Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Nederige onderdanigheid aan liefdevolle herders

Nederige onderdanigheid aan liefdevolle herders

Nederige onderdanigheid aan liefdevolle herders

“Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig.”—HEBREËRS 13:17.

1, 2. Watter tekste toon dat Jehovah en Jesus liefdevolle Herders is?

 JEHOVAH GOD en sy Seun, Jesus Christus, is liefdevolle Herders. Jesaja het voorspel: “Kyk! Die Soewereine Heer Jehovah sal kom as ’n sterke, en sy arm sal vir hom heers. . . . Soos ’n herder sal hy sy kudde laat wei. Met sy arm sal hy die lammers bymekaarbring; en in sy boesem sal hy hulle dra. Dié wat soog, sal hy met sorg lei.”—Jesaja 40:10, 11.

2 Hierdie herstellingsprofesie is aanvanklik vervul toe ’n Joodse oorblyfsel in 537 v.G.J. na Juda teruggekeer het (2 Kronieke 36:22, 23). Dit het ’n tweede vervulling gehad toe die gesalfde oorblyfsel in 1919 deur die Grotere Kores, Jesus Christus, uit “Babilon die Grote” verlos is (Openbaring 18:2; Jesaja 44:28). Hy is Jehovah se “arm” wat heers, wat die skape bymekaarbring en wat met tere sorg na hulle omsien. Jesus het self gesê: “Ek is die goeie herder, en ek ken my skape en my skape ken my.”—Johannes 10:14.

3. Hoe toon Jehovah liefdevolle besorgdheid oor die manier waarop sy skape behandel word?

3 Die profesie van Jesaja 40:10, 11 beklemtoon die teerheid waarmee Jehovah as herder vir sy volk sorg (Psalm 23:1-6). Gedurende sy aardse bediening het Jesus ook tere besorgdheid oor sy dissipels en oor mense in die algemeen getoon (Matteus 11:28-30; Markus 6:34). Beide Jehovah en Jesus het die hardvogtigheid betreur van die herders, of leiers, van Israel, wat hulle kuddes skaamteloos verwaarloos en uitgebuit het (Esegiël 34:2-10; Matteus 23:3, 4, 15). Jehovah het belowe: “Ek sal my skape red, en hulle sal nie meer iets word om te plunder nie; en ek sal tussen ’n skaap en ’n skaap oordeel. En ek sal een herder oor hulle verwek, en hy sal hulle laat wei, ja, my kneg Dawid. Hy sal hulle laat wei, en hy sal hulle herder word” (Esegiël 34:22, 23). In hierdie tyd van die einde is Jesus Christus, die Grotere Dawid, die “een herder” wat Jehovah oor al Sy knegte op die aarde aangestel het, oor die geesgesalfde Christene sowel as die “ander skape”.—Johannes 10:16.

Hemelse gawes aan die gemeente

4, 5. (a) Watter kosbare gawe het Jehovah aan sy volk op die aarde gegee? (b) Watter gawe het Jesus aan sy gemeente gegee?

4 Deur “een herder”—Jesus Christus—oor Sy knegte op die aarde te verwek, het Jehovah ’n kosbare gawe aan die Christengemeente gegee. Hierdie gawe van ’n hemelse Leier is in Jesaja 55:4 voorspel: “Kyk! As ’n getuie vir die volksgroepe het ek hom gegee, as ’n leier en ’n aanvoerder vir die volksgroepe.” Gesalfde Christene sowel as lede van die “groot menigte” word uit alle volksgroepe, stamme, nasies en tale versamel (Openbaring 5:9, 10; 7:9). Hulle vorm ’n internasionale gemeente, “een kudde”, onder die leierskap van “een herder”, Christus Jesus.

5 Jesus het ook ’n kosbare gawe aan sy gemeente op die aarde gegee. Hy het getroue onderherders voorsien wat, in navolging van Jehovah en Jesus, met tere sorg oor die kudde toesig hou. Die apostel Paulus het in sy brief aan Christene in Efese van hierdie liefdevolle gawe gepraat. Hy het geskryf: “‘Toe hy na bo opgevaar het, het hy gevangenes weggevoer; hy het gawes in die vorm van mense gegee.’ . . . Hy het party as apostels gegee, party as profete, party as evangeliedienaars, party as herders en onderrigters, om die heiliges reg te help, vir bedieningswerk, vir die opbouing van die liggaam van die Christus.”—Efesiërs 4:8, 11, 12.

