Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om ware aanbidding te identifiseer

Hoe om ware aanbidding te identifiseer

Hoe om ware aanbidding te identifiseer

DIE meeste godsdienste beweer dat hulle leringe van God af kom. Daarom is dit verstandig van ons om ag te slaan op die woorde van Jesus se apostel Johannes, wat geskryf het: “Geliefdes, moenie elke geïnspireerde uiting glo nie, maar stel die geïnspireerde uitinge op die proef om te sien of hulle hulle oorsprong by God het, want talle valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Johannes 4:1). Hoe kan ons iets op die proef stel om te sien of dit van God af kom?

Alles wat van God af kom, weerspieël sy persoonlikheid, veral sy oorheersende eienskap, liefde. Byvoorbeeld, ons reuksin, wat ons in staat stel om die geur van speserye, blomme of vars gebakte brood te geniet, is ’n blyk van God se liefde. Ons vermoë om ’n sonsondergang, ’n skoenlapper of die glimlag van ’n kindjie te sien, weerspieël God se liefde vir ons. Dieselfde geld vir ons vermoë om pragtige musiek, die gefluit van ’n voël of die stem van ’n geliefde te hoor. Selfs ons menslike natuur, al is dit onvolmaak, weerspieël God se liefde. Daarom vind ons dikwels uit hoe waar Jesus se woorde is: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Ons geniet dit om liefde te betoon omdat ons “na God se beeld” gemaak is (Genesis 1:27). Hoewel Jehovah baie ander eienskappe het, is liefde die uitsonderlikste aspek van sy persoonlikheid.

Geskrifte wat van God af kom, moet sy liefde weerspieël. Die wêreld se godsdienste het baie antieke geskrifte. In watter mate weerspieël hierdie geskrifte God se liefde?

Die meeste antieke godsdienstekste sê in werklikheid min oor hoe God ons liefhet of hoe ons God kan liefhê. Miljoene mense kry dus geen antwoord nie wanneer hulle vra: “Waarom duur lyding en boosheid voort terwyl ons bewyse van God se liefde in die skepping sien?” Die Bybel daarenteen is die enigste antieke godsdiensgeskrif wat God se liefde ten volle verduidelik. Dit leer ons ook hoe om liefde te beoefen.

Die boek oor liefde

God se Woord, die Bybel, openbaar Jehovah as “die God van liefde” (2 Korintiërs 13:11). Die Bybel beskryf hoe liefde Jehovah beweeg het om aan die eerste mense lewe te gee wat vry van siekte en die dood was. Maar opstand teen God se gesag het lyding vir die mensdom meegebring (Deuteronomium 32:4, 5; Romeine 5:12). Jehovah het stappe gedoen om te herstel wat verloor is. God se Woord sê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Die Heilige Skrif werp verdere lig op God se liefde wanneer dit beskryf hoe God ’n volmaakte regering in die hande van Jesus voorsien het om vrede vir gehoorsame mense te herstel.—Daniël 7:13, 14; 2 Petrus 3:13.

Die Bybel som die mens se verpligting in hierdie woorde op: “‘Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die grootste en eerste gebod. Die tweede, soortgelyk hieraan, is dit: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Aan hierdie twee gebooie hang die hele Wet” (Matteus 22:37-40). Die Bybel sê dat dit deur God geïnspireer is. Aangesien dit inderdaad sy persoonlikheid weerspieël, kan ons seker wees dat dit van “die God van liefde” kom.—2 Timoteus 3:16.

As ons hierdie een standaard toepas, kan ons identifiseer watter antieke geskrifte werklik van God af kom. Ware aanbidders word ook deur liefde geïdentifiseer, want hulle volg God na deur liefde te betoon.

Hoe om mense uit te ken wat God liefhet

Diegene wat God werklik liefhet, staan uit, veral noudat ons in die tyd lewe wat die Bybel “die laaste dae” noem. Al hoe meer mense is “liefhebbers van hulleself . . . , liefhebbers van geld, . . . liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God”.—2 Timoteus 3:1-4.

