Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wessel Gansfort—“’n Hervormer voor die Hervorming”

Wessel Gansfort—“’n Hervormer voor die Hervorming”

Wessel Gansfort—“’n Hervormer voor die Hervorming”

Alle studente van die Protestantse Hervorming, wat in 1517 begin het, is vertroud met die name Luther, Tyndale en Calvyn. Maar min mense ken die naam Wessel Gansfort. Hy is al “’n Hervormer voor die Hervorming” genoem. Wil jy graag meer van hierdie man weet?

WESSEL is in 1419 in die dorp Groningen in Nederland gebore. In die 15de eeu het min mense die voorreg gehad om skool te gaan, maar Wessel het. Hoewel hy ’n uitmuntende leerder was, moes hy op die ouderdom van nege die skool verlaat omdat sy ouers so arm was. Gelukkig vir hom het ’n ryk weduwee, toe sy hoor hoe intelligent jong Wessel is, sy beskermvrou geword en aangebied om sy skoolgeld te betaal. Hy kon dus sy skoolopleiding voortsit. Mettertyd het hy ’n Meestersgraad in die Lettere behaal. Hy het blykbaar later ook die titel doktor in die teologie verkry.

Wessel het ’n ontsaglike dors na kennis gehad. Maar in sy dag was daar min biblioteke. Hoewel drukwerk met los letters in sy tyd uitgevind is, was die meeste boeke nog steeds handgeskrewe en duur. Wessel het tot ’n groep geleerdes behoort wat van biblioteek tot biblioteek en van klooster tot klooster gereis het op soek na seldsame manuskripte en langverlore boeke. Dan het hulle mekaar ingelig omtrent hulle ontdekkings. Hy het ’n geweldige hoeveelheid kennis opgedoen en ’n persoonlike notaboek gevul met aanhalings en uittreksels uit klassieke werke. Ander teoloë was dikwels agterdogtig omdat Wessel so baie dinge geweet het waarvan hulle nooit gehoor het nie. Wessel is Magister Contraditionis, of Meester van Teenstrydigheid, genoem.

“Waarom lei jy my nie na Christus nie?”

Ongeveer 50 jaar voor die Hervorming het Wessel vir Thomas à Kempis (omstreeks 1379-1471) ontmoet, wat oor die algemeen aanvaar word as die skrywer van die beroemde De Imitatione Christi (Die navolging van Christus). Thomas à Kempis het tot die Broeders van die Gemeenskaplike Lewe behoort, ’n beweging wat ’n vroom lewe benadruk het. ’n Biograaf van Wessel sê dat Wessel by etlike geleenthede deur Thomas à Kempis aangespoor is om hom tot Maria te wend om hulp. Wessel het gereageer deur te sê: “Waarom lei jy my nie na Christus nie, wat almal wat swaar belaai is, liefdevol nooi om na hom toe te kom?”

Wessel was na bewering gekant teen die idee van ordening tot die priesterskap. Toe hy gevra is waarom hy die tonsuur geweier het, dit is die kaalgeskeerde kol op die kop wat ’n persoon as ’n lid van die geestelikeklas identifiseer, het hy geantwoord dat hy nie bang is vir die galg nie, solank hy by sy volle verstand is. Hy het blykbaar verwys na die feit dat geordende priesters nie vervolg kon word nie, en dit blyk dat die tonsuur inderdaad baie priesters van die galg gered het! Wessel het ook standpunt teen party algemene godsdiensgebruike ingeneem. Hy is byvoorbeeld gekritiseer omdat hy geweier het om aan die wonderdadige gebeure te glo wat in ’n gewilde boek van sy tyd, Dialogus Miraculorum, beskryf is. In antwoord hierop het hy gesê: “Dit sal beter wees om uit die Heilige Skrif te lees.”

“Ons weet net soveel as wat ons vra”

Wessel het Hebreeus en Grieks bestudeer en ’n uitgebreide kennis van die geskrifte van die vroeë Kerkvaders verkry. Sy liefde vir die oorspronklike tale van die Bybel is besonder merkwaardig, aangesien hy voor Erasmus en Reuchlin gelewe het. a Voor die Hervorming was kennis van Grieks skaars. In Duitsland was net ’n handjievol geleerdes vertroud met Grieks, en daar was geen hulpmiddele beskikbaar om die taal te leer nie. Ná die val van Konstantinopel in 1453 het Wessel blykbaar in aanraking gekom met Griekse monnike wat na die Weste gevlug het, en hy het die grondbeginsels van Grieks by hulle geleer. In daardie dae was Hebreeus beperk tot die Jode, en Wessel het blykbaar basiese Hebreeus by bekeerde Jode geleer.