6. Hoe is gesalfde opsieners wat in liggame van ouer manne gedien het, in Openbaring 1:6, 20 voorgestel, en wat kan gesê word van aangestelde ouer manne wat lede van die ander skape is?

6 Hierdie “gawes in die vorm van mense” is opsieners, of ouer manne, wat Jehovah en sy Seun, deur middel van die heilige gees, aanstel om as herders met teerheid oor die skape toesig te hou (Handelinge 20:28, 29). Aanvanklik was hierdie opsieners almal gesalfde Christenmanne. In Openbaring 1:16, 20 is diegene wat in liggame van ouer manne in die gesalfde gemeente gedien het, voorgestel deur “sterre” of “engele” in Christus se regterhand, dit wil sê onder sy beheer. Maar in hierdie tyd van die einde, waarin die getal gesalfde opsieners wat nog op die aarde is, voortdurend afneem, is die oorgrote meerderheid van die Christen- ouer manne in die gemeentes lede van die ander skape. Omdat hulle deur verteenwoordigers van die Bestuursliggaam onder die leiding van die heilige gees aangestel word, kan daar gesê word dat hulle ook onder die regterhand (of, onder die leiding) van die Goeie Herder, Jesus Christus, is (Jesaja 61:5, 6). Omdat die ouer manne in ons gemeentes onderdanig is aan Christus, die Hoof van die gemeente, verdien hulle ons volle samewerking.—Kolossense 1:18.

Gehoorsaamheid en onderdanigheid

7. Watter raad het die apostel Paulus in verband met ons gesindheid teenoor Christenopsieners gegee?

7 Ons hemelse Herders, Jehovah God en Jesus Christus, verwag dat ons gehoorsaam en onderdanig moet wees aan die onderherders wat deur hulle in posisies van verantwoordelikheid in die gemeente geplaas is (1 Petrus 5:5). Die apostel Paulus het onder inspirasie geskryf: “Hou dié in gedagte wat die leiding onder julle neem, wat die woord van God tot julle gespreek het, en namate julle die uiteinde van hulle gedrag aanskou, moet julle hulle geloof navolg. Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig, want hulle waak oor julle siel as dié wat rekenskap sal gee; sodat hulle dit met vreugde kan doen en nie met ’n gesug nie, want dit sal vir julle skadelik wees.”—Hebreërs 13:7, 17.

8. Wat nooi Paulus ons om te “aanskou”, en hoe moet ons ‘gehoorsaam wees’?

8 Let daarop dat Paulus ons nooi om die uiteinde van die getroue gedrag van die ouer manne te “aanskou”, of noukeurig waar te neem, en om hierdie voorbeelde van geloof na te volg. Verder maan hy ons om gehoorsaam te wees en om onderdanig te wees aan die leiding van hierdie aangestelde manne. Volgens die Bybelgeleerde R. T. France is die woord wat hier met “wees gehoorsaam” vertaal word, in die oorspronklike Grieks nie “die gewone woord vir gehoorsaamheid nie, maar letterlik ‘word oortuig’, wat op ’n gewillige aanvaarding van hulle leierskap dui”. Ons gehoorsaam die ouer manne nie net omdat ons in God se Woord beveel word om dit te doen nie, maar ook omdat ons oortuig is dat hulle Koninkryksbelange en ons belange op die hart dra. Ons sal beslis gelukkig wees as ons hulle leierskap gewillig aanvaar.

9. Waarom is dit vir ons nodig om nie net gehoorsaam te wees nie, maar ook “onderdanig”?

9 Maar sê nou ons is nie oortuig dat die ouer manne se riglyne in ’n sekere geval die beste manier is om te werk te gaan nie? Dit is dan wanneer onderdanigheid nodig is. Dit is maklik om gehoorsaam te wees wanneer alles duidelik is en ons daarmee saamstem, maar ons sal toon dat ons werklik onderdanig is as ons ons aan riglyne onderwerp selfs wanneer ons dit nie verstaan nie. Petrus, wat later ’n apostel geword het, het hierdie soort onderdanigheid aan die dag gelê.—Lukas 5:4, 5.

