Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Glanspunte uit die boek Jeremia

Glanspunte uit die boek Jeremia

Jehovah se Woord is lewend

Glanspunte uit die boek Jeremia

HOE skokkend moes die rampe wat Jeremia vir sy eie volk voorspel het, tog geklink het! Die pragtige tempel wat meer as drie eeue lank ’n sentrum van aanbidding was, sou tot op die grond afgebrand word. Die stad Jerusalem en die land van Juda sou woes lê, en hulle inwoners sou as gevangenes weggevoer word. ’n Verslag van hierdie en ander oordeelsboodskappe word gevind in die tweede grootste Bybelboek, die boek Jeremia. Dit vertel ook wat Jeremia self ondervind het terwyl hy sy 67 jaar lange bediening getrou uitgevoer het. Die inligting in die boek word nie in chronologiese volgorde aangebied nie, maar volgens onderwerp.

Waarom is die Bybelboek Jeremia vir ons van belang? Die vervulde profesieë daarin versterk ons geloof in Jehovah as die Vervuller van sy beloftes (Jesaja 55:10, 11). Jeremia se werk as profeet en die mense se gesindheid teenoor sy boodskap het parallelle in ons dag (1 Korintiërs 10:11). En die verslag van hoe Jehovah met sy volk gehandel het, benadruk sy eienskappe en moet ’n diepgaande uitwerking op ons hê.—Hebreërs 4:12.

“MY VOLK HET TWEE SLEGTE DINGE GEDOEN”

(Jeremia 1:1–20:18)

Jeremia word as profeet aangestel in die 13de jaar van die heerskappy van Josia, die koning van Juda, 40 jaar voor die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. (Jeremia 1:1, 2). Uitsprake wat hoofsaaklik gedurende die oorblywende 18 jaar van Josia se regering gedoen word, ontbloot Juda se slegtheid en maak Jehovah se oordele oor hulle bekend. “Ek sal Jerusalem kliphope maak”, sê Jehovah, “en die stede van Juda sal ek ’n verlate woesteny maak, sonder inwoner” (Jeremia 9:11). Waarom? “Want my volk het twee slegte dinge gedoen”, sê hy.—Jeremia 2:13.

Die boodskap handel ook oor die herstel van ’n berouvolle oorblyfsel (Jeremia 3:14-18; 12:14, 15; 16:14-21). Die boodskapper word egter nie goed ontvang nie. “Die hoofopsigter in die huis van Jehovah” slaan Jeremia en sit hom in die blok vir die nag.—Jeremia 20:1-3.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

1:11, 12—Waarom word die feit dat Jehovah wakker bly ten opsigte van sy woord, verbind met “’n loot van ’n amandelboom”? Die amandelboom is “een van die eerste bome wat in die lente bloei” (Vers 11, voetnoot in NW). Jehovah het in figuurlike sin ‘vroeg bly opstaan en [sy profete] gestuur’ om sy volk oor sy oordele te waarsku en het ‘wakker gebly’ totdat dit voltrek is.—Jeremia 7:25.

2:10, 11—Waarom was die dade van die ontroue Israeliete so ongewoon? Hoewel heidense nasies in die weste, in die rigting van Kittim, en in die ooste, in die rigting van Kedar, gode van ander nasies gebring en by hulle s’n gevoeg het, was die gedagte om hulle gode heeltemal met vreemdes te vervang, iets ongehoords. Die Israeliete daarenteen het Jehovah verlaat en die heerlikheid van die lewende God vir lewelose afgode verruil.

3:11-22; 11:10-12, 17—Waarom het Jeremia die noordelike tienstammeryk by sy uitsprake ingesluit, hoewel Samaria reeds in 740 v.G.J. geval het? Dit was omdat die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. ’n voltrekking van Jehovah se oordeel oor die hele nasie Israel was, nie net oor Juda nie (Esegiël 9:9, 10). Ook is die belange van die tienstammeryk, nadat dit geval het, nog steeds in Jerusalem verteenwoordig, aangesien die boodskappe van God se profete nog steeds al die Israeliete ingesluit het.

4:3, 4—Wat beteken hierdie bevel? Ontroue Jode moes die grond van hulle hart voorberei, sag maak en reinig. Hulle moes “die voorhuid” van hulle hart verwyder, dit wil sê ontslae raak van onrein gedagtes, gevoelens en beweegredes (Jeremia 9:25, 26; Handelinge 7:51). Dit het ’n verandering van lewenswyse vereis—hulle moes ophou om te beoefen wat sleg is en begin doen wat God se seën meebring.

4:10; 15:18—In watter sin het Jehovah sy afvallige volk bedrieg? In Jeremia se dag was daar profete wat ‘op grond van leuens geprofeteer het’ (Jeremia 5:31; 20:6; 23:16, 17, 25-28, 32). Jehovah het hulle nie verhinder om misleidende boodskappe te verkondig nie.

