Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Antwoorde wat werk!

Antwoorde wat werk!

Antwoorde wat werk!

BAIE van die raad in die tallose selfhelpboeke wat vandag beskikbaar is, is daarop toegespits om mense te help wat tans ’n krisis beleef. Die Bybel is anders. Hoewel die raad daarin diegene kan help wat in benoudheid verkeer, doen die Bybel meer as dit. Die raad daarin help ’n mens om foute te vermy wat die lewe onnodig moeilik kan maak.

Die Bybel kan “aan die onervarenes skerpsinnigheid . . . gee, aan ’n jong man kennis en denkvermoë” (Spreuke 1:4). As jy toepas wat in die Bybel gesê word, “sal denkvermoë oor jou wag hou, sal onderskeidingsvermoë jou beveilig, om jou te verlos van die slegte weg” (Spreuke 2:11, 12). Kyk na ’n paar spesifieke voorbeelde van hoe die toepassing van die Bybel se raad jou gesondheid kan beskerm, jou gesinslewe kan verbeter en van jou ’n beter werker of werkgewer kan maak.

Wees redelik wanneer dit by alkohol kom

Die Bybel veroordeel nie die matige gebruik van alkohol nie. Die apostel Paulus het gewys op die geneeskundige voordele van wyn toe hy die jong Timoteus aangespoor het: “Gebruik ’n bietjie wyn ter wille van jou maag en jou herhaalde gevalle van siekte” (1 Timoteus 5:23). Ander gedeeltes in die Bybel toon dat God se bedoeling nie was dat wyn net as medisyne gebruik moet word nie. Wyn word beskryf as iets wat “die hart van die sterflike mens vrolik maak” (Psalm 104:15). Maar die Bybel waarsku ons om nie “aan baie wyn verslaaf [te] wees nie” (Titus 2:3). Dit sê: “Moenie onder die wynsuipers wees, onder die vraatsugtige vleiseters nie. Want ’n dronkaard en ’n vraat sal in armoede verval” (Spreuke 23:20, 21). Wat is die gevolg wanneer hierdie gebalanseerde raad geïgnoreer word? Kyk na die feite uit net ’n paar lande.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie se Global Status Report on Alcohol 2004 sê: “Alkoholverwante probleme kos die Ierse gemeenskap ongeveer €2,4 miljard [R22,5 miljard] per jaar.” Hierdie ontsaglike finansiële las sluit in “gesondheidsorgkoste (€279 miljoen [R2,6 miljard]), die koste van padongelukke (€315 miljoen [R3 miljard]), die koste van alkoholverwante misdaad (€100 miljoen [R938 miljoen]), verlies aan produktiwiteit weens alkoholverwante afwesigheid van die werk (€1 034 miljoen [R9,7 miljard])”, sê die verslag.

Van groter belang as die finansiële koste van alkoholmisbruik is die lyding wat dit vir mense veroorsaak. Byvoorbeeld, in ’n tydperk van 12 maande is meer as ’n halfmiljoen mense in Australië fisies mishandel deur persone wat onder die invloed van alkohol was. In Frankryk word sowat 30 persent van alle gesinsgeweld aan alkoholmisbruik toegeskryf. Klink die Bybel se raad oor alkohol, in die lig van hierdie feite, nie vir jou redelik nie?

Vermy besoedelende gewoontes

Reeds in 1942, toe rook nog hoogmode was, het hierdie tydskrif sy lesers gehelp om te sien dat die gebruik van tabak Bybelbeginsels skend en vermy moet word. ’n Artikel wat daardie jaar gepubliseer is, het geredeneer dat diegene wat God wil behaag, die Bybel se bevel moet gehoorsaam om hulle “van elke verontreiniging van die vlees en die gees [te] reinig” (2 Korintiërs 7:1). Is dit nie nou, sowat 65 jaar later, duidelik dat hierdie Bybelse raad verstandig is nie?

In 2006 het die Wêreldgesondheidsorganisasie die gebruik van tabak as “die tweede grootste doodsoorsaak ter wêreld” beskryf. Elke jaar sterf nagenoeg vyfmiljoen mense as gevolg van tabakgebruik. In vergelyking hiermee sterf sowat driemiljoen mense elke jaar aan MIV/vigs. Gedurende die 20ste eeu het die rookgewoonte na raming die lewe van 100 miljoen mense geëis, amper soveel as wat in al die oorloë van daardie eeu gesterf het. Ja, daar word nou algemeen aanvaar dat dit wys is om tabak te vermy.

