Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Lojaal teenoor Christus en sy getroue slaaf

Lojaal teenoor Christus en sy getroue slaaf

Lojaal teenoor Christus en sy getroue slaaf

“Sy heer . . . sal hom oor al sy besittings aanstel.”—MATTEUS 24:45-47.

1, 2. (a) Wie is volgens die Skrif ons Leier? (b) Wat toon dat Christus die Christengemeente daadwerklik lei?

 “MOET julle . . . nie ‘leiers’ laat noem nie, want een is julle Leier, die Christus” (Matteus 23:10). Met hierdie woorde het Jesus dit vir sy dissipels duidelik gemaak dat geen mens op die aarde hulle leier sou wees nie. Hulle een Leier sou ’n hemelse leier wees—Jesus Christus self. Jesus is deur God in hierdie posisie aangestel. Jehovah het “hom uit die dode opgewek en . . . hom hoof oor alles gemaak met betrekking tot die gemeente, wat sy liggaam is”.—Efesiërs 1:20-23.

2 Aangesien Christus “hoof oor alles” met betrekking tot die Christengemeente is, oefen hy sy gesag uit oor alles wat in die gemeente plaasvind. Hy sien alles raak wat in die gemeente gebeur. Hy hou die geestelike toestand van elke groep Christene, of gemeente, noukeurig dop. Dit blyk duidelik uit die openbaring wat aan die einde van die eerste eeu G.J. aan die apostel Johannes gegee is. Jesus het vyf keer aan sewe gemeentes gesê dat hy hulle dade ken, hulle sterk punte en hulle swakhede, en hy het in ooreenstemming daarmee raad en aanmoediging gegee (Openbaring 2:2, 9, 13, 19; 3:1, 8, 15). Ons het alle rede om te glo dat Christus net so goed vertroud was met die geestelike toestand van ander gemeentes in Klein-Asië, Palestina, Sirië, Babilonië, Griekeland, Italië en elders (Handelinge 1:8). Wat van vandag?

’n Getroue slaaf

3. Waarom is dit gepas om Christus met ’n hoof en sy gemeente met ’n liggaam te vergelyk?

3 Nadat hy opgewek is en kort voordat hy opgevaar het na sy Vader in die hemel, het Jesus vir sy dissipels gesê: “Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan my gegee.” Hy het ook gesê: “Kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matteus 28:18-20). Hy sou voortgaan om met hulle te wees as hulle aktiewe Hoof. In briewe aan Christene in Efese en Kolosse het die apostel Paulus die Christengemeente vergelyk met ’n “liggaam”, waarvan Christus die Hoof is (Efesiërs 1:22, 23; Kolossense 1:18). The Cambridge Bible for Schools and Colleges sê dat hierdie metafoor “nie net noodsaaklike eenheid met die Hoof impliseer nie, maar ook dat die wil van die Hoof deur middel van die lede uitgevoer word. Hulle is Sy instrumente.” Wie is deur Christus gebruik as sy saamgestelde instrument sedert hy in 1914 met Koninkryksmag beklee is?—Daniël 7:13, 14.

4. Wat het Jehovah en Christus Jesus, volgens Maleagi se profesie, gevind toe hulle die geestelike tempel kom inspekteer het?

4 Die profesie van Maleagi het voorspel dat Jehovah, “die ware Heer”, vergesel van sy “boodskapper van die verbond”, sy pas gekroonde Seun, Christus Jesus, sou kom om Sy “tempel”, of geestelike huis van aanbidding, te inspekteer en te oordeel. “Die vasgestelde tyd” vir die ‘oordeel van die huis van God’ om te begin, het klaarblyklik in 1918 aangebreek (Maleagi 3:1; 1 Petrus 4:17). a Diegene wat beweer het dat hulle God en sy ware aanbidding op die aarde verteenwoordig, is behoorlik ondersoek. Die kerke van die Christendom, wat eeue lank godonterende leerstellings geleer het en diep betrokke was by die slagting van die Eerste Wêreldoorlog, is verwerp. ’n Getroue oorblyfsel van geesgesalfde Christene is getoets, gelouter asof met vuur en goedgekeur, en hulle het vir Jehovah “mense [geword] wat ’n offergawe in regverdigheid aanbied”.—Maleagi 3:3.