Hoe kan jy mense uitken wat God liefhet? Die Bybel sê: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar” (1 Johannes 5:3). Liefde vir God beweeg mense om die Bybel se sedelike standaarde te respekteer. God se Woord bevat byvoorbeeld wette oor geslagsomgang en die huwelik. Geslagsomgang word slegs in die huwelik toegelaat, en die huwelik moet permanent wees (Matteus 19:9; Hebreërs 13:4). Toe ’n vrou in Spanje, wat ’n teologiestudent was, ’n vergadering bygewoon het waar Jehovah se Getuies die Bybel se sedewette noukeurig bestudeer het, het sy gesê: “Ek het opgebou gevoel toe ek daar weggaan, nie net deur die leersame skriftuurlike toesprake nie, maar ook deur die eenheid wat tussen hierdie mense bestaan, hulle hoë sedelike waardes en hulle puik gedrag.”

Ware Christene word nie net aan hulle liefde vir God geïdentifiseer nie, maar word ook maklik uitgeken aan die manier waarop hulle liefde vir hulle naaste toon. Hulle belangrikste werk is om met ander te praat oor die mensdom se enigste hoop, God se Koninkryk (Matteus 24:14). Niks kan blywender voordele vir hulle naaste meebring as om hulle te help om kennis van God te verkry nie (Johannes 17:3). Ware Christene toon ook hulle liefde op ander maniere. Hulle verleen praktiese hulp aan diegene wat ly. Toe ’n rampspoedige aardbewing Italië getref het, het ’n plaaslike koerant byvoorbeeld berig dat Jehovah se Getuies “op ’n praktiese manier te werk gaan en mense help wat ly, ongeag aan watter godsdiens hulle behoort”.

Benewens liefde vir God en vir hulle naaste het ware Christene ook liefde vir mekaar. Jesus het gesê: “Ek gee julle ’n nuwe gebod, dat julle mekaar moet liefhê; net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:34, 35.

Is die liefde wat ware Christene vir mekaar het, opvallend anders? Ema, wat as ’n huishulp werk, het so gedink. Sy woon in La Paz, Bolivia, waar etniese verskille dikwels die rykes van die armes skei. Sy het gesê: “Die eerste keer toe ek ’n vergadering van Jehovah se Getuies bygewoon het, het ek gesien dat ’n goed geklede man met ’n Indiaanse vrou sit en praat. Ek het dit nog nooit tevore gesien nie. Op daardie oomblik het ek geweet dat dit God se volk moet wees.” ’n Jong Brasiliaanse vrou met die naam Miriam het ook gesê: “Ek het nie geweet hoe om gelukkig te wees nie, nie eers in my gesin nie. Die eerste keer dat ek liefde in aksie gesien het, was onder Jehovah se Getuies.” In die Verenigde State het die nuusredakteur van ’n televisiestasie geskryf: “As meer mense volgens julle geloof geleef het, sou hierdie nasie nie in sy huidige toestand gewees het nie. Ek is een verslaggewer wat weet dat julle organisasie op liefde en ’n sterk geloof in die Skepper gegrond is.”

Soek ware aanbidding

Liefde is ’n onderskeidende kenmerk van ware aanbidding. Om ware aanbidding te vind, was volgens Jesus soos om die regte pad te vind en te besluit om daarop te wandel. Dit is die enigste pad wat na die ewige lewe lei. Jesus het gesê: “Gaan in deur die nou poort; want breed en wyd is die pad wat na die vernietiging lei, en dié wat daardeur ingaan, is baie; maar nou is die poort en smal is die pad wat na die lewe lei, en dié wat dit vind, is min” (Matteus 7:13, 14). Net een groep ware Christene wandel in eenheid met God op die pad van ware aanbidding. Dit maak dus wel saak watter godsdiens jy kies. As jy daardie pad vind en besluit om daarop te wandel, het jy die allerbeste lewenswyse gevind, want dit is die weg van liefde.—Efesiërs 4:1-4.

Stel jou voor watter vreugde jy kan smaak as jy op die pad van ware aanbidding wandel! Dit is soos om met God te wandel. By God kan jy wysheid en liefde leer sodat jy goeie verhoudinge met ander kan geniet. By hom kan jy leer wat die doel van die lewe is, en jy kan God se beloftes verstaan en ’n hoop vir die toekoms hê. Jy sal nooit spyt wees dat jy ware aanbidding gesoek het nie.

[Prent op bladsy 5]

Van al die antieke godsdiensgeskrifte openbaar slegs die Bybel God se liefde

[Prente op bladsy 7]

Ware Christene kan uitgeken word omdat hulle liefde beoefen