Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Geniet die lewe in die vrees van Jehovah

Geniet die lewe in die vrees van Jehovah

Geniet die lewe in die vrees van Jehovah

“Vrees Jehovah, o sy heiliges, want dié wat hom vrees, het geen gebrek nie.”—PSALM 34:9.

1, 2. (a) Watter verskillende beskouings het die Christendom van die vrees van God? (b) Watter vrae sal ons nou ondersoek?

 LERAARS van die Christendom wat die vrees van God verkondig, doen dit dikwels op grond van die onskriftuurlike lering dat God sondaars vir ewig in ’n helse vuur pynig. Hierdie leerstelling is in stryd met wat die Bybel oor Jehovah as ’n God van liefde en geregtigheid leer (Genesis 3:19; Deuteronomium 32:4; Romeine 6:23; 1 Johannes 4:8). Ander predikers van die Christendom volg die teenoorgestelde benadering. Hulle meld nooit die vrees van God nie. Hulle leer eerder dat God toegeeflik is en byna enigiemand aanvaar, ongeag watter soort lewe hy lei. Ook dít is nie wat die Bybel leer nie.—Galasiërs 5:19-21.

2 Trouens, die Bybel spoor ons aan om God te vrees (Openbaring 14:7). Hierdie waarheid laat vrae ontstaan. Waarom wil ’n liefdevolle God hê dat ons hom moet vrees? Watter soort vrees vereis God? Hoe kan dit ons tot voordeel strek om God te vrees? Ons sal hierdie vrae ondersoek terwyl ons ons bespreking van die 34ste Psalm voortsit.

Waarom God gevrees moet word

3. (a) Hoe beskou jy die bevel om God te vrees? (b) Waarom is diegene wat Jehovah vrees, gelukkig?

3 As die Skepper en Soewereine Heerser van die heelal verdien Jehovah om gevrees te word (1 Petrus 2:17). Maar hierdie vrees is nie ’n sieklike angs vir ’n wrede god nie. Dit is ’n eerbiedige ontsag vir wie Jehovah is. Dit is ook die vrees om hom te mishaag. Godvrugtige vrees is edel en verheffend, nie neerdrukkend of angswekkend nie. Jehovah, “die gelukkige God”, wil hê dat sy menseskepsele die lewe moet geniet (1 Timoteus 1:11). Maar as ons dit wil doen, moet ons in ooreenstemming met God se vereistes lewe. Vir baie beteken dit dat hulle hulle lewenswyse moet verander. Almal wat die nodige verandering aanbring, ondervind die waarheid van die psalmis Dawid se woorde: “Smaak en sien dat Jehovah goed is; gelukkig is die man wat sy toevlug tot hom neem. Vrees Jehovah, o sy heiliges, want dié wat hom vrees, het geen gebrek nie” (Psalm 34:8, 9). Omdat hulle ’n goeie verhouding met God het, het diegene wat Jehovah vrees, geen gebrek aan enigiets van blywende waarde nie.

4. Watter versekering het beide Dawid en Jesus gegee?

4 Let daarop dat Dawid waardigheid aan sy manne verleen het deur hulle “heiliges” te noem, na aanleiding van hoe dié woord in sy dag gebruik is. Hulle was deel van God se heilige nasie. Hulle het ook hulle lewe gewaag om Dawid te volg. Hoewel hulle vir koning Saul gevlug het, was Dawid vol vertroue dat Jehovah sou voortgaan om in hulle basiese behoeftes te voorsien. Dawid het geskryf: “Die jong maanhaarleeus het min gehad en honger gely; maar wat dié betref wat Jehovah soek, dit sal hulle aan niks goeds ontbreek nie” (Psalm 34:10). Jesus het ’n soortgelyke versekering aan sy volgelinge gegee.—Matteus 6:33.

5. (a) Watter agtergrond het baie van Jesus se volgelinge gehad? (b) Watter raad het Jesus oor vrees gegee?

5 Baie van diegene wat na Jesus geluister het, was uit die minderbevoorregte, geringe klas van die Jode. Jesus het dus “vir hulle innig jammer gevoel, want hulle was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder” (Matteus 9:36). Sou sulke geringes die moed hê om Jesus te volg? Om dit te kon doen, sou hulle vrees vir Jehovah, nie vir mense nie, moes aankweek. Jesus het gesê: “Moenie dié vrees wat die liggaam doodmaak en daarna niks meer kan doen nie. Maar ek sal vir julle aandui wie julle moet vrees: Vrees hom wat, nadat hy doodgemaak het, die gesag het om in Gehenna te werp. Ja, ek sê vir julle, vrees Hom. Vyf mossies word vir twee muntstukke van geringe waarde verkoop, nie waar nie? Tog word nie een van hulle voor God vergeet nie. Maar selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie vrees nie; julle is meer werd as baie mossies.”—Lukas 12:4-7.