5. Wie het bewys dat hulle die getroue “slaaf” is, in ooreenstemming met Jesus se profesie oor sy “teenwoordigheid”?

5 In ooreenstemming met Maleagi se profesie het die saamgestelde teken wat Jesus aan sy dissipels gegee het om hulle in staat te stel om die tyd van sy “teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge” te herken, die identifikasie van ’n saamgestelde “slaaf” ingesluit. Jesus het gesê: “Wie is werklik die getroue en verstandige slaaf vir wie sy heer oor sy huisknegte aangestel het om hulle hulle voedsel op die regte tyd te gee? Gelukkig is daardie slaaf as sy heer by sy aankoms vind dat hy dit doen! Voorwaar, ek sê vir julle: Hy sal hom oor al sy besittings aanstel” (Matteus 24:3, 45-47). “By sy aankoms” om die “slaaf” in 1918 te inspekteer, het Christus ’n geesgesalfde oorblyfsel van getroue dissipels gevind wat sedert 1879 hierdie tydskrif en ander Bybelpublikasies gebruik het om geestelike “voedsel op die regte tyd” te voorsien. Hy het hulle as sy saamgestelde instrument, of “slaaf”, erken en in 1919 die bestuur van al sy aardse besittings aan hulle toevertrou.

Die bestuur van Christus se aardse besittings

6, 7. (a) Watter ander bewoording het Jesus in verband met sy getroue “slaaf” gebruik? (b) Wat gee Jesus se gebruik van die woord “bestuurder” te kenne?

6 ’n Paar maande voordat Jesus sy profesie gegee het oor die teken van sy teenwoordigheid, insluitende die bestaan van ’n “slaaf” wat hom op die aarde sou verteenwoordig, het hy van hierdie “slaaf” gepraat en effens ander bewoording gebruik, wat lig werp op die slaaf se verantwoordelikhede. Jesus het gesê: “Wie is werklik die getroue bestuurder, die verstandige, wat sy heer oor sy liggaam van bediendes sal aanstel om hulle op die regte tyd hulle deel van die voedsel te bly gee? Ek sê vir julle die waarheid: Hy sal hom oor al sy besittings aanstel.”—Lukas 12:42, 44.

7 Hier word die slaaf ’n bestuurder genoem, ’n woord wat ’n vertaling is van ’n Griekse term wat na “die bestuurder van ’n huishouding of eiendom” verwys. Die saamgestelde bestuurder sou nie bloot ’n groep intellektuele mense wees wat interessante punte uit die Bybel verduidelik nie. “Die getroue bestuurder” sou nie net voedsame geestelike voedsel “op die regte tyd” voorsien nie, maar sou ook oor die hele liggaam van Christus se bediendes aangestel word en die toewysing ontvang om al Christus se belange op die aarde, “al sy besittings”, te bestuur. Wat sou dit behels?

8, 9. Watter “besittings” is die slaaf aangestel om te bestuur?

8 Die slaaf se verantwoordelikhede sluit toesig in oor die materiële bates wat deur Christus se volgelinge gebruik word om hulle Christelike bedrywighede uit te voer, soos die wêreldhoofkwartier en takkantore van Jehovah se Getuies, sowel as hulle plekke van aanbidding—Koninkryksale en Byeenkomssale—regoor die wêreld. Nog belangriker, die slaaf hou ook toesig oor geestelik opbouende Bybelstudieprogramme by weeklikse vergaderinge en gereelde byeenkomste. By hierdie samekomste word inligting oor die vervulling van Bybelprofesieë verskaf, en tydige riglyne word gegee oor hoe om Bybelbeginsels in die daaglikse lewe toe te pas.

9 Die bestuurder se verantwoordelikhede sluit ook toesig in oor die uiters belangrike werk om “hierdie goeie nuus van die koninkryk” te verkondig en “dissipels van mense van al die nasies” te maak. Dit behels dat mense geleer moet word om alles te onderhou wat Christus, die Hoof van die gemeente, hulle beveel om gedurende hierdie tyd van die einde te doen (Matteus 24:14; 28:19, 20; Openbaring 12:17). Die predikings- en onderrigtingswerk het “’n groot menigte” lojale metgeselle van die gesalfde oorblyfsel voortgebring. Hierdie “begeerlike dinge van al die nasies” moet ongetwyfeld gereken word onder die kosbare “besittings” van Christus wat deur die getroue slaaf bestuur word.—Openbaring 7:9; Haggai 2:7.

