Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Laat ons Jehovah se naam saam verhef

Laat ons Jehovah se naam saam verhef

Laat ons Jehovah se naam saam verhef

“O maak Jehovah saam met my groot, en laat ons sy naam saam verhef.”—PSALM 34:3.

1. Watter goeie voorbeeld het Jesus gedurende sy aardse bediening gestel?

 OP DIE aand van 14 Nisan 33 G.J. het Jesus en sy apostels in ’n bovertrek van ’n huis in Jerusalem lofliedere aan Jehovah gesing (Matteus 26:30). Dit was die laaste keer dat die man Jesus dit saam met sy apostels sou doen. Dit was egter gepas dat hy sy vergadering met hulle so afgesluit het. Van die begin tot die einde van sy aardse bediening het Jesus sy Vader geloof en Sy naam ywerig bekend gemaak (Matteus 4:10; 6:9; 22:37, 38; Johannes 12:28; 17:6). Hy het in werklikheid die hartlike uitnodiging van die psalmis beaam: “O maak Jehovah saam met my groot, en laat ons sy naam saam verhef” (Psalm 34:3). Wat ’n goeie voorbeeld vir ons om te volg!

2, 3. (a) Hoe weet ons dat Psalm 34 profetiese betekenis het? (b) Wat sal ons in hierdie artikel en die volgende een bespreek?

2 ’n Paar uur nadat hy lofliedere saam met Jesus gesing het, was die apostel Johannes ’n ooggetuie van ’n heel ander gebeurtenis. Hy het gesien hoe sy Heer en twee misdadigers aan folterpale tereggestel word. Romeinse soldate het die twee misdadigers se bene gebreek om hulle dood te verhaas. Maar Johannes vertel dat hulle nie Jesus se bene gebreek het nie. Toe die soldate by Jesus kom, was hy reeds dood. In sy Evangelie het Johannes daarop gewys dat dit ’n vervulling is van ’n ander deel van Psalm 34: “Geen been van hom sal verbrysel word nie.”—Johannes 19:32-36; Psalm 34:20, Septuagint.

3 Psalm 34 bevat baie ander interessante punte vir Christene. Gevolglik sal ons in hierdie artikel en die volgende een die omstandighede hersien waaronder Dawid die psalm geskryf het en dan die aanmoedigende inhoud van die psalm self bespreek.

Dawid vlug vir Saul

4. (a) Waarom is Dawid as Israel se toekomstige koning gesalf? (b) Waarom het Saul Dawid “baie liefgekry”?

4 Toe Dawid jonk was, was Saul koning in Israel. Maar Saul het ongehoorsaam geword en Jehovah se guns verloor. Daarom het die profeet Samuel vir hom gesê: “Jehovah het vandag die koninklike heerskappy oor Israel van jou afgeskeur, en hy sal dit beslis aan jou medemens gee wat beter is as jy” (1 Samuel 15:28). Later het Jehovah Samuel aangesê om Dawid, die jongste seun van Isai, as Israel se volgende koning te salf. Intussen het koning Saul, wat nie meer God se gees gehad het nie, met tye swaarmoedig geraak. Dawid, ’n begaafde musikant, is na Gibea gebring om die koning te dien, en Dawid se musiek het verligting gebring vir Saul, wat “hom baie liefgekry” het.—1 Samuel 16:11, 13, 21, 23.

5. Waarom het Saul se gesindheid teenoor Dawid verander, en wat was Dawid verplig om te doen?

5 Met verloop van tyd het dit duidelik geword dat Jehovah met Dawid was. Jehovah het hom gehelp om die Filistynse reus Goliat te verslaan en het Dawid ondersteun terwyl hy in Israel beroemd geraak het weens sy krygsvernuf. Maar Saul het jaloers geword omdat Jehovah se seën op Dawid gerus het, en hy het Dawid begin haat. Saul het twee keer sy spies na Dawid gegooi terwyl hy voor die koning op sy harp gespeel het. Dawid het albei kere daarin geslaag om te koes vir die spies. Toe Saul hom ’n derde keer probeer doodmaak, het Israel se toekomstige koning besef dat hy moet vlug vir sy lewe. As gevolg van Saul se voortgesette pogings om hom gevange te neem en dood te maak, het Dawid uiteindelik besluit om buite die gebied van Israel toevlug te soek.—1 Samuel 18:11; 19:9, 10.

