Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe Hanna vrede gevind het

Hoe Hanna vrede gevind het

Hoe Hanna vrede gevind het

’N GETROUE vrou verhef haar stem in ’n gebed waarin sy Jehovah loof. Sy voel dat God haar uit die stof opgerig het en haar neerslagtigheid met gejubel vervang het.

Die vrou se naam is Hanna. Wat is die rede vir die merkwaardige verandering in haar gevoelens? Waarom is sy nou so vreugdevol? Hoe kan ons by haar ondervinding baat vind? Kom ons kyk na Hanna se verhaal om die antwoorde op hierdie vrae te kry.

’n Gesin onder druk

Hanna is een van die twee vrouens van Elkana, ’n Leviet wat in die gebied van Efraim woon (1 Samuel 1:1, 2a; 1 Kronieke 6:33, 34). Hoewel veelwywery nie deel van God se oorspronklike voorneme vir die mens was nie, word dit onder die Mosaïese Wet toegelaat en beheer. Elkana se gesin aanbid Jehovah, maar veelwywige huwelike lei dikwels tot onmin, soos toegelig word deur die situasie in Elkana se huis.

Hanna is onvrugbaar, terwyl Peninna, Elkana se ander vrou, ’n hele paar kinders het. Peninna is Hanna se mededingster.—1 Samuel 1:2b.

Onder Israelitiese vroue word onvrugbaarheid beskou as ’n smaad en selfs as ’n teken dat hulle in God se oë onwaardig is. Daar is egter geen aanduiding dat Hanna se onvermoë om kinders te hê, ’n blyk van goddelike misnoeë is nie. Maar pleks van Hanna te vertroos, gebruik Peninna haar eie vermoë om kinders te hê, om haar mededingster ongelukkig te maak.

Reise na Jehovah se heiligdom

Ondanks hierdie spanning onderneem Elkana se gesin elke jaar ’n reis om offerandes by Jehovah se heiligdom in Silo te bring. a Hierdie heen- en terugreis van sowat 60 kilometer word waarskynlik te voet afgelê. Vir Hanna moet hierdie geleenthede besonder moeilik wees, omdat etlike dele van die gemeenskapsoffer aan Peninna en haar kinders gegee word, terwyl Hanna net een deel ontvang. Peninna gryp hierdie geleenthede aan om Hanna te tart, wat haar ontsteld laat voel omdat dit lyk asof Jehovah “haar moederskoot toegesluit het”. Hierdie teistering vind elke jaar plaas, en gevolglik huil Hanna en wil sy nie eet nie. So word geleenthede wat vir haar vreugdevol behoort te wees, tye van smart. Hanna lê nietemin hierdie reise na Jehovah se heiligdom af.—1 Samuel 1:3-7.

Sien jy hoe Hanna ’n goeie voorbeeld vir ons gestel het? Hoe reageer jy wanneer jy mismoedig is? Sonder jy jou af en hou jy op om met mede-gelowiges om te gaan? Hanna het dit nie gedoen nie. Sy het ’n gewoonte daarvan gemaak om tussen aanbidders van Jehovah te wees. Ons moet ondanks moeilike omstandighede dieselfde doen.—Psalm 26:12; 122:1; Spreuke 18:1; Hebreërs 10:24, 25.

Elkana probeer Hanna vertroos en spoor haar aan om oor haar diepste gevoelens te praat. “Hanna, waarom huil jy, en waarom eet jy nie, en waarom is jou hart bedroef?” vra hy. “Is ek nie vir jou beter as tien seuns nie?” (1 Samuel 1:8). Miskien is Elkana nie bewus van Peninna se onvriendelikheid nie, en Hanna verkies dalk om eerder in stilte te ly as om te kla. Hoe dit ook al sy, die geestelikgesinde Hanna soek innerlike vrede deur Jehovah in gebed te nader.

Hanna lê ’n gelofte af

Gemeenskapsoffers is by Jehovah se heiligdom geëet. Nadat Hanna die eetvertrek verlaat het, bid sy tot God (1 Samuel 1:9, 10). “O Jehovah van die leërs”, smeek sy, “as u vir seker die ellende van u slavin sal aansien en aan my sal dink, en u u slavin nie sal vergeet nie en aan u slavin ’n manlike nakomeling sal gee, sal ek hom aan Jehovah gee al die dae van sy lewe, en geen skeermes sal op sy kop kom nie.”—1 Samuel 1:11.

Hanna se gebed is spesifiek. Sy vra ’n seun en belowe plegtig dat hy aan Jehovah toegewy sal word om Hom lewenslank as ’n Nasireër te dien (Numeri 6:1-5). So ’n gelofte is onderworpe aan die goedkeuring van haar man, en Elkana se latere handelinge toon dat sy geliefde vrou se belofte sy goedkeuring wegdra.—Numeri 30:6-8.

Die manier waarop Hanna bid, laat die hoëpriester Eli dink dat sy dronk is. Haar lippe bewe, maar hy hoor geen woorde nie, want Hanna praat in haar hart. Dit is ’n baie vurige gebed (1 Samuel 1:12-14). Dink net hoe Hanna moet voel wanneer Eli haar berispe en sê dat sy dronk is! Tog antwoord sy die hoëpriester respekvol. Wanneer Eli besef dat Hanna “uit die oorvloed van [haar] besorgdheid en [haar] kommer” gebid het, sê hy: “Mag die God van Israel jou versoek toestaan” (1 Samuel 1:15-17). Daarop gaan Hanna weg en eet sy, en “haar gesig [toon] nie meer besorgdheid oor haar situasie” nie.—1 Samuel 1:18.

