Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Geloof in Bybelprofesieë red lewens

Geloof in Bybelprofesieë red lewens

Geloof in Bybelprofesieë red lewens

WANNEER Jesus die tempel in Jerusalem vir die laaste keer verlaat, roep een van sy dissipels uit: “Leermeester, kyk! watter klippe en watter geboue!” Die tempel is die trots en sieraad van die Joodse nasie. Jesus antwoord egter: “Sien jy hierdie groot geboue? Hier sal hoegenaamd nie ’n klip op ’n klip gelaat word wat nie afgebreek sal word nie.”—Markus 13:1, 2.

Die blote gedagte is ongelooflik! Party van die tempelklippe is ontsaglik groot. Wat Jesus oor die tempel sê, impliseer ook dat Jerusalem en moontlik selfs die Joodse staat, waarvan die tempel die geestelike hart is, vernietig sal word. Gevolglik wil Jesus se dissipels verder by hom weet: “Sê vir ons: Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat sal die teken wees wanneer al hierdie dinge bestem is om tot ’n voleinding te kom?”—Markus 13:3, 4.

“Dit is nog nie die einde nie”, waarsku Jesus. Eers sal die dissipels hoor van oorloë, aardbewings, hongersnode en pessiektes op die een plek na die ander. Dan sal dramatiese gebeure ’n ongeëwenaarde ramp, ja, ’n “groot verdrukking”, oor die Joodse nasie bring. God sal egter ingryp om “die uitverkorenes”, dit wil sê getroue Christene, te red. Hoe?—Markus 13:7; Matteus 24:7, 21, 22; Lukas 21:10, 11.

Opstand teen Rome

Agt-en-twintig jaar gaan verby, en die Christene in Jerusalem wag nog steeds op die einde. Die Romeinse Ryk word deur oorloë, aardbewings, hongersnode en pessiektes geteister. (Sien die venster op bladsy 9.) Judea is ’n kookpot van burgerlike en etniese konflik. Daar heers nietemin relatiewe vrede binne die veiligheid van Jerusalem se mure. Mense eet, werk, trou en bring kinders voort, soos hulle nog altyd gedoen het. Die teenwoordigheid van die ontsaglike tempel gee die stad ’n gevoel van stabiliteit en bestendigheid.

Omstreeks 61 G.J. ontvang die Christene in Jerusalem ’n brief van die apostel Paulus. Hy prys hulle vir hulle volharding, maar hy is besorg omdat party in die gemeente blykbaar nie ’n gevoel van dringendheid het nie. ’n Aantal dryf geestelik weg of het nie Christelike volwassenheid bereik nie (Hebreërs 2:1; 5:11, 12). Paulus spoor hulle aan: “Moet dus nie julle vrymoedigheid van spraak . . . weggooi nie . . . Want nog ‘’n baie kort rukkie’, en ‘hy wat kom, sal kom en sal nie talm nie’. ‘Maar my regverdige sal weens geloof lewe’, en ‘as hy terugdeins, het my siel geen behae in hom nie’” (Hebreërs 10:35-38). Inderdaad tydige raad! Maar sal die Christene geloof beoefen en wakker bly met betrekking tot die vervulling van Jesus se profesie? Is Jerusalem se einde werklik op hande?

Gedurende die daaropvolgende vyf jaar gaan die toestande in Jerusalem geleidelik agteruit. Uiteindelik, in 66 G.J., lê die verdorwe Romeinse goewerneur Florus beslag op 17 talente uit die heilige tempelskatkis as betaling vir “agterstallige belastinggeld”. Die Jode is ontstoke en kom in opstand. Joodse rebelle, of Selote, stroom Jerusalem binne en rig ’n slagting aan onder die Romeinse troepe daar. Dan verklaar hulle uitdagend dat Judea onafhanklik van Rome is. Judea en Rome verkeer nou in oorlog met mekaar!

Binne drie maande trek die Romeinse goewerneur van Sirië, Cestius Gallus, met 30 000 soldate af na die suide om die Joodse opstand te onderdruk. Sy leër kom gedurende die Huttefees by Jerusalem aan en dring gou die voorstede binne. Die Selote, wat in die minderheid is, soek skuiling in die tempel. Romeinse soldate begin weldra die tempelmuur ondergrawe. Die Jode is geskok. Heidense soldate is dan nou besig om Judaïsme se heiligste plek te verontreinig! Maar die Christene in die stad onthou Jesus se woorde: ‘Wanneer julle die walglike ding in ’n heilige plek sien staan, laat dié wat in Judea is, dan na die berge begin vlug’ (Matteus 24:15, 16). Sal hulle geloof stel in Jesus se profetiese woorde en beweeg word om dienooreenkomstig op te tree? Uiteindelik sou hulle lewe daarvan afhang dat hulle dit doen. Maar hoe?

Skielik, sonder enige verklaarbare rede, onttrek Cestius Gallus sy soldate en gaan hulle terug na die kus, met die Selote kort op hulle hakke. Die verdrukking oor die stad is verbasend genoeg kortgeknip! Die Christene toon hulle geloof in Jesus se profetiese waarskuwing en vlug uit Jerusalem na Pella, ’n neutrale stad in die berge oorkant die Jordaanrivier. Hulle vlug net betyds. Die Selote keer gou na Jerusalem terug en dwing die oorblywende inwoners om by hulle opstand aan te sluit. a Intussen wag die Christene veilig in Pella vir verdere verwikkelinge.