16:16—Wat word daardeur geïmpliseer dat Jehovah ‘baie vissers ontbied’ en “baie jagters laat kom” het? Dit verwys moontlik daarna dat vyandelike magte uitgestuur is om ontroue Jode te soek aan wie Jehovah sy oordeel sou voltrek. Met die oog op wat Jeremia 16:15 sê, kan die vers egter ook daarna verwys dat daar na die berouvolle Israeliete gesoek sou word.

20:7—Hoe het Jehovah ‘sy krag gebruik’ teen Jeremia en hom mislei? Omdat Jeremia onverskilligheid, verwerping en vervolging ondervind het toe hy Jehovah se oordele verkondig het, het hy miskien gevoel dat hy nie die krag het om voort te gaan nie. Maar Jehovah het sy krag teen hierdie neigings gebruik en Jeremia in staat gestel om voort te gaan. Jehovah het Jeremia dus mislei deur hom te gebruik om te doen wat die profeet self gedink het hy nie kon doen nie.

Lesse vir ons:

1:8. Jehovah verlos sy volk van vervolging—moontlik deur toe te sien dat onpartydige regters aangestel word, deur vyandige amptenare met redelikes te vervang of deur sy aanbidders die krag te gee om te volhard.—1 Korintiërs 10:13.

2:13, 18. Ontroue Israeliete het twee slegte dinge gedoen. Hulle het Jehovah, die ware bron van seëninge, leiding en beskerming, verlaat. En hulle het vir hulle hulle eie figuurlike reënputte uitgekap deur militêre bondgenootskappe met Egipte en Assirië te probeer sluit. Om vandag die ware God ten gunste van mensefilosofieë en -teorieë en die wêreld se politiek te verlaat, is dieselfde as om “die bron van lewende water” met “stukkende reënputte” te vervang.

6:16. Jehovah spoor sy opstandige volk aan om stil te staan, hulleself te ondersoek en terug te keer na “die paaie” van hulle getroue voorvaders. Moet ons onsself nie van tyd tot tyd ondersoek om te sien of ons werklik op die weg wandel waarop Jehovah wil hê ons moet wandel nie?

7:1-15. Die feit dat die Jode hulle vertroue in die tempel gestel het en dit as ’n soort beskermende gelukbringer beskou het, het hulle nie gered nie. Ons moet deur geloof wandel, nie deur aanskouing nie.—2 Korintiërs 5:7.

15:16, 17. Soos Jeremia kan ons teen ontmoediging stry. Ons kan dit doen deur genot te vind in betekenisvolle persoonlike Bybelstudie, deur Jehovah se naam te verheerlik in die bediening en deur slegte omgang te vermy.

17:1, 2. Weens die sondes van die volk van Juda het hulle offerandes Jehovah mishaag. Sedelike onreinheid maak ons lofoffers onaanvaarbaar.

17:5-8. Die mate waarin mense en instellings in ooreenstemming met God se wil en goddelike beginsels optree, bepaal in watter mate hulle ons vertroue waardig is. Wanneer dit by sake soos redding en ware vrede en veiligheid kom, is dit verstandig om ons vertroue slegs in Jehovah te stel.—Psalm 146:3.

20:8-11. Ons moenie toelaat dat onverskilligheid, teenstand of vervolging ons ywer vir die Koninkrykspredikingswerk laat verflou nie.—Jakobus 5:10, 11.

“BRING JULLE NEKKE ONDER DIE JUK VAN DIE KONING VAN BABILON”

(Jeremia 21:1–51:64)

Jeremia spreek oordele uit oor die laaste vier konings van Juda sowel as oor valse profete, slegte herders en verdorwe priesters. Jehovah verwys na die getroue oorblyfsel as goeie vye en sê: “Ek sal my oog ten goede op hulle rig” (Jeremia 24:5, 6). Drie profesieë in hoofstuk 25 som oordele op wat in latere hoofstukke verklaar word.

Die priesters en die profete beraam planne om Jeremia dood te maak. Sy boodskap is dat hulle die koning van Babilon moet dien. Vir koning Sedekia sê Jeremia: “Bring julle nekke onder die juk van die koning van Babilon” (Jeremia 27:12). Maar “die Een wat Israel verstrooi, sal hom [Israel] bymekaarmaak” (Jeremia 31:10). ’n Belofte word met reg aan die Regabiete gemaak. Jeremia word “in die Voorhof van die Lyfwag onder bewaking gestel” (Jeremia 37:21). Jerusalem word vernietig, en die meeste van die inwoners word as gevangenes weggevoer. Jeremia en sy sekretaris, Barug, is onder diegene wat agtergelaat word. Ten spyte van Jeremia se waarskuwing om dit nie te doen nie, gaan daardie bevreesde mense na Egipte. Hoofstukke 46 tot 51 bevat Jeremia se boodskap aangaande die nasies.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

22:30—Het hierdie bevel Jesus Christus se reg om die troon van Dawid te bestyg, ongeldig gemaak? (Matteus 1:1, 11). Nee, dit het nie. Deur die bevel is enige nakomeling van Jojagin die reg ontsê om “op die troon van Dawid [te] sit . . . in Juda”. Jesus sou uit die hemel regeer, nie van ’n troon in Juda af nie.