Vier redes vir gewillige samewerking

10, 11. Hoe het opsieners in die eerste eeu en vandag ‘die woord van God gespreek’ tot hulle mede-Christene?

10 In Hebreërs 13:7, 17, wat hierbo aangehaal word, gee die apostel Paulus vier redes waarom ons gehoorsaam en onderdanig moet wees aan Christenopsieners. Die eerste een is dat hulle “die woord van God tot [ons] gespreek het”. Onthou dat die “gawes in die vorm van mense” wat Jesus aan die gemeente gee, bedoel is “om die heiliges reg te help” (Efesiërs 4:11, 12). Hy het die denke en gedrag van eerste-eeuse Christene deur middel van getroue onderherders reggestel, waarvan party geïnspireer is om briewe aan die gemeentes te skryf. Hy het hierdie geesaangestelde opsieners gebruik om die vroeë Christene te lei en op te bou.—1 Korintiërs 16:15-18; 2 Timoteus 2:2; Titus 1:5.

11 Vandag rig Jesus ons deur middel van “die getroue en verstandige slaaf”, wat verteenwoordig word deur sy Bestuursliggaam en die aangestelde ouer manne (Matteus 24:45). Uit respek vir “die hoofherder”, Jesus Christus, slaan ons ag op Paulus se raad: “Julle [moet] respek . . . hê vir dié wat hard onder julle werk en onder julle die leiding neem in die Here en julle ernstig vermaan.”—1 Petrus 5:4; 1 Tessalonisense 5:12; 1 Timoteus 5:17.

12. Hoe ‘waak’ opsieners ‘oor ons siel’?

12 ’n Tweede rede waarom ons met Christenopsieners moet saamwerk, is dat ‘hulle oor ons siel waak’. As hulle enigiets in ons gesindheid of gedrag opmerk wat ons geestelikheid in gevaar kan stel, gee hulle ons gou die nodige raad om ons reg te help (Galasiërs 6:1). Die Griekse woord wat met “waak” vertaal word, beteken letterlik “om jou van slaap te onthou”. Volgens een Bybelgeleerde “dui [dit] op die onvermoeide waaksaamheid van die herder”. Benewens die feit dat hulle geestelik waaksaam bly, verloor ouer manne miskien selfs slaap uit besorgdheid oor ons geestelike welsyn. Moet ons nie gewillig saamwerk met sulke liefdevolle onderherders, wat hulle bes doen om die tere sorg na te volg wat Jesus Christus, “die groot herder van die skape”, getoon het nie?—Hebreërs 13:20.

13. Teenoor wie en op watter maniere is die opsieners en alle Christene aanspreeklik?

13 ’n Derde rede waarom ons gewillig met die opsieners moet saamwerk, is dat hulle oor ons waak “as dié wat rekenskap sal gee”. Opsieners hou in gedagte dat hulle onderherders is, wat onder die hemelse Herders, Jehovah God en Jesus Christus, dien (Esegiël 34:22-24). Jehovah is die Eienaar van die skape, “wat hy met die bloed van sy eie Seun gekoop het”, en Hy hou die aangestelde opsieners aanspreeklik vir die manier waarop hulle Sy kudde behandel, wat “met teerheid” behoort te wees (Handelinge 20:28, 29). Gevolglik is ons almal aanspreeklik teenoor Jehovah vir die manier waarop ons op sy leiding reageer (Romeine 14:10-12). Ons gehoorsaamheid aan die aangestelde ouer manne lewer ook bewys van ons onderdanigheid aan Christus, die Hoof van die gemeente.—Kolossense 2:19.

14. Wat kan veroorsaak dat Christenopsieners “met ’n gesug” dien, en watter gevolge kan dit hê?

14 Paulus het ’n vierde rede gegee waarom ons nederige onderdanigheid aan Christenopsieners moet toon. Hy het geskryf: “Sodat hulle dit met vreugde kan doen en nie met ’n gesug nie, want dit sal vir julle skadelik wees” (Hebreërs 13:17). Weens hulle gewigtige verantwoordelikhede om te onderrig, as herders toesig te hou, die leiding in die predikingswerk te neem, hulle kinders groot te maak en probleme in die gemeente te hanteer, dra Christen- ouer manne ’n swaar vrag (2 Korintiërs 11:28, 29). As ons versuim om met hulle saam te werk, vergroot ons net hulle vrag. Dit sal veroorsaak dat hulle ‘sug’. As ons nie ’n gees van samewerking openbaar nie, mishaag dit Jehovah en kan dit vir ons skadelik wees. Maar wanneer ons gepaste respek toon en met hulle saamwerk, kan die ouer manne hulle pligte met vreugde uitvoer, en dit bevorder eenheid en ’n vreugdevolle deelname aan die Koninkrykspredikingswerk.—Romeine 15:5, 6.

