Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat Christus se koms teweeg sal bring

Wat Christus se koms teweeg sal bring

Wat Christus se koms teweeg sal bring

“VERSKRIKKING IN SÃO PAULO.” Dit is hoe die tydskrif Veja die vier dae in Mei 2006 beskryf het toe georganiseerde misdaad Brasilië se grootste en rykste stad “op sy knieë” gedwing het. Sowat 150 geregsdienaars, misdadigers en gewone burgers het gesterf in die “meer as 100 uur van verskrikking”.

In byna elke uithoek van die aarde is geweld voorbladnuus. Menseleiers is blykbaar nie in staat om dit hok te slaan nie. Ons wêreld word ’n al hoe gevaarliker plek om in te lewe. Miskien voel jy mismoedig omdat daar oral om jou soveel slegte nuus is. Maar die tyd vir ’n verandering is op hande.

Jesus het sy volgelinge geleer om te bid dat God se Koninkryk kom en dat God se wil geskied, “soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:9, 10). Hierdie Koninkryk is ’n regering met Christus Jesus as die Koning wat deur God aangestel is. Dit sal al die probleme van die mensdom oplos. Maar God se Koninkryk kan slegs veranderinge op die aarde bewerkstellig as menseheerskappy plek maak vir Christus se heerskappy. Dit is presies wat Christus se koms teweeg sal bring.

’n Vreedsame oorgang?

Sal die nasies hulle vreedsaam aan Christus se heerskappy onderwerp? ’n Visioen wat aan die apostel Johannes gegee is, voorsien die antwoord. Johannes vertel: “Ek het die wilde dier [die politieke stelsel van die wêreld] en die konings van die aarde en hulle leërs versamel gesien om die oorlog te voer teen die een [Jesus] wat op die perd sit en teen sy leër” (Openbaring 19:19). Hoe sal die konings van die aarde in hierdie oorlog vaar? Jehovah se gesalfde Koning “sal hulle met ’n ystersepter breek, asof hulle ’n pottebakkershouer is, sal [hy] hulle stukkend slaan”, sê die Bybel (Psalm 2:9). Die politieke stelsel sal heeltemal vernietig word. God se Koninkryk “sal al hierdie koninkryke [van die mensdom] verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan”.—Daniël 2:44.

Wat van die mense wat God se Koninkryk teëstaan? “By die openbaring van die Here Jesus vanuit die hemel met sy magtige engele in ’n vlammende vuur” word Jesus uitgebeeld as iemand wat “wraak uitoefen op dié wat God nie ken nie en dié wat die goeie nuus . . . nie gehoorsaam nie” (2 Tessalonisense 1:7, 8). “Wat die goddeloses betref”, sê Spreuke 2:22, “hulle sal van die aarde af uitgeroei word; en die verraderlikes sal daarvan weggeruk word.”

Die Bybel sê oor Christus se koms: “Kyk! Hy kom met die wolke, en elke oog sal hom sien” (Openbaring 1:7). Mense sal hom nie met hulle letterlike oë sien nie. Sedert sy hemelvaart is Jesus ’n geespersoon “wat in ontoeganklike lig woon, wat nie een van die mense gesien het of kan sien nie”.—1 Timoteus 6:16.

Jesus hoef nie ’n menslike gedaante aan te neem om deur die bewoners van die aarde “gesien” te word nie, net soos dit nie vir Jehovah nodig was om dit te doen toe hy in die dae van Moses die Tien Plae oor die Egiptenaars gebring het nie. Daar het geen twyfel by die mense van daardie tyd bestaan dat Jehovah die plae gebring het nie, en hulle is gedwing om sy mag te erken (Eksodus 12:31). Wanneer Christus as God se Skerpregter optree, sal die goddeloses eweneens gedwing word om te “sien”, of te begryp, dat Jesus deur God gebruik word om hulle te oordeel. Hulle sal dit weet omdat die mensdom vooraf gewaarsku is. Ja, “elke oog sal [Jesus] sien, . . . en al die stamme van die aarde sal hulleself in droefheid slaan weens hom”.—Openbaring 1:7.