’n Verteenwoordigende Bestuursliggaam

10. Watter besluitnemende liggaam het in die eerste eeu bestaan, en watter uitwerking het dit op die gemeentes gehad?

10 Weens die getroue slaaf se groot verantwoordelikhede sou baie besluite natuurlik geneem moes word. In die vroeë Christengemeente het die apostels en ouer manne in Jerusalem in ’n verteenwoordigende hoedanigheid opgetree en besluite vir die hele Christengemeente geneem (Handelinge 15:1, 2). Die besluite van hierdie eerste-eeuse bestuursliggaam is deur middel van briewe en reisende verteenwoordigers aan die gemeentes oorgedra. Die vroeë Christene was bly om hierdie duidelike riglyne te ontvang, en hulle gewillige samewerking met die bestuursliggaam het vrede en eenheid bevorder.—Handelinge 15:22-31; 16:4, 5; Filippense 2:2.

11. Wie word vandag deur Christus gebruik om sy gemeente te rig, en hoe moet ons hierdie groep gesalfde Christene beskou?

11 Soos in vroeë Christelike tye maak ’n groepie geesgesalfde opsieners die Bestuursliggaam van Christus se hedendaagse volgelinge op die aarde uit. Deur middel van sy “regterhand” van toegepaste krag rig Christus, die Hoof van die gemeente, hierdie getroue manne terwyl hulle oor die Koninkrykswerk toesig hou (Openbaring 1:16, 20). In sy lewensverhaal het Albert Schroeder, wat lank ’n lid van die Bestuursliggaam was en wat onlangs sy aardse loopbaan voltooi het, geskryf: “Die Bestuursliggaam vergader elke Woensdag en open die vergadering met gebed waarin hulle die leiding van Jehovah se gees vra. Hulle span hulle in om te sorg dat elke saak wat behandel en elke besluit wat geneem word, met God se Woord die Bybel strook.” b Ons kan vertroue hê in hierdie getroue gesalfde Christene. Ons moet veral met betrekking tot hulle op die apostel Paulus se bevel ag slaan: “Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig, want hulle waak oor julle siel.”—Hebreërs 13:17.

Toon gepaste respek vir die getroue slaaf

12, 13. Watter skriftuurlike redes is daar om respek vir die slaafklas te toon?

12 ’n Vername rede waarom ons gepaste respek vir die slaafklas moet toon, is dat ons dan in werklikheid respek vir die Heer, Jesus Christus, toon. Paulus het van die gesalfdes geskryf: “Hy wat geroep is toe hy ’n vry man was, [is] ’n slaaf van Christus. Julle is met ’n prys gekoop” (1 Korintiërs 7:22, 23; Efesiërs 6:6). Wanneer ons ons lojaal onderwerp aan die leiding van die getroue slaaf en sy Bestuursliggaam, onderwerp ons ons dus aan Christus, die Heer van die slaaf. As ons gepaste respek toon vir die instrument wat Christus gebruik om sy aardse besittings te bestuur, is dit een manier waarop ons “openlik . . . erken dat Jesus Christus Here is tot die heerlikheid van God die Vader”.—Filippense 2:11.

13 Nog ’n skriftuurlike rede waarom ons respek vir die getroue slaaf moet toon, is dat gesalfde Christene op die aarde in figuurlike sin ’n “tempel” genoem word wat Jehovah “deur gees” bewoon. As sodanig is hulle “heilig” (1 Korintiërs 3:16, 17; Efesiërs 2:19-22). Dit is aan hierdie heilige tempelklas dat Jesus sy aardse besittings toevertrou het, wat beteken dat sekere regte en verantwoordelikhede in die Christengemeente uitsluitlik aan hierdie saamgestelde slaaf behoort. Daarom beskou almal in die gemeente dit as hulle heilige plig om die riglyne te volg en te ondersteun wat van die getroue slaaf en sy Bestuursliggaam kom. Die “ander skape” beskou dit inderdaad as ’n groot voorreg om die slaafklas by te staan terwyl hulle na die Heer se belange omsien.—Johannes 10:16.

Lojale ondersteuning

14. Soos voorspel is deur Jesaja, in watter sin loop die ander skape agter die gesalfde slaafklas en dien hulle as “onbetaalde arbeiders”?

