Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die soeke na die regte antwoorde

Die soeke na die regte antwoorde

Die soeke na die regte antwoorde

Hoe kan ek my gesondheid beskerm?

Wat kan ek doen om my gesinslewe gelukkiger te maak?

Hoe kan ek my kanse verbeter om my werk te behou?

HET jy al ooit enige van hierdie vrae gevra? Het jy praktiese antwoorde gevind wat regtig werk? Elke jaar word daar ongeveer 2 000 verskillende boeke gepubliseer wat raad gee oor hierdie en ander belangrike onderwerpe. In Brittanje alleen bestee lesers tot 80 miljoen pond (sowat R1,1 miljard) per jaar aan boeke wat raad gee oor hoe om die lewe se uitdagings die hoof te bied. In die Verenigde State beloop die verkope van selfhelpboeke ongeveer $600 miljoen (R4,4 miljard) per jaar. Jy is beslis nie die enigste een wat goeie raad vir die daaglikse lewe soek nie.

Aangaande die raad wat in hierdie magdom publikasies gevind word, het een skrywer gesê: “Talle nuwe boeke herhaal bloot wat alreeds geskryf is.” Ja, baie van die raad in hierdie boeke eggo bloot die wysheid wat in een van die oudste boeke in die wêreld opgeteken is. Hierdie boek het verreweg die grootste verspreiding ter wêreld. Dit is in sy geheel of gedeeltelik in sowat 2 400 tale vertaal. Wêreldwyd is daar altesaam meer as 4,6 miljard eksemplare gedruk. Hierdie boek is die Bybel.

Die Bybel sê uitdruklik: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer” (2 Timoteus 3:16). Die Bybel is weliswaar nie as ’n selfhelpboek geskryf nie. Die hoofdoel daarvan is om God se wil vir die mens te openbaar. Die Bybel het nietemin baie te sê oor hoe om die probleme waarvoor ons almal te staan kom, die hoof te bied, en dit belowe dat diegene wat die riglyne daarin volg, sal leer om hulleself te bevoordeel (Jesaja 48:17, 18). Die praktiese raad daarin werk altyd wanneer dit toegepas word, ongeag wat ’n persoon se etniese, kulturele of opvoedkundige agtergrond is. Lees gerus die volgende artikel en besluit self of die dinge wat die Bybel sê oor onderwerpe soos gesondheid, die gesin en sekulêre werk, prakties is.