Jehovah se goedhartigheid—Volg dit na
Jehovah se goedhartigheid—Volg dit na
JEHOVAH GOD neem die leiding en is die beste voorbeeld van iemand wat op tallose maniere goedhartigheid aan ander bewys, selfs teenoor die ondankbares en goddeloses, en dit spoor hulle aan om berou te hê (Lukas 6:35). En Christene, wat onder die sagte juk van Christus is, word aangespoor om hulle met goedhartigheid te beklee en die vrug van God se gees aan te kweek, wat goedhartigheid insluit (Galasiërs 5:22; Kolossense 3:12). Op hierdie manier beveel hulle hulle as God se bedienaars aan.—2 Korintiërs 6:4-6.
Jehovah se liefderyke goedhartigheid
Liefderyke goedhartigheid is ’n kosbare eienskap van Jehovah God waarin hy hom verbly, en dit word geopenbaar in al sy handelinge met sy knegte (Psalm 36:7). As dit nie die geval was nie, sou hulle al lankal vergaan het (Klaagliedere 3:22). Moses kon dus vir opstandige Israel pleit, op grond van Jehovah se groot naam en omdat Hy ’n God van liefderyke goedhartigheid is.—Numeri 14:13-19.
Die Skrif toon dat Jehovah sy liefderyke goedhartigheid, of lojale liefde, op ’n verskeidenheid maniere en onder verskillende omstandighede openbaar—deur dade van verlossing en redding, deur beskerming en beskutting te bied en deur verligting van probleme te bring (Psalm 6:4; 31:16, 21; 40:11). God se uitverkorenes word deur middel daarvan gehelp.—Psalm 44:26.
Toe die nasie Israel in aansyn gekom het en daarna, is Jehovah se liefderyke goedhartigheid in verband met sy verbond voortdurend verheerlik (Eksodus 15:13). Dit was so in die geval van Dawid, en ook van Esra en diegene wat saam met hom was (2 Samuel 7:15; Esra 7:28; 9:9). Ter ondersteuning van die koninkryksverbond met Dawid het Jehovah voortgegaan om selfs ná Jesus se dood sy liefderyke goedhartigheid te bewys, want Hy het die een “wat teenoor [Hom] lojaal is”, uit die dood opgewek ter vervulling van die profesie: “Ek sal julle die liefderyke goedhartighede teenoor Dawid gee wat betroubaar is.”—Handelinge 13:34, 35; Jesaja 55:3.
Dit is hierdie liefderyke goedhartigheid van Jehovah wat mense tot hom aantrek (Jeremia 31:3). Hulle dank Jehovah vir sy liefderyke goedhartigheid, seën en loof hom daarvoor en praat met ander daaroor. Hierdie liefderyke goedhartigheid van God is inderdaad soos ’n aangename pad om te bewandel.—Psalm 25:10.
Hierdie wonderlike eienskap van Jehovah, sy liefderyke goedhartigheid, word dikwels met ander pragtige eienskappe geassosieer—God se barmhartigheid, genade, waaragtigheid, vergewensgesindheid, regverdigheid, vrede, reg en geregtigheid.—Eksodus 34:6; Nehemia 9:17; Psalm 85:10.
God se onverdiende goedhartigheid
Die spesiale blyk van onverdiende goedhartigheid aan die kant van God teenoor die mensdom in die algemeen was om hulle van veroordeling te bevry deur middel van ’n losprys, naamlik die bloed van Jehovah se beloofde Seun, Christus Jesus (Efesiërs 1:7). Deur middel van hierdie betoning van onverdiende goedhartigheid bring God redding tot alle soorte mense (Titus 2:11). Paulus se redenering en argument is dus geldig: “As dit dan nou deur onverdiende goedhartigheid is, is dit nie meer weens werke nie; anders is die onverdiende goedhartigheid nie meer onverdiende goedhartigheid nie.”—Romeine 11:6.