“Vlug vir die hoerery”

Wat die Bybel oor geslagsake sê, word nie so geredelik aanvaar nie. In teenstelling met wat baie mense wysgemaak is, is die Bybel nie preuts en veroordeel dit nie alle geslagsbegeertes as sondig nie. Maar dit gee wel goeie raad oor hoe daar aan menslike seksualiteit uiting gegee moet word. Die Bybel leer dat geslagsomgang slegs geoorloof is tussen ’n man en ’n vrou wat met mekaar getroud is (Genesis 2:24; Matteus 19:4-6; Hebreërs 13:4). Geslagsomgang is ’n manier waarop huweliksmaats liefde en tere geneentheid kan betoon en ontvang (1 Korintiërs 7:1-5). Enige kinders wat uit so ’n verhouding gebore word, vind baat by die feit dat hulle twee ouers het wat vir mekaar omgee.—Kolossense 3:18-21.

Wat geslagsonsedelikheid betref, beveel die Bybel: “Vlug vir die hoerery” (1 Korintiërs 6:18). Wat is een rede hiervoor? Die vers sê verder: “Elke ander sonde wat ’n mens pleeg, is buite sy liggaam, maar hy wat hoerery beoefen, sondig teen sy eie liggaam.” Wat is die gevolge wanneer die Bybel se raad in verband met geslagsake geïgnoreer word?

Kyk wat in die Verenigde State gebeur. Daardie land het nou die hoogste syfer van tienerswangerskappe in die nywerheidswêreld—sowat 850 000 elke jaar. Baie van die babas wat nie slagoffers van aborsie word nie, word vir ongehude moeders gebore. Van hierdie jong moeders doen ongetwyfeld hulle bes om hulle kinders met liefde en dissipline groot te maak, en party slaag daarin. Die naakte feite toon egter dat die moontlikheid groter is dat die seuns van tienermoeders eendag in die tronk sal beland en dat die dogters self tienermoeders sal word. Nadat die navorser Robert Lerman statistieke van die afgelope paar dekades ondersoek het, het hy geskryf: “Die neiging tot enkelouergesinne het moontlik bygedra tot ’n hoër voorkoms van ander maatskaplike probleme, soos ’n toename in kinders wat nie skool klaarmaak nie, in alkohol- en dwelmmisbruik, in tienerswangerskappe en -bevallings en in jeugmisdaad.”

Diegene wat seksueel promisku is, staar ook groot gesondheidsgevare in die gesig, liggaamlik sowel as verstandelik. Die tydskrif Pediatrics berig byvoorbeeld: “Gegewens toon dat adolessente wat seksueel aktief is, groot gevaar loop om aan depressie te ly en selfmoord te pleeg.” Wat ander gesondheidsgevare betref, sê die Amerikaanse Vereniging vir Maatskaplike Gesondheid: “Meer as die helfte van alle mense [in die Verenigde State] sal op die een of ander stadium in hulle lewe ’n SOS [seksueel oordraagbare siekte] opdoen.” Dink aan die hartseer en lyding wat vermy kan word as die Bybel se praktiese raad oor geslagsomgang gevolg word!

Bou sterk gesinsbande op

Die Bybel waarsku nie net teen vernietigende gewoontes nie. Let op die praktiese raad daarin oor hoe om die gehalte van die gesinslewe te verbeter.

God se Woord sê: “Mans [behoort] hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggaam” (Efesiërs 5:28). Mans moenie hulle vrouens as vanselfsprekend aanneem nie, maar word eerder aangespoor om “ooreenkomstig kennis met hulle saam te woon en aan hulle eer toe te ken as ’n swakker vat, die vroulike” (1 Petrus 3:7). Aangaande geskille wat kan ontstaan, word mans gemaan: “Hou aan om julle vrouens lief te hê en moenie vir hulle bitter kwaad wees nie” (Kolossense 3:19). Stem jy nie saam dat ’n man wat hierdie raad toepas, die liefde en respek van sy vrou sal wen nie?

Vir vroue gee die Bybel hierdie raad: “Laat vrouens onderdanig wees aan hulle mans soos aan die Here, want ’n man is die hoof van sy vrou, soos die Christus ook die hoof van die gemeente is . . . Die vrou . . . moet diep respek vir haar man hê” (Efesiërs 5:22, 23, 33). Dink jy nie ’n man sal sy vrou innig liefhê as sy hierdie raad toepas wanneer sy met—of van—hom praat nie?

