Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die dissipelmaakwerk het my lewe gerig

Die dissipelmaakwerk het my lewe gerig

Lewensverhaal

Die dissipelmaakwerk het my lewe gerig

Soos vertel deur Lynette Peters

Hulle het gekom om ons daar weg te neem. ’n Skerpskutter was bo-op die gebou. Vlootsoldate het met oorgehaalde gewere in die gras gelê. Terwyl ons daardie Sondagoggend na die wagtende helikopter gehardloop het, het ek en my medesendelinge hard probeer om kalm te bly. Ons was byna oombliklik in die lug. Tien minute later was ons veilig op ’n militêre skip, wat naby die kus voor anker gelê het.

DIE volgende oggend het ons gehoor dat die rebelle die hotel gebombardeer het waar ons die vorige nag skuiling gesoek het. Die jare lange burgerlike onrus in Sierra Leone het uiteindelik op ’n volskaalse oorlog uitgeloop. Alle buitelanders, ons inkluis, moes feitlik onmiddellik uit die land vlug. Laat ek my verhaal van die begin af vertel en verduidelik waarom ek my in hierdie situasie bevind het.

Ek het grootgeword in Brits-Guiana, wat sedert 1966 as Guyana bekend staan. My jeugjare daar gedurende die 1950’s was sorgvry en gelukkig. Die meeste ouers het groot waarde aan opvoeding geheg, en daar is van jongmense verwag om goed te doen op skool. Ek onthou dat ’n bankklerk my pa eenkeer gevra het: “Waarom betaal jy so baie vir jou kinders se opvoeding?” My pa het geantwoord: “Net die allerbeste opvoeding sal hulle van sukses verseker.” Hy het destyds gedink dat die beste opvoeding by hoogaangeskrewe skole verkry kan word. Hy sou weldra van mening verander.

Toe ek 11 jaar oud was, het my ma die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Sy en ’n buurvrou het na ’n Koninkryksaal toe gegaan. Wat hulle daardie aand gehoor het, het hulle albei oortuig dat hulle die waarheid gevind het. Later het my ma vir ’n ander buurvrou vertel wat bespreek is. Kort voor lank het al drie saam met die sendelinge Daphne Harry (later Baird) en Rose Cuffie gestudeer. In minder as ’n jaar is my ma en haar twee vriendinne gedoop. Vyf jaar later het my pa uit die Sewendedagadventistekerk bedank en is hy as een van Jehovah se Getuies gedoop.

Ek en twee van my susters—die oudste drie van tien kinders—het as jong meisies talle gelukkige ure by die sendinghuis deurgebring waar Daphne en Rose gewoon het. By hierdie geleenthede het ons na die velddiensondervindinge geluister wat hulle vertel het. Hierdie sendelinge het vreugde uitgestraal terwyl hulle onvermoeid na die geestelike welsyn van ander omgesien het. Dit was hulle voorbeeld wat by my die begeerte gewek het om ’n sendeling te wees.

Maar wat het my gehelp om die voltydse bediening as my doelwit te behou ten spyte van familielede en skoolmaats wat almal ’n loopbaan as baie belangrik beskou het? Daar was soveel aanloklike geleenthede—ek kon my wy aan ’n studie van die regte, musiek, die geneeskunde of enigiets anders. My ouers se goeie voorbeeld het my die nodige leiding gegee. Hulle het die waarheid uitgelewe, die Bybel ywerig bestudeer en hulle daarop toegelê om ander te help om van Jehovah te leer. a Verder het hulle gereeld voltydse bedienaars na ons huis genooi. Die vreugde en tevredenheid wat hierdie broers en susters geopenbaar het, het my begeerte versterk om my lewe deur die dissipelmaakwerk te laat rig.

Ek is gedoop toe ek 15 jaar oud was. En ek het die voltydse pionierbediening betree onmiddellik nadat ek klaar was met hoërskool. Philomena, wat by ’n hospitaal gewerk het, was die eerste persoon wat ek gehelp het om tot toewyding en doop te vorder. Die vreugde wat dit my verskaf het om te sien hoe sy Jehovah leer liefkry, het my begeerte versterk om in die voltydse bediening te bly. Kort daarna is ek ’n beter betrekking aangebied in die staatsdienskantoor waar ek as ’n sekretaresse gewerk het. Ek het dit van die hand gewys en besluit om eerder aan te hou pionier.

Ek het nog by my ouers gewoon, en sendelinge het gereeld vir ons kom kuier. Hoe het ek dit tog geniet om na hulle ondervindinge te luister! Dit alles het my begeerte versterk om ’n sendeling te wees, al het dit feitlik onmoontlik gelyk. Sendelinge is destyds en word vandag nog na Guyana gestuur. Eendag in 1969 was ek aangenaam verras toe ek ’n uitnodiging ontvang om die Wagtoring-Bybelskool Gilead in Brooklyn, New York, by te woon.

