Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Demone—Hoe kan ons hulle weerstaan?

Demone—Hoe kan ons hulle weerstaan?

Demone—Hoe kan ons hulle weerstaan?

“Die engele wat nie hulle oorspronklike posisie behou het nie, maar hulle eie gepaste woonplek verlaat het, het [God] met ewige boeie onder dik duisternis vir die oordeel van die groot dag bewaar.”—JUDAS 6.

1, 2. Watter vrae ontstaan oor Satan die Duiwel en die demone?

 “BLY nugter van verstand, wees waaksaam”, waarsku die apostel Petrus. “Julle teenstander, die Duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind” (1 Petrus 5:8). Van die demone sê die apostel Paulus: “Ek wil nie hê dat julle deelgenote met die demone moet word nie. Julle kan nie die beker van Jehovah en die beker van demone drink nie; julle kan nie deel hê aan ‘die tafel van Jehovah’ en die tafel van demone nie.”—1 Korintiërs 10:20, 21.

2 Maar wie is Satan die Duiwel en die demone? Hoe en wanneer het hulle ontstaan? Het God hulle geskep? Hoe kragtig is hulle invloed oor mense? Watter verweer, in dien enige, het ons teen hulle?

Waar kom Satan en die demone vandaan?

3. Hoe het ’n engel van God Satan die Duiwel geword?

3 Vroeg in die mensegeskiedenis, toe die mens sy begin in die tuin van Eden gehad het, het ’n engel van God opstandig geword. Waarom? Omdat hy nie tevrede was met sy rol in Jehovah se hemelse reëling nie. Met die skepping van Adam en Eva het hy ’n geleentheid gesien om hulle gehoorsaamheid en aanbidding van die ware God af te keer en vir homself in te palm. Deur teen God in opstand te kom en die eerste mensepaar sover te kry om ’n sondige weg te volg, het hierdie engel homself Satan die Duiwel gemaak. Later het ander engele by sy opstand betrokke geraak. Hoe?—Genesis 3:1-6; Romeine 5:12; Openbaring 12:9.

4. Wat het party opstandige engele voor die Vloed van Noag se dag gedoen?

4 Die geïnspireerde Skrif sê vir ons dat party engele die een of ander tyd voor die groot Vloed van Noag se dag ongewone belangstelling in die vroue op die aarde begin toon het. Met ’n verkeerde bedoeling “het die [hemelse] seuns van die ware God die dogters van die mense begin opmerk, dat hulle mooi is”, sê die Bybel, “en hulle het vir hulle vrouens geneem, naamlik almal wat hulle verkies het”. Hierdie verbintenisse was onnatuurlik en het ’n basternageslag voortgebring wat as die Nefilim bekend gestaan het (Genesis 6:2-4). Die geesskepsele wat op dié wyse aan God ongehoorsaam was, het by Satan aangesluit in sy opstand teen Jehovah.

5. Hoe het dit die opstandelinge geraak toe Jehovah vernietiging deur middel van die groot Vloed gebring het?

5 Toe Jehovah die Vloed oor die mensdom gebring het, het die Nefilim en hulle mensemoeders omgekom. Die opstandige engele moes noodgedwonge hulle menseliggame aflê en na die geesteryk terugkeer. Hulle kon egter nie weer “hulle oorspronklike posisie” by God inneem nie. Hulle is eerder oorgelewer aan “dik [geestelike] duisternis”, wat as Tartarus bekend staan.—Judas 6; 2 Petrus 2:4.

6. Hoe bedrieg die demone mense?

6 Vandat die bose engele “hulle oorspronklike posisie” verloor het, is hulle die demoonmetgeselle van Satan en bevorder hulle sy bose belange. Sedert daardie tyd het die demone nie meer die vermoë om menseliggame aan te neem nie. Hulle kan mans en vroue egter verlei sodat hulle hulle aan verskillende vorme van seksuele verdorwenheid skuldig maak. En demone bedrieg die mensdom daadwerklik deur middel van spiritisme, wat dinge soos towerspreuke, voedoe en geestemediums kan insluit (Deuteronomium 18:10-13; 2 Kronieke 33:6). Die bose engele staar dieselfde lot in die gesig as die Duiwel—ewige vernietiging (Matteus 25:41; Openbaring 20:10). Maar intussen moet ons vasstaan en hulle weerstaan. Dit is verstandig van ons om te let op hoe magtig Satan is en hoe ons hom en sy demone met welslae kan weerstaan.