14 Die nederige onderdanigheid van die ander skape aan die gesalfde lede van geestelike Israel is in die profesie van Jesaja voorspel: “Só het Jehovah gesê: ‘Die onbetaalde arbeiders van Egipte en die koopmanne van Etiopië en die Sabeërs, lang manne, sal na jou toe oorkom, en hulle sal joune word. Agter jou sal hulle loop; in boeie sal hulle oorkom, en voor jou sal hulle hulle neerbuig. Tot jou sal hulle bid en sê: “God is inderdaad in eenheid met jou, en daar is geen ander nie; daar is geen ander God nie”’” (Jesaja 45:14). Die ander skape loop vandag in simboliese sin agter die gesalfde slaafklas en sy Bestuursliggaam en volg hulle leierskap. As “onbetaalde arbeiders” gebruik die ander skape gewillig hulle fisiese krag en hulle middele ter ondersteuning van die wêreldwye predikingswerk wat Christus aan sy gesalfde volgelinge op die aarde opgedra het.—Handelinge 1:8; Openbaring 12:17.

15. Hoe voorspel die profesie in Jesaja 61:5, 6 die verhouding wat tussen die ander skape en geestelike Israel bestaan?

15 Die ander skape is bly en dankbaar dat hulle Jehovah onder die toesig van die slaafklas en sy Bestuursliggaam kan dien. Hulle erken die gesalfdes as lede van “die Israel van God” (Galasiërs 6:16). As figuurlike “vreemdelinge” en “uitlanders” wat met geestelike Israel assosieer, dien hulle vreugdevol as “landbouers” en “wingerdarbeiders” onder leiding van die gesalfdes, die “priesters van Jehovah” en ‘dienaars van God’ (Jesaja 61:5, 6). Hulle neem ywerig daaraan deel om hierdie goeie nuus van die Koninkryk te verkondig en om dissipels van mense van al die nasies te maak. Hulle staan die slaafklas heelhartig by deur as herders toesig te hou oor nuutgevonde skaapgeaardes en na hulle om te sien.

16. Wat beweeg die ander skape om hulle lojale ondersteuning aan die getroue en verstandige slaaf te gee?

16 Die ander skape besef dat hulle grootliks baat gevind het by die ywerige pogings van die slaafklas om hulle van tydige geestelike voedsel te voorsien. Hulle erken nederig dat hulle sonder die getroue en verstandige slaaf min of niks sou geweet het van kosbare Bybelwaarhede nie, soos Jehovah se soewereiniteit, die heiliging van sy naam, die Koninkryk, die nuwe hemele en nuwe aarde, die siel, die toestand van die dooies en die ware identiteit van Jehovah, sy Seun en die heilige gees. Uit diepe dankbaarheid en lojaliteit gee die ander skape hulle liefdevolle ondersteuning aan Christus se gesalfde “broers” op die aarde gedurende hierdie tyd van die einde.—Matteus 25:40.

17. Wat is dit vir die Bestuursliggaam nodig om te doen, en wat sal in die volgende artikel bespreek word?

17 Weens hulle dalende getal kan daar nie gesalfdes in al die gemeentes wees om na die bestuur van Christus se besittings om te sien nie. Gevolglik stel die Bestuursliggaam manne onder die ander skape in opsienersposisies aan in takkantore, streke, kringe en gemeentes van Jehovah se Getuies. Hou ons gesindheid teenoor hierdie onderherders verband met ons lojaliteit aan Christus en sy getroue slaaf? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.

[Voetnote]

a Vir ’n breedvoerige bespreking van hierdie onderwerp, sien Die Wagtoring, 1 Maart 2004, bladsye 13-18, en 1 Desember 1992, bladsy 13.

b Het in die nommer van 1 Maart 1988, bladsye 10-17, van hierdie tydskrif verskyn.

Ter hersiening

• Wie is ons Leier, en wat toon dat hy bewus is van die toestande in die gemeentes?

• Wie het tydens die inspeksie van die “tempel” bewys dat hulle ’n getroue slaaf is, en watter besittings is aan hulle toevertrou?

• Watter skriftuurlike redes is daar vir ons om die getroue slaaf lojaal te ondersteun?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 23]

Die “besittings” waaroor die “bestuurder” toesig hou, sluit in materiële bates, geestelike programme en die predikingswerk

[Prent op bladsy 25]

Lede van die ander skape ondersteun die getroue slaafklas deur hulle ywerige predikingswerk