6. (a) Watter woorde van Jesus versterk Christene? (b) Waarom is Jesus die beste voorbeeld van iemand wat godvrugtige vrees aan die dag lê?

6 Wanneer diegene wat Jehovah vrees, deur hulle vyande aan druk onderwerp word om op te hou om God te dien, dink hulle moontlik aan Jesus se raad: “Elkeen wat voor die mense eenheid met my bely, met hom sal die Seun van die mens ook eenheid bely voor die engele van God. Maar hy wat my voor die mense verloën, sal voor die engele van God verloën word” (Lukas 12:8, 9). Hierdie woorde versterk Christene, veral in lande waar daar ’n verbod op ware aanbidding is. Hulle gaan voort om Jehovah op omsigtige wyse te loof by Christelike vergaderinge en in hulle openbare bediening (Handelinge 5:29). Jesus is die beste voorbeeld van iemand wat “godvrugtige vrees” aan die dag lê (Hebreërs 5:7). Die profetiese Woord het aangaande hom voorspel: “Op hom sal die gees van Jehovah rus, die gees . . . van die vrees van Jehovah; en hy sal vreugde vind in die vrees van Jehovah” (Jesaja 11:2, 3). Jesus is dus hoogs bekwaam om ons die voordele van godvrugtige vrees te leer.

7. (a) Hoe reageer Christene in werklikheid op ’n uitnodiging soortgelyk aan een wat Dawid gerig het? (b) Hoe kan ouers Dawid se goeie voorbeeld volg?

7 Almal wat Jesus se voorbeeld volg en wat aan sy leringe gehoorsaam is, reageer in werklikheid op ’n uitnodiging soortgelyk aan een wat Dawid gerig het: “Kom, o seuns, luister na my; die vrees van Jehovah sal ek julle leer” (Psalm 34:11). Dit was vir Dawid natuurlik om sy manne as “seuns” aan te spreek, want hulle het na hom opgesien as hulle leier. Wat Dawid betref, hy het geestelike hulp aan sy volgelinge verleen sodat hulle verenig kon wees en God se guns kon geniet. Wat ’n goeie voorbeeld is dit tog vir Christenouers! Jehovah het hulle gesag met betrekking tot hulle seuns en dogters gegee om “aan [te hou] om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Efesiërs 6:4). Deur elke dag geestelike sake met hulle kinders te bespreek en deur ’n gereelde Bybelstudie met hulle te hou, help ouers hulle kinders om die lewe in die vrees van Jehovah te geniet.—Deuteronomium 6:6, 7.

Hoe om godvrugtige vrees aan die dag te lê

8, 9. (a) Wat maak ’n godvresende lewenswyse so aantreklik? (b) Wat is daarby betrokke om ons tong te bewaar?

8 Soos vroeër genoem is, beroof dit ons nie van vreugde as ons Jehovah vrees nie. Dawid het gevra: “Wie is die man wat behae skep in die lewe, wat genoeg dae liefhet om die goeie te sien?” (Psalm 34:12). Dit is duidelik dat die vrees van Jehovah die sleutel is om ’n lang lewe te geniet en die goeie te sien. Dit is egter maklik om sê: “Ek vrees God.” Maar dit is heeltemal ’n ander saak om dit deur ons gedrag te bewys. Dawid gaan dus voort om te verduidelik hoe ons godvrugtige vrees kan toon.

9 “Bewaar jou tong van wat sleg is, en jou lippe daarvan om bedrog te spreek” (Psalm 34:13). Die apostel Petrus is geïnspireer om hierdie deel van Psalm 34 aan te haal nadat hy Christene vermaan het om mekaar met broederlike geneentheid te behandel (1 Petrus 3:8-12). Om ons tong te bewaar van wat sleg is, beteken dat ons nie skadelike skinderpraatjies sal versprei nie. Ons sal eerder altyd probeer om opbouend te wees wanneer ons met ander gesels. Ook sal ons probeer om moedig te wees en die waarheid te praat.—Efesiërs 4:25, 29, 31; Jakobus 5:16.

10. (a) Verduidelik wat dit beteken om af te wyk van wat sleg is. (b) Wat is daarby betrokke om te doen wat goed is?