6. Waarom het Saul beveel dat die inwoners van Nob doodgemaak moet word?

6 Onderweg na die grens van Israel het Dawid by die stad Nob aangegaan, waar Jehovah se tabernakel was. Blykbaar het ’n aantal jong manne saam met Dawid gegaan toe hy gevlug het, en Dawid wou vir hom en vir hulle iets te ete kry. Saul het uitgevind dat die hoëpriester vir Dawid en sy manne kos gegee het, asook die swaard wat Dawid van die dooie Goliat afgeneem het. In sy woede het Saul al die inwoners van die stad, waaronder 85 priesters, laat doodmaak.—1 Samuel 21:1, 2; 22:12, 13, 18, 19; Matteus 12:3, 4.

Nog ’n noue ontkoming

7. Waarom was Gat nie ’n veilige wegkruipplek vir Dawid nie?

7 Van Nob af het Dawid omtrent 40 kilometer wes gevlug tot in Filistynse gebied en toevlug gesoek by koning Agis in Gat, Goliat se tuisdorp. Dawid het dalk geredeneer dat Gat die laaste plek is waar Saul na hom sal soek. Maar knegte van die koning van Gat het Dawid gou herken. Toe Dawid besef dat hulle hom herken het, het hy “baie bang geword weens Agis, die koning van Gat”.—1 Samuel 21:10-12.

8. (a) Wat vertel Psalm 56 ons van Dawid se ondervinding in Gat? (b) Hoe het Dawid ’n noue ontkoming aan die dood gehad?

8 Die Filistyne het Dawid toe gevange geneem. Dit was moontlik gedurende hierdie tyd dat Dawid die hartroerende psalm geskryf het waarin hy Jehovah gesmeek het: “Sit tog my trane in u leersak” (Psalm 56:8 en opskrif). So het hy sy vertroue uitgespreek dat Jehovah nie sy droefheid sou vergeet nie, maar liefdevol na hom sou omsien en hom sou beskerm. Dawid het ook ’n plan uitgedink om die Filistynse koning om die bos te lei. Hy het hom kranksinnig gehou. Toe koning Agis dit sien, het hy sy knegte bestraf omdat hulle ’n ‘waansinnige’ man voor hom gebring het. Dit is duidelik dat Jehovah Dawid se plan geseën het. Dawid is uit die stad uitgedryf, nadat hy nog ’n noue ontkoming aan die dood gehad het.—1 Samuel 21:13-15.

9, 10. Waarom het Dawid Psalm 34 geskryf, en wie het Dawid moontlik in gedagte gehad toe hy die psalm geskryf het?

9 Die Bybel sê nie of Dawid se ondersteuners saam met hom na Gat gevlug het en of hulle in nabygeleë dorpies van Israel was, waar hulle op die uitkyk gebly het vir enige gevaar nie. Hoe dit ook al sy, dit was ongetwyfeld ’n vreugdevolle hereniging toe Dawid vir hulle vertel het hoe Jehovah hom weer verlos het. Hierdie gebeurtenis het die grondslag vir Psalm 34 gelê, soos die opskrif toon. In die eerste sewe verse van die psalm loof Dawid God omdat hy hom verlos het en nooi hy sy ondersteuners om Jehovah saam met hom te verhef as die Groot Redder van Sy volk.—Psalm 34:3, 4, 7.

10 Dawid en sy manne het ’n veilige skuilplek gevind in die grot van Adullam in ’n bergstreek van Israel, ongeveer 15 kilometer oos van Gat. Israeliete wat ontevrede was met toestande onder koning Saul se heerskappy, het daar by hulle begin aansluit (1 Samuel 22:1, 2). Toe Dawid Psalm 34:8-22 geskryf het, het hy moontlik sulke persone in gedagte gehad. Die herinneringe in daardie verse is vandag ook vir ons belangrik, en ons sal sekerlik baat vind by ’n breedvoerige bespreking van hierdie pragtige psalm.

Is jou grootste begeerte dieselfde as Dawid s’n?

11, 12. Watter redes het ons om Jehovah voortdurend te loof?

11 “Ek sal Jehovah te alle tye loof; sy lof sal voortdurend in my mond wees” (Psalm 34:1). Terwyl Dawid as ’n uitgeworpene gelewe het, het hy ongetwyfeld baie materiële sorge gehad, maar soos hierdie woorde toon, het sy daaglikse sorge nie sy vasbeslotenheid oorskadu om Jehovah te loof nie. Wat ’n goeie voorbeeld is dit tog vir ons wanneer ons ontberinge verduur! Hetsy ons op skool, by die werk, saam met mede-Christene of in die openbare bediening is, ons grootste begeerte moet wees om Jehovah te loof. Dink net aan die tallose redes wat ons het om dit te doen! Daar is byvoorbeeld geen einde aan wat ons in Jehovah se wonderlike skeppingswerke kan ontdek en geniet nie. En dink aan wat hy deur middel van die aardse deel van sy organisasie tot stand gebring het! In hedendaagse tye het Jehovah getroue mense op kragtige wyse gebruik, al is hulle onvolmaak. Hoe vergelyk God se werke met dié van mense wat deur die wêreld verafgod word? Stem jy nie saam met Dawid nie, wat ook geskryf het: “Daar is niemand soos u onder die gode nie, o Jehovah, ook is daar niks soos u werke nie”?—Psalm 86:8.