Hoe magtig is Satan?

7. Watter mag het Satan oor die wêreld?

7 Satan het Jehovah deur die hele geskiedenis heen belaster (Spreuke 27:11). En hy het ’n groot deel van die mensdom beïnvloed. “Die hele wêreld lê in die mag van die bose”, sê 1 Johannes 5:19. Dit is waarom die Duiwel Jesus kon versoek deur hom die gesag en die heerlikheid van “al die koninkryke van die bewoonde aarde” aan te bied (Lukas 4:5-7). Die apostel Paulus sê van Satan: “As die goeie nuus wat ons bekend maak, dan nou in werklikheid versluier is, is dit versluier onder dié wat vergaan, onder wie die god van hierdie stelsel van dinge die verstande van die ongelowiges verblind het, sodat die verligting van die glorieryke goeie nuus oor die Christus, wat die beeld van God is, nie sou deurskyn nie” (2 Korintiërs 4:3, 4). Satan is “’n leuenaar en die vader van die leuen”, maar hy doen hom voor as “’n engel van lig” (Johannes 8:44; 2 Korintiërs 11:14). Hy beskik oor die mag en die metodes wat nodig is om die verstande van die wêreld se heersers en hulle onderdane te verblind. Hy bedrieg die mensdom deur middel van propaganda en godsdiensmites en leuens.

8. Wat toon die Bybel aangaande Satan se invloed?

8 Satan se mag en invloed was waarneembaar in die tyd van die profeet Daniël, sowat vyf eeue voor ons Gewone Jaartelling. Toe Jehovah ’n engel gestuur het om ’n aanmoedigende boodskap aan Daniël oor te dra, is die engel teëgestaan deur “die [geeste]vors van die koninklike gebied van Persië”. Die getroue engel is 21 dae lank opgehou totdat “Migael, een van die vernaamste vorste,” hom kom help het. Dieselfde verslag praat ook van “die [demoon]vors van Griekeland” (Daniël 10:12, 13, 20). En in Openbaring 13:1, 2 word Satan uitgebeeld as “die draak” wat aan die politieke wilde dier “sy krag en sy troon en groot gesag” gee.

9. Teen wie stry Christene?

9 Geen wonder die apostel Paulus het geskryf nie: “Ons het ’n worstelstryd, nie teen bloed en vlees nie, maar teen die regerings, teen die owerhede, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geesmagte in die hemelse plekke” (Efesiërs 6:12). Selfs vandag nog oefen demoniese magte, onder die beheer van Satan die Duiwel, agter die skerms invloed uit op menseheersers en op die mensdom in die algemeen, terwyl hulle hulle aanhits om onbeskryflike dade te pleeg, soos volksmoord, terreuraanvalle en moord. Kom ons ondersoek nou hoe ons hierdie kragtige geesmagte met welslae kan weerstaan.

Wat kan ons beskerm?

10, 11. Hoe kan ons Satan en sy bose engele weerstaan?

10 Ons kan Satan en sy bose engele nie in ons eie krag, hetsy fisies of verstandelik, weerstaan nie. Paulus maan ons: “Hou aan om krag te verkry in die Here en in die mag van sy sterkte.” Ons moet ons tot God wend om beskerming. Paulus voeg by: “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle kan vasstaan teen die sette van die Duiwel. Neem . . . die volle wapenrusting van God op, sodat julle in die bose dag weerstand kan bied en, nadat julle alles deeglik gedoen het, kan vasstaan.”—Efesiërs 6:10, 11, 13.