Wat die opleiding van kinders betref, raai die Bybel julle as ouers aan om met julle kinders te kommunikeer ‘wanneer julle in julle huis sit en wanneer julle op die pad loop en wanneer julle gaan lê en wanneer julle opstaan’ (Deuteronomium 6:7). Veral vaders word beveel om hulle kinders sedelike leiding en liefdevolle dissipline te gee. “Vaders, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed”, sê God se Woord (Efesiërs 6:4). En vir kinders word daar gesê: “Wees gehoorsaam aan julle ouers” en “eer jou vader en jou moeder”. aEfesiërs 6:1, 2.

Dink jy dat gesinne daarby sal baat vind as hulle hierdie raad toepas? Jy sê dalk: ‘Ja, dit klink goed in teorie, maar werk dit regtig?’ Ons nooi jou om die plaaslike Koninkryksaal van Jehovah se Getuies te besoek. Daar sal jy gesinne ontmoet wat die Bybel se wyse raad probeer toepas. Praat met hulle. Kyk hoe gesinslede teenoor mekaar optree. Jy sal self sien dat dit gesinne regtig gelukkig maak as hulle volgens Bybelbeginsels lewe!

’n Ywerige werker en ’n regverdige werkgewer

Wat sê die Bybel oor die daaglikse uitdaging om ’n werk te behou? Dit sê dat ’n werker wat leer om sy werk goed te doen, waarskynlik waardeer en beloon sal word. “Het jy ’n man gesien wat vaardig is in sy werk?” het die wyse koning Salomo gevra. “Voor konings sal hy staan” (Spreuke 22:29). Aan die ander kant is “die luiaard” vir sy werkgewer soos irriterende “rook vir die oë” (Spreuke 10:26). Die Bybel moedig werkers aan om eerlik en vlytig te wees. “Laat die steler nie meer steel nie, maar laat hom liewer hard werk deur met sy hande goeie werk te doen” (Efesiërs 4:28). Hierdie raad is van toepassing selfs wanneer ’n werkgewer ’n werker nie dophou nie. “Wees in alles gehoorsaam aan diegene wat in vleeslike sin julle here is, nie met dade van oëdiens soos mensebehaers nie, maar met opregtheid van hart, met vrees vir Jehovah” (Kolossense 3:22). Sal jy, as jy ’n werkgewer is, nie ’n werker waardeer wat hierdie raad toepas nie?

Vir werkgewers gee die Bybel hierdie herinnering: “Die werker is sy loon werd” (1 Timoteus 5:18). God se Wet aan die Israeliete het beveel dat werkgewers hulle werkers stiptelik moet betaal en dat die betaling regverdig moet wees. “Jy mag jou naaste nie verkul nie, en jy mag nie roof nie. Die loon van ’n loonarbeider mag nie die hele nag tot die oggend toe by jou bly nie”, het Moses geskryf (Levitikus 19:13). Sal jy dit nie geniet om vir ’n werkgewer te werk wat die Bybel se riglyne gehoorsaam en jou stiptelik en regverdig betaal nie?

’n Verhewe bron van wysheid

Verbaas dit jou dat ’n boek so oud soos die Bybel raad bevat wat in ons dag van toepassing is? Die rede waarom die Bybel nou nog prakties is terwyl soveel ander boeke nie meer prakties is nie, is dat dit, nie die woord van mense nie, maar “die woord van God” bevat.—1 Tessalonisense 2:13.

Ons moedig jou aan om die tyd te neem om beter vertroud te raak met God se Woord. As jy dit doen, sal jy ’n liefde opbou vir die Outeur van die Bybel, Jehovah God. Volg die raad wat hy gee en sien hoe dit jou teen leed beskerm en jou help om jou lewe te verbeter. Sodoende sal jy “nader aan God [kom], en hy sal nader aan [jou] kom” (Jakobus 4:8). Geen ander boek kan jou in hierdie opsig help nie.

[Voetnote]

a Vir ’n breedvoerige bespreking van Bybelbeginsels wat jou gesin kan help, sien die boek Die geheim van gesinsgeluk, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prent op bladsy 4]

Dink jy dat die Bybel se beskouing oor die gebruik van alkohol prakties is?

[Prent op bladsy 5]

Stem jy saam met die Bybelse raad om tabak te vermy?

[Prente op bladsy 7]

As die Bybel se raad gevolg word, verbeter dit die gesinslewe

[Foto-erkenning op bladsy 5]

Aardbol: Based on NASA photo