Wat kan ons uit dit alles leer? Wanneer ons oor ons kwellinge tot Jehovah bid, kan ons hom vertel hoe ons voel en opregte versoeke tot hom rig. As ons niks meer kan doen om die probleem op te los nie, moet ons die saak in sy hande laat. Daar is geen beter weg om te volg nie.—Spreuke 3:5, 6.

Nadat Jehovah se knegte vurig gebid het, sal hulle heel waarskynlik ’n vrede ondervind soos dié van Hanna. Aangaande gebed het die apostel Paulus geskryf: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak” (Filippense 4:6, 7). Wanneer ons ons las op Jehovah werp, moet ons dit aan hom oorlaat. Dan hoef ons, soos Hanna, nie meer besorg te wees oor ons situasie nie.—Psalm 55:22.

’n Seun wat aan Jehovah geleen word

Nou rig God sy aandag op Hanna; sy word swanger en gee geboorte aan ’n seun (1 Samuel 1:19, 20). Dit is een van die min gevalle in die Bybel waar God verantwoordelikheid aanvaar vir die geboorte van iemand wat sy kneg sal word. Elkana en Hanna se seun Samuel sal Jehovah se profeet word, wat ’n belangrike rol sal speel in die stigting van Israel se monargie.

Hanna begin Samuel ongetwyfeld van kleins af van Jehovah leer. Maar vergeet sy die gelofte wat sy afgelê het? Nee, beslis nie! “Sodra die seun gespeen is, sal ek hom bring, en hy sal voor Jehovah verskyn en tot onbepaalde tyd daar woon”, sê sy. Wanneer Samuel gespeen is, dalk op die ouderdom van drie of ’n bietjie ouer, neem Hanna hom om in Jehovah se heiligdom te woon, net soos sy plegtig belowe het.—1 Samuel 1:21-24; 2 Kronieke 31:16.

Nadat hulle ’n offerande aan Jehovah gebring het, lei Hanna en haar man vir Samuel na Eli toe. Hanna hou heel waarskynlik haar seuntjie se hand vas wanneer sy vir Eli sê: “Verskoon my, my heer! So waar as u siel lewe, my heer, ek is die vrou wat by u in hierdie plek gestaan het om tot Jehovah te bid. Met betrekking tot hierdie seun het ek gebid dat Jehovah my versoek moet toestaan wat ek van hom gevra het. En op my beurt het ek hom aan Jehovah geleen. Al die dae dat hy bestaan, is hy een wat gevra is vir Jehovah.” So begin Samuel se lewe van spesiale diens aan God.—1 Samuel 1:25-28; 2:11.

Hanna vergeet Samuel beslis nie met verloop van tyd nie. Die Skrif sê: “Sy moeder [het] vir hom ’n moulose oorkleedjie gemaak, en sy het dit van jaar tot jaar vir hom gebring wanneer sy saam met haar man opgekom het om die jaarlikse offerande te bring” (1 Samuel 2:19). Hanna hou sekerlik aan om vir Samuel te bid. Tydens haar jaarlikse besoeke moedig sy hom ongetwyfeld aan om sy diens aan God getrou te bly uitvoer.

By een van hierdie geleenthede seën Eli Samuel se ouers en sê hy vir Elkana: “Mag Jehovah uit hierdie vrou vir jou ’n nakomeling beskik in die plek van wat geleen is, wat aan Jehovah geleen is.” In ooreenstemming met hierdie woorde word Hanna en Elkana met nog drie seuns en twee dogters geseën.—1 Samuel 2:20, 21.

Wat ’n goeie voorbeeld stel Elkana en Hanna tog vir Christenouers! Baie moeders en vaders was al bereid om seuns en dogters as ’t ware aan Jehovah te leen deur hulle aan te spoor om ’n vorm van die voltydse bediening weg van die huis af na te streef. Sulke liefdevolle ouers moet geprys word vir die opofferings wat hulle maak. En Jehovah sal hulle beloon.

Hanna se vreugdevolle gebed

Hoe gelukkig is die eens onvrugbare Hanna tog! Vroue se gebede is selde in die Skrif opgeteken. Maar in Hanna se geval weet ons van twee. Die eerste een bevat haar gevoelens toe sy getart en beproef is, en die tweede is ’n jubelende gebed van danksegging. “My hart jubel in Jehovah”, begin Hanna. Sy verheug haar dat ‘selfs die onvrugbare geboorte gegee het’, en sy loof Jehovah as Een wat ‘verhef’, Een wat ‘’n geringe uit die stof oprig’. Ja, “uit die asput hef hy ’n arme op”.—1 Samuel 2:1-10.

Die geïnspireerde verslag aangaande Hanna toon dat ons deur ander se onvolmaakthede en kwaadwilligheid seergemaak kan word. Ons moet egter nie toelaat dat sulke beproewinge ons beroof van die vreugde om Jehovah te dien nie. Hy is die groot Hoorder van die gebed, wat op die uitroepe van sy getroue knegte reageer, hulle uit ellende verlos en hulle oorvloedige vrede en ander seëninge gee.—Psalm 22:23-26; 34:6-8; 65:2.

[Voetnoot]

a Die Bybel noem hierdie sentrum van ware aanbidding Jehovah se “tempel”. In hierdie tydperk van Israel se geskiedenis is die verbondsark egter nog in ’n tent, of tabernakel. Die eerste permanente tempel vir Jehovah sal gedurende die heerskappy van koning Salomo gebou word.—1 Samuel 1:9; 2 Samuel 7:2, 6; 1 Konings 7:51; 8:3, 4.

[Prent op bladsy 17]

Hanna het Samuel aan Jehovah geleen