11 Paulus spoor sy mede-Christene twee keer aan om “die volle wapenrusting van God” aan te trek. Die woord “volle” gee te kenne dat geen halfhartige poging genoeg sal wees om demoniese aanvalle te weerstaan nie. Wat is dan die noodsaaklike dele van die geestelike wapenrusting wat Christene vandag dringend nodig het om die demone te weerstaan?

‘Staan vas’—Hoe?

12. Hoe kan Christene hulle lendene met waarheid omgord?

12 Paulus verduidelik: “Staan dus vas, julle lendene omgord met waarheid, en met die borsplaat van regverdigheid aan” (Efesiërs 6:14). Die twee dele van die wapenrusting waarna hier verwys word, is ’n gordel en ’n borsplaat. ’n Soldaat moes sorg dat sy gordel styf pas sodat dit sy lendene (heupe, lies en onderbuik) kon beskerm en die gewig van sy swaard kon dra. Net so moet Bybelwaarheid as ’t ware styf om ons gebind wees sodat ons in ooreenstemming daarmee lewe. Het ons ’n rooster vir daaglikse Bybellees? Is die hele gesin daarby betrokke? Is dit deel van ons roetine om die dagteks as ’n gesin te bespreek? En bly ons op hoogte van die verduidelikings in publikasies wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word? (Matteus 24:45). Indien wel, probeer ons Paulus se raad toepas. Ons het ook video’s en DVD’s wat skriftuurlike leiding kan voorsien. As ons styf vashou aan die waarheid, kan dit ons help om verstandige besluite te neem en keer dat ons ’n verkeerde weg volg.

13. Hoe kan ons ons figuurlike hart beskerm?

13 Die letterlike borsplaat het die soldaat se bors, hart en ander lewensorgane beskerm. Die Christen kan sy figuurlike hart—die persoon wat hy innerlik is—beskerm deur liefde vir God se regverdigheid aan te kweek en deur by Jehovah se regverdige standaarde te bly. Die figuurlike borsplaat keer dat ons God se Woord afwater. Wanneer ons leer om te ‘haat wat sleg is en lief te wees vir wat goed is’, hou ons ons voete terug “van elke slegte pad”.—Amos 5:15; Psalm 119:101.

14. Wat beteken dit as ons “voete geskoei [is] met die toerusting van die goeie nuus van vrede”?

14 Die voete van Romeinse soldate was gewoonlik goed geskoei vir lang staptogte oor die honderde kilometers van die Romeinse hoofweë wat die ryk deurkruis het. Wat beteken die uitdrukking “voete geskoei met die toerusting van die goeie nuus van vrede” vir Christene? (Efesiërs 6:15). Dit beteken dat ons gereed is vir optrede. Ons is gereed om die goeie nuus van God se Koninkryk by elke gepaste geleentheid bekend te maak (Romeine 10:13-15). As ons in die Christelike bediening bedrywig is, dien dit as ’n beskerming teen Satan se “sette”, of “listige dade”.—Efesiërs 6:11, voetnoot in NW.

15. (a) Wat toon dat die groot skild van geloof baie belangrik is? (b) Watter “brandende pyle” kan ’n nadelige uitwerking op ons geloof hê?

15 Paulus gaan voort: “Neem bowenal die groot skild van geloof op, waarmee julle al die brandende pyle van die bose sal kan blus” (Efesiërs 6:16). Die raad om die groot skild van geloof op te neem, word ingelei met die woord “bowenal”, wat aandui dat hierdie deel van die wapenrusting baie belangrik is. Ons geloof moet in geen opsig te kort skiet nie. Soos ’n groot beskermende skild, beskerm ons geloof ons teen Satan se “brandende pyle”. Wat kan hierdie “pyle” vandag voorstel? Dit kan skerp beledigings, leuens en halwe waarhede wees wat deur vyande en afvalliges versprei word in ’n poging om ons geloof te ondermyn. Hierdie “pyle” kan ook versoekings wees om materialisties te wees, wat kan veroorsaak dat ons behep raak met die koop van baie verbruikersgoedere en ons selfs kan laat meeding met diegene wat in so ’n vertonerige lewenstyl verval het. Hulle het miskien in groter en beter huise en voertuie belê of spog met hulle duur juweliersware en die jongste kleremodes. Ongeag wat ander doen, ons geloof moet sterk genoeg wees om hierdie “brandende pyle” af te weer. Hoe kan ons sterk geloof opbou en handhaaf?—1 Petrus 3:3-5; 1 Johannes 2:15-17.

