Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Eertydse kopiïste en die Woord van God

Eertydse kopiïste en die Woord van God

Eertydse kopiïste en die Woord van God

DIE Hebreeuse Geskrifte is teen die einde van die vyfde eeu v.G.J. voltooi. Gedurende die eeue daarna was Joodse geleerdes, veral die Soferim en later die Masorete, nougesette bewaarders van die Hebreeuse teks. Die oudste Bybelboeke dateer egter uit die dae van Moses en Josua, duisend jaar voor die tyd van die Soferim. Die materiaal waarop daardie boeke geskryf is, was bederfbaar; gevolglik is die boekrolle ongetwyfeld baie keer oorgeskryf. Wat weet ons van die kopiïs se werk in daardie vroeë tydperk? Was daar vaardige kopiïste in eertydse Israel?

Die oudste Bybelmanuskripte wat vandag beskikbaar is, is deel van die Dooie See-rolle, waarvan party uit die derde en tweede eeu v.G.J. dateer. “Daar is geen vroeëre afskrifte van enige deel van die Bybel beskikbaar nie”, verduidelik professor Alan R. Millard, ’n kenner van Nabye-Oosterse tale en argeologie. Hy sê verder: “Naburige kulture kan toon hoe eertydse kopiïste te werk gegaan het, en hierdie kennis kan help om die Hebreeuse teks en die geskiedenis daarvan te evalueer.”

Die kopiïs se werk in vroeë tye

Geskiedkundige, godsdienstige, regs-, vakkundige en letterkundige tekste het reeds vierduisend jaar gelede in Mesopotamië die lig gesien. Skole vir kopiïste het gefloreer, en een van die vakrigtings wat aangebied is, was die getroue oorskrywing van bestaande tekste. Hedendaagse geleerdes vind slegs geringe veranderinge in Babiloniese tekste wat oor ’n tydperk van duisend jaar of langer herhaaldelik oorgeskryf is.

Kopiïste is nie net in Mesopotamië aangetref nie. The Oxford Encyclopedia of Archaeology in the Near East sê: “’n Babiloniese kopiïs van die middel van die tweede millennium v.G.J. sou waarskynlik tuis gevoel het in enige van die sentrums vir kopiïste in Mesopotamië, Sirië, Kanaän en selfs Egipte.” a

In Moses se dag het kopiïste in Egipte groot aansien geniet. Kopiïste was voortdurend besig om letterkundige werke oor te skryf. Dit word uitgebeeld in Egiptiese grafversierings wat meer as vierduisend jaar oud is. Die ensiklopedie wat hierbo aangehaal is, sê van eertydse kopiïste in hierdie vroeë tydperk: “Teen die tweede millennium v.G.J. het hulle ’n letterkundige versameling voortgebring wat die groot beskawings van Mesopotamië en Egipte beskryf het, en hulle het ’n etiese kode vir die professionele kopiïs vasgestel.”

Hierdie “etiese kode” het die gebruik van kolofons ingesluit wat by die hoofteks gevoeg is. Kolofons het die naam van die kopiïs en van die eienaar van die tablet bevat, asook die datum, die bron van die oorspronklike waarvan die tablet oorgeskryf is, die aantal reëls, ensovoorts. Die kopiïs het dikwels bygevoeg: “Dit is volgens die oorspronklike geskryf en nagesien.” Hierdie besonderhede toon dat akkuraatheid vir eertydse kopiïste belangrik was.

Professor Millard, wat vroeër aangehaal is, sê: “Ons sien hier ’n kopieerproses wat nasienwerk en verbeteringe ingesluit het, ’n proses wat spesifieke stappe bevat het om foute te voorkom. Party hiervan, in die besonder die tel van reëls of woorde, verskyn weer in die vroeë Middeleeue in die tradisies van die Masorete.” In die tyd van Moses en Josua was daar dus in die Midde-Ooste reeds ’n gesindheid wat die noukeurige en akkurate oorskrywing van geskrifte bevorder het.

Het die Israeliete ook bekwame kopiïste gehad? Wat toon interne bewyse in die Bybel?

Kopiïste in eertydse Israel

Moses het as ’n lid van Farao se huis grootgeword (Eksodus 2:10; Handelinge 7:21, 22). Volgens Egiptoloë sou Moses se opvoeding ingesluit het dat hy die Egiptiese skrif en ten minste sommige van die vaardighede van die kopiïste moet bemeester. In sy boek Israel in Egypt sê professor James K. Hoffmeier: “Daar is rede om die Bybelse tradisie te glo wat aan Moses die vermoë toeskryf om gebeure op te teken, reisbeskrywings saam te stel en ander skryfwerk te doen.” b

Die Bybel verwys na ander in eertydse Israel wat die vaardighede van ’n kopiïs gehad het. Volgens The Cambridge History of the Bible het Moses “geletterde beamptes aangestel . . . om besluite op skrif te stel en sake te organiseer”. Hierdie gevolgtrekking is gegrond op Deuteronomium 1:15, wat sê: “Toe het ek [Moses] die hoofde van julle stamme geneem . . . en hulle as hoofde oor julle aangestel, hoofde oor duisend en hoofde oor honderd en hoofde oor vyftig en hoofde oor tien en beamptes van julle stamme.” Wie was hierdie beamptes?

Die Hebreeuse woord vir “beampte” verskyn etlike kere in Bybeltekste wat na die dae van Moses en Josua verwys. Volgens verskeie geleerdes beteken hierdie woord “’n notulehouer”, “iemand wat ‘skryf’ of ‘op skrif stel’” en “’n beampte wat die regter met sekretariële werk bygestaan het”. Die aantal kere dat hierdie Hebreeuse woord voorkom, gee te kenne dat daar heelparty van hierdie notulehouers in Israel was en dat hulle baie verantwoordelikhede in die vroeë bestuur van die nasie gehad het.

Die derde voorbeeld hou verband met Israel se priesters. Die Encyclopaedia Judaica voer aan dat hulle “godsdiens- en sekulêre pligte geletterdheid vereis het”. Moses het byvoorbeeld die seuns van Levi beveel: “Aan die einde van elke sewe jaar, . . . moet jy hierdie wet voor die hele Israel . . . lees.” Die priesters het die bewaarders van die amptelike afskrif van die Wet geword. Hulle het die skryf van verdere afskrifte gemagtig en daaroor toesig gehou.—Deuteronomium 17:18, 19; 31:10, 11.

Kyk na hoe die eerste afskrif van die Wet gemaak is. Gedurende die laaste maand van sy lewe het Moses vir die Israeliete gesê: “[Wanneer] julle deur die Jordaan sal trek na die land wat Jehovah jou God aan jou gee, moet jy ook vir jou groot klippe oprig en dit met kalk afwit. En jy moet al die woorde van hierdie wet daarop skryf” (Deuteronomium 27:1-4). Ná die vernietiging van Jerigo en Ai het die Israeliete bymekaargekom by die berg Ebal, in die middel van die Beloofde Land. Daar het Josua toe op die klippe van ’n altaar “’n afskrif geskryf van die wet van Moses” (Josua 8:30-32). Sulke inskripsies het vereis dat daar skrywers sowel as lesers moet wees. Dit dui daarop dat die vroeë Israeliete die nodige vermoë en vaardigheid gehad het om hulle heilige geskrifte akkuraat te bewaar.

Die integriteit van die Skrif

Ná die dae van Moses en Josua is verskeie ander Hebreeuse boekrolle geskryf, en handgeskrewe afskrifte is van hulle gemaak. Aangesien hierdie afskrifte verweer het of deur vogtigheid of skimmel beskadig is, moes dit vervang word. Hierdie kopieerproses het eeue lank voortgeduur.

Ondanks die sorg wat Bybelkopiïste aan die dag gelê het, het sommige foute onvermydelik ingesluip. Maar het die kopiïste se foute die Bybelteks wesenlik verander? Nee. Hierdie foute is oor die algemeen onbeduidend en het geen invloed op die Bybel se algemene integriteit nie, ’n feit wat gestaaf word deur ’n kritiese vergelyking van antieke manuskripte.

Vir Christene bevestig Jesus Christus se beskouing van die vroeë Bybelboeke die tekstuele integriteit van die Heilige Skrif. Uitdrukkings soos “Het julle nie in die boek van Moses [gelees] nie?” en “Moses het julle die Wet gegee, nie waar nie?” toon dat Jesus die handgeskrewe afskrifte wat beskikbaar was toe hy op die aarde was, as betroubaar beskou het (Markus 12:26; Johannes 7:19). Verder het Jesus die integriteit van al die Hebreeuse Geskrifte bevestig toe hy gesê het: “Al die dinge wat in die wet van Moses en in die Profete en Psalms oor my geskrywe staan, [moet vervul] word.”—Lukas 24:44.

Ons het dus rede om seker te wees dat die Heilige Skrif akkuraat oorgedra is uit die ou tyd. Dit is soos die geïnspireerde profeet Jesaja gesê het: “Die groen gras het verdroog, die bloeisel het verwelk; maar wat die woord van ons God betref, dit sal tot onbepaalde tyd bly bestaan.”—Jesaja 40:8.

[Voetnote]

a Josua, wat in die middel van die tweede millennium v.G.J. gelewe het, maak melding van ’n Kanaänitiese stad genaamd Kirjat-Sefer, wat “Stad van die boek” of “Stad van die kopiïs” beteken.—Josua 15:15, 16.

b Verwysings wat toon dat Moses wetlike sake op skrif gestel het, kan in Eksodus 24:4, 7; 34:27, 28 en Deuteronomium 31:24-26 gevind word. Deuteronomium 31:22 meld ’n lied wat hy op skrif gestel het, en Numeri 33:2 verwys na sy verslag van die trek deur die wildernis.

[Prent op bladsy 18]

’n Egiptiese kopiïs besig om te werk

[Prent op bladsy 19]

Die oudste boeke van die Bybel dateer uit die dae van Moses