, het hy ons herinner. “Al 300 van hulle het ongedeerd teruggekeer” (Rigters 7:16, 22; 8:10). Hierdie en ander Bybelvoorbeelde het ons geestelike krag gegee. Ek het maar kort tevore ’n Getuie geword, maar die sterk geloof van meer ervare broers en susters het my grootliks aangemoedig. Ek het gevoel dat Jehovah waarlik met ons is.
Die geveg breek uit
Weke het verbygegaan, en spanning in die kamp het toegeneem. Onderhandelings tussen die rebelle en die owerheid het intenser geword. Die rebelleleiers het daarop aangedring dat die sentrale regering in Moskou ’n verteenwoordiger stuur met wie hulle kon onderhandel. Die owerheid het geëis dat die rebelle oorgee, hulle wapens neerlê en terugkeer werk toe. Albei kante het geweier om toegewings te maak. Teen daardie tyd was die kamp omsingel deur militêre magte wat gereed was om dit te bestorm sodra die bevel gegee word. Die rebelle was ook gereed om te veg en het verskansings opgerig en wapens opgegaar. Almal het verwag dat die finale konfrontasie tussen die leër en die gevangenes enige oomblik sou plaasvind.
Op 26 Junie het oorverdowende kanonvuur ons laat wakker skrik. Tenks het die heining platgetrap en die kamp binnegeval. Hulle is gevolg deur stormtroepe wat masjiengewere afgevuur het. Gevangenes—mans en vroue—het na die aankomende tenks toe gehardloop terwyl hulle “Hoera!” geskreeu en dit bestook het met klippe, tuisgemaakte bomme en enigiets anders wat hulle in die hande kon kry. ’n Hewige geveg het gevolg, en die Getuies was in die middel daarvan vasgekeer. Hoe sou Jehovah ons gebede om hulp verhoor?
Skielik het soldate by ons barak ingestorm. “Kom uit, julle heiliges!” het hulle geskreeu. “Maak gou, sorg dat julle aan die ander kant van die heining kom!” Die bevelvoerende offisier het die soldate beveel om ons nie te skiet nie, maar by ons te bly en ons te beskerm. Terwyl die geveg gewoed het, het ons op die grasvlakte buite die grens van die kamp gesit. Ons het vier uur lank geluister na ontploffings, skote, gille en kreune vanuit die kamp. Toe was alles stil. Later, in die oggendlig, het ons gesien hoe soldate die dooies uit die kamp dra. Ons het gehoor dat honderde gewond is of gesterf het.
Later daardie dag het ’n offisier wat ek geken het, na ons toe gekom. “En toe, Nikolai”, het hy trots gevra, “wie het julle gered? Was dit ons of was dit Jehovah?” Ons het hom opreg bedank dat hulle ons lewens gered het en bygevoeg: “Ons glo dat ons almagtige God, Jehovah, julle beweeg het om ons lewens te spaar, soos hy in Bybeltye ander beweeg het om sy knegte te verlos.”—Esra 1:1, 2.
Dieselfde offisier het ook verduidelik hoe die soldate geweet het wie ons is en waar ons is. Hy het gesê dat die leër, gedurende een van die onderhandelingsessies tussen hulle en die rebelle, die rebelle daarvan beskuldig het dat hulle gevangenes wat hulle nie ondersteun nie, doodmaak. Die rebelle het ter verdediging gesê dat Jehovah se Getuies nie aan die opstand deelneem nie, maar nie doodgemaak is nie. Al die Getuies is eerder in een barak opgesluit as straf. Die militêre offisiere het daardie stelling onthou.
Ons het vasgestaan vir die Koninkryk
Die gevangenisoproer wat ons beleef het, word deur die bekende Russiese skrywer Aleksandr Solzjenitsin gemeld in sy boek The Gulag Archipelago. Aangaande daardie gebeurtenis skryf hy dat die rebellie ontstaan het omdat, soos hy gesê het, “ons natuurlik vryheid wil hê, . . . maar wie kan dit vir ons gee?” As Getuies van Jehovah in dieselfde gevangeniskamp het ons ook na vryheid gesmag. Dit was egter nie net na vryheid van die gevangenis nie, maar die vryheid wat slegs God se Koninkryk kan bied. Terwyl ons in die gevangenis was, het ons geweet dat ons krag van God nodig het om vas te staan vir sy Koninkryk. En Jehovah het alles voorsien wat ons nodig gehad het. Hy het ons die oorwinning gegee sonder dat dit nodig was om messe of handgranate te gebruik.—2 Korintiërs 10:3.
“My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie”, het Jesus Christus vir Pilatus gesê. “As my koninkryk ’n deel van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het” (Johannes 18:36). Daarom het ons, as Christus se volgelinge, nie aan enige politieke stryd deelgeneem nie. Ons was bly dat ons lojaliteit aan God se Koninkryk gedurende en ná die opstand vir ander duidelik was. Aangaande ons gedrag gedurende daardie tyd het Solzjenitsin geskryf: “Jehovah se Getuies het die vrymoedigheid gehad om streng by hulle reëls te bly en het geweier om versterkings te bou of wag te staan.”
Meer as 50 jaar het verloop sedert daardie onstuimige dae. Maar ek dink dikwels met dankbaarheid terug aan daardie tye, omdat ek blywende lesse geleer het, soos om op Jehovah te wag en ten volle op sy magtige arm te vertrou. Ja, soos soveel ander dierbare Getuies in die voormalige Sowjetunie het ek ondervind dat Jehovah waarlik vryheid, beskerming en verlossing gee aan diegene wat wag op ’n Koninkryk wat “geen deel van hierdie wêreld” is nie.
[Prente op bladsy 8, 9]
Die strafkamp in Kazakstan waar ons opgesluit was
[Prent op bladsy 10]
Tekening van die Getuies se barak, die vroue se deel
[Prent op bladsy 11]
Saam met Christenbroers toe ons vrygelaat is