16. Wat kan ons help om sterk geloof op te bou?

16 Ons kan nader aan God kom deur middel van gereelde persoonlike Bybelstudie en deur opregte gebede. Ons kan Jehovah smeek om ons sterker geloof te gee en dan in ooreenstemming met ons gebede optree. Berei ons byvoorbeeld deeglik vir die weeklikse Wagtoring-studie voor met die doel om daaraan deel te neem? Ons geloof sal sterk wees as ons die Bybel en Bybelpublikasies bestudeer.—Hebreërs 10:38, 39; 11:6.

17. Hoe kan ons ‘die helm van redding aanneem’?

17 Paulus sluit sy beskrywing van die geestelike wapenrusting af met die raad: “Neem die helm van redding aan, en die swaard van die gees, dit is God se woord” (Efesiërs 6:17). Die helm het die soldaat se kop en brein, waar besluite geneem word, beskerm. Net so beskerm ons Christelike hoop ons verstandelike vermoëns (1 Tessalonisense 5:8). Ons moenie ons verstande met wêreldse doelwitte en materialistiese drome vul nie, maar moet eerder ons denke op ons godgegewe hoop gerig hou, soos Jesus gedoen het.—Hebreërs 12:2.

18. Waarom moet ons nie ons program van gereelde Bybellees verwaarloos nie?

18 Ons laaste beskermingsmiddel teen die invloed van Satan en sy demone is God se woord, of boodskap, soos opgeteken in die Bybel. Dit is nog ’n rede waarom ons nie ons program van gereelde Bybellees moet verwaarloos nie. ’n Deeglike kennis van God se Woord beskerm ons teen Satan se leuens en demoniese propaganda sowel as teen die verbitterde verklarings van afvalliges.

‘Hou aan om by elke geleentheid te bid’

19, 20. (a) Wat wag op Satan en sy demone? (b) Wat kan ons geestelik versterk?

19 Die tyd is naby dat Satan, sy demone en die goddelose wêreld uit die weg geruim sal word. Satan weet dat hy “’n kort tydjie” het. Hy is toornig en voer oorlog teen dié “wat die gebooie van God bewaar en die werk het om van Jesus te getuig” (Openbaring 12:12, 17). Dit is lewensbelangrik dat ons Satan en sy demone weerstaan.

20 Hoe dankbaar kan ons tog wees vir die vermaning om die volle wapenrusting van God aan te trek! Paulus sluit sy bespreking van die geestelike wapenrusting af met hierdie raad: “Julle [moet] met elke vorm van gebed en smeking aanhou om by elke geleentheid in gees te bid. En bly met dié doel wakker met alle standvastigheid en met smeking ten behoewe van al die heiliges” (Efesiërs 6:18). Gebed kan ons geestelik versterk en ons help om waaksaam te bly. Laat ons Paulus se woorde ter harte neem en aanhou bid, want dit sal ons help om Satan en sy demone te weerstaan.

Wat het jy geleer?

• Waar kom Satan en sy demone vandaan?

• Hoe magtig is die Duiwel?

• Wat kan ons teen Satan en sy demone beskerm?

• Hoe kan ons die volle wapenrusting van God aantrek?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 26]

‘Die seuns van die ware God het die dogters van die mense begin opmerk’

[Prent op bladsy 28]

Kan jy die ses dele van ons geestelike wapenrusting identifiseer?

[Prente op bladsy 29]

Hoe kan deelname aan hierdie bedrywighede as ’n beskerming teen Satan en sy demone dien?