10 “Wyk af van wat sleg is en doen wat goed is; soek vrede en streef dit na” (Psalm 34:14). Ons vermy dinge wat God veroordeel, soos geslagsonsedelikheid, pornografie, diefstal, spiritisme, geweld, dronkenskap en dwelmmisbruik. Ons verwerp ook vermaak wat sulke walglike dinge bevat (Efesiërs 5:10-12). Ons gebruik eerder ons tyd om te doen wat goed is. Die allerbeste manier waarop ons kan doen wat goed is, is om gereeld deel te neem aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk, waardeur ons ander help om redding te verkry (Matteus 24:14; 28:19, 20). Om goed te doen, sluit ook in dat ons vir Christelike vergaderinge voorberei en dit bywoon, bydraes vir die wêreldwye werk gee, na ons Koninkryksaal omsien en oor die behoeftes van minderbevoorregte Christene besorg is.

11. (a) Hoe het Dawid self die dinge toegepas wat hy oor vrede gesê het? (b) Wat kan jy doen om ‘vrede na te streef’ in die gemeente?

11 Dawid het ’n goeie voorbeeld daarin gestel om vrede na te streef. Hy het twee keer die geleentheid gehad om Saul dood te maak. By al twee geleenthede het hy hom van geweld weerhou en later eerbiedig met die koning gepraat, in die hoop om die vrede te herstel (1 Samuel 24:8-11; 26:17-20). Wat kan vandag gedoen word wanneer ’n situasie die vrede van die gemeente bedreig? Ons moet ‘vrede soek en dit nastreef’. As ons dus agterkom dat die verhouding tussen ons en ’n medegelowige gespanne is, volg ons Jesus se raad: “Maak eers vrede met jou broer.” Daarna gaan ons voort met ander aspekte van ware aanbidding.—Matteus 5:23, 24; Efesiërs 4:26.

Die vrees van God bring ryk belonings mee

12, 13. (a) Watter huidige seëninge geniet diegene wat God vrees? (b) Watter wonderlike beloning sal getroue aanbidders binnekort geniet?

12 “Die oë van Jehovah is op die regverdiges, en sy ore is tot hulle hulpgeroep” (Psalm 34:15). Die verslag van God se handelinge met Dawid bewys dat hierdie woorde waar is. Vandag ervaar ons diepe vreugde en gemoedsrus omdat ons weet dat Jehovah oor ons waak. Ons is vol vertroue dat hy altyd aan ons sal voorsien wat ons nodig het, selfs wanneer ons onder groot druk verkeer. Ons weet dat alle ware aanbidders binnekort te staan sal kom voor die voorspelde aanval van Gog van Magog en die “vreesinboesemende dag van Jehovah” (Joël 2:11, 31; Esegiël 38:14-18, 21-23). Watter situasie ons ook al gedurende daardie tyd die hoof moet bied, Dawid se woorde sal in ons geval van toepassing wees: “Hulle het geroep, en Jehovah het gehoor, en uit al hulle benoudhede het hy hulle verlos.”Psalm 34:17.

13 Hoe opwindend sal dit tog wees om dan te sien hoe Jehovah sy groot naam verheerlik! Ons harte sal gevul wees met groter ontsag en eerbied as ooit tevore, en alle teenstanders sal tot ’n vernederende einde kom. “Die aangesig van Jehovah is teen dié wat doen wat sleg is, om die vermelding van hulle van die aarde af te sny” (Psalm 34:16). Wat ’n ryk beloning sal dit tog wees om daardie wonderlike verlossing tot in God se regverdige nuwe wêreld te ondervind!

Beloftes wat ons help om te volhard

14. Wat sal ons help om ten spyte van rampspoed te volhard?

14 Intussen verg dit volharding om in ’n verdorwe en vyandige wêreld aan Jehovah gehoorsaam te bly. Godvrugtige vrees help ons grootliks om gehoorsaamheid aan te kweek. Weens die kritieke tye waarin ons lewe, ervaar party van Jehovah se knegte verskriklike ontberinge wat as ’t ware hulle hart breek en hulle gees verbrysel. Maar as hulle op Jehovah vertrou, kan hulle verseker wees dat hy hulle sal help om te volhard. Dawid se woorde gee ware vertroosting: “Jehovah is naby die gebrokenes van hart; en die verbryseldes van gees red hy” (Psalm 34:18). Dawid het verder ook dié bemoediging gegee: “Baie is die rampspoede van die regverdige, maar uit hulle almal verlos Jehovah hom” (Psalm 34:19). Ongeag hoeveel rampspoed ons tref, Jehovah is sterk genoeg om ons te verlos.

15, 16. (a) Van watter rampspoed het Dawid gehoor kort nadat hy Psalm 34 geskryf het? (b) Wat sal ons help om beproewinge te verduur?