Paulus het God se onverdiende goedhartigheid 1 Timoteus 1:13, 14). Paulus het nie hierdie onverdiende goedhartigheid geminag soos sommige dwaaslik gedoen het nie, maar hy het dit vreugdevol en met danksegging aanvaar en ook ander wat dit aanvaar het, aangespoor om nie “die doel daarvan te mis nie”.—Handelinge 20:24; 2 Korintiërs 6:1.
meer dikwels as enige ander skrywer gemeld—oor die 90 keer in sy 14 briewe. Paulus het alle rede gehad om Jehovah se onverdiende goedhartigheid te beklemtoon, want hy was vroeër “’n lasteraar en ’n vervolger en ’n vermetele man”. “Nietemin”, verduidelik hy, “is barmhartigheid aan my bewys, omdat ek onkundig was en in ’n gebrek aan geloof opgetree het. Maar die onverdiende goedhartigheid van ons Here was uitermate oorvloedig tesame met geloof en liefde wat in verband met Christus Jesus is” (Liefderyke goedhartigheid van mense
Daar is tallose gevalle in die Bybel waar mense liefderyke goedhartigheid teenoor ander betoon het. Toe Sara en haar man in vyandige gebied was, het sy byvoorbeeld sulke lojale liefde teenoor hom betoon en hom beskerm deur te sê dat hy haar broer is (Genesis 20:13). Jakob het Josef gevra om dit teenoor hom te betoon en te belowe dat hy hom nie in Egipte sou begrawe nie (Genesis 47:29; 50:12, 13). Ragab het gevra dat die Israeliete liefderyke goedhartigheid teenoor haar moet betoon deur haar familielede se lewens te spaar, soos sy ook in die geval van die Israelitiese spioene gedoen het (Josua 2:12, 13). Boas het Rut geprys omdat sy dit bewys het (Rut 3:10). Jonatan het Dawid gevra om dit teenoor hom en sy huisgesin te betoon.—1 Samuel 20:14, 15.
Die beweegredes en omstandighede wat mense goedhartigheid of liefderyke goedhartigheid laat betoon, verskil grootliks. Toevallige dade van goedhartigheid is dalk ’n blyk van gebruiklike gasvryheid of ’n neiging tot hartlikheid, maar dit dui nie noodwendig op godsvrug nie. (Vergelyk Handelinge 27:1, 3; 28:1, 2.) Die goedhartigheid wat aan ’n sekere man van die stad Bet-El beloof is, was in werklikheid om hom te vergoed vir gunste wat van hom gevra is (Rigters 1:22-25). By ander geleenthede is mense wat vroeër gunste ontvang het, gevra om dade van liefderyke goedhartigheid te bewys, dalk omdat die een wat die versoek rig, in ’n benarde situasie verkeer (Genesis 40:12-15). Maar soms het mense nie liefderyke goedhartigheid wat aan hulle bewys is, vergoed nie.—Genesis 40:23.
’n Spreuk lui dat ’n menigte mense hulle liefderyke goedhartigheid sal verkondig, maar min sal dit getrou uitvoer (Spreuke 20:6). Saul en Dawid het albei die liefderyke goedhartigheid onthou wat ander betoon het, en dit wil voorkom of die konings van Israel ’n reputasie vir liefderyke goedhartigheid verkry het, dalk in teenstelling met die heidense heersers (1 Samuel 15:6, 7; 2 Samuel 2:5, 6; 1 Konings 20:31). By een geleentheid is Dawid se betoning van liefderyke goedhartigheid egter verwerp, omdat sy beweegredes misverstaan is.—2 Samuel 10:2-4.
Diegene wat graag God se goedkeuring wil hê, moet ‘goedhartigheid liefhê’ en ‘liefderyke goedhartigheid en barmhartighede aan mekaar bewys’ (Miga 6:8; Sagaria 7:9). Soos die spreuk sê: “Wat begeerlik is in die mens, is sy liefderyke goedhartigheid”, en dit bring vir hom ryk seëninge mee (Spreuke 19:22; 11:17). God het die liefderyke goedhartigheid wat die nasie Israel in hulle jeug betoon het, onthou, en dit het hom behaag (Jeremia 2:2). Maar toe dit “soos die oggendwolke [word] en soos die dou wat vroeg verdwyn”, was Jehovah nie gelukkig nie, want “in liefderyke goedhartigheid het ek behae geskep, en nie in offerande nie”, sê hy.—Hosea 6:4, 6.
Israel is tereggewys omdat hulle nie liefderyke goedhartigheid aan die dag gelê het nie, en eintlik was die teregwysing op sigself liefderyke goedhartigheid aan die kant van God (Hosea 4:1). Daardie nasie is ook aangeraai om terug te keer tot God deur liefderyke goedhartigheid en geregtigheid te bewys (Hosea 12:6). Hierdie eienskappe moet te alle tye geopenbaar word as ’n mens guns in die oë van God en die mens wil vind.—Job 6:14.