12 Soos Dawid, voel ons dat ons Jehovah voortdurend wil loof vir sy weergalose werke. Ook is ons verheug om te weet dat God se Koninkryk nou in die hande van Dawid se permanente Erfgenaam, Jesus Christus, is (Openbaring 11:15). Dit beteken dat die einde van hierdie stelsel van dinge naby is. Die ewige toekoms van meer as sesmiljard mense is op die spel. Nog nooit tevore was dit so belangrik om vir ander te vertel van God se Koninkryk en wat dit binnekort vir die mensdom sal doen en om hulle te help om Jehovah saam met ons te loof nie. Dit moet beslis vir ons van die allergrootste belang wees om elke geleentheid te gebruik om ander aan te moedig om hierdie “goeie nuus” aan te neem voordat dit te laat is.—Matteus 24:14.

13. (a) In wie het Dawid geroem, en watter soort mense het daarop gereageer? (b) Hoe word sagmoediges vandag tot die Christengemeente aangetrek?

13 “In Jehovah sal my siel roem; die sagmoediges sal hoor en sal bly wees” (Psalm 34:2). Dawid het hier nie oor enige persoonlike prestasies geroem nie. Hy het byvoorbeeld nie gespog oor die manier waarop hy die koning van Gat om die bos gelei het nie. Hy het besef dat Jehovah hom beskerm het toe hy in Gat was en dat hy met Jehovah se hulp ontkom het (Spreuke 21:1). Dawid het derhalwe nie in homself geroem nie, maar in Jehovah. As gevolg hiervan is sagmoediges tot Jehovah aangetrek. Jesus het eweneens die naam van Jehovah verheerlik, en dit het nederige, ontvanklike mense tot Hom aangetrek. Vandag word sagmoedige mense uit alle nasies aangetrek tot die internasionale gemeente van gesalfde Christene, waarvan Jesus die Hoof is (Kolossense 1:18). Die harte van sulke sagmoedige mense word geraak wanneer hulle hoor hoe God se naam deur sy nederige knegte verheerlik word en wanneer hulle die Bybel se boodskap hoor, wat hulle met die hulp van God se heilige gees verstaan.—Johannes 6:44; Handelinge 16:14.

Vergaderinge versterk ons geloof

14. (a) Was dit vir Dawid genoeg om Jehovah te loof net wanneer hy alleen was? (b) Watter voorbeeld het Jesus gestel wat vergaderinge vir aanbidding betref?

14 “O maak Jehovah saam met my groot, en laat ons sy naam saam verhef” (Psalm 34:3). Dit was nie vir Dawid genoeg om Jehovah te loof net wanneer hy alleen was nie. Hy het sy metgeselle hartlik uitgenooi om God se naam saam met hom te verhef. Jesus Christus, die Grotere Dawid, het hom eweneens daarin verheug om Jehovah in die openbaar te loof—by die plaaslike sinagoge, tydens feeste by God se tempel in Jerusalem en saam met sy volgelinge (Lukas 2:49; 4:16-19; 10:21; Johannes 18:20). Wat ’n vreugdevolle voorreg is dit tog om Jesus se voorbeeld te volg deur Jehovah by elke moontlike geleentheid saam met medegelowiges te loof, veral nou terwyl ons “die dag sien nader kom”!—Hebreërs 10:24, 25.

15. (a) Watter uitwerking het Dawid se ondervinding op sy manne gehad? (b) Hoe vind ons daarby baat wanneer ons ons vergaderinge bywoon?