Wessel was baie lief vir die Bybel. Hy het dit beskou as ’n boek wat deur God geïnspireer is en het geglo dat al die boeke van die Bybel in volle harmonie met mekaar is. Volgens Wessel moes die vertolking van Bybelverse met die konteks ooreenstem en kon dit nie verdraai word nie. Elke gedwonge verklaring moes as moontlike kettery beskou word. Een van sy geliefkoosde Bybelverse was Matteus 7:7, wat sê: “Hou aan soek, en julle sal vind.” Op grond van hierdie vers het Wessel vas geglo dat dit nuttig is om vrae te vra, en hy het geredeneer dat ‘ons net soveel weet as wat ons vra’.

’n Merkwaardige versoek

In 1473 het Wessel Rome besoek. Daar het hy ’n oudiënsie met pous Sixtus IV gehad, die eerste van ses pouse wie se growwe onsedelike gedrag uiteindelik tot die Protestantse Hervorming gelei het. Die geskiedskryfster Barbara W. Tuchman wys daarop dat Sixtus IV ’n tydperk van “onbeskaamde, onverbloemde, meedoënlose najaging van persoonlike gewin en magspolitiek” ingelui het. Hy het die openbare mening geskok met sy openlike nepotisme. Een geskiedskrywer meld dat Sixtus moontlik die pousdom ’n familieonderneming wou maak. Min mense het dit gewaag om hierdie misbruike te veroordeel.

Maar Wessel Gansfort was anders. Eendag het Sixtus vir hom gesê: “My seun, vra wat jy ook al wil, en ons sal dit vir jou gee.” Wessel het onmiddellik geantwoord: “Heilige vader, . . . aangesien u op aarde die plek van die hoogste priester en herder beklee, vra ek . . . dat u u verhewe plig op so ’n wyse vervul dat wanneer die Groot Herder van die skape . . . kom, hy vir u sal sê: ‘Mooi so, goeie en getroue dienskneg, gaan in die vreugde van jou Heer in.’” Sixtus het geantwoord dat dit sy verantwoordelikheid is en dat Wessel iets vir homself moet kies. Wessel het geantwoord: “Dan vra ek dat u vir my ’n Griekse en Hebreeuse Bybel uit die Vatikaanse Biblioteek gee.” Die pous het sy versoek toegestaan, maar gesê dat Wessel dwaas was en ’n bisdom moes gevra het!

“’n Leuen en ’n dwaling”

Sixtus het dringend fondse nodig gehad om die nou beroemde Sixtynse Kapel te bou en het gevolglik die verkoop van aflaatbriewe vir die dooies gemagtig. Hierdie aflaatbriewe was uiters gewild. Die boek Vicars of Christ—The Dark Side of the Papacy sê: “Weduwees en wewenaars, bedroefde ouers het al hulle geld bestee in ’n poging om hulle dierbares uit die vaevuur te kry.” Die aflaatbriewe is deur die gewone mense verwelkom, wat vas geglo het dat die pous kon waarborg dat hulle afgestorwe dierbares hemel toe sou gaan.

Wessel was egter ten volle daarvan oortuig dat die Katolieke Kerk, die pous inkluis, nie die vermoë het om sondes te vergewe nie. Wessel het die verkoop van aflaatbriewe openlik “’n leuen en ’n dwaling” genoem. Hy het ook nie geglo dat belydenis aan priesters nodig is om vergifnis van sondes te verkry nie.

Wessel het ook die onfeilbaarheid van die pous bevraagteken en gesê dat die fondamente van die kerk swak sou wees as daar van mense verwag sou word om altyd die pouse te glo, aangesien hulle foute begaan. Wessel het geskryf: “As die kerkvorste die gebooie van God opsyskuif en hulle eie mensgemaakte gebooie inbring, . . . is wat hulle doen en beveel, tevergeefs.”

