Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Engele—Hulle invloed op die mensdom

Engele—Hulle invloed op die mensdom

Engele—Hulle invloed op die mensdom

“Ná hierdie dinge het ek ’n ander engel uit die hemel sien neerdaal, met groot gesag . . . En hy het met ’n sterk stem uitgeroep en gesê: ‘Sy het geval! Babilon die Grote het geval!’”—OPENBARING 18:1, 2.

1, 2. Wat toon dat Jehovah engele gebruik om sy wil uit te voer?

 GEDURENDE sy ballingskap op die eiland Patmos ontvang die bejaarde apostel Johannes profetiese visioene. Hy sien opwindende gebeure terwyl hy hom “deur inspirasie” in “die dag van die Here” bevind. Hierdie dag begin met Jesus Christus se kroning in 1914 en strek tot die einde van sy Duisendjarige Heerskappy.—Openbaring 1:10.

2 Jehovah God het nie hierdie openbaring regstreeks aan Johannes gegee nie. Hy het ’n kanaal gebruik. Openbaring 1:1 sê: “’n Openbaring deur Jesus Christus, wat God hom gegee het, om vir sy slawe die dinge te toon wat binnekort moet plaasvind. En hy het sy engel uitgestuur en dit deur hom in tekens aan sy slaaf Johannes oorgedra.” Jehovah het, deur Jesus, ’n engel gebruik om die wonderlike dinge in verband met “die dag van die Here” aan Johannes bekend te maak. Op een stadium het Johannes ook “’n ander engel uit die hemel sien neerdaal, met groot gesag”. Wat was hierdie engel se toewysing? “Hy het met ’n sterk stem uitgeroep en gesê: ‘Sy het geval! Babilon die Grote het geval!’” (Openbaring 18:1, 2). Hierdie magtige engel het die voorreg gehad om ’n aankondiging oor die val van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, te maak. Dit ly dus geen twyfel dat Jehovah engele op ’n belangrike manier gebruik om sy wil uit te voer nie. Voordat ons in besonderhede kyk na die rol wat engele in God se voorneme speel en watter invloed hulle op ons het, kom ons bespreek eers hoe hierdie geesskepsele in aansyn gekom het.

Hoe het engele in aansyn gekom?

3. Watter wanbegrip het baie mense oor engele?

3 Miljoene mense glo vandag dat engele bestaan. Maar baie het wanbegrippe oor hulle en hulle oorsprong. Party godsdienstige mense dink byvoorbeeld dat ’n geliefde wat sterf, na God geroep word en ’n engel word. Is dit wat God se Woord leer oor die skepping, die bestaan en die doel van engele?

4. Wat sê die Skrif vir ons oor die oorsprong van engele?

4 Die engel met die grootste krag en gesag—die hoofengel—word Migael, die aartsengel, genoem (Judas 9). Hy is niemand anders nie as Jesus Christus (1 Tessalonisense 4:16). Toe Jehovah hom ontelbare eeue gelede voorgeneem het om ’n Skepper te wees, was hierdie engeleseun sy heel eerste skepping (Openbaring 3:14). Later het Jehovah alle ander geesskepsele deur hierdie eersgebore Seun geskep (Kolossense 1:15-17). Jehovah het na hierdie engeleskepsele as sy seuns verwys toe hy die aartsvader Job gevra het: “Waar was jy toe ek die aarde gegrondves het? Vertel my, as jy verstand het. . . . Wie het sy hoeksteen gelê, toe die môresterre saam van vreugde uitgeroep het en al die seuns van God begin juig het?” (Job 38:4, 6, 7). Dit is duidelik dat die engele deur God geskep is, en hulle het lank voor die mens in aansyn gekom.

5. Hoe is engele georganiseer?

5 “God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede”, sê 1 Korintiërs 14:33. Gevolglik het Jehovah sy geesseuns in drie basiese kategorieë georganiseer: (1) serafs, wat by God se troon dien, sy heiligheid verkondig en sy volk geestelik rein hou, (2) gerubs, wat Jehovah se majesteit ondersteun, en (3) ander engele, wat sy wil uitvoer (Psalm 103:20; Jesaja 6:1-3; Esegiël 10:3-5; Daniël 7:10). Wat is ’n paar maniere waarop hierdie geesskepsele ’n invloed op mense het?—Openbaring 5:11.