Voordat ware vrede en voorspoed op die aarde herstel kan word, moet die goddeloses vernietig word en goddelose heerskappy verwyder word. Christus sal toesien dat dit gebeur. Dan sal hy volle beheer oor al die aangeleenthede op aarde oorneem, en betekenisvolle veranderinge sal hierop volg.

’n Herstel wat voordele meebring

Die apostel Petrus het gepraat van “die herstel van alles waarvan God deur die mond van sy heilige profete van die ou tyd gespreek het” (Handelinge 3:21). Hierdie herstel sluit die verandering in wat gedurende Christus se heerskappy op die aarde sal plaasvind. Een van die profete deur wie God van “die herstel van alles” op aarde gepraat het, is die profeet Jesaja, van die agtste eeu v.G.J. Hy het voorspel dat Jesus Christus, die “Vredevors”, vrede op die aarde sal herstel. Aangaande Christus se heerskappy sê Jesaja se profesie: “Aan die oorvloed van die vorstelike heerskappy en aan vrede sal daar geen einde wees nie” (Jesaja 9:6, 7). Jesus sal die volke van die aarde in die weë van vrede onderrig. Die bewoners van die aarde “sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede”.—Psalm 37:11.

Wat sal van armoede en honger word onder Christus se heerskappy? Jesaja het gesê: “Jehovah van die leërs sal op hierdie berg beslis vir al die volke ’n feesmaal van olieryke geregte berei, ’n feesmaal van beleë wyn, van olieryke geregte vol murg, van gesuiwerde, beleë wyn” (Jesaja 25:6). Die psalmis het gesing: “Daar sal volop graan op die aarde wees; op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees” (Psalm 72:16). En aangaande die bewoners van die aarde lees ons: “Hulle sal beslis huise bou en dit bewoon; en hulle sal beslis wingerde plant en die vrug daarvan eet. Hulle sal nie bou sodat iemand anders dit bewoon nie; hulle sal nie plant sodat iemand anders dit eet nie. Want die dae van my volk sal wees soos die dae van ’n boom; en die werk van hulle eie hande sal my uitverkorenes ten volle benut.”—Jesaja 65:21, 22.

Jesaja het ook die einde van siekte en die dood voorspel. God het deur Jesaja gepraat en gesê: “Dan sal die oë van die blindes geopen word, en die ore van die dowes sal ontsluit word. Dan sal die kreupele net soos ’n takbok klim, en die tong van die stomme sal van vreugde uitroep” (Jesaja 35:5, 6). Dan ‘sal geen inwoner sê: “Ek is siek” nie’ (Jesaja 33:24). God “sal die dood vir ewig verswelg, en die Soewereine Heer Jehovah sal beslis die trane van alle gesigte afvee”.—Jesaja 25:8.

Wat van al die dooies “in die gedenkgrafte”? (Johannes 5:28, 29). Jesaja het geprofeteer: “U dooies sal lewe. . . . Hulle sal opstaan” (Jesaja 26:19). Ja, diegene wat in die dood slaap, sal weer lewend gemaak word!

“God is u troon vir ewig”

Christus se koms sal niks minder as die volledige herstel van die planeet Aarde tot gevolg hê nie. Die aarde sal in ’n pragtige paradys omskep word, en die mensdom sal verenig wees in die aanbidding van die ware God. Kan ons seker wees dat Jesus Christus daarin sal slaag om goddeloosheid van die aarde te verwyder en regverdige toestande teweeg te bring?

Dink aan die bron van die mag en gesag wat aan Jesus verleen is. Met verwysing na die Seun sê die Bybel: “God is u troon vir ewig en altyd, en die septer van u koninkryk is die septer van reg. U het regverdigheid liefgehad en u het wetteloosheid gehaat” (Hebreërs 1:8, 9). Jesus se troon, dit wil sê sy posisie of gesag, het sy oorsprong by Jehovah. God is die Insteller en Gewer van hierdie troon. Geen probleem sal vir Jesus te moeilik wees om op te los nie.