23:33—Wat is “die las van Jehovah”? In Jeremia se dag was die gewigtige uitsprake wat die profeet oor Jerusalem se vernietiging gegee het, ’n las vir sy landgenote. Die onontvanklike volk was op hulle beurt só ’n las vir Jehovah dat hy hulle sou verwerp. Net so is die skriftuurlike boodskap oor die komende vernietiging van die Christendom ’n las vir die Christendom, en die mense wat geen ag slaan nie, is vir God vermoeiend.

31:33—In watter opsig is God se wet in harte geskryf? Wanneer iemand God se wet so liefhet dat hy ’n innige begeerte het om Jehovah se wil te doen, kan daar gesê word dat God se wet in sy hart geskryf is.

32:10-15—Waarom is twee kontrakte van dieselfde transaksie gemaak? Die een kontrak is oopgelaat, sodat dit geraadpleeg kon word. Die verseëlde kontrak was ’n ekstra kopie waarmee die akkuraatheid van die oop een gestaaf kon word indien nodig. Jeremia het vir ons ’n voorbeeld gestel deurdat hy redelike wetlike prosedures gevolg het selfs toe hy sake gedoen het met ’n familielid en medegelowige.

33:23, 24—Van watter “twee families” praat dit hier? Een is die koninklike familie in die lyn van koning Dawid, en die ander is die priesterlike familie van Aäron se nakomelinge. Met die vernietiging van Jerusalem en Jehovah se tempel het dit gelyk of Jehovah hierdie twee families verwerp het en nie meer ’n koninkryk oor die aarde sou hê of sy aanbidding sou herstel nie.

46:22—Waarom word die stem van Egipte met dié van ’n slang vergelyk? Dit kan verwys na ’n sissende aftog of na die lae toon van die nasie se stem weens die rampspoed wat hulle ervaar. Die vergelyking toon ook hoe tevergeefs dit vir Egiptiese Farao’s was om ’n afbeelding van die heilige slang op hulle hooftooisel te dra vir die sogenaamde beskerming van die slanggodin Oeatsjit.

Lesse vir ons:

21:8, 9; 38:19. Selfs ter elfder ure het Jehovah die onberouvolle inwoners van Jerusalem, wat verdien het om te sterf, ’n keuse gegee. Ja, “sy barmhartighede is baie”.—2 Samuel 24:14; Psalm 119:156.

31:34. Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat Jehovah nie die sondes van diegene wat hy vergewe, herroep en in die toekoms teen hulle optree nie!

38:7-13; 39:15-18. Jehovah vergeet nie ons getroue diens nie, onder andere dat ons ‘die heiliges dien’.—Hebreërs 6:10.

45:4, 5. Net soos in die laaste dae van Juda, is “die laaste dae” van die teenswoordige stelsel van dinge nie die tyd om “groot dinge” te soek, soos rykdom, vernaamheid of materiële sekuriteit nie.—2 Timoteus 3:1; 1 Johannes 2:17.

JERUSALEM WORD AAN DIE BRAND GESTEEK

(Jeremia 52:1-34)

Dit is die jaar 607 v.G.J. Sedekia is in die 11de jaar van sy koningskap. Koning Nebukadnesar van Babilon beleër Jerusalem al die afgelope 18 maande. Dit is die sewende dag van die vyfde maand van die 19de jaar van Nebukadnesar se bewind. Nebusaradan, die hoof van die lyfwag, ‘kom na’, of kom aan by, Jerusalem (2 Konings 25:8). Nebusaradan bestudeer die situasie moontlik vanuit sy kamp buite die stadsmure en beplan sy strategie. Drie dae later, op die tiende van die maand, ‘kom hy in’, of tot binne, Jerusalem. En hy steek die stad aan die brand.—Jeremia 52:12, 13.

Jeremia gee ’n uitvoerige verslag van die val van Jerusalem. Sy beskrywing voorsien dus ’n grondslag vir ’n geweeklaag, of treursang. Hierdie liedere verskyn in die Bybelboek Klaagliedere.

[Prent op bladsy 8]

Jeremia se uitsprake het Jehovah se oordeel oor Jerusalem ingesluit

[Prent op bladsy 9]

Hoe het Jehovah ‘sy krag gebruik’ teen Jeremia?

[Prent op bladsy 10]

“Soos hierdie goeie vye, so sal ek die ballinge van Juda . . . aansien.”—Jeremia 24:5.