Wessel berei die weg vir die Hervorming

Wessel het in 1489 gesterf. Hoewel hy van die dwalinge van die kerk teëgestaan het, het hy ’n Katoliek gebly. Tog is hy nooit deur die kerk as ’n ketter veroordeel nie. Maar ná sy dood het fanatiese Katolieke monnike sy geskrifte probeer vernietig omdat dit nie as suiwer beskou is nie. Teen Luther se tyd was Wessel se naam byna heeltemal vergete, was nie een van sy werke gedruk nie en het baie min manuskripte behoue gebly. Die eerste uitgawe van Wessel se werke is uiteindelik tussen 1520 en 1522 gepubliseer. Dit het ’n brief ingesluit wat deur Luther geskryf is waarin hy persoonlik Wessel se geskrifte aanbeveel.

Hoewel Wessel nie soos Luther ’n Hervormer was nie, het hy party van die dwalinge wat tot die Hervorming gelei het, openlik veroordeel. Trouens, hy word deur McClintock en Strong se Cyclopedia beskryf as “die belangrikste van die manne van Duitse afkoms wat gehelp het om die weg vir die Hervorming te berei”.

Luther het Wessel as ’n bondgenoot beskou. Die skrywer C. Augustijn sê: “Luther vergelyk sý tydperk en lot met dié van Elia. Net soos die profeet gedink het dat net hy oor is om God se stryd te voer, het Luther gevoel dat hy heeltemal alleen is in sy stryd teen die kerk. Maar toe hy Wessel se werke lees, het hy besef dat die Here ’n ‘oorblyfsel in Israel’ gered het.” “Luther sê selfs: ‘As ek sy werke vroeër gelees het, kon my vyande gedink het dat Luther alles by Wessel geleer het, so sterk kom sy gees met myne ooreen.’” b

“Julle sal vind”

Die Hervorming het nie uit die bloute gekom nie. Die stroom idees wat tot die Hervorming aanleiding gegee het, het al ’n ruk lank gevloei. Wessel het besef dat die verdorwenheid van die pouse uiteindelik ’n begeerte na hervorming sou laat ontstaan. Hy het eenkeer vir ’n student gesê: “Vlytige seun, jy sal nog die dag beleef wanneer die leringe van . . . twisgierige teoloë deur alle ware Christengeleerdes verwerp sal word.”

Hoewel Wessel party van die dwalinge en misbruike van sy dag onderskei het, kon hy nie die volle lig van Bybelwaarheid openbaar nie. Die Bybel was nietemin vir hom ’n boek wat gelees en bestudeer moes word. Volgens die boek A History of Christianity was Wessel “van mening dat die Bybel die finale gesag in geloofsake is, aangesien dit deur die Heilige Gees geïnspireer is”. In die hedendaagse wêreld glo ware Christene dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is (2 Timoteus 3:16). Maar Bybelwaarhede is nie meer duister of moeilik om te vind nie. Vandag, selfs nog meer as in die verlede, geld die Bybelbeginsel: “Hou aan soek, en julle sal vind.”—Matteus 7:7; Spreuke 2:1-6.

[Voetnote]

a Hierdie manne het grootliks bygedra tot die bestudering van die oorspronklike Bybeltale. In 1506 het Reuchlin sy Hebreeuse grammatika gepubliseer, wat tot ’n dieper studie van die Hebreeuse Geskrifte gelei het. Erasmus het in 1516 ’n Griekse meesterteks van die Christelike Griekse Geskrifte gepubliseer.

b Wessel Gansfort (1419-1489) and Northern Humanism, bladsye 9, 15.

[Venster/Prent op bladsy 14]

WESSEL EN GOD SE NAAM

In Wessel se geskrifte word God se naam oor die algemeen met “Johavah” weergegee. Maar Wessel het “Jehovah” in ten minste twee gevalle gebruik. In ’n bespreking van Wessel se beskouings kom die skrywer H. A. Oberman tot die slotsom dat Wessel gemeen het dat Tomas van Aquino en ander, indien hulle Hebreeus geken het, “sou ontdek het dat die naam van God wat aan Moses geopenbaar is, nie ‘Ek is wat ek is’ beteken nie, maar ‘Ek sal wees wat ek sal wees’”. c Die Nuwe Wêreld-vertaling gee die juiste betekenis, naamlik “Ek sal word wat ek sal word”.—Eksodus 3:13, 14.

[Voetnoot]

c Wessel Gansfort (1419-1489) and Northern Humanism, bladsy 105.

[Erkenning]

Manuskrip: Universiteitsbibliotheek, Utrecht

[Prente op bladsy 15]

Wessel het die verkoop van aflaatbriewe wat deur pous Sixtus IV goedgekeur is, betwis