“Sy het ons eenvoudig gedwing om te kom”
“Sy het ons eenvoudig gedwing om te kom”
GASVRYHEID is baie algemeen in Oosterse lande. Byvoorbeeld, in Indië sal ’n gesin moontlik selfs sonder kos bly om ’n onverwagte gas iets te ete te gee. In Iran sorg ’n ma altyd dat daar genoeg kos in die yskas is sodat sy gasvryheid kan betoon aan onverwagte besoekers.
Sulke vrygewigheid was kenmerkend van baie mense wat in die Bybel gemeld word. ’n Uitsonderlike voorbeeld is dié van Lidia, wat waarskynlik ’n Joodse proseliet was wat in Filippi gewoon het, die vernaamste stad in die distrik Masedonië. Op ’n sabbatdag het die apostel Paulus en sy reisgenote Lidia en ’n paar ander vroue gevind waar hulle langs ’n rivier buite Filippi bymekaargekom het. Jehovah het haar hart oopgemaak terwyl Paulus by daardie geleentheid gepraat het. Gevolglik is sy saam met van haar huisgenote gedoop. Sy het toe by die reisigers aangedring: “As julle van oordeel is dat ek getrou is aan Jehovah, kom dan in my huis in.” Paulus se metgesel Lukas sê: “Sy het ons eenvoudig gedwing om te kom.”—Handelinge 16:11-15.
Soos Lidia betoon Christene vandag gasvryheid aan medegelowiges, soos reisende opsieners en hulle vrouens. Die gashere ‘dwing hulle eenvoudig om te kom’. Diegene wat gasvryheid betoon, word op hulle beurt geseën met opbouende geselskap en geestelike samesyn. Hoewel die meeste van Jehovah se Getuies nie welgesteld is nie, “volg [hulle] die weg van gasvryheid” (Romeine 12:13; Hebreërs 13:2). Hulle vrygewigheid maak hulle gelukkig. Jesus was beslis reg toe hy gesê het: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35.