Ná sy opstanding het Jesus vir sy dissipels gesê: “Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan my gegee” (Matteus 28:18). “Engele en owerhede en magte is aan hom onderwerp”, sê 1 Petrus 3:22. Geen mag of owerheid sal Jesus suksesvol kan teëstaan nie. Niks kan hom verhinder om blywende voordele vir die mensdom te bring nie.

Hoe Christus se koms mense raak

Die apostel Paulus het in sy brief aan die Tessalonisense geskryf: “Ons dink onophoudelik aan julle getroue werk en julle liefdevolle arbeid en julle volharding weens julle hoop op ons Here Jesus Christus voor ons God en Vader” (1 Tessalonisense 1:3). Paulus het nuttige arbeid en volharding verbind met hoop op Jesus Christus. Hierdie hoop sluit geloof in Christus se koms in, asook in die herstel waarvoor dit die weg baan. Hierdie hoop kan ware Christene onderskraag of hulle help om te volhard, selfs as hulle met uiters moeilike situasies te kampe het.

Neem die voorbeeld van Carlos, wat in São Paulo, Brasilië, woon. In Augustus 2003 het Carlos uitgevind dat hy kanker het. Sedertdien het hy agt operasies ondergaan wat pynlike en uitmergelende newe-effekte gehad het. Tog was Carlos steeds ’n aanmoediging vir ander. Terwyl hy byvoorbeeld evangelisasiewerk in die straat voor ’n groot hospitaal gedoen het, het hy ’n ander Getuie van Jehovah ontmoet, wie se man chemoterapie ontvang het. Omdat Carlos die verwoestende gevolge van kanker ondervind het, kon hy die man sowel as die vrou aanmoedig en vertroos. Agterna het hulle genoem dat die gesprek hulle nuwe moed gegee het. Carlos het dus die waarheid van hierdie woorde van Paulus ervaar: “God . . . vertroos ons in al ons moeilikhede, sodat ons dié wat in enige soort moeilikheid verkeer, kan vertroos met die vertroosting wat ons van God ontvang het.”—2 Korintiërs 1:4, New International Version.

Wat help Carlos om die krag te vind om ander steeds aan te moedig ten spyte van sy siekte? Die hoop op Christus se koms en alles wat dit teweeg sal bring, beweeg Carlos om aan te hou “om te doen wat goed is”.—Galasiërs 6:9.

Neem ook die geval van Samuel, wie se broer net 50 meter van hulle pa se huis af vermoor is. Daar was tien koeëlwonde in sy broer se liggaam. Die lyk het agt uur lank op die sypaadjie gelê terwyl die polisie die misdaad ondersoek het. Samuel kan nie vergeet wat daardie dag gebeur het nie. Maar hy word onderskraag deur die hoop dat Christus die aarde van alle goddeloosheid sal reinig en dat die regverdige heerskappy wat daarop sal volg, seëninge vir die mensdom sal meebring. Samuel stel hom dikwels voor hoe hy sy verrese broer in die Paradys op aarde sal omhels.—Handelinge 24:15.

Wat moet jy doen?

Jy sal groot vertroosting put uit die hoop op Christus se koms en wat dit teweeg sal bring. Jesus Christus sal gewis al die grondoorsake van die mensdom se probleme en van die euwels wat ons teister, uit die weg ruim.

Wat moet jy doen om die seëninge te geniet wat Christus se heerskappy op die mensdom sal uitstort? Jy moet ’n noukeurige studie van God se Woord, die Bybel, maak. In ’n gebed tot sy Vader het Jesus gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Stel jou dit ten doel om te ondersoek wat die Bybel leer. Jehovah se Getuies in jou omgewing sal jou met graagte hiermee help. Ons nooi jou hartlik uit om met hulle in aanraking te kom of om aan die uitgewers van hierdie tydskrif te skryf.

[Prente op bladsy 7]

Christus se koms sal niks minder as die volledige herstel van die aarde tot gevolg hê nie

[Erkenning]

Inlasfoto, slegs agtergrond: Rhino and Lion Park, Gauteng, South Africa