’n Onverwagte toewysing

Daar was 54 studente uit 21 lande in die 48ste klas van Gilead. Sewentien van ons was ongetroude susters. Hoewel dit 37 jaar gelede was, kan ek daardie vyf maande nog baie duidelik onthou. Daar was soveel om te leer—nie net skriftuurlike waarhede nie, maar ook praktiese wenke en raad vir die lewe as toekomstige sendelinge. Ek het byvoorbeeld geleer om instruksies te volg, gebalanseerd te wees met betrekking tot modegiere en te volhard ondanks ongunstige omstandighede.

My ouers het altyd gereelde vergaderingbywoning benadruk. Iemand wat te siek was om die vergadering Sondag by te woon, was nie skielik gesond genoeg om die volgende aand ’n klavieruitvoering of ’n konsert by te woon nie. Maar gedurende die Gileadskool het ek nie al die vergaderinge bygewoon nie. Een Vrydagaand het ek my afwesigheid probeer regverdig teenoor Don en Dolores Adams, ’n egpaar in Bethel saam met wie ek na die vergaderinge gery het. Ag, al die huiswerk, die verslae! Hoe kan ek ook nog die Teokratiese Bedieningskool en Diensvergadering bywoon? Nadat broer Adams ’n rukkie met my geredeneer het, het hy gesê: “Laat jou gewete jou lei.” Ek het sy raad aangeneem en nie daardie aand of enige aand daarna van die vergadering weggebly nie. Deur die jare heen het ek nie toegelaat dat enigiets, behalwe uiterste omstandighede, my verhinder om Christelike vergaderinge by te woon nie.

Omtrent halfpad deur die kursus het ons begin praat oor waarheen ons gestuur sal word. Ek het altyd gedink dat ek teruggestuur sal word na Guyana, waar hulp in die predikingswerk baie nodig was. Stel jou voor hoe verbaas ek was om uit te vind dat ek nie sou teruggaan nie. Ek het eerder ’n toewysing in Sierra Leone, Wes-Afrika, ontvang. Hoe dankbaar was ek tog teenoor Jehovah dat my begeerte om ’n sendeling ver van die huis af te wees, uiteindelik vervul is!

Soveel om te leer

“Skilderagtig” is die woord wat my eerste indruk van Sierra Leone, met sy talle heuwels en berge, baaie en strande, die beste beskryf. Maar die ware skoonheid van hierdie Wes-Afrikaland word in sy inwoners gevind, wie se liefde en goedhartigheid selfs buitelanders tuis laat voel. Dit help nuwe sendelinge baie om heimwee te bowe te kom. Sierra Leoners praat graag oor hulle gebruike en kultuur en is veral gretig om nuwelinge te help om Krio, die verkeerstaal van die land, te leer.

Die mense wat Krio praat, het talle kleurvolle gesegdes. Byvoorbeeld, aap werk, bobbejaan eet, beteken dat die saaier nie altyd die maaier is nie. Hoe goed beskryf dit tog die onregverdigheid wat so algemeen is in vandag se wêreld!—Jesaja 65:22.

Die predikings- en dissipelmaakwerk was ’n genot. Jy het selde iemand gevind wat nie in die Bybel belangstel nie. Deur die jare heen het sendelinge en knegte van Jehovah wat hom al lank dien, mense uit alle agtergronde en stamme—jonk en oud—gehelp om die waarheid aan te neem.

Erla St. Hill, my eerste sendelingmaat, was ’n onvermoeide werker. Sy was nie net ywerig in die bediening nie, maar het ook vlytig na haar pligte in die sendinghuis omgesien. Sy het my die belangrikheid van baie dinge help besef, soos om die bure te leer ken, siek Getuies en belangstellendes te besoek en begrafnisreëlings sover moontlik te ondersteun. Sy het my ook laat besef hoe belangrik dit is om nooit ’n gebied ná velddiens te verlaat sonder om in te loer by die broers en susters wat in die omgewing woon nie, al is dit ook hoe vlugtig. Deur hierdie dinge te doen, het ek kort voor lank moeders, broers, susters en vriende gekry, en die land waarheen ek gestuur is, het my tuiste geword.—Markus 10:29, 30.

Ek het ook hegte vriendskapsbande gesmee met die dierbare sendelinge wat saam met my gedien het. Onder hulle was my kamermaat Adna Byrd, wat tussen 1978 en 1981 in Sierra Leone gedien het, en Cheryl Ferguson, wat die afgelope 24 jaar my kamermaat is.