15 “Ek het Jehovah geraadpleeg, en hy het my geantwoord, en uit al my verskrikkinge het hy my verlos” (Psalm 34:4). Hierdie ondervinding was vir Dawid belangrik. Daarom het hy verder gesê: “Hierdie geteisterde het geroep, en Jehovah het gehoor. En uit al sy benoudhede het Hy hom gered” (Psalm 34:6). Wanneer ons met medegelowiges omgaan, het ons baie geleenthede om opbouende ondervindinge te vertel van hoe Jehovah ons gehelp het om onder moeilike omstandighede te volhard. Dit versterk die geloof van ons medeaanbidders, net soos Dawid se woorde die geloof van sy ondersteuners versterk het. In Dawid se geval het sy metgeselle “na [Jehovah] opgesien en begin straal, en hulle aangesig kon onmoontlik beskaamd word” (Psalm 34:5). Hoewel hulle vir koning Saul gevlug het, was hulle nie beskaamd nie. Hulle was oortuig dat Dawid God se steun geniet, en hulle gesigte het gestraal. Net so sien nuwe belangstellendes sowel as dié wat al lank ware Christene is, op na Jehovah om hulle te ondersteun. Omdat hulle sy hulp al persoonlik ervaar het, weerspieël hulle stralende gesigte hulle vasbeslotenheid om getrou te bly.

Wees dankbaar vir engelehulp

16. Hoe gebruik Jehovah sy engele om tot ons redding te kom?

16 “Die engel van Jehovah slaan kamp op rondom dié wat hom vrees, en hy red hulle” (Psalm 34:7). Dawid het nie Jehovah se reddingsdaad teenoor hom beskou as iets wat net met hom kan gebeur nie. Dawid was wel Jehovah se gesalfde, Israel se toekomstige koning; maar hy het geweet dat Jehovah sy engele gebruik om oor al sy getroue aanbidders te waak, ongeag of hulle vernaam of gering is. In ons dag ondervind ware aanbidders ook Jehovah se beskerming. In Nazi-Duitsland—sowel as in Angola, Malawi, Mosambiek en baie ander lande—het die owerheid veldtogte gevoer om Jehovah se Getuies uit te wis. Hulle pogings was tevergeefs. Jehovah se knegte in hierdie lande gaan voort om te floreer terwyl hulle God se naam saam verhef. Waarom? Omdat Jehovah sy heilige engele gebruik om sy volk te beskerm en te lei.—Hebreërs 1:14.

17. Op watter maniere help God se engele ons?

17 Verder kan Jehovah se engele dit so bewerk dat dié wat ander laat struikel, onder Jehovah se volk uit verwyder word (Matteus 13:41; 18:6, 10). En hoewel ons dalk nie altyd daarvan bewus is nie, verwyder engele struikelblokke wat ons diens aan God kan belemmer, en hulle beskerm ons teen dinge wat ons verhouding met Jehovah in gevaar kan stel. Bowenal lei hulle ons in die werk om “ewige goeie nuus” aan die hele mensdom bekend te maak, onder andere in plekke waar die predikingswerk onder gevaarlike omstandighede gedoen word (Openbaring 14:6). Bewyse van engelehulp is al dikwels gemeld in Bybellektuur wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word. a Sulke ondervindinge is net te talryk om dit aan blote toeval toe te skryf.

18. (a) Wat moet ons doen om by engelehulp baat te vind? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

18 Om steeds by engeleleiding en -beskerming baat te vind, moet ons aanhou om Jehovah se naam te verhef, selfs te midde van teëstand. Onthou, God se engel slaan slegs kamp op “rondom dié wat [Jehovah] vrees”. Wat gee dit te kenne? Wat is die vrees van God, en hoe kan ons dit aankweek? Waarom sou ’n liefdevolle God wil hê dat ons hom moet vrees? Hierdie vrae sal in die volgende artikel bespreek word.

[Voetnoot]

a Sien Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk, bladsy 550; 2005 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 53-4; Die Wagtoring, 1 Maart 2000, bladsye 5-6; 1 Januarie 1991, bladsy 27; en 15 Februarie 1991, bladsy 26.

Hoe sal jy antwoord?

• Watter beproewinge het Dawid as ’n jong man verduur?

• Wat is ons grootste begeerte, soos ook met Dawid die geval was?

• Hoe beskou ons Christelike vergaderinge?

• Hoe gebruik Jehovah sy engele om ons te help?

[Studievrae]

[Kaart op bladsy 21]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Rama

Gat

Siklag

Gibea

Nob

Jerusalem

Betlehem

Adullam

Kehila

Hebron

Sif

Hores

Karmel

Maon

En-Gedi

Soutsee

[Erkenning]

Kaart: Based on maps copyrighted by Pictorial Archive (Near Eastern History) Est. and Survey of Israel

[Prent op bladsy 21]

Selfs as ’n voortvlugtige het Dawid Jehovah se naam verhef

[Prent op bladsy 23]

Ons geloof word versterk wanneer ons luister na opbouende ondervindinge wat by ons Christelike samekomste vertel word