Hoe ons ons onderdanigheid toon

15. Hoe kan ons ons gehoorsaamheid en onderdanigheid toon?

15 Daar is talle praktiese maniere waarop ons met aangestelde opsieners kan saamwerk. Het die ouer manne, in ’n poging om by nuwe omstandighede in die gebied aan te pas, velddiensvergaderinge op dae en tye gereël wat veranderinge in ons roetine verg? Laat ons ons inspan om die nuwe reëlings te ondersteun. Ons sal moontlik onverwagte seëninge ontvang. Besoek die diensopsiener ons Gemeentelike Boekstudie? Laat ons daardie week soveel moontlik in die predikingswerk doen. Het ons ’n toewysing op die Teokratiese Bedieningskool ontvang? Laat ons ons bes doen om teenwoordig te wees en ons toewysing uit te voer. Het die Gemeentelike Boekstudieopsiener aangekondig dat dit ons groep se beurt is om die Koninkryksaal skoon te maak? Laat ons hom ons volle ondersteuning gee, na gelang van ons gesondheid en krag. Op hierdie en baie ander maniere toon ons ons onderdanigheid aan die manne wat deur Jehovah en sy Seun aangestel is om na die kudde om te sien.

16. Waarom regverdig dit nie opstandigheid van ons kant as ’n ouer man nie dinge doen soos voorgeskryf word nie?

16 Soms doen ’n ouer man dalk nie dinge soos voorgeskryf word deur die getroue slaafklas en sy Bestuursliggaam nie. As hy hiermee voortgaan, sal hy aan Jehovah, “die herder en opsiener van [ons] siele”, moet rekenskap gee (1 Petrus 2:25). Maar geen tekortkominge of foute van sekere ouer manne sal ’n wederstrewige gesindheid van ons kant regverdig nie. Jehovah seën nie ongehoorsaamheid of opstandigheid nie.—Numeri 12:1, 2, 9-11.

Jehovah seën gewillige samewerking

17. Wat moet ons gesindheid teenoor ons opsieners wees?

17 Jehovah God weet dat die manne wat hy as opsieners aangestel het, onvolmaak is. Tog gebruik hy hulle, en deur middel van sy gees hou hy as ’n herder toesig oor sy volk op die aarde. Dit is waar in die geval van die ouer manne—en ons almal—dat “die krag wat bo die normale is, God s’n [is] en nie dié uit onsself nie” (2 Korintiërs 4:7). Ons moet Jehovah dus bedank vir alles wat hy deur middel van ons getroue opsieners vermag, en ons moet gewillig met hulle saamwerk.

18. Wat doen ons in werklikheid wanneer ons onderdanig is aan ons opsieners?

18 Opsieners doen hulle bes om te voldoen aan Jehovah se beskrywing van herders wat in die laaste dae oor sy kudde aangestel sou word, soos in Jeremia 3:15 opgeteken is: “Ek sal vir julle herders gee na my hart, en hulle sal julle beslis voed met kennis en insig.” Die ouer manne in ons midde kwyt hulle beslis goed van hulle taak om Jehovah se skape te onderrig en te beskerm. Mag ons voortgaan om ons waardering vir hulle harde werk te toon deur ons gewillige samewerking, ons gehoorsaamheid en ons onderdanigheid. Sodoende sal ons ons waardering toon vir ons hemelse Herders, Jehovah God en Jesus Christus.

Ter hersiening

• Hoe het Jehovah en Jesus Christus bewys dat hulle liefdevolle Herders is?

• Waarom is nie net gehoorsaamheid nie, maar ook onderdanigheid nodig?

• Op watter praktiese maniere kan ons ons onderdanigheid toon?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 27]

Christen- ouer manne onderwerp hulle aan Christus se leierskap

[Prente op bladsy 29]

Daar is baie maniere waarop ons ons onderdanigheid aan Jehovah se aangestelde herders kan toon