Burgeroorlog bring beproewinge mee

In 1997, ongeveer ’n maand ná die toewyding van die nuwe takfasiliteite in Sierra Leone, het oorlogvoering ons gedwing om die land te verlaat, soos aan die begin gemeld is. Ses jaar vroeër is ons beïndruk deur die geloof van die Liberiese Getuies wat na Sierra Leone gevlug het om weg te kom van die oorlog in Liberië. Party het daar aangekom met niks. Ondanks die moeilike situasie het hulle elke dag aan die bediening deelgeneem. Dit was hartroerend om hulle liefde vir Jehovah en vir mense te sien.

Noudat ons self vlugtelinge in die land Guinee was, het ons die voorbeeld van die Liberiese broers gevolg en voortgegaan om op Jehovah te vertrou en Koninkryksbelange eerste te stel. ’n Jaar later kon ons na Sierra Leone terugkeer, maar binne sewe maande het gevegte uitgebreek en moes ons weer eens na Guinee vlug.

Kort daarna is ons meegedeel dat lede van een van die strydende faksies in ons sendinghuis in Kissy ingetrek het en dat al ons besittings geplunder of vernietig is. Ons het nie mismoedig gevoel nie, maar was eerder net te dankbaar dat ons lewe. Ons het min besittings oorgehad, maar ons het oor die weg gekom.

Nadat ons die tweede keer moes vlug, het ek en my kamermaat, Cheryl, in Guinee gebly. Dit het beteken dat ons Frans moes leer. Party van my medesendelinge het gou die Frans gebruik wat hulle geleer het, want dit het hulle nie juis gepla as hulle ’n fout maak nie. Maar ek het die gedagte gehaat om verkeerd te praat en het dus net Frans gepraat wanneer ek regtig moes. Dit was vir my ’n pynlike ondervinding. Ek moes my elke dag herinner aan die rede waarom ek in Guinee is—om ander te help om Jehovah te leer ken.

Ek het stadigaan gevorder deur te studeer, te luister na dié wat die taal goed kon praat en die hulp te vra van die kinders in die gemeente, wat nie gehuiwer het om my reg te help nie. Toe het daar onverwags welkome voorsienings van Jehovah se organisasie gekom. Sedert September 2001 bevat Ons Koninkryksbediening wenke vir die aanbieding van tydskrifte, sowel as idees van hoe om boeke en brosjures vir mense van verskillende godsdiensoortuigings aan te bied. Ek het nou meer vertroue wanneer ek aan die bediening deelneem, al kan ek my nie so goed uitdruk soos in my moedertaal nie.

Die feit dat ek in ’n groot gesin grootgeword het, het my beslis gehelp om my daarby aan te pas om saam met baie mense te woon, op een stadium tot 17. Gedurende my 37 jaar van sendingdiens het ek saam met meer as 100 ander sendelinge gewoon. Wat ’n voorreg was dit tog om soveel mense te leer ken, wat almal verskillende persoonlikhede het en tog met dieselfde doel werk! En wat ’n vreugde is dit tog om ’n medewerker van God te wees en ook om mense Bybelwaarheid te sien aanneem!—1 Korintiërs 3:9.

Deur die jare heen het ek talle belangrike geleenthede in die lewens van my familielede misgeloop, soos die troues van die meeste van my jonger broers en susters. En ek het my broers- en susterskinders nie so dikwels gesien as wat ek graag sou wou nie. Dit was ’n opoffering vir my en my familie, wat my onselfsugtig aangespoor het om in die sendingwerk te bly.

Maar die dinge wat ek tuis misgeloop het, het ek die een of ander tyd in die sendingdiens geniet. Hoewel ek gekies het om ongetroud te bly, het ek talle geestelike kinders, nie net dié met wie ek die Bybel gestudeer het nie, maar ook ander aan wie ek geheg geraak het. Verder het ek gesien hoe hulle kinders grootword, trou en hulle eie kinders in die weg van die waarheid grootmaak. Party van hulle het, soos ek, toegelaat dat die dissipelmaakwerk hulle lewe rig.

[Voetnoot]

a My ma het meer as 25 jaar lank gepionier, en nadat my pa afgetree het, het hy ’n hulppionier geword.

[Kaarte op bladsy 15]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Ek het ’n toewysing in Sierra Leone, Wes-Afrika, ontvang

GUINEE

SIERRA LEONE

[Prent op bladsy 13]

My twee susters, wat saam met my in die 1950’s talle gelukkige ure by die sendelinge deurgebring het

[Prent op bladsy 14]

Saam met medestudente van die 48ste klas van Gilead

[Prent op bladsy 16]

Toewyding van die takfasiliteite in Sierra Leone