Watter rol speel engele?

6. Hoe het Jehovah gerubs in verband met die tuin van Eden gebruik?

6 Die eerste regstreekse verwysing na geesskepsele word in Genesis 3:24 gemaak, waar ons lees: “[Jehovah] het . . . die mens uitgedryf en die gerubs en die vlammende lem van ’n immer draaiende swaard aan die oostekant van die tuin van Eden geplaas om die weg na die boom van die lewe te bewaak.” Hierdie gerubs het dit vir Adam en Eva onmoontlik gemaak om weer hulle oorspronklike tuintuiste binne te gaan. Dit was aan die begin van die mensegeskiedenis. Watter rol het engele sedertdien gespeel?

7. Wat is een van die rolle wat engele speel, soos die betekenis van die woord “engel” in die oorspronklike tale te kenne gee?

7 Engele word byna 400 keer in die Bybel gemeld. Die Hebreeuse sowel as die Griekse woord vir “engel” kan as “boodskapper” vertaal word. Engele het dus as ’n kommunikasiekanaal tussen God en die mensdom gedien. Soos gemeld is in die eerste twee paragrawe van hierdie artikel, het Jehovah ’n engel gebruik om sy boodskap aan die apostel Johannes oor te dra.

8, 9. (a) Watter uitwerking het besoeke van ’n engel op Manoag en sy vrou gehad? (b) Wat kan ouers leer uit Manoag se ondervinding met God se engel?

8 Engele word ook gebruik om God se knegte op die aarde te ondersteun en aan te moedig. Gedurende die tyd van die rigters van Israel wou Manoag en sy onvrugbare vrou byvoorbeeld baie graag ’n kind hê. Jehovah het sy engel gestuur om Manoag se vrou mee te deel dat sy ’n seun sou hê. Die verslag sê vir ons: “Kyk! jy sal swanger wees, en jy sal beslis aan ’n seun geboorte gee, en geen skeermes mag op sy kop kom nie, want die kind sal ’n Nasireër van God word vandat hy die moederskoot verlaat; en hy sal die leiding neem om Israel uit die hand van die Filistyne te red.”—Rigters 13:1-5.

9 Die vrou van Manoag het uiteindelik geboorte gegee aan ’n seun, Simson, wat beroemd geword het in Bybelgeskiedenis (Rigters 13:24). Voordat die kind gebore is, het Manoag gevra dat die engel na hulle toe moet terugkeer om hulle te onderrig oor hoe hulle die seun moet grootmaak. Manoag het gevra: “Wat sal die kind se lewenswyse en sy werk wees?” Jehovah se engel het die instruksies herhaal wat hy aan Manoag se vrou gegee het (Rigters 13:6-14). Hoe moes dit Manoag tog nie aangemoedig het nie! Engele besoek mense vandag nie op dieselfde manier nie, maar ouers kan, soos Manoag, Jehovah se denke probeer verkry terwyl hulle hulle kinders opvoed.—Efesiërs 6:4.

10, 11. (a) Watter uitwerking het die invallende Siriese leër op Elisa en sy dienskneg gehad? (b) Hoe kan bepeinsing oor hierdie voorval ons help?

10 Ons vind ’n indrukwekkende voorbeeld van die ondersteuning van engele in die profeet Elisa se dag. Elisa het in Dotan, ’n stad in Israel, gewoon. Eendag, toe Elisa se dienaar vroeg die oggend opstaan en na buite kyk, het hy gesien dat die stad omsingel is deur perde en strydwaens. Die koning van Sirië het ’n sterk krygsmag gestuur om Elisa gevange te neem. Hoe het Elisa se dienaar gereageer? Bevrees, moontlik paniekbevange, het hy uitgeroep: “Ag, my heer! Wat sal ons doen?” Vir hom het alles verlore gelyk. Maar Elisa het geantwoord: “Moenie bang wees nie, want dié wat by ons is, is meer as dié wat by hulle is.” Wat het hy bedoel?—2 Konings 6:11-16.

