Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Maak dit saak watter godsdiens jy kies?

Maak dit saak watter godsdiens jy kies?

Maak dit saak watter godsdiens jy kies?

DIE meeste van ons hou daarvan om ’n groot verskeidenheid te hê om van te kies wanneer ons inkopies gaan doen. Wanneer ’n verskeidenheid vrugte en groente op ’n mark aangebied word, kan ons dié kies waarvan ons die meeste hou en wat goed is vir ons gesin. As ’n klerewinkel talle bekostigbare style en kleure aanbied, kan ons kies wat ons die beste pas. Party van die keuses wat ons in die lewe maak, is bloot ’n saak van persoonlike smaak. Maar ander het ’n uitwerking op ons welsyn, soos ons keuse van gesonde kos of wyse vriende. Wat dan van ons keuse van godsdiens? Moet ons vorm van aanbidding bloot ’n saak van persoonlike smaak wees? Of is dit iets wat ’n ernstige uitwerking op ons welsyn het?

Daar is ’n groot verskeidenheid van godsdienste om van te kies. Baie lande waarborg nou godsdiensvryheid, en mense verlaat hulle ouers se godsdiens al hoe makliker. Uit ’n meningspeiling in die Verenigde State blyk dit dat 80 persent van Amerikaners “glo dat meer as een godsdiens ’n pad tot redding kan wees”. Volgens daardie selfde meningspeiling “het een uit vyf respondente gesê dat hy as ’n volwassene van godsdiens verander het”. ’n Opname in Brasilië het getoon dat byna ’n kwart van alle Brasiliane van godsdiens verander het.

In die verlede het mense heftig gestry oor die leerstellings wat een godsdiens van ’n ander onderskei. Nou is die algemene beskouing: ‘Dit maak nie saak watter godsdiens jy kies nie.’ Maar is dit werklik so? Kan jou keuse van godsdiens ’n uitwerking op jou hê?

Net soos verstandige kopers vrae vra oor die oorsprong van die produkte wat aangebied word, is dit verstandig van jou om te vra: ‘Hoe het al hierdie verskillende godsdienste ontstaan, en waarom?’ Die Bybel verskaf die antwoorde.

Hoe ontstaan godsdienste?

Byna duisend jaar voordat Jesus aarde toe gekom het, het koning Jerobeam ’n nuwe godsdiens in eertydse Israel begin. Jerobeam was die eerste koning van die onafhanklike noordelike koninkryk van Israel. Hy het die moeilike taak gehad om die ondersteuning van die mense te verkry. “Die koning [het] beraadslaag en twee goue kalwers gemaak en vir die volk gesê: ‘Dit is vir julle te veel om na Jerusalem op te gaan. Hier is jou God, o Israel’” (1 Konings 12:28). Dit is duidelik dat die koning godsdiens wou gebruik om die mense se lojaliteit af te keer van Jerusalem, waar hulle voorheen aanbid het. Die godsdiens wat Jerobeam begin het, het eeue lank voortgeduur en tot die ondergang van miljoene gelei toe God uiteindelik rekenskap van die afvallige nasie Israel geëis het. Jerobeam se godsdiens was ’n politieke middel tot ’n doel. Party staatsgodsdienste wat vandag nog bestaan, het eweneens ontstaan as pogings om politieke mag te versterk.

Die apostel Paulus het nog ’n rede gemeld waarom mense ’n nuwe godsdiens begin toe hy gesê het: “Ek weet dat onderdrukkende wolwe ná my vertrek onder julle sal inkom en die kudde nie met teerheid sal behandel nie, en uit julle eie midde sal manne opstaan en verdraaide dinge spreek om die dissipels agter hulle aan weg te trek” (Handelinge 20:29, 30). Trotse leiers begin dikwels ’n godsdiensbeweging om die aandag op hulleself te vestig. Kerke wat valslik beweer dat hulle Christelik is, is deur talle skeurings versplinter.

Vir wie wil die godsdienste behaag?

Party word moontlik beweeg om ’n nuwe godsdiens te begin op grond van wat baie mense wil hê. Die tydskrif Economist het byvoorbeeld berig gelewer oor sogenaamde megakerke in die Verenigde State. Die artikel meld dat hierdie kerke groei omdat hulle “op dieselfde beginsel gegrond is as suksesvolle sakeondernemings: stel die klant eerste”. Party hou “dienste wat opgevrolik word met video’s, drama en hedendaagse musiek”. Sommige godsdiensleiers in hierdie kerke sê dat hulle hulle lidmate leer om “ryk, gesond en onbesorg” te wees. Hoewel hierdie kerke daarvoor gekritiseer word dat hulle deel is van die vermaaklikheidswêreld of “die selfhelpbedryf”, sê dieselfde bron “dat hulle bloot reageer op wat mense wil hê”. Die berig sluit af: “Die samesmelting van sakevernuf en godsdiens was ongelooflik suksesvol.”

Hoewel sulke sakevernuf minder opsigtelik is in ander godsdienste, herinner kerke wat “reageer op wat mense wil hê”, ons aan ’n waarskuwing wat Paulus gegee het. Hy het geskryf: “Daar sal ’n tyd wees wanneer hulle nie die gesonde leer sal verdra nie, maar ooreenkomstig hulle eie begeertes vir hulle onderrigters sal versamel sodat hulle ore gestreel kan word; en hulle sal hulle ore van die waarheid afkeer en hulle tot valse stories wend.”—2 Timoteus 4:3, 4.

Aangesien baie godsdienste ontstaan het weens ’n begeerte na politieke mag, aansien en algemene aanvaarding eerder as ’n begeerte om God te behaag, is dit geen wonder dat godsdiens betrokke is by sulke slegte dinge soos kindermolestering, bedrog, oorlog of terrorisme nie. Godsdiens is alte dikwels ’n bedrogspul. Hoe kan jy voorkom dat jy bedrieg word?

[Lokteks op bladsy 4]

Baie godsdienste het ontstaan weens ’n begeerte na politieke mag, aansien en algemene aanvaarding eerder as ’n begeerte om God te behaag