15 Kort nadat Dawid Psalm 34 geskryf het, het hy gehoor van die rampspoed wat die inwoners van Nob getref het toe Saul hulle en die meeste van die priesters vermoor het. Hoe moes dit hom tog ontstel het om te dink dat dit sý besoek aan Nob was wat Saul se toorn verwek het! (1 Samuel 22:13, 18-21). Dawid het hom ongetwyfeld tot Jehovah gewend om hulp, en hy het sekerlik vertroosting geput uit die vooruitsig op ’n toekomstige opstanding van “die regverdiges”.—Handelinge 24:15.

16 Vandag word ons ook deur die opstandingshoop versterk. Ons weet dat niks wat ons vyande doen, ons blywende skade kan berokken nie (Matteus 10:28). Dawid het ’n soortgelyke oortuiging met hierdie woorde uitgespreek: “Hy bewaar al [die regverdige se] bene; nie een daarvan is gebreek nie” (Psalm 34:20). Hierdie vers het ’n letterlike vervulling in Jesus se geval gehad. Hoewel Jesus wreed tereggestel is, is nie een van sy bene “verbrysel” nie (Johannes 19:36). By uitbreiding verseker Psalm 34:20 ons dat gesalfde Christene en hulle metgeselle, die “ander skape”, nooit permanent benadeel sal word nie, ongeag watter beproewinge oor hulle kom. Hulle bene sal in figuurlike sin nooit verbrysel word nie.—Johannes 10:16.

17. Watter rampspoed wag op onberouvolle haters van Jehovah se volk?

17 Vir die goddeloses is die situasie anders. Hulle sal binnekort die slegte gevolge maai van wat hulle gesaai het. “Rampspoed sal die goddelose doodmaak; en dié wat die regverdige haat, sal skuldig geag word” (Psalm 34:21). Almal wat aanhou om God se volk te vervolg, sal deur die ergste moontlike rampspoed getref word. By die openbaring van Jesus Christus sal hulle “as regterlike straf ewige vernietiging ondergaan”.—2 Tessalonisense 1:9.

18. In watter sin is die “groot menigte” reeds verlos, en wat sal hulle in die toekoms ondervind?

18 Dawid se psalm sluit met hierdie gerusstellende woorde af: “Jehovah verlos die siel van sy knegte; en nie een van dié wat hulle toevlug tot hom neem, sal skuldig geag word nie” (Psalm 34:22). Teen die einde van sy heerskappy van 40 jaar het koning Dawid gesê: “[God het] my siel uit alle benoudheid verlos” (1 Konings 1:29). Soos Dawid sal diegene wat Jehovah vrees, binnekort kan terugkyk en hulle daaroor verheug dat hulle van enige skuld weens sonde verlos is en van al hulle beproewinge bevry is. Die meeste gesalfde Christene het reeds hulle hemelse beloning ontvang. “’n Groot menigte” uit alle nasies sluit nou by die oorblywendes van Jesus se broers aan om God te dien en geniet gevolglik ’n rein posisie voor Jehovah. Dit is omdat hulle geloof beoefen in die loskoopkrag van Jesus se vergote bloed. Gedurende die komende Duisendjarige Heerskappy van Christus sal die volle voordele van die losprysoffer ten behoewe van hulle aangewend word, wat hulle tot menslike volmaaktheid sal verhef.—Openbaring 7:9, 14, 17; 21:3-5.

19. Wat is lede van die “groot menigte” vasbeslote om te doen?

19 Waarom sal al hierdie seëninge op die “groot menigte” aanbidders van God uitgestort word? Omdat hulle vasbeslote is om voort te gaan om Jehovah te vrees en hom met diepe ontsag en eerbiedige gehoorsaamheid te dien. Ja, die vrees van Jehovah maak die lewe nou genotvol en help ons om “’n stewige houvas op die werklike lewe [te] kry”—die ewige lewe in God se nuwe wêreld.—1 Timoteus 6:12, 18, 19; Openbaring 15:3, 4.

Onthou jy?

• Waarom moet ons God vrees, en wat beteken dit om hom te vrees?

• Watter uitwerking moet godvrugtige vrees op ons gedrag hê?

• Watter belonings ontvang ons as ons godvresend is?

• Watter beloftes help ons om te volhard?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 26]

Diegene wat Jehovah vrees, gaan omsigtig te werk wanneer daar ’n verbod op hulle werk is

[Prent op bladsy 28]

Die allerbeste manier waarop ons aan ons naaste kan doen wat goed is, is om hulle van die goeie nuus van die Koninkryk te vertel