Anargie ontstaan

Binne maande ruk ’n nuwe Romeinse leër op. In 67 G.J. mobiliseer generaal Vespasianus en sy seun Titus ’n ontsaglike leër van 60 000 soldate. Gedurende die volgende twee jaar beweeg hierdie militêre kolos in die rigting van Jerusalem, terwyl hy alle weerstand in sy pad platvee. Intussen is strydende Joodse faksies binne Jerusalem in hewige gevegte gewikkel. Die stad se graanvoorraad word vernietig, die terrein om die tempel word gelykgemaak en meer as 20 000 Jode word doodgemaak. Vespasianus vertraag sy opmars na Jerusalem en sê: ‘God is ’n beter Romeinse generaal as ek; ons vyande vernietig mekaar met hulle eie hande.’

Wanneer die Romeinse keiser Nero sterf, vertrek Vespasianus na Rome om die troon oor te neem en laat hy Titus agter om die Judese veldtog te voltooi. Titus bereik Jerusalem na aan die Pasga van 70 G.J., en die inwoners en pelgrims word binne die stad vasgekeer. Sy troepe stroop die Judese platteland van bome om daarmee ’n sewe kilometer lange muur van spits pale om die beleërde hoofstad te bou. Dit is net soos Jesus voorspel het: ‘Jou vyande sal ’n verskansing met spits pale rondom jou bou en jou omsingel en jou van alle kante in benoudheid bring.’—Lukas 19:43.

Kort voor lank is daar hongersnood in die stad. Gewapende bendes plunder die huise van die dooies en die sterwendes. Ten minste een desperate vrou maak haar baba dood en eet hom, in vervulling van die voorspelling: “Jy [sal] die vrug van jou liggaam moet eet, die vlees van jou seuns en jou dogters . . . weens die beklemming en benoudheid waarmee jou vyand jou sal insluit.”—Deuteronomium 28:53-57.

Uiteindelik, ná ’n beleëring van vyf maande, val Jerusalem. Die stad en sy luisterryke tempel word geplunder en verbrand en dan klip vir klip afgebreek (Daniël 9:26). Daar sterf altesaam sowat 1 100 000; nog 97 000 word in slawerny verkoop (Deuteronomium 28:68). b Daar is feitlik geen Jode in Judea oor nie. Dit is waarlik ’n ongeëwenaarde nasionale ramp, ’n keerpunt in die politieke, godsdienstige en kulturele lewe van die Jode. c

Intussen betuig die Christene in Pella hulle opregte dank aan God vir hulle verlossing. Hulle geloof in Bybelprofesieë het hulle lewe gered!

As ons op daardie gebeure terugkyk, kan elkeen van ons ons gerus vandag afvra: ‘Het ek die geloof wat my lewe gedurende die naderende groot verdrukking sal red? Is ek “die soort wat geloof het tot die behoud van die siel”?’—Hebreërs 10:39; Openbaring 7:14.

[Voetnote]

a Die Joodse geskiedskrywer Josefus berig dat die Selote die Romeine sewe dae lank agtervolg het voordat hulle na Jerusalem teruggekeer het.

b Volgens een skatting is meer as ’n sewende van al die Jode in die Romeinse Ryk doodgemaak.

c Die Joodse Bybelkenner Alfred Edersheim het geskryf: “[Hierdie] verdrukking van Israel [was] ongeëwenaard in sy verskriklike verlede en sonder gelyke selfs in sy bloedige toekoms.”

[Tabel op bladsy 9]

Aspekte van die teken wat in die eerste eeu vervul is

OORLOË:

Gallië (39-40 G.J.)

Noord-Afrika (41 G.J.)

Brittanje (43, 60 G.J.)

Armenië (58-62 G.J.)

Burgerlike en etniese konflikte in Judea (50-66 G.J.)

AARDBEWINGS:

Rome (54 G.J.)

Pompeji (62 G.J.)

Klein-Asië (53, 62 G.J.)

Kreta (62 G.J.)

HONGERSNODE:

Rome, Griekeland, Egipte (ca. 42 G.J.)

Judea (ca. 46 G.J.)

PESSIEKTES:

Babilonië (40 G.J.)

Rome (60, 65 G.J.)

VALSE PROFETE:

Judea (ca. 56 G.J.)

[Kaart/Prent op bladsy 10]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Die Romeinse veldtog in Palestina, 67-70 G.J.

Ptolemaïs

See van Galilea

Pella

PEREA

SAMARIA

Jerusalem

Sout- see

JUDEA

Sesarea

[Erkenning]

Slegs kaart: Based on maps copyrighted by Pictorial Archive (Near Eastern History) Est. and Survey of Israel

[Prent op bladsy 11]

‘Ons vyande vernietig mekaar met hulle eie hande.’—Vespasianus

[Prente op bladsy 11]

In 70 G.J. het Romeinse troepe Jerusalem vernietig

[Foto-erkennings op bladsy 11]

Reliëf: Soprintendenza Archeologica di Roma; Vespasianus: Bildarchiv Preussischer Kulturbesitz/Art Resource, NY