11 Elisa het geweet dat engeleskares teenwoordig was om hom te ondersteun. Maar sy dienaar het niks gesien nie. Daarom het “Elisa . . . begin bid en gesê: ‘O Jehovah, open asseblief sy oë, sodat hy kan sien.’ Onmiddellik het Jehovah die dienaar se oë geopen, sodat hy gesien het; en kyk! die bergstreek was vol perde en strydwaens van vuur rondom Elisa” (2 Konings 6:17). Die dienaar kon toe die engeleskares sien. Met geestelike insig kan ons ook sien dat engele, almal onder leiding van Jehovah en Christus, ondersteuning en beskerming aan Jehovah se volk gee.

Die ondersteuning van engele in Christus se tyd

12. Watter ondersteuning het Maria van die engel Gabriël ontvang?

12 Dink aan die ondersteuning wat die Joodse maagd Maria ontvang het toe sy die tyding gehoor het: “Jy sal in jou moederskoot ontvang en aan ’n seun geboorte gee, en jy moet hom Jesus noem.” Net voordat die engel Gabriël, wat deur God gestuur is, hierdie verrassende boodskap oorgedra het, het hy vir haar gesê: “Moenie vrees nie, Maria, want jy het guns by God gevind” (Lukas 1:26, 27, 30, 31). Hoe moes hierdie woorde wat haar van goddelike guns verseker het, Maria tog nie aangemoedig en versterk het nie!

13. Hoe het engele Jesus ondersteun?

13 Ons vind nog ’n geval van ondersteuning deur engele nadat Jesus die drie versoekings weerstaan het waaraan Satan Hom in die wildernis onderwerp het. Ná die toetse, sê die verslag vir ons, “het die Duiwel hom verlaat, en kyk! engele het gekom en hom begin bedien” (Matteus 4:1-11). Iets soortgelyks het die nag voor Jesus se dood gebeur. Jesus het in angs op sy knieë gegaan en begin bid en gesê: “‘Vader, as u wil, neem hierdie beker van my af weg. Laat nietemin nie my wil nie, maar u wil geskied.’ Toe het ’n engel uit die hemel aan hom verskyn en hom versterk” (Lukas 22:42, 43). Maar watter soort ondersteuning gee engele ons vandag?

Die ondersteuning van engele in hedendaagse tye

14. Watter vervolging moes Jehovah se Getuies in hedendaagse tye verduur, en met watter gevolg?

14 Sien ons nie bewys van die ondersteuning van engele as ons kyk na die hedendaagse geskiedenis van die predikingswerk van Jehovah se Getuies nie? Byvoorbeeld, Jehovah se volk kon staande bly onder die aanslag van Nazisme in Duitsland en Wes-Europa voor en gedurende die Tweede Wêreldoorlog (1939-45). Onder Katolieke Fascistiese regeringstelsels in Italië, Spanje en Portugal moes hulle vervolging selfs langer deurstaan. En hulle het dekades lank vervolging in die voormalige Sowjetunie en sy satellietlande verduur. Ook moet die vervolging wat die Getuies in party Afrikalande verduur het, nie oor die hoof gesien word nie. a In onlangser tye het Jehovah se knegte wrede vervolging in die land Georgië ondergaan. Satan het alles in sy vermoë gedoen om die bedrywighede van Jehovah se Getuies stop te sit. Maar as ’n organisasie het hulle hierdie teenstand oorleef en vooruitgegaan. Dit is deels te danke aan die beskerming wat die engele voorsien het.—Psalm 34:7; Daniël 3:28; 6:22.

15, 16. Watter ondersteuning van engele ontvang Jehovah se Getuies in hulle wêreldwye bediening?

15 Jehovah se Getuies neem hulle opdrag ter harte om die goeie nuus van God se Koninkryk aardwyd te verkondig en om dissipels te maak deur Bybelwaarheid aan belangstellendes in alle wêrelddele te leer (Matteus 28:19, 20). Hulle besef egter goed dat hulle nie hierdie opdrag sonder die ondersteuning van die engele kan uitvoer nie. Daarom is die woorde van Openbaring 14:6, 7 vir hulle ’n voortdurende bron van aanmoediging. Ons lees daar: “Ek [die apostel Johannes] het ’n ander engel in die middel van die hemel sien vlieg, en hy het ewige goeie nuus gehad om as blye tyding bekend te maak aan dié wat op die aarde woon, en aan elke nasie en stam en taal en volk, en hy het met ’n harde stem gesê: ‘Vrees God en gee hom heerlikheid, want die uur van die oordeel deur hom het aangebreek, en aanbid dus die Een wat die hemel en die aarde en see en waterfonteine gemaak het.’”

16 Hierdie woorde toon duidelik dat die groot wêreldwye evangelisasiewerk van Jehovah se Getuies deur engele ondersteun en gerig word. Jehovah gebruik sy engele om opregte mense na sy Getuies te rig. Die engele het ook die Getuies na verdienstelike persone gelei. Dit verklaar waarom dit by so baie geleenthede gebeur—te dikwels om blote toeval te wees—dat een van Jehovah se Getuies iemand ontmoet op die presiese tyd dat hy of sy ’n krisis beleef en geestelike hulp nodig het.

’n Dramatiese rol in die nabye toekoms

17. Hoe het die Assiriërs teen net een engel gevaar?

17 Engele dien nie net as boodskappers en ’n versterkende hulp vir Jehovah se aanbidders nie; hulle het nog ’n funksie. In die verlede het hulle goddelike oordele voltrek. In die agtste eeu v.G.J. is Jerusalem byvoorbeeld deur ’n ontsaglike horde Assiriese soldate bedreig. Hoe het Jehovah gereageer? Hy het gesê: “Ek sal hierdie stad beslis verdedig om dit ter wille van my en ter wille van my kneg Dawid te red.” Die Bybelverslag vertel vir ons wat gebeur het: “In dié nag het die engel van Jehovah uitgetrek en honderd-vyf-en-tagtigduisend in die kamp van die Assiriërs doodgemaak. Toe mense die oggend vroeg opstaan, kyk, toe was hulle almal lyke” (2 Konings 19:34, 35). Hoe niksbeduidend is die mens se leërs tog in vergelyking met die krag van net een engel!

18, 19. Watter dramatiese rol sal engele in die nabye toekoms speel, en watter uitwerking sal dit op die mensdom hê?

18 Engele sal in die nabye toekoms as God se teregstellingsmagte dien. Jesus sal binnekort “met sy magtige engele in ’n vlammende vuur” kom. Hulle taak sal wees om “wraak [uit te oefen] op dié wat God nie ken nie en dié wat die goeie nuus oor ons Here Jesus nie gehoorsaam nie” (2 Tessalonisense 1:7, 8). Wat ’n uitwerking sal hierdie optrede tog op die mensdom hê! Dié wat weier om gehoor te gee aan die goeie nuus van God se Koninkryk wat nou aardwyd verkondig word, sal vernietig word. Net dié wat Jehovah, regverdigheid en sagmoedigheid soek, sal “verberg word in die dag van Jehovah se toorn” en ongedeerd daarvan afkom.—Sefanja 2:3.

19 Ons kan dankbaar wees dat Jehovah sy magtige engele gebruik om sy aanbidders op die aarde te ondersteun en te versterk. Ons begrip van die rol wat engele in God se voorneme speel, is baie bemoedigend, aangesien daar engele is wat teen Jehovah in opstand gekom en onder Satan se leierskap gekom het. Die volgende artikel sal bespreek watter stappe ware Christene kan doen om hulleself teen die kragtige invloed van Satan die Duiwel en sy demone te beskerm.

[Voetnoot]

a Vir breedvoerige verslae van hierdie vlae van vervolging, sien die Yearbook of Jehovah’s Witnesses vir 1983 (Angola), 1974 en 1999 (Duitsland), 1992 (Etiopië), 1982 (Italië), 1999 (Malawi), 2004 (Moldowa), 1996 (Mosambiek), 2002 (die Oekraïne), 1994 (Pole), 1983 (Portugal), 1978 (Spanje), 2000 (Tsjeggiese Republiek), 1972 (Tsjeggo-Slowakye) en 2006 (Zambië).

Wat het jy geleer?

• Hoe het engele in aansyn gekom?

• Hoe is engele in Bybeltye gebruik?

• Wat onthul Openbaring 14:6, 7 oor die bedrywigheid van engele vandag?

• Watter dramatiese rol sal engele in die nabye toekoms speel?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 22]

Manoag en sy vrou is deur ’n engel aangemoedig

[Prent op bladsy 23]

“Dié wat by ons is